Die lekkerste en slegste boekbekendstellings ooit

  • 3

Met die korona-pandemie wat die wêreld omvergegooi het, moes uitgewers en skrywers fisiese boekbekendstellings kanselleer of vervang met aanlyn geleenthede. Vir boekwurms wat samesyn met skrywers oor ’n glasie wyn geniet om die verskyning van ’n nuwe titel te vier, het boekpraatjies vinnig vervaag tot ’n herinnering. Melt Myburgh het skrywers, bemarkers en uitgewers gepols oor die beste en die slegste boekbekendstellings wat hulle kan onthou.

...................

Marita van der Vyver

Omdat Marita van der Vyver in Frankryk bly, is die bywoning van Afrikaanse boekbekendstellings hoofsaaklik beperk tot haar eie wanneer sy op besoek aan Suid-Afrika is. Die gemis aan sulke geleenthede is dus vir haar niks vreemd nie. In Frankryk, sê sy, word sy nie juis na boekpraatjies genooi nie, want sy ken min skrywers daar.

Die geheim van ’n suksesvolle bekendstelling hang vir Marita van drie dinge af: “Daar moet besonder gawe mense teenwoordig wees, lekker kos en drank, en natuurlik die heel belangrikste – ’n uitstekende onderhoudvoerder.” Een van die lekkerste onlangse bekendstellings vir Marita was van haar jongste roman, Grensgeval, in Johannesburg. “Dit is in ’n Kubaanse restaurant gehou om by die Kubaanse storielyn aan te sluit. Dit het amper so dekadent soos dele van Kuba gevoel.”

Jenny Crwys-Williams het die woord met Marita van der Vyver gevoer by die bekendstelling van Grensgeval in Johannesburg. (Foto: verskaf)

Om met lesers tydens bekendstellings in aanraking te kom, is belangrik, sê Marita. “Al kla ek gewoonlik voor die tyd, is ek elke keer diep dankbaar vir daardie kontak in lewende lywe wat ek eintlik nêrens anders as by bekendstellings kry nie. Hierdie ontmoetings bevestig elke keer weer vir my waarom ek skryf, dat ek tog nog iets te sê het wat waardeer word, en dan gaan skryf ek maar weer verder ondanks al die selftwyfel.”

Koos Kombuis

Koos Kombuis onthou die bekendstelling van Die braambos bly brand, ’n samestelling van geestelike tekste deur nie-teoloë, as een van die lekkerste boekgeleenthede wat hy al ooit bygewoon het. “Dit was ’n vreeslike jolly aand in ’n groot lokaal in Stellenbosch. ’n Hele paar medewerkers aan die boek, soos Riku Lätti, Churchil Naudé en Hunter Kennedy, is musikante, en hulle het gesorg vir lewende vermaak uit die boonste rakke.” Koos sê dat dié bekendstelling hom sommer laat besluit het om voortaan ten minste die helfte van sy boeke by Naledi te laat publiseer. “Ek is nie ’n kerkganger nie, maar daai aand was die naaste wat ek in ’n hele paar jaar aan ’n kerk gekom het! Dit het my laat dink aan daardie heerlike gospel-byeenkomste wat ons altyd in die ou tyd op die Solms-Delta-wynplaas gehad het.”

Koos Kombuis se Sushi with Hitler is nou op Amazon beskikbaar. (Selfie: Koos Kombuis; Omslag: Naledi)

Die ongemaklikste bekendstelling wat Koos al ervaar het, was toe sy Seks & drugs & boeremusiek in 2000 by ’n boekwinkel in Somerset Mall te water gelaat is. “My vrou was verwagtend met my seun Simon en hy sou teen middel Augustus gebore word. Human & Rousseau reël toe die launch vir die aand van 1 Augustus. Maar klein Simon het ander planne gehad. Hy is in die vroeë ure van daardie oggend na ’n lang en uitgerekte proses gebore.”

Die aand toe Koos by die bekendstelling opdaag, was hy dood op sy voete ná ’n spanningsvolle en slapelose nag. “My enigste herinnering aan die geleentheid was Valiant Swart wat sy speech afsluit deur op die podium ’n slukkie whiskey te vat uit ’n half-jack wat hy uit sy baadjiesak gehaal het,” vertel hy.

Koos mis die reuk van ’n regte boek. Sy pasverskene Sushi with Hitler is tans net as e-boek by Amazon beskikbaar. “Wie weet, dalk is daar later ’n geleentheid om die regte boek te launch en dalk kan ek dan na die tyd ’n glasie wyn saam met Lina Spies drink.”

