COVID-19-politiek: waar verlede, hede en toekoms ontmoet

  • 1

Foto van André Duvenhage: verskaf

Min gebeurtenisse en/of tendense het so ’n snelle, omvangryke en bepalende invloed op die wêreldpolitiek gehad as die uitbreek van die Koronavirus – ’n pandemie, voorgestel as COVID-19, wat die wêreld grootliks onkant gevang het. Die invloed hiervan op state is (volgens die Duitse kanselier Angela Merkel) die omvangrykste van alle gebeure sedert die Tweede Wêreldoorlog. Die impak hiervan beïnvloed elke staat in die wêreld en raak ekonomiese sekerheid, kontak en kommunikasie tussen mense, politieke en diplomatieke verhoudings, en bring weer historiese konflikte en skeidslyne oornag na vore met eiesoortige, soms moeilik voorspelbare dinamika wat hieruit kan voortspruit. Vroeë aanduidings is dat die sterker state van die wêreld (lees Westerse en Oosterse state) betreklik suksesvol is in die bekamping van die virus, terwyl swakker state (soos gemeet ooreenkomstig vermoë en hulpbronne) die groot slagoffers in hierdie proses kan wees.

Suid-Afrika, as ’n verswakkende staat (met ’n betreklik geïndustrialiseerde en ope handelsekonomie), is binne Afrika-konteks besonder kwesbaar, veral as die groot getal burgers wat aan MIV en diabetes ly, in die risikopakket verreken word. In samehang met bestaande politieke en ekonomiese uitdagings beskou, staan Suid-Afrika voor sy grootste krisis sedert die aanvaarding van die 1996-Grondwet, met sommiges soos Johann Rupert wat reeds praat van ’n ekonomiese parallel met die Groot Depressie van 1931.

Hierdie artikel is toegespits op die uitwerking van die koronadinamika op die Suid-Afrikaanse politiek deur die gebeure/krisis binne die huidige Suid-Afrikaanse konteks te plaas; die stappe wat gedoen is om die pandemie te stuit te beoordeel, en om die uitspeel hiervan ten opsigte van die groter politieke omgewing te verreken, met ’n perspektief op die pad vorentoe. My perspektief is dat die koronatydstip ’n strategiese punt is waar verlede, hede en toekoms ontmoet – uit eie reg ’n kairosoomblik.

Reeds voor die uitspeel van die koronadinamika was Suid-Afrikaanse politiek by ’n kantelpunt waar ’n kombinasie van politieke, ekonomiese en maatskaplike faktore sensitief gebalanseer was en waar selfs ’n kleiner faktor (of kombinasies van kleiner faktore) die dinamika van die stelsel in ’n nuwe rigting kon stuur. (Vergelyk Duvenhage 2020 oor Suid-Afrika by ’n kantelpunt en die moontlikheid van ’n slegte-saak-scenario.) Die stand van Suid-Afrikaanse politiek (2020) was allesbehalwe gunstig. Polities was toenemende konflik en geweld aan die orde van die dag, byvoorbeeld diensleweringsproteste, taxigeweld, arbeidsonrus, die ineenstorting van staatsinstellings en gepaardgaande konflikte, faksiegevegte binne die regerende alliansie, en politieke weerstand as uitkoms van identiteitspolitiek en -kultuur. Ekonomies is negatiewe groeimomente reeds vir ’n paar jaar algemeen en was vooruitsigte reeds negatief voordat die koronavirus se uitwerking ‘n faktor geword het. Ander negatiewe faktore sluit in: kapitaal wat in reusagtige bedrae na die buiteland vloei; ’n krimpende belastingbasis wat meer en meer waarneembaar raak; staatskaping wat die ekonomie enigiets tussen R500 miljard en R1,5 triljoen gekos het; staatskuld wat teen ’n onstellende tempo toeneem; die rand se waarde wat die laagste in die geskiedenis is, en die mynbou- en vervaardigingsektore wat op hul knieë is. Landbou het ná een van die ernstigste droogtes in onlangse geskiedenis weer begin kop oplig en verskaf ’n effense ligflikkering in ’n betreklik donker tonnel.

