Die invloed van obesiteit op pasiënte met COVID-19-infeksie

  • 2

......

“Sterftesyfers van COVID-19-geïnfekteerde pasiënte met ’n geassosieerde ongesonde leefstyl en ander vermybare oorsake van siekte of dood is baie hoër as in mense wat gesond lewe. Die pasiënt se samewerking word nou ’n belangrike faktor om sy weerstand teen infektiewe siektes te verhoog sonder onnodige en potensieel nadelige medisyne. Uiteraard behels hierdie benadering positiewe motivering vir die pasiënt om betrokke te raak by sy eie genesing en behoud van gesondheid.”

......

Daar is wêreldwyd samehorigheid oor die inperkingsmaatreëls om die verspreiding van die virus wat infeksie met COVID-19 veroorsaak teen te werk. Voorlopige navorsing dui daarop dat ongeveer 81% van pasiënte slegs ligte verkoue of griepsimptome kry. Ongeveer 19% benodig mediese sorg vir respiratoriese simptome, van wie ongeveer 5% in die hoësorg- of waakeenheid beland vir intensiewe verpleging. Die meeste mense is dus onbewus daarvan dat hulle dalk besmet is met die virus. As gevolg van die wye mediadekking is dit te verstane dat pasiënte wat gediagnoseer is met COVID-19, angstig is oor hulle toestand.

Suksesse van die moderne mediese wetenskap

Alhoewel die hoofoorsake van voortydige dood vir alle praktiese doeleindes deur die moderne mediese wetenskap oorwin is, is daar nog geen kuur vir hierdie nuwe pandemie in sig nie. Daar word onverpoosd gewerk aan die ontwikkeling van ’n entstof teen hierdie nuwe virus wat die lewe van die mens bedreig op dieselfde wyse as waarop die 1918-griep-, pes- en pokke-epidemies die mensdom getref het. Doeltreffende immunisasies is ontwikkel wat hierdie gedugte epidemiese siektes onder bedwang gebring het. Voortdurende deurbrake in die mediese wetenskappe is verbysterend, en weldra sal daar ’n oplossing vir hierdie “nuwe” siekte kom.

Illustrasie: Canva.com

Groot bedrae geld word bewillig om die koronavirus te beveg, en drakoniese inperkingsmaatreëls is in werking gestel wat grens aan die absurde, soos die beperking van oefening, alkohol en die gebruik van tabakprodukte. Die verbod op rook kan dalk geregverdig word as gevolg van die ernstige gevolge vir die gesondheid (daar is nie ’n “veilige” sigaret nie), en omdat verskillende mense dikwels aan dieselfde sigaret rook, en so die risiko loop om aan te steek. Maar oefening en matige alkoholverbruik het vir die meeste mense gesondheidsvoordele.

Beperkings van die mediese wetenskap

Alhoewel die meeste akute siektes suksesvol hanteer word deur hierdie siektegeoriënteerde benadering van die moderne mediese wetenskap, kan dieselfde nie gesê word van die hantering van chroniese en degeneratiewe leefstylverwante siektes nie. Trouens, baie van die middels wat voorgeskryf word mag ongewenste newe-effekte openbaar, en is dikwels onbekostigbaar vir groot sektore van die bevolking. Meer mense sterf vroegtydig weens te veel, te min, of verkeerd eet wat aanleiding gee tot obesiteit of wanvoeding wat aanleiding kan gee tot verswakte weerstand teen infektiewe siektes. Sterftesyfers van COVID-19-geïnfekteerde pasiënte met ’n geassosieerde ongesonde leefstyl en ander vermybare oorsake van siekte of dood is baie hoër as in mense wat gesond lewe.

......

“Wat is die rol van vetsug in pasiënte met COVID-19? Obesiteit word nie net in verband gebring met ’n positiewe energiebalans waar daar meer kalorieë ingeneem word as wat verbruik word nie, maar staan ook in verhouding tot ander faktore, soos te min oefening.”

......

Die pasiënt se samewerking word nou ’n belangrike faktor om sy weerstand teen infektiewe siektes te verhoog sonder onnodige en potensieel nadelige medisyne. Dit is ondanks die farmaseutiese bedryf se aansprake dat daar effektiewe medisyne is vir hierdie nie-oordraagbare siektes soos die wêreldwye epidemie van obesiteit, tipe 2-diabetes en ander verwante siektes. Menslike gedrag en die obesogeniese omgewing van moderne geïndustrialiseerde gemeenskappe van onaktiwiteit, smaaklike voedsel met verskuilde nadelige vette en suikers bevorder die ontwikkeling van die metaboliese sindroom, diabetes, vetsug en verwante kondisies soos kardiovaskulêