
Foto: andythelion | Pixabay
Omtrent twee maande terug sê iemand spottend op Twitter: “Get your surfboard, get ready for the second wave.”
Dit het geblyk profetiese woorde te wees, want ons is inderdaad nou midde-in die tweede golf van koronavirus-infeksies. In die laaste week is vier van my vriende positief getoets. Die plaaslike daghospitaal moes sluit want ses personeellede is siek. Op een dag het vyf en dertig mense na berig word by een plaaslike dokter opgedaag met versoeke dat hulle getoets wil word nadat hulle vermoedelik in kontak was met iemand wat positief getoets is.
Twee weke terug was daar ’n funksie in die gemeenskapsaal waar ’n klomp jong mense bymekaar was. Die musiek het eers die volgende oggend vyfuur opgehou, asof daar nie meer ’n aandklokreël is nie. Wel, streng gesproke het hulle seker die reël gehoorsaam, want hulle was in hul groot groep binne-in die gebou – met geen enkele venster oop nie – vir die volle vier ure van dié nagtelike inperking.
Binne ’n week het die getal nuwe koronagevalle begin styg.
Dis in een kleinerige plattelandse dorpie. Wat in die stede aangaan, wil ek nie eens oor dink nie. Ons weet wel dat daar daagliks omtrent drieduisend nuwe infeksies plaasvind.
Maar beweeg in enige woonbuurt rond, en dis asof mense in totale ontkenning lewe. Groepies jong mense beweeg rond met absoluut geen konsep van sosiale afstand nie. Maskers is iets wat mens opsit as jy toegang tot ’n winkel of staatsgebou wil hê, en dan word dit opgeskuif tot knussies onder die neus. Ons kan nie maskers oor ons neus sit nie, want mens kan nie asemhaal nie, hoor ek keer op keer.
Mens kan ook nie asemhaal as korona jou longe aanval nie, maar dis blykbaar ’n “we’ll cross that bridge when we get to it”-probleem.
Boonop sien ek ál meer voertuie met registrasienommers van ander provinsies. Dis die vakansiegangers wat vroeg wegspring voor die grootste toestroming plaasvind, tradisioneel hier van die middel van Desember af. Dis wanneer al die binnelanders op ons kusdorpe toesak.
Dis goed vir die ekonomie, en die vader weet ons ekonomie het al die hulp nodig wat dit kan kry, maar teen watter koste? Die Tuinroete het ná die skoolvakansie ’n hot spot geword. Elke dorp waar daar ’n rage gehou is, het ’n hot spot geword. Elke groot party waarvan ek weet, het positiewe gevalle opgelewer.
’n Vriendin het onlangs haar 50ste verjaarsdag gevier saam met ’n paar van haar familielede en nabye vriende. Binne dae daarna is sy en twee ander gaste positief getoets. Haar broer is in die hospitaal opgeneem en moes geïntubeer word omdat hy sukkel om asem te haal.
Daar is vele sulke verhale. My vriendin het agterna op Facebook hierdie waarskuwing gerig: “This is the time of year for celebration and reconnecting with family and friends and we’ve all been craving family time. Just PLEASE be aware of the uninvited microscopic guest. Stay safe.”
Dis woorde wat nie genoeg beklemtoon kan word nie. Hierdie was ’n jaar van groot opoffering vir ons almal. Maar nog opoffering is nodig. Ons kan nie net voortgaan asof daar nie ’n pandemie is nie. Ons kan nie groot byeenkomste hou waar ons ons waaksaamheid verslap nie.
Dis Kerstyd. Dis ’n tyd wanneer ons graag by mekaar kuier, wanneer ons graag feesvier. Dis ’n tyd wanneer baie van ons te veel eet en hopeloos te veel drink. Dis ook ’n tyd met die potensiaal om die eerste golf na kinderspeletjies te laat lyk.
Bly eerder hierdie jaar by die huis. Wees lief vir jou familie van ver af. Ons moet almal nou selfbeheersing aan die dag lê, anders gaan 2021 afskop met ’n geween en ’n gekners van tande.
Asseblief, onthou die mikroskopiese ongenooide gas. Wees veilig.
Lees ook:
Oxford se breins, ’n siek sjimpansee en my linkerarm: Ons gaan COVID-19 dôner
Die etiek van inentings en toetsing: Izak de Vries as proefkonyn
COVID-19 en die toekoms: projeksies, entstowwe, die ekonomie, rampe en inperkings