Dit was daarom nie verbasend nie toe al die groot graderingsmaatskappye die Suid-Afrikaanse ekonomie onlangs tot die vlak van rommelstatus afgegradeer het. Dit hou verdere negatiewe gevolge vir die ekonomie in, veral vir toenemende staatskuld. Kortom, die ekonomie beleef die grootste krisis in onlangse dekades, of moontlik selfs sedert 1931, gedurende die Groot Depressie. ’n Baie groot herskikking was reeds in die vooruitsig, ongeag die uitwerking van COVID-19.

Sosiaal is die samelewing tans ook meer verdeeld as op enige ander tydstip sedert 1994. Identiteitsgebaseerde konflik is aan die orde van die dag, en kom voor ingevolge rasgebaseerde identiteit en op grond van geslags- en klasverskille met xenofobiese tendense as uitkoms. Met armoede wat onder meer as 50% van die bevolking heers, een van die grootste gapings tussen ryk en arm in die wêreld, en toenemende misdadigheid (voortspruitend uit onder meer ’n kultuur van geweld) is die sosiale samestelling van die samelewing allermins stabiel en stel heersende omstandighede ’n grondslag daar vir wanbalans en onstabiliteit.

Hoe lank kan ’n stelsel en/of staat blootgestel wees aan die omvangryke en diepliggende uitdagings soos hier bo geskets voordat dit ’n kritieke drempel bereik en stelselentropie (stelselverval) en selfs stelselverbrokkeling na vore tree? Dit is die slegte-saak-scenario waarna vroeër verwys is.

Reeds voor die uitbreek van COVID-19 en die verreikende implikasies hiervan as uitkoms, was die Suid-Afrikaanse staatkundige bestel vasgevang in ’n smeltkroes van ingewikkelde veranderings waarvan die gevolge moeilik akkuraat voorspel kan word. My eie navorsing wys ’n slegte-saak-scenario wat versterk word deur die verloop van die koronadinamika en die verreikende gevolge wat dit inhou vir elke landsburger, ryk of arm, swart of wit. Die negatiewe scenario behels toenemende patrone van politieke, ekonomiese en maatskaplike onstabiliteit en staan in die teken van die einde van ’n ou bedeling en die begin van ’n nuwe era – ’n moeilike en baie dinamiese proses met geen duidelike bakens om die pad vorentoe aan te dui nie. Die toenemende huidige vraag is of die 1996-Grondwet (en veral die wyse waarop dit geïmplementeer word) steeds antwoorde bied vir die vraagstukke waarmee ons nou te make het. Moet kernkwessies nie opnuut beskou word nie, asook (en veral) die wyses waarop omstrede kwessies aangepak moet word? Daar word selfs kritiese vrae gevra oor die kapitalistiese stelsel en die werking daarvan en of dit nie die einde van ’n era van ekonomiese geskiedenis in die wêreld is nie. Hierdie werklikheid en gepaardgaande dinamika word versterk met die verloop van die koronakrisis en veral die wyse waarop dit deur die huidige regering bestuur word. Die volgende staan uit in hierdie verband:

  • Daadwerklike en vinnige optrede met die implementering hiervan op ’n wyse waarvoor die President en die regering groot lof ontvang het. (Hier is selfs sprake van toetrede tot die morele hoë grond vir die regerende ANC.)
  • Die gebruik van die Chinese model/ervaring in die aanpak van die pandemie, gebaseer op kragdadige handeling en optrede van bo; betroubare data en inligting beskikbaar oor wat op voetsoolvlak aan die gang is, en die afdwing van dissipline waar en soos nodig. Wat laasgenoemde betref, is die rol van die weermag en polisie van kritieke belang.
  • Die uitgangspunt om die gesondheid van burgers as eerste prioriteit te stel met ekonomiese en ander werklikhede ondergeskik hieraan.
  • Verkryging van nasionale steun oor partygrense heen en bevestiging daarvan deur ’n benadering waarvolgens Suid-Afrika en sy mense eerste gestel word.

