Sy hande is soos ’n knyptang. Dis die eerste ding wat my omtrent Tom Reynders getref het. Voorarms waarom ek nie my twee hande sou kon pas nie, boarms so groot soos hamme, die skouers van ’n oergedierte. Groot glimlag.
“Wat drink jy?”
Hy is my vriend Gysie se vriend, en ons het mekaar een Vrydagaand toevallig in ’n sportkroeg raakgeloop. Ek het al van hom gehoor – voormalige gewigopteller, verkoop versekering in die noordelike voorstede. Hy koop vir ons drankies, vra oor die naweek se rugby. Tom is die soort ou op wie jy jaloers sou gewees het as hy nie so ’n gawe kêrel was nie. Hy het sy een oog op die TV in die hoek, waar hulle ’n ou rugbywedstryd wys, terwyl hy aan versnaperinge knibbel en hier en daar ’n opmerking maak, niks buitengewoons nie.
“Kyk daai twee Du Preezs,” sê Gysie, “Dan en Jean-Luc. Tawwe kalante, dons oral in … Jirre, ek hoop nie hulle voel mekaar se pyn nog ook nie. Ek het gehoor met tweelinge kan dit so wees, hierdie spesiale verbintenis, dat die een voel wat met die ander gebeur.”
“Ek weet darem nie daarvan nie.” Tom gooi ’n peanut op en vang dit in sy mond. Daardie boarm bult. “Ek bedoel, ek het tweelingbroers gehad. Die een is dood en die ander een is net so doodnormaal soos ek of jy. Hulle was maar nog klein, ek weet nie presies hoe oud nie … nog in doeke, maar hulle het al gepraat. Nadat Jako dood is, het Johan vir ’n paar maande nie meer gepraat nie, maar dit was dit. Hy’s nou heeltemal reg.”
Ek is nuuskierig, en braaf van die bier. Kinders gaan van verskillende goed dood. Hulle kry ’n virus, die een of ander aangebore kwaal knou hulle, of hulle stik aan ’n vitamienpil. Ek het al allerhande stories gehoor. Dis goed om hierdie dinge te weet, sodat jy weet waarvoor om op jou pasoppens te wees met jou eie kinders. “As ek mag vra, hoe is jou boetie dood?”
“Ons was op pad terug van Gansbaai af, ons drie kinders agter in die Land Rover. Ons het in daai dae nie oor safety belts geworry nie. Ek was twaalf en was veronderstel om na die kleintjies te kyk. Maar ons was heeldag by die see en ek was moeg, ek het seker nie genoeg aandag gegee nie. Die volgende oomblik moes Jako met die handvatsel gespeel het, en die agterste deur begin oopswaai. Jy weet mos, daai ou Land Rovers het die spaarwiel op die deur gehad, en dit was nogal swaar. Jako laat los nie die handvatsel nie, en die deur trek hom uit die kar uit. Ek het hom aan die arm beetgekry en vir my pa geskree om te stop. Ek het vasgeskop en aan daai arm geklou vir al wat ek werd is. Hy het buitekant gehang, agter die kar. Ek weet nie hoe vinnig ons gery het nie, maar dit het vir fokken ewig gevat om af te slek. My ma gil, my pa skree, Johan beginne huil en ek hyg. Net Jako is doodstil. Ek het geklou so lank ek kon, maar toe … Ek was net nie sterk genoeg nie. Hy het uit my greep geglip. Ons het toe al seker stadig gery, want hy het net daar in die pad bly sit waar hy geval het, hy’t na my gesit en kyk. Maar toe kom die kar agter ons en …” Tom klap sy vingers. “Hy’t nie ’n kans gestaan nie.”
Tom vat sy laaste sluk bier. Skuim loop teen die blik af.
Gysie skud sy kop. “Hoe hanteer jy so iets?”
“Aag, jy kom daaroor.” Tom vou die leë bierblik in sy een hand toe. Die spiere op sy voorarms bult, hy druk die blik inmekaar totdat dit soos ʼn stuk tou in sy hand is. “Jis, wie betaal hierdie ronde?”
Lees ’n kort onderhoud met Zirk van den Berg oor “Greep” hier:
Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:


Kommentaar
Hou van die styl.
Dis mos hoe ’n kortverhaal moet lyk. Meer storie tussen die reëls as in die reëls.