Kwarantynketting: "Dis COVID, en ek kou witbrood" deur Zirk van den Berg

  • 1

Zirk van den Berg skryf oor sy ervaring in Nieu-Seeland tydens die COVID-19-pandemie.

Probeer jou die ideale plek voorstel om te wees as daar ’n pandemie uitbreek. Ek sou reken ’n goeie kandidaat is iets soos ’n eiland op ’n uithoek van die aarde, yl bevolk, betreklik welvarend, met goeie mediese geriewe en ’n oopkop regering. Met ander woorde, Nieu-Seeland.

Dis omdat ek hier bly dat my poging om iets vir Kwarantynketting te skryf so stadig uit die wegspringblokke gekom het. My ervaring van die COVID-19-pandemie is eenvoudig van ’n heel ander orde as in Suid-Afrika.

Nieu-Seeland het sy grense op 19 Maart gesluit. Jy kan dit betreklik maklik doen as jy ’n eiland is – maak net die lug- en seehawens toe. Twee dae later het ons gehoor ons gaan in “lockdown”. Wat natuurlik toe meebring dat al wat leef en beef hardewarewinkel toe foeter – dit was immers die ideale tyd om jou huis op te knap. Ek het self tougestaan net om te hoor die verf wat ek soek is uitverkoop en ek moet weer elders gaan staan en luister na die morrende menigte.

Van 25 Maart af moes jy tuis bly, behalwe as jy ’n essensiële werker is. Jy moes net meng met mense in jou “bubble”, maw jou huismense. Jy kon enige tyd by die deur uitstap so ver jy wou. Jy kon supermark en apteek toe gaan, solank jy twee armlengtes van ander mense af bly. Jy mog nie op die water gaan nie – ’n reëling wat my nie raak nie, maar iets soos die helfte van Auckland se mense het ’n boot of iets wat dryf, of veronderstel is om te dryf, en die kuswag was nie lus om mense te moet red wat dalk op hulle gaan proes nie.

Binne ’n week of wat kon jy by die staat aansoek doen vir ’n vasgestelde bedrag as die inperkings jou inkomste geknou het. Dit was ’n kwessie van ’n kort vorm aanlyn invul, en binne dae was die heel rojale klompie geld in jou rekening. My verwagting is dat hierdie gawe met die volgende belastingjaar deels of volledig vereffen sal moet word, maar dit daar gelaat.

Die beperkinge is met verdrag gelig; die “borrels” het groter geraak en kon bejaarde ouers en dies meer insluit. Elf weke later, op 8 Junie, het die lewe weer sy normale gang hervat, behalwe dat nuwe aankomelinge in die land twee weke in kwarantyn moet bly. Hare is gesny, vriende het mekaar in koffiewinkels ontmoet, jy kon weer geld op onnodige nonsens uitgee. Jy kon selfs weer meel in die supermark kry, nadat dit bakkendes vroeg-vroeg die rakke leeggekoop het.

In daardie stadium was daar nie meer ’n enkele persoon in die land wat siek was van COVID-19 nie. Sowat 1 500 mense altesaam het dit gekry, oftewel 300 per miljoen inwoners. 22 mense is dood, 12 van hulle in een aftree-oord in Christchurch.

Sedert die oopstel van grense het daar nuwe gevalle gekom en daar is so twee dosyn ten tye van hierdie skrywe. Hulle almal het hier aangevlieg gekom met die virus reeds onder lede. Blykbaar is daar nou weer planne om vlugte in te kort, want die kwarantynhotelle is vol en die koste sodanig dat selfs ’n regering wat maar alte graag ander mense se geld uitgee, daaroor begin wonder.

Oor die verloop van die pandemie het internasionale kommentators die Nieu-Seelandse premier, Jacinda Ardern, se lof besing. Binnelands is die gevoelens egter ietwat meer gemeng. Sy is weliswaar ’n beter staatshoof as baie ander, maar as jý die belasting moet betaal wat sy so maklik en mildelik uitdeel ...

Ardern se empatiese optrede na die terroriste-aanval op die moskee in Christchurch en in die pandemie sal verseker dat sy die komende verkiesing in September wen. (Iets wat haar party terloops nie in die vorige verkiesing kon regkry nie. Sy het die regeringshoof geword omdat die derde grootste party se leier hom by haar geskaar het, eerder as by die party wat die meeste stemme getrek het.)

