
Dit was weer die wind en reën wat swart kom waai het oor die Kaap. Dis wat voorspel is. Die dakplate wat in die lug rond stoei met boomtakke en soos flying saucers ’n propperse hidrouliese orgasme bereik.
Mens wonder hoe ontstaan so ’n noemsel: swart suidooster? Hoekom nie rooi nie? Of grys nie? Word daar dan dood verwag? Swart slurp die son mos op. Abajas en hijabs moet draers se oksels bietjie respyt gee. Dis soos die Sondagsrivier in die Karoo. Dié vloei dan nie nét op Sondae nie? Meesal kurkdroog winter en somer. Dweep dit met geloof?
Jislaaik, ons het darem eienaardige name nou in ons land. En met die talle herdopings deesdae van dorpsname wat ons erfnis mismaak en ontneem, raak dit nóg meer snaaks. Kan jy glo hul wou Graaff-Reinet Robert Sobukwe maak? Petisies werk beter as tyres wat brand en my geboortedorp het darem sy naam behou.
Toe Ziggy en Rooi Piet gaan aftree het by die see, was dit Somerstrand. Nou’s dit Somerset-Wes vir die stywe boordjies en Strand duskant die N2 vir middelblouklaslieplappers, kwansuis. Maar om die Baai darem Gqeberha te gemaak het, bly ’n tongvlegsel. G’n mens kan dit uitspreek nie en is dit maar meesal net KI met nasale stuiptrekkings wat dit kan uitspreek. Maar Izak by LitNet is ook talentvol en kry dit nogal reg. Sommer kaalvoet.
Dit was die koudste, natste en flatulentste winter in die Kaap dié jaar. As grafte nie wegspoel met oorstromings nie, waai hul toe met rukwinde voor die voornemende begrafnis. Jy soek moeilikheid as jy dorp toe wil stoei met ’n kopdoek, serp, sambreel en kierie. Hoe gaan jy nog ’n ekstra hand kry om die mandjie te dra? Dis dié dat ek so like van Sixty60. Dis nes die gemak van voor die kaggel sit met gloeiende kole wat jou mesmeriseer. En die cashmere kniekombers van Isle of Wight. Die enigste antidepressante-hulp wat werk. Natuurlik is dit ook draagliker met ’n lekker boek deur een van ons geliefde skrywers in die hand en ’n stewige OBS op die milkmaid stool. Die boontjiesop is klaar ontvries, asook die gebakte patats wat lê en wag vir verloop van tyd voor ek die stove aansit om warm te maak. Dis klaar donker buite, maar nog nie soppertyd nie. En jou metabolisme kan mos versteur word indien jy op ’n ongewone tyd eet. Dan moet jy kaalvoet oor die koue teëls laatnag met jou slaaptam liggaam sleepvoet toilet toe. Nes die Voortrekkers oor die Drakensberge.
Maar iets is aan die roer. Dis daai holte bo in die lugruim wat ons klimate so merry-go-round laat speel. Dis nog nie eers die maand Oktober nie en die jasmyn het al fraai spatsels blommetjies soos sterre in die voornag. En fossiele laat geskiedenis nog ’n generasie wegkruip. Nes Christelle se krimi.
Ai, en Crito speel hopscotch en bok-bok, terwyl ’n crossword puzzle van kommentaar aan die saamstel is.
Oe, dis exciting tye, ecosystem ten spyt ... Ag, hoe jammer my generasie se tyd loop uit. Daar word deesdae diep gekap in my bos.