Rachelle Greeff

’n Geleentheid wat vir Rachelle Greeff uitstaan, is die bekendstelling van LyfSpel/BodyPlay, ’n versameling erotiese kortverhale deur Afrikaanse en Engelse vroueskrywers. HAUM-Literêr het die boek in 1994 uitgegee en die bekendstelling was by Exclusive Books in Sunnyside, Pretoria. “Leonie van Rensburg van Graffiti-faam het toe daar gewerk,” onthou Rachelle. “Sy was enorm entoesiasties oor die boek en het geen moeite ontsien om dit ’n fabulous aand te maak nie. Goeie geselskap, wyn en kos.”

Rachelle Greeff, samesteller van LyfSpel/BodyPlay (Skrywersfoto: Bernard Jordaan; Boekomslag: verskaf)

Die legendariese Hettie Scholtz was die uitgewer. “Haar man, Piet, was daardie aand baie snaaks,” vertel Rachelle. “Stewig geanker tussen twee groot manne soos hyself, wou hy goedig weet: ‘Nou waar’s dan die mans se erotiese stories, Ragel?’” Vir Rachelle was die aand onvergeetlik omdat dit ’n bevrydende publikasie was. “’n Paar jaar tevore was erotiek ’n woord wat jy omsigtig gebruik het en nie in die openbaar nie. En hier was nou skrywers aan die woord wat in ons sedelike gordeltyd sekerlik driekwartpad hel toe sou wees.

“Om van die gay erotiese skrywers in die bundel nie te praat nie – hulle was al op die skoot van die mannetjie met die stert en die horings. Dié bekendstelling was dus ’n viering van meer as net ’n nuwe publikasie.”

Rachelle wys op die belangrike rol wat sosiale media deesdae in die bemarking van boeke speel. “Boekverkope by hierdie funksies loon in die algemeen nie die moeite en onkoste nie. Sosiale media het hierdie bemarkingsrol oorgeneem en sal in die toekoms nog meer doen.”

Frederik de Jager

“Die boontjietellers kla altyd oor boekbekendstellings,” beaam oud-uitgewer Frederik de Jager. “Dit is nie die koste werd nie, sê hulle, daar verkoop minder boeke as wat daar wyn opgedrink word. Dis net ’n partytjie vir die skrywer op die uitgewer se rekening.” Maar boeke en skrywers moet altyd gevier word, sê hy. “Vader weet, die 12 of 24 maande wat skrywers alleen in hul kamers gesit en skryf het, verdien erkenning. Boekwinkels moet bymekaarkomplekke wees vir mense wat gretig is om van die wêreld te weet. Boekmense is ’n stam, ’n tribe, en elke boekbekendstelling is ’n ritueel wat die tribe bind en sterk maak.”

Vir Frederik de Jager staan die FAB-boekpartytjie uit as ’n hoogtepunt. (Foto’s: verskaf)

Frederik moes in sy jare in die uitgewersbedryf ook menige boekgeleenthede trotseer. ’n Hoogtepunt wat uitstaan is die bekendstelling van die boek FAB, met foto’s van die Mother City Queer Projects, saamgestel deur Eric Miller en Karen Jeynes. “Ons het dit by Umuzi uitgegee. My baas, Stephen Johnson (helaas ter siele), het gees gevat. Hy het die hele Hotel Metropole vir die nag gehuur. Daar was op verskillende verdiepings van die hotel bands en geweldige musiek.

“Oral op verhogies was daar tablo’s met skamel geklede mans wat foto’s in die boek voorgestel het. Nog ander met net budgie smugglers aan het drankies aangedra vir die 300 gaste. Lilly Slaptsilly van die drag-groep Mince het vermaak verskaf. Oral was daar ballonne en linte en fabulous mense. Die stad het gedonder.

Stephen Johnson voer die woord terwyl Lilly Slaptsilly ’n ogie hou. (Foto: verskaf)

“Die boek was nie ’n finansiële sukses nie,” sê Frederik. “Stephen het die partytjie later ‘Johnson’s folly’ genoem, nie sonder bedoelde woordspel nie. Maar dit was een helluva party.”

Die afwesigheid van mense by ’n boekpraatjie is vir elke uitgewer en bemarker die grootste nagmerrie. Frederik onthou hoe hy in 1996 saam met Vlaamse digter Herman de Coninck en skrywer Tom Lanoye op ’n publisiteitstoer in Bloemfontein aangekom het. “Ons al drie plus bagasie was in my Golfie gestop. Ons sou ’n voorlesing in ’n boekwinkel doen. Ek onthou gelukkig nie meer watter een nie. Hulle het mooi ’n mikrofoon opgestel. En daar staan hierdie twee, onderskeidelik België se bekendste skrywer en digter, bedroë, met dalk twee of drie sittende mense en een of twee wat potlode tussen die rakke soek. Ek wou agter die toonbank gaan wegkruip.”

