COVID-19 en die toekoms: projeksies, entstowwe, die ekonomie, rampe en inperkings

  • 2

Daar is geen aanduiding dat Suid-Afrika nie presies dieselfde COVID-19-pad sal loop as enige ander land nie. Die ergste lê nog in die komende maande voor, skryf Elsabé Brits.

Elsabé Brits (foto: verskaf)

Talle Suid-Afrikaners is negatief oor die staat van inperking, maar buiten die suiwer ekonomiese verliese was die beweegrede daarvoor baie groter as dit. Hiermee word die ekonomiese en sosiale redes nie misken nie, maar ’n mens moet die wetenskaplike en mediese redes ook verstaan. Want president Cyril Ramaphosa en sy raadgewers het ’n ramp voorkom soos wat onder meer in Italië en Spanje gebeur het en wat besig is om in Engeland af te speel.

Vele Europese lande het nie tyd gehad om voor te brei nie; dit het heeltemal te vinnig op hulle afgekom. Brittanje het ’n fout gemaak met ’n gevaarlike virus. Hulle het aanvanklik teen ’n staat van inperking besluit en gehoop dat tropimmuniteit hulle sal beskerm. Dit het nie gewerk nie – dié siekte is te dodelik, en te veel mense (sowat 20%) beland in die hospitaal.

Die staat van inperking, soos voorgestel deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), is nie om die verspreiding van die virus te blus nie. Dit was om die land gereed te kry vir wat nog voorlê, en op sy beste uitstel te gee. Amerika het ook nie die WGO se riglyne gevolg nie, en digbevolkte areas se hospitale word oorval.

Wat tydens ’n staat van inperking gedoen moet word, volgens die WGO:

  • Die gesondheidsorgwerksmag moet uitgebrei, opgelei en ontplooi word.
  • ’n Sisteem moet daargestel word om elke vermeende geval op gemeenskapsvlak op te spoor.
  • Verhoog produkte, kapasiteit en die beskikbaarheid van toetse.
  • Identifiseer, maak die aanpassings en rus die fasiliteite toe om pasiënte te isoleer en te behandel.
  • Ontwikkel ’n duidelike plan en prosedure om mense wat met hulle kontak gehad het, in kwarantyn te plaas.
  • Herfokus die hele regering om COVID-19 te beheer en te onderdruk.

Dit is presies wat Suid-Afrika gedoen het, of besig is om te doen. Al ons fasiliteite vir kwarantyn is nog nie gereed nie, en veldhospitale se planne is nog nie bekend gemaak nie, maar dit word beplan.

Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor COVID-19, het dit in sy voorlegging duidelik gestel: “Wat ons reggekry het, was om wal te gooi teen die oordrag; ons het die scenario vertraag. Ons het geen immuniteit nie en almal het ’n risiko. Die eksponensiële opwaartse kurwe is vertraag en dit sal weer opgaan sodra die staat van inperking opgehef word.”

Hy het beklemtoon dat  die land nie die verspreiding sal kan voorkom nie en dat die optrede net daar was om die eerste golf te tem. Dit was om die oordrag vanaf mense wat van oorsee gekom het, en hulle kontakte, op te spoor. Die virus is egter nou in die gemeenskap, wat beteken dit versprei plaaslik. Daar word nou aktief na gevalle gesoek deur derduisende gemeenskapsgesondheidswerkers, en toetsing  in die gemeenskap het eers twee weke gelede wyd begin, toe die kriteria verander is.

In die wintermaande sal die gevalle vermeerder, met die piek wat in Augustus en September verwag word.  Dit is waarvoor daar voorberei word. “Die moeilike waarheid is dat ons nie die eksponensiële groei sal kan ontsnap nie,” het hy gesê. Die verwagting is dat daar brandpunte sal ontstaan waar baie mense die virus het, veral in digbevolkte gebiede in Kaapstad, Durban en Gauteng.

Fotobron: Canva

Wanneer die seisoenale griepseisoen aanbreek, sal dit haas onmoontlik wees om te onderskei tussen wie griep het en wie COVID-19, omdat die simptome baie dieselfde is. Mense is ook 14 dae of langer asimptomaties met COVID-19, maar in dié tyd is hulle aansteeklik.

