Korona-kortverhaalfees: Zirk van den Berg oor “Greep”

  • 0

Toe jou Ekstra dun vir meer gevoel jare gelede verskyn het, het dit ’n enorme impak op ons letterkunde gehad, veral met betrekking tot die kort-kortverhaal. Intussen het jy jouself gevestig as romanskrywer onder meer, en veelbekroond daarby. Hoe dikwels skryf jy nog kortverhale?

Ek word maar altyd gelei deur idees wat my gedagtes gaande maak. Dis dié dat ek in verskillende genres werk – van literêrerig tot snerterig. Soms is ʼn kortverhaal die natuurlike uitvloeisel. Ek skryf seker so een of twee per jaar, en dan gaan lê hulle in my rekenaar in ’n lêer genaamd “Kortes”.

Daar is ongelukkig nie veel afsetpunte vir kortverhale nie, veral as party van hulle nou nie juis hoge literatuur is nie en ook nie in ’n tydskrifformaat pas nie. “Greep” wag byvoorbeeld al van 2014 af vir lesers. (Dankie vir die geleentheid!)

Die kortverhaal as vorm het sy eie uitdagings en moontlikhede, en ek geniet dit wanneer ek dit skryf, ongeag of dit nou meer gevoelvol van aard is of sommer ’n storie vir die lekkerte – soos “Braaiboet”, wat in die speurbundel Op die spoor van verskyn het. Selfs ’n ligte storie soos daardie is vir my baie bevredigend as vakman as jy die ding inmekaar gelas kry soos goeie voeë in houtwerk. En as daar iewers ’n menslike waarheid deurskemer, des te beter.

Of kortverhale my eerste liefde as skrywer is? Nee. Maar party mense dink seker dit behoort te wees. Ek onthou toe my kort roman Wydsbeen in die vroeë 1990’s uitgekom het, was ’n gevierde digter en boekhandelaar se kommentaar: “Zirk is eintlik maar ’n kortverhaalskrywer.” Hy het ’n punt beetgehad, maar hopelik dink hy en andere deesdae anders.

“Greep” demonstreer opnuut jou vermoë om in baie min woorde ongelooflik baie te sê. Hoe werk die skrywery by jou? Redigeer jy eindeloos? Of kom ʼn verhaal soos ʼn openbaring na jou toe: alles reg en op sy plek, en oorrompelend?

Ek wens dit was altyd die eerste keer reg. En is bly dat ek darem nou ook nie ná die eerste skryf ’n standbeeld uit ’n berg moet beitel nie. Ek kry gewoonlik die basiese vorm min of meer reg met die eerste skryf (buiten nou vir al die pogings wat totaal misluk) en dan is dit fyner werk – woorde en sinne. Slotte bly ’n uitdaging.

Daar is ’n element van openbaring, altyd. Dis die vonk wat aanleiding gee tot die storie. In ’n kortverhaal raak die vonk ’n vlam; in romans steek dit gaandeweg ook ander vure aan.

Vertel asseblief hoe die idee vir hierdie verhaal by jou aangemeld het?

Die dramatiese gegewe is, helaas, die waarheid. “Greep” is gegrond op iemand met wie ek regtig te doen gekry het, baie jare gelede, en wie se storie by my bly spook. Ek vra hom hiermee om verskoning, vir die oprakel van sy leed én vir die bylieg.

Kerneels Breytenbach het onlangs op LitNet vertel dat jy jou trouvrou by ʼn bekendstelling van Ekstra dun vir meer gevoel raakgeloop het. Is dit waar? Watter ander gelukskote het jou al in jou skrywersloopbaan oorgekom?

Daar steek heelwat waarheid in Kerneels se storie. Ek en Elsabé is al vriende sedert my tienerjare. Ons het mekaar na ’n lang breuk in Kaapstad se strate raakgeloop op die dag toe Mandela vrygelaat is. Ek het haar daarna na die boekbekendstelling toe genooi, saam met my indertydse geliefde, die minlike Anoeschka von Meck. Daar was diverse omwentelinge, en later daardie jaar is ek en my oudste vriendin getroud. Of so dink ons. Dit was nog apartheid, die dominee was bruin en het ons agterna ingelig hy mag eintlik nie wit mense trou nie. Desondanks hou ons nog uit, en lag elke dag.

Wat ander gelukskote betref: Dit bly wonderlik elke keer as ek iemand teëkom wat bereid is om my goed uit te gee. As iemand dit nog lees en geniet ook … hemels.

 

Lees Zirk van den Berg se kortverhaal, “Greep”, hier:

Greep

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top