Kerneels Breytenbach

Zirk van den Berg het sy trouvrou ontmoet by die bekendstelling van Ekstra dun vir meer gevoel. (Foto: verskaf)

Kerneels Breytenbach, skrywer en oudjoernalis en -uitgewer, moes in sy loopbaan tallose bekendstellings bywoon. Hy vertel: “Uit my joernalis-dae onthou ek die klein lansering wat Tafelberg by Wilhelm en Petra Grütter se huis in Higgovale vir Zirk van den Berg se Ekstra dun vir meer gevoel gegee het. Dit het oorgespoel in ’n lang ete by ’n restaurant in Drieankerbaai. Wat heuglik was, buiten die lewenslus, was die feit dat Zirk die aand sy vrou gevind het.”

Later, as uitgewer, was elkeen van Clem Sunter se bekendstellings vir Kerneels ’n belewenis – “Volgepak, al die gaste het boeke (in meervoud, dikwels) gekoop, en Clem was in die posisie waarin hy gefloreer het: lead vocalist.”

Maar die heel lekkerste oomblik was met die bekendstelling een wintersaand in 1996 van Archbishop Tutu: Prophetic witness in South Africa in een van die Parlement se raadsale. “President Mandela was die eregas, en het ’n bietjie laat gekom. Een van ons gaste was Tony Pocock, effens ouer as die president, en in sy jeug een van die groot geeste by eers OUP en later Faber & Faber in Londen. Ek het by die ingang van die raadsaal gestaan, by Clarke’s Bookshop se tafel met boeke, saam met Tony en Henrietta Dax. President Mandela het alleen aangestap gekom, reguit op Tony afgepeil, hand uitgestrek en gegroet met ‘Hello, young man!’ Tony het gestraal asof hy LED was, en die res van die verrigtinge het in die ongelooflikste gees afgeloop.”

Ook vir Kerneels is min siele wat vir ’n bekendstelling opdaag die grootste verleentheid. “Dit is hel vir die uitgewer; dit is ’n vernietigende slag vir die skrywer. Die nadraai is altyd negatief, in alle rigtings.”

Kerneels Breytenbach (Foto: verskaf)

Hy vertel van ’n “ikoon van die Afrikaanse letterkunde” vir wie hy, in die dae toe hy uitgewer was, moes laat weet dat sy boekbekendstelling gekanselleer moes word omdat die enigste mense wat op die uitnodiging geantwoord het, personeellede by die uitgewery was. “Ons het vir hom ’n soort meegevoel-geskenk gestuur; die ikoon het dit aanvaar en ’n paar dae later begin met ’n bitter e-poskampanje teen persone by die uitgewery. Die breuk is nooit herstel nie, tot my persoonlike groot verligting.”

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen, voormalige bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch, het ’n legio boekpraatjies in die winkel gereël en aangebied. “Daar was vele hoogtepunte,” sê Louis, “maar een wat ek nooit sal vergeet nie, is Jeanne Goosen wat in 2007 met Petra Müller gesels het oor Jeanne se digbundel Elders aan diens.

Louis Esterhuizen sal Jeanne Goosen se grimering by die bekendstelling van Elders aan diens nooit vergeet nie. (Foto’s: Marlise Joubert, Naomi Bruwer)

“Pas ná ek haar aan die woord gestel het, het Jeanne die gehoor eers stip aangekyk (die winkel was hoek tot hoek volgepak!), toe vroetel sy in haar handsak, haal ’n lipstiffie met spieëltjie uit, tuit haar lippe en smeer hulle skelrooi. En nadat sy die spieëltjie en stiffie in haar handsak teruggesit het, het sy haar lippe styf teen mekaar gepers en sê toe in daardie kenmerkende stemtoon: ‘Nou’s ek reg vir julle.’

“Pandemonium! Ai, watter lieflike geleentheid was dit nie.”

’n Ander geleentheid wat Louis bybly, was toe Japie Basson, oudparlementariër en skoonpa van Christo Wiese, se memoirs in die winkel bekendgestel is. Toe Louis en die Protea-personeel hulle oë uitvee, was die Lanzerac-hotel se sjefs, kelners, stowe en wyn by die winkel. “Ook nog met rooi tapyte, blommerangskikkings en ’n klavier vir agtergrondmusiek. Stylvol en elegant, soos alles wat Caro Wiese, Japie se dogter, aanpak. Watter onvergeetlike geleentheid was dit nie. En ja, daar is ná afloop van alles tussen die boekrakke gedans.”