In ’n ander aanlyn konferensie wat deur die Universiteit van KwaZulu-Natal gehou is, het Karim verlede week gesê die feit dat die regering die wetenskaplikes se aanbevelings so ernstig opgeneem, is belangrik. “Ons het gekies om proaktief te wees.”

Daar sal vinnig opgetree word om die verwagte brandpunte te beheer en gesondheidswerkers soontoe te stuur, danksy die data wat versamel word. “Dit is soos ’n dyk; ons sal die water kan terughou. Elke keer wat daar ’n lek is, sal ons ’n manier vind om dit toe te stop. Elke keer wat daar op ’n plek ’n uitbreking is, leer ons meer.”

Die 50 lede van die komitee waarvan hy die voorsitter is, bestaan nie net uit ministers en LUR’e nie, maar sluit ook top wetenskaplikes en direkteurs-generaal in. “Nou die aand het die Minister van Gesondheid my gelaat met ’n lys van 17 dinge waaraan ek moet aandag gee. Van die antwoorde moet ek en my span binne 12 uur verskaf; vir ander wat meer kompleks is, is daar hope navorsing waarvoor ek ’n komitee saamstel en waaraan ons 48 lank werk. Ons vra kenners van buite om te help.”

Hy het gesê nog nie een stuk advies wat hulle gegee het, is verwerp nie.

Die ander groot kommer is mense met MIV. Daar is 2,5 miljoen mense wat antiretrovirale middels in Suid-Afrika ontvang, maar daar is nog geen data of navorsing oor hoe hulle sal vaar indien hulle siek word nie. Karim het gesê die grootste kommer is die sowat 500 000 mense met MIV wat nie antiretrovirale middels ontvang nie.

Die besluite wat geneem is en word, was om lewensverlies te keer – verliese wat ons nie kan tel nie, want dit het nie gebeur nie. Die regering het miljoene items bestel, hospitale maak gereed vir sover hulle kan. Waak- en hoësorgeenhede het opnames gedoen en daar is ’n tekort aan duisende ventilators en aan beddens, wat nou aangevul moet word. Daar is met die nasionale ventilatorprojek begin in ’n poging om dié moeilike toestelle plaaslik te vervaardig.

Die projeksies wys dat ons in die beste scenario in September 4 100 intensiewesorgbeddens en 25 402 gewone beddens per dag sal nodig kry, en in die heel slegste scenario 14 767 intensiewesorgbeddens en 78 078 gewone beddens. Elke dag. Enige persoon wat in intensiewe sorg beland, moet 24 uur per dag iemand langs sy bed hê en ’n dokter wat baie gereeld daar is. Derduisende gesondheidswerkers word benodig, mense wat self gevaar loop om siek te word. Dit is belangrik dat ons hulle beskerm, asook ouer mense.

Geen land kan nié beplan nie, of hande gevou sit en hoop niks gebeur nie. As hy nie beplan nie, faal hy elke burger.

Daar is nie ’n entstof nie en daar is geen medikasie wat óf infeksie kan voorkom óf dit suksesvol kan behandel nie. Alles wat sover voorgestel is, is moontlikhede wat nog nie in kliniese toetse bewys is dat dit veilig en effektief teen COVID-19 is nie. Daar is wel talle studies wat besig is om moontlikhede vir ’n terapeutiese middel en entstowwe te ondersoek, maar niks is nog bewys nie.

Al wat ons kan doen, is wag, by ander lande leer en aanhou om gedrag aan te pas. Die wêreld is lankal nie meer dieselfde nie en dit gaan vir maande, dalk baie langer, nie dieselfde wees nie. Baie beter higiëne, hande was, die handhaaf van fisieke afstand, en veral geen byeenkomste nie sal ons vir lank moet handhaaf. Selfs net ’n klein groepie mense saam sal gevaarlik wees. En vertrou op behoorlike kennis eerder as waninligting, en op bewese wetenskap en geneeskunde.

Lees ook:

COVID-19-politiek: waar verlede, hede en toekoms ontmoet

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johann Cronje

    Dankie Elsabe,
    Volledig en akkuraat. Ek werk in die Oos Kaap Gesondheid Departement. Daar word hard agter die skerms gewerk.
    Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top