Die sukses van hierdie benadering was dadelik sigbaar deur nasionale instemming, infeksiesyfers wat ten minste nie dramaties gestyg het nie, en die burgery wat inskiklik hul samewerking gegee het in die proses.

Hierdie beeld van positiewe gesindheid en eenparige instemming is nietemin besig om dramaties te verander. Die volgende is kenmerkend van die politieke omgewing op hierdie tydstip:

  • Toenemende ongeduld met die proses van inperking, tesame met frustrasie wat ontwikkel en omskakel in weerstand en verset. Rooftogte en plundery van onder meer skole en drankwinkels is voorbeelde hiervan. Die tendens is nie uniek aan Suid-Afrika nie; uitgebreide protes is tans ook in verskeie state in die VSA aan die gang.
  • Hofsake en beplande hofsake as gevolg van belange wat skade ly in die proses van inperking, waarvan die sakeliga en die dranknywerheid die toon aangee met die belofte dat nog meer sake op pad is.
  • Ekonome wat wys op die vernietigende gevolge wat die grendelstaat vir die ekonomie inhou, met projeksies van tussen 400 000 en 4 miljoen se verlies aan werksgeleenthede – afhangende van hoe lank die inperking nog voortduur.
  • Sterk reaksie teen die optrede en ook wanoptrede van veiligheidsinstellings, waaronder lede van die weermag en polisie en die soms uiters arrogante optrede van leiers soos minister Bheki Cele en andere.
  • ’n Rasgebaseerde benadering betreffende die verlening van hulp op sogenaamde BBBEE-grondslag. Dit lei tot verdeling, protes, weerstand en alternatiewe befondsing.
  • ’n Uiters onbuigsame benadering ten opsigte van die verkoop van drank en sigarette wat tot groot ontevredenheid bydra.
  • Inkonsekwente optrede deur komponente van die samelewing, waar sommige hulle absoluut by die reëls hou en ander hul weinig daaraan steur, sonder enige sterk regeringsaksie teen laasgenoemde groepe.
  • Politici van die regerende ANC wat voedselhulp vir eie voordeel en gewin gebruik en misbruik.

Wat baie duidelik is, is dat die status quo nie onveranderd kan voortgaan nie en dat politieke leiding tans krities noodsaaklik geword het. Kenmerkend van die Ramaphosa-bestuurstyl was om juis van agter te bestuur en homself nie prominent as ’n leier van statuur voorop te stel nie. Hierdie styl was oor die laaste paar weke suksesvol, maar in die fase wat ons nou betree, is sterk transformatiewe leierskap krities noodsaaklik en sal moeilike besluite oor die kort termyn geneem moet word. Wat absoluut uitstaan, is dat die ekonomie en die wyse waarop sake nou agteruitgaan (’n inkrimping van enigiets tussen 6% en 10% word vir die ekonomie voorspel en werksverliese vir moontlik ’n miljoen of meer mense), besig is om ’n veel groter risiko te raak as die slegte-saak-scenario ten opsigte van die verloop van die COVID-19-dinamika. ’n Kritieke vraag wat beantwoord moet word, is of die staat van inperking onbepaald (so lank soos die virus aanwesig gaan wees) sal voortduur en of daar nie liefs aanvaar moet word dat die virus buitendien sy loop sal neem nie, ongeag inperkingsmaatreëls. In laasgenoemde geval kan sekere beperkende maatreëls volhoubaar ingestel word, met die wete dat dit nie moontlik is om jou geheel en al daarteen te verskans nie. Indien die onafwendbaarheid van die virusdinamiek aanvaar word (soos hier bo geargumenteer), is dit ’n ope vraag of die ekonomie verder opgeoffer moet word.