Eben Pienaar

NB-Uitgewers se bemarkingshoof, Eben Pienaar, sê hy kan boeke skryf oor bekendstellingsgeleenthede. Hy is al 25 jaar in die bedryf en het al letterlik ’n paar duisend bygewoon en hanteer – party onvergeetlik en ander hoogs vergeetbaar.

Die Hyde Park-bekendstelling van Jacques Pauw se The president’s keepers was vir Eben Pienaar kort duskant ’n nagmerrie. (Foto's: verskaf)

“Die lekkerste een was sekerlik Deon Meyer se bekendstelling in die Atterbury-teater, met Lize Beekman en Jaconell Mouton as gaskunstenaars,” vertel Eben. “Die teater was stampvol, Elna van der Merwe was in gesprek met Deon oor sy boek Kobra. Die verhoog was perfek, die klank uitstekend, die musiek wonderlik en alles het net so goed gewerk. Dit was in November 2013 en is deur 450 gaste bygewoon.”

Dinge kan egter vinnig verkeerd loop, sê hy, veral wanneer die seremoniemeester by ’n funksie aanjaag, en soms kan die klank en elektroniese toerusting ook ’n groot uitdaging wees. “Die meer onaangename boekbekendstelling was waarskynlik The president’s keepers van Jacques Pauw in Hyde Park. Dit was die eerste bekendstelling van Pauw se boek, en ons het oral sekuriteit en lyfwagte gehad omdat ons vooraf baie dreigemente gekry het. Derduisende mense was in die winkelsentrum, en ons het groot TV-skerms op twee vloere gehad.”

Die gesprek was skaars 10 minute aan die gang toe die elektrisiteit afskop en die sentrum se kragopwekkers nie aangaan nie. “Dit is nadat hulle my verseker het dat dit wel sal werk. Die sentrum was pikdonker,” vertel Eben, “en ons moes op die verhoog bly ter wille van veiligheid. Daardie dag het ek gedink ek het al baie vir skrywers gedoen, maar ’n bullet gaan ek beslis nie vat nie.”

Jacques Pauw en sy geselskap moes uiteindelik die verhoog verlaat sonder dat die praatjie kon voortgaan. Hy kon darem boeke teken vir die leërskare mense wat teenwoordig was. “Ek moes drie uur lank met my selfoon se flitslig staan terwyl die skrywer boeke teken. My rug, voete en senuwees was gedaan!” vertel Eben.

Annelie Botes

As een van die land se gewildste skrywers is Annelie Botes ’n veteraan wanneer dit by boekbekendstellings kom. “Die plesierigste van my eie bekendstellings was in 1998 vir Klawervier. Dit was ook my eerste werklike bekendstelling. Tafelberg se Riana Scheepers het my gebel en gesê daar is op so-en-so ’n Saterdagoggend ruimte in ’n Exclusive Books iewers in die Kaap en hulle sal my reis- en verblyfkoste betaal. Toe slaan ek amper agteroor soos Eli van die Bybel, want vir my was dit ondenkbaar om ’n fynbosboek wat in die ruwe Kammanassieberge en deels in die middel van ’n wattelbos afspeel, in ’n boekwinkel in die besige Kaap te gaan bekendstel.”

Annelie Botes in 1998 by Klawervier se bekendstelling in die wattelbos (Foto: verskaf)

Annelie het die uitnodiging na die winkelbekendstelling uit “komplete onervarendheid” van die hand gewys en Tafelberg omgepraat om Klawervier eerder op die plaas waar die boek afspeel – haar grootwordplek – die wêreld in te stuur. “Sowat 110 gaste en twee persmense van Die Burger is met skaaplorries en trekkers die berge in, want dit was onbereikbaar vir gewone voertuie.

“Die toilette was hurk in die bosse; mans links, vrouens regs. Elkeen moes sorg vir sy eie tissues en piekniekmandjie en wyngoeters, en almal moes plat skoene dra. Ek en Daniel Hugo het ’n kamma-radio-onderhoud gedoen daar in die wattelbos. Die ‘kostafel’ was ’n stokou wa wat die boer in die bos parkeer het. Ons het plat op ons mae water gedrink uit ’n nabygeleë fynboswaterstroompie. Die podium en sitplekke was gebou uit appelkooskissies, en die enigste versierings was groot melkkanne met proteas en pienk heide.”

