
Grafika van EasyEquities Skrywersfees: https://woordfees.co.za/program-2026/
- Deborah Steinmair skryf gereelde boekrubrieke vir LitNet.
As jy wil weet dat dit wel is met die siel van Afrikaanse lettere, moes jy die Toyota Stellenbosch Woordfees se EasyEquities Skrywersfees bygewoon het. Daar hoor jy hoe iemand soos Allen Grootboom, skrywer van Die vuur huil, homself verklaar as trots Afrikaans. In besighede dring hy daarop aan om in Afrikaans bedien te word, sê hy. Theolla Langenhoven, skrywer van Soetroos van Saron, sê ook Afrikaans is haar bloed. Deon Meyer vertel daar is sekere dinge wat jy nie in Engels, Sweeds of enige ander taal kan vertaal nie, soos die Kaaps wat Vaughn Cupido besig. Een van die vrae aan Deon Meyer was: As jy van genre verander en besluit om Romanzas te skryf, wat sal jou skuilnaam wees? Soekie de Kock, antwoord hy en vra later om as Soekie aangespreek te word.
Ja, daar is heelwat humor in skrywersgeledere, met die onvolprese Bibi Slippers se besige, andersoortige kop en skrywers soos Zelda Bezuidenhout wat ’n neweloopbaan as skerpskertser kan oorweeg. Vreemde vos-skrywer Carel van Rooyen het volgens Susan Booyens, mede-aanbieder, die gemiddelde ouderdom laat daal. Sy woorde en insig imponeer, en veral die stuk wat hy voorlees: Ja, elke skrywer moes ’n passasie uit hulle boek voorlees. Van Rooyen lees van die dag toe sy ma verneem haar ma is oorlede, toe sy ’n hele pak toiletpapier bed toe geneem en onder die komberse gelê en huil het tot die vloer bestrooi was met opgefrommelde toiletpapier soos wit rose. Bezuidenhout vertel sy is per ongeluk inge-cc in ’n e-pos waarin haar redakteur iemand meedeel dat haar roman, Mei en alles daarna, nie so literêr is soos Michèle Meyer se Einde en begin nie. Maar almal was dit eens dat hulle geensins daarna streef om literêr te skryf nie. Letterkunde lê lekkerder in die mond en gooi die net wyer.
Michèle Meyer vertel oor die kinderverteller se stem wat in haar middeloor kom lê het soos sy haar kleintyd gekanaliseer het. Kanniedood-skrywer Irna van Zyl erken dat sy lief geword het vir Storm van der Merwe en dat die omgewing nog altyd een van haar hartstogte was.
Een van Bibi se slim ingewings is die speletjie waar elk van die skrywers op die verhoog die laaste paragraaf van ’n bestaande roman moet skryf. Elk se bydrae word dan voorgelees, anoniem, ingeskommel saam met die regte einde. Die skrywers moet kies watter een die ware einde is. Theolla Langenhoven het uitgeblink.
Dis altyd ’n openbaring om die lang, beskeie misdaadskrywer Martin Steyn te hoor praat. Almal is dit eens dat alles begin en eindig by karakters. Die enigmatiese Anton Roodt, geklee in ’n paar skakerings van swart met puntskoene en silwer hare soos ’n towenaar, was bevredigend diep en obskuur, met flitse humor. Daniël Lötter is ook ’n sjarmante kulkunstenaar wat die gehoor laat skaterlag.
Dit was ’n blink ingewing om 10 skrywers in een gesprek te hê, om die beurt, drie uur lank met twee kort pouses. ’n Fiksiefees inderdaad.
Ek en Kerneels Breytenbach het met Jean Meiring, die hoëpriester van Afrikaanse literêre kritiek, gesels oor sy resensiebundel Boei. Dit bevat 85 boekresensies wat oor die afgelope 20 jaar op verskeie platforms verskyn het. Meiring wil as “Jean” aangespreek word, want “advokaat is nie ’n titel nie”. Sy liefde vir resensies het op Oxford begin, waar hy die Kenneth Tynan-prys vir ’n teaterresensie ontvang het. Kerneels herinner ons aan ’n voorskrif van Tynan: om te swyg oor ’n speler of aspek van ’n toneelstuk spreek boekdele. Stilte is dawerend. The sound of one hand clapping. Meiring het in die VK boekresensies vir Suid-Afrikaanse koerante begin skryf om gratis boeke in die hande te kry. Liza Albrecht, voormalige redakteur van Rapport, word vermeld as die persoon wat hom eerste gevra het om resensies te skryf.
Meiring besig ’n keurige Afrikaans, met woorde soos “nyg” (kopknik of buiging) en “lapsus”. Hy reken hy het nie ’n resep of formule vir resensieskryf nie; hy begin met wat hom opgeval het, nadat hy hier en daar notas gemaak het. Ja, en sommige boeke lees hy twee of drie keer alvorens hy daaroor skryf. Die titel van die bundel is selfspot: Met die saamstel van die bundel het dit hom opgeval dat boei ’n woord is wat hy miskien te gereeld gebruik in boekbesprekings. Astrant wys ek hom op nog twee: metterwoon en oopknakbaar. Hoe dit ook al sy, Afrikaanse lettere is geseën om toegang tot ’n intellek en insig soos Meiring s’n te hê. Die bundel is ’n tydsdokument; dis fassinerend om weer te lees hoe sekere boeke dekades gelede ontvang is. Interessant is Meiring se uitsprake oor Steve Hofmeyr, ’n figuur met wie se openbare beeld en politieke siening hy geensins saamstem nie. Hy het die hoogste lof vir Steve se karakterisering, taalgebruik en vermoë om met min omhaal van woorde spanning te skep. Hy reken ons groot misdaadskrywers kan gaan leer by hom. Deon Meyer se voortreflikheid besing hy ook.
Hy betreur die inkrimping van resensieplatforms en die toenemende gebrek aan mooi, duur boeke soos Nagmusiek van Stephanus Muller.
Ek en Hettie Scholtz is ter elfder uur nadergehark verhoog toe nadat Petrovna Metelerkamp in ’n ernstige motorongeluk was op pad na die vertoning van Jeanne praat. Sy sou ná die toneelstuk praat oor Jeanne se nagelate werke wat sy een-een publiseer.
Dis ’n kort, treffende toneelstuk wat meestal uit Jeanne se woorde bestaan. Wanneer die gehoor instap, lê Winnie Nel op ’n rusbank, rokend, in denim-kniebroek, kaalvoet. Dis amper ontstellend om Jeanne vir ’n oomblik weer van agter uit die hoek van my oog te sien. Die gehoor het geskaterlag vir Jeanne se kwinkslae en geite. Nel het agterna gesê dat sy geen beeldmateriaal van Jeanne kon opspoor nie. Dis jammer. As ek die regisseur was, sou ek haar aanbeveel om met ’n laer, donkerder register te praat en heelwat minder geanimeerd. Jeanne het gehou van ’n deadpan-gesig en het weggooilyne gebrom of geblaf.
Ná die stuk het Hettie en ek in vrye vers gesing. Dit was maklik om staaltjies oor Jeanne uit te ruil; daar is soveel. ’n Mens kom weer onder die indruk van haar absolute eiesoortigheid, daardie rara avis wat in ons midde gedans het.
Die Woordfees het sy naam gestand gedoen, soos altyd.


Kommentaar
Dankie, Deborah, heerlik gelees. Bloeddruk en polsslag lyk op die oog af goed. Afrikaans, jou lekke ding!