Fotobron: Canva

Die volgende punte is tans van strategiese belang in die hantering van die pandemie vorentoe:

  • Beëindig die staat van inperking en hou die minimum reëls in werking volgens ’n model van gedifferensieerde toepassing. Differensiasie moet plaasvind volgens die erns van die situasie in ’n bepaalde gebied en nie volgens die beginsel van “one size fits all” nie. Die Nieu-Seelanders het vier onderskeibare vlakke wat toepaslik kan wees, naamlik “prepare”; ”reduce”; “restrict”, en “lockdown” – elk met sy eie kriteria en toepassingsmodel. Ons kan baat deur ’n soortgelyke strategie te volg.
  • Ontwikkel en vestig mediese geriewe en dienssentrums so vinnig moontlik.
  • Bied ondersteuning vir die geaffekteerde groepe, met behulp van die nodige toerusting en kapasiteit.
  • Kry die ekonomie so gou moontlik aan die gang en skep sover moontlik ’n gemaksone vir die burgery.
  • Gebruik die pandemie om noodsaaklike geld die land in te kry (mees waarskynlik van die IMF) en gebruik die vensterperiode om noodsaaklike ekonomiese hervormings te aktiveer.
  • Hou politieke opponente (veral populiste binne en links van die ANC) op hul tone en verenig politieke kragte waar moontlik.
  • Beplan pragmaties volgens die verloop van sake, maar beskerm die ekonomie en ekonomiese produksie as ’n kernoorweging.

Hoewel die koronavirus en die gevolge daarvan die plaaslike en internasionale media tans heeltemal oorheers, bly dit bloot een veranderlike ingevolge die groter politieke dinamika en die uitwerking van ingewikkelde kragte binne die Suid-Afrikaanse politiek. Die politieke, ekonomiese en sosiale impak van die virus gaan veel groter wees en baie langer duur as die mediese en gesondheidsimplikasies. In ’n wêreldkonteks (soos ook in Suid-Afrika die geval is op ’n kleiner en meer eiesoortige skaal) gaan dit ’n sneller word vir groter, baie dinamiese en moeilik voorspelbare verandering. Ons betree tans – nie net as gevolg van die impak van die virus nie, maar ook as gevolg van ’n kombinasie van talle faktore – ’n tydperk van ingrypende verandering en groot onsekerheid. HG Stoker verwys in ’n ander verband na ’n soortgelyke tydperk as die “stryd van die ordes”. ’n Ou orde is besig om tot niet te gaan en ’n nuwe orde kom tot stand, wat geen gemaklike en eenvoudige geboorte gaan wees nie. Die uitkoms daarvan is moeilik om te voorspel en is steeds gehul in onsekereheid en verrassing.