Die aangrypendste van die dag, vertel Annelie, was dat twee witkruisarende heeltyd oor almal gesirkel het, ure aaneen. “Tot vandag glo ek dit was my pa en ma wat ons kom besoek het.”

Die treurigste bekendstelling wat Annelie al bygewoon het, was by Exclusive Books in die Baai – van ’n bekende, geliefde skrywer uit die Kaap. “Dit was ’n papnat stortreënaand en altesaam, boekwinkelpersoneel ingereken, was daar sewe mense. Dit was eensaam en energieloos en dit het gevoel asof die doodsengel tussen ons rondvlieg.”

Die swakste vrae wat skrywers moet aanhoor

Tydens boekpraatjies klink daar dikwels die afgryslikste vrae uit die gehoor aan skrywers op. Wat is die ergste wat die veterane wat hierbo aangehaal word, al ervaar het?

Eben Pienaar: “Die simpelste vraag wat mense altyd vra, veral aan spanningslektuurskrywers, is: ‘Waarom vloek jy (die skrywer) so baie?’”

Marita van der Vyver: “Die lesers wat ek van geen kant af ken nie wat heeltemal te naby aan my kom staan en my adres vra omdat hulle vir my wil kom kuier.”

Frederik de Jager: “Die immer terugkerende vraag: ‘Gaan die boek oor jouself?’”

Koos Kombuis: “Iemand het my eenkeer gevra of ek Koos Kerkorrel is. Ek het nie geweet of ek moet lag of in trane uitbars nie!”

Rachelle Greeff: “‘Hoekom is jy aangetrek?’ – Van ’n bemoeisieke ou man in Protea op Stellenbosch ’n paar jaar gelede.”

Annelie Botes: “Dit was in die Oos-Transvaal op ’n bloedwarm aand in Februarie. ’n Vrou het na my toe gekom by die boeketafel en gevra hoeveel bokse boeke ek verniet kry vir só ’n bekendstelling. En as dit op is, of ek gratis nog ’n klomp bokse kan bestel. Omdat ek stomgeslaan was, en doodlus vir ’n sigrêtjie, het ek sommer gesê ek kry tien bokse van vyftig boeke per boks present en kan nóg tien bokse bestel as dit uitverkoop is. Ek had nie die krag om te sê ek kóóp iedere boek ten duurste aan nie. Sy was tevrede. Ek het háár by die boeketafel sitgemaak om die verkope te hanteer, en ek kon buitetoe verdwyn vir my begeerde sigrêt. Dan moes sy die mense wat hulle boeke geboodskap en geteken wil hê, na my toe stuur op die stoep.”

Kerneels Breytenbach: “Met die bekendstelling van Ester op Stellenbosch het ’n bekende literator in die voorste ry gesit. Elmari Rautenbach was besig om met my te gesels oor die boek, maar so halfpad deur ons gesprek onderbreek die literator toe die verrigtinge met die eis om self ’n vraag te vra. Nou dadelik. Elmari en ek het haar oorbluf aangekyk, en toe het Elmari, so vriendelik en professioneel as moontlik, vir die literator gesê vraetyd is agterna. Die literator het toe gewag vir haar kans, maar uiteindelik ’n stelling gemaak eerder as om ’n vraag te vra. En ek kon haar gerusstel. Maar die ding met sulke insidente is dat mens altyd ’n vrees het dat iemand iewers afgekom het op ’n groot fout wat jy gemaak het, en dat hierdie jou onaangename oomblik van waarheid gaan wees. In hierdie geval wou die literator net ’n beskermende hand oor DF Malan hou.”

Louis Esterhuizen: “Toe ’n plaaslike hoogleraar agter sy hand vir my met onverbloemde irritasie vra: ‘Nee magtig, wanneer gaan dié ou man nou klaarkry?!’ Dit was tydens die bekendstelling van Athol Fugard se kortverhale, Karoo and other stories. En ja, die oubaas hét ’n bietjie lank voorgelees uit ’n werk wat later The train driver sou word, maar elke keer as hy wou ophou, het die gehoor hom aangepor om nog verder te lees. Later het die genoemde hoogleraar maar die aftog geblaas en al skuifelend tussen die stoele deur buitentoe verdwyn.”

  • 3

Kommentaar

  • Estelle Neethling

    So interessant! Mens staan verwonderd oor die krag van daardie passie wat skrywers, ten spyte van alles, dwing om voort te gaan om hulle eie en ander se stories die lig te laat sien.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top