Tot sover dan die breë verloop van sake. Kennelik het Kiwi’s vergeleke met talle ander nasies min om oor te kla.

Ek self is eintlik nog beter daaraan toe as die meeste mense hier. Ek werk ieder geval van die huis af en voer ’n betreklike kluisenaarsbestaan. (Die inperking is die weerwraak van die introverte, het ek al gedink, vir al die blerrie partytjies, die oopplan kantore en spanboudae.)

As vryskutter het ek weliswaar ’n groot deel van my inkomste verloor, hier plaaslik en ook toe Vrouekeur, vir wie ek ’n vervolgverhaal geskryf het, gaan staan en omval. Ek moes my beoogde besoek aan Suid-Afrika en Namibië afstel, wat ook ’n boek in wording fataal geknou het. Maar my huislewe was eintlik lekkerder as andersins. Elsabé en ons dogter, Anna, het van die huis af begin werk en ek het dus meer van hulle gesien.

Anna se werkgewer kon nie meer haar salaris betaal nie, maar die regering het ingespring en 80% van haar normale salaris betaal. Ons seun, Bernard, moes as essensiële werker die wêreld bly aandurf. Dié kêrel het mos besluit hy wil nie nog ’n dag langer ’n prokureur wees nie, hy word eerder polisieman, sodat hy mense daadwerklik kan help. Die polisie hier is terloops baie anders as wat ek van Suid-Afrika onthou. Goed die helfte van Bernard se kollegas is gegradueerde mense.

In die grendeltyd kon ek elke dag saam met ’n ander huismaat gaan stap en het nuwe staproetes in ons omgewing ontdek, en tog te lekker gesels. Die strate was vol wandelaars en sonder karre. Die verlate snelweg het my laat dink ek bevind my in Cormac McCarthy se The road of ’n dergelike postapokaliptiese verhaal. (En dat ek soos Viggo Mortensen in die fliek daarvan lyk, maar dis ’n ander storie.)

Laatmiddag het ek en Anna gewoonlik bordspeletjies gespeel, onder meer een wat ek in die grendeltyd self ontwerp het en hoop om eendag te publiseer. Ek het skaafwerk aan een boek gedoen, proefleeswerk aan ander, en ’n bietjie vertaal.

Die grootste probleem was my buurman Norm, wat hom oorgegee het aan Nieu-Seeland se nasionale tydverdryf – niemand kom tussen ’n Kiwi en sy kettingsaag nie. Die ou knol is afgetree en gaan oorwinter elke jaar in Queensland se warmte. Vanjaar kon hy nie, en toe pak ’n bevlieging hom. Hy het ’n reusagtige en geliefde boom neffens ons huis afgekap en in vuurmaakstompies opgesaag, dag in en dag uit, sewe treë van my huis af.

En nou moet julle darem weet ons bly in houthuise hier. Klankdig is hulle nie. As hier kuiermense uit Suid-Afrika kom, waarsku ek hulle al by die deur om nie te dink hulle kan in die kamer oor ons skinder nie.

My vrou is ’n terapeut, en probeer jy nou ’n angsvallige kliënt op Skype kalmeer terwyl Freddy Krueger sy kettingsaag hier langs jou rev.

Toe my tande heel stomp was van die buurman se saaggeraas, het ek my diverse planne vir nagtelike sabotasie van sy Makita laat vaar en maar gebel en gebedel dat hy moet ophou. Hy het uiteindelik onderneem om net namiddae te saag. Wat erg genoeg was.

Maar alle grappies en griewe op ’n stokkie. Die wêreld is in skok en rou. Hoe durf ek hoegenaamd kla? So met die witbrood onder die arm.

Lees meer oor Zirk se werk:

Skrywersonderhoud: Chris Marnewick gesels met Zirk van den Berg

Resensie: Ek wens, ek wens deur Zirk van den Berg

Korona-kortverhaalfees: Zirk van den Berg oor “Greep”

Lees nog Kwarantynketting-bydraes:

  • 1

Kommentaar

  • Goodness, en die regering het nie eers/eens gevra watter ras jy is nie? Sommer net gehelp? Want hulle besef jy het daai belasting help betaal? Sjoe, so anders as hier in Suid Afrika, né?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top