Wat in sekere opsigte kommerwekkend is, is dat die president van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, onlangs die situasie in sy weeklikse nuusbrief so saamgevat het: “There can be no greater injustice than a society where some live in comfort and plenty, while others struggle at the margins to survive with little or nothing at all. Yes, these are the residual effects of a fractured and unequal past. But they are also a symptom of a fundamental failing in our post-apartheid society. The nationwide lockdown in the response to the coronavirus has gravely exarcerbated a long-standing problem.” Dat daar waarheid in die perspektief is, is gewis. Ongelukkig laat hierdie perspektief ook vrese onstaan dat die hulpbronne van die land wat in belang van die armes gebruik word, weer vir ander doeleindes geplunder en misbruik kan word, soos reeds gebeur het met die uitdeel van kospakkies, asook die BBBEE-vertrekpunt as voorvereiste vir hulp en ondersteuning. Gaan die koronatydperk weer vir die regering en sy kaders ’n geleentheid bied om aksies van staatskaping ongehinderd te volvoer? Dit is reeds duidelik dat die visier onder meer op pensioenfondse en ook private pensioenfondse gerig is. Dit kan ook ’n belangrike aansporing wees vir die deurvoer van die beoogde wysiging van artikel 25 van die Grondwet, met beoogde onteieningprosesse wat hiermee verband hou. Dit kan ook vir die ANC ’n geleentheid bied om ander vorme van populistiese politiek, wat reeds voor korona ter tafel was, te verwesenlik, met verreikende implikasies vir ’n reeds sukkelende ekonomie. Die krisis van die Landbank wat onlangs aan die lig gekom het en wat vergelykbaar is met die finansiële scenario’s van SAL, Denel, die Poskantoor, Eskom en Transnet, stem waarnemers tot uiterste kommer. Die voortsetting van hierdie tendense sou die einde van ’n pad kon beteken, met ’n staatkundige bedeling wat die werklikheid van volledige disintegrasie in die gesig sal moet staar. In dié opsig handel die sleutelvraag oor watter rigting Ramaphosa vorentoe met die land gaan inslaan: die ANC se populistiese weg of ’n realistiese weg waarin investering, groei en ontwikkeling moontlik gaan wees. Die koronadinamika bied aan Ramaphosa die geleentheid om ter elfder ure nog te red wat daar te redde is. Of hy die insig en perspektief daarvoor het, is ’n ope vraag. Wat ek met stelligheid kan sê, is dat die besluite wat oor die korter termyn geneem gaan word, nie net sy termyn as president gaan bepaal nie, maar ook die toekoms van die land ingevolge die uitspeel van ’n kombinasie van ingewikkelde faktore en die wisselwerking van hierdie faktore. Daar kom tye waar verlede, hede en toekoms kortstondig by mekaar aansluit. Hierna word soms as ’n vensterperiode of kairosoomblik verwys. Dit is waar ons nou staan in die politieke en staatkundige ontwikkeling van Suid-Afrika.

Fotobron: Canva

Die aankondiging van ’n R500 miljard-reddingspakket vir Suid-Afrika (’n Marshall-plan in die kleine) is inderdaad ’n stap in die regte rigting en ’n aanduiding dat Ramaphosa wel die geleentheid aangryp en die krisis tot landsvoordeel bestuur. Deur vir fondse en bystand by onder meer die IMF en die Wêreldbank aan te klop, is ’n klap in die gesigte van populiste soos Ace Magashule en selfs Julius Malema. Dit wys dat die hervormingsgesindes, ingesluit Tito Mboweni en Pravin Gordhan, se posisie sterker is as in die onlangse verlede en dat dit moeiliker gaan wees om byvoorbeeld artikel 25 van die Grondwet radikaal te wysig. Deur sowat R200 miljard beskikbaar te stel vir die sowat 700 000 klein en mediumondernemings is gerusstellend en baie noodsaaklik om bykans drie miljoen werksgeleenthede te beskerm. ’n Verdere R100 miljard wat bestem is vir werkskepping en om bestaande poste te beveilig, sal bydra tot sekerheid en stabiliteit – net soos die fondse vir die verhoging van sosiale toelae, kospakkies vir sowat 250 000 behoeftige gesinne en ander maatreëls (verlaging van rentekoerse, belastingtoegewings en -verligting) om die ekonomie en finansiële stelsels te stabiliseer en te bestendig. Hulp aan plaaslike regerings ten opsigte van die lewering van noodsaaklike dienste is ook belangrik. Die besluit om meer as 73 000 weermaglede op ’n gereedheidsgrondslag te plaas is ’n aanduiding van sensitiwiteit by die regering rakende maatskaplike onrus en die moontlikheid van politieke onstabiliteit.

Hoewel bogenoemde maatreëls ongetwyfeld groot meriete inhou, bly die suksesvolle implementering daarvan ’n belangrike kwessie. Die risiko van korrupsie, magsmisbruik en rassediskriminasie in die toepassing van verligtingsmaatreëls gaan grootliks die sukses of mislukking van bogenoemde inisiatiewe bepaal. Hef aan lê nog voor, Meneer die President! Hoe die skuld betaal gaan word, is ook een van die belangrike kwessies wat vorentoe bestuur sal moet word.

Tot dusver het Cyril Ramaphosa betreffende sy hantering van die situasie op die kruin van die koronagolf gery. Dit is egter besig om vinnig te verander en planne sal gereeld en pragmaties ooreenkomstig die situasie aangepas moet word. Uiteraard sal geen keuses maklik wees nie. Dit is nietemin tyd om bestaande beleid en beleidstoepassing te wysig. Die skade aan die “social fabric of society” is besig om net te groot te word en mense se vryheid om noodsaaklike oorlewingskeuses te maak word weggeneem, wat tot ontevredenheid en konflik lei. Wie weet watter verborge en dinamiese kragte in hierdie proses ontsluit kan word wat bepalend op ons toekoms kan inwerk?

Dit is bloot ’n kwessie van tyd voordat sosiale en politieke weerstand gaan begin verhewig. Die tyd sal leer of bogenoemde maatreëls om die krisis te bestuur, voldoende en doeltreffend was. Die regering sal hierop bedag moet wees en betyds die nodige besluite moet neem. Kan Ramaphosa die koronakrisis (en die geleenthede wat dit ontsluit) gebruik om Suid-Afrika op ’n nuwe staatkundige trajek te plaas, of is die afwaartse spiraal van populisme, swak besluitneming, institusionele verval en korrupsie ons voorland – selfs meer as in die onlangse verlede? Indien wel, sal hierdie Republiek ook tot ’n einde kom. Wees gewaarsku, Meneer die President. As jy nie die besluite neem nie, gaan hulle noodgedwonge vir jou geneem word en jou politieke profiel gaan eindig met “the moment without the man”.

  • André Duvenhage is ’n navorsingsprofessor aan die NWU, en ’n politieke wetenskaplike, en hy spesialiseer in die veld van politieke verandering met as toepassing die Suid-Afrikaanse verband. Hy is ’n bekende in media- en joernalistieke kringe en word dikwels as politieke kommentator gehoor. Hy is reeds meer as 35 jaar verbonde aan akademiese instellings soos die UV en die NWU. Sy groot belangstelling is die toekoms en hy werk ook op die gebied van scenario-ontledings.

Bibliografie

Cronje, F. 1998. Die krisis van die Nasiestaat. Acta Academica, 31(3):1–35

—. 2003. Politieke verval as ’n patroon van politieke verandering: ’n teoreties verkennende perspektief. Joernaal vir Eietydse Geskiedenis, 28(3):44–71.

—. 2005. Politieke transformasie – ’n konseptuele oriëntering en Suid-Afrikaanse toepassing. Acta Academica, 37(3):1–40.

—. 2007. Die Suid-Afrikaanse politieke omgewing: ’n strategiese ontleding en scenario-analise: Potchefstroom. NWU: Professorale intreerede.

—. 2017. A traveller’s guide to South Africa in 2030. Kaapstad: Tafelberg.

Duvenhage, A. 2020. Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario? Ongepubliseerd.

Heystek, M. 2019. RSA Titanic is in groot k#kdon’t let those patriotic swimsuits fool you. Biznews.com. 24 December 2019. Businesstech.co.za

Johnson, RW. 2019. Our coming traincrash. Politicsweb. 1 Augustus 2019

Myburgh, P-L. 2019. Gangster state – Unravelling Ace Magashule’s web of capture. Kaapstad: Penguin.

Lees ook:

COVID-19 en die toekoms: projeksies, entstowwe, die ekonomie, rampe en inperkings

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Insiggewende, gebalanseerde en goed beredeneerde stuk. Dit is duidelik dat die situasie in ons land uiters vloeibaar is. Massiewe uitdagings lê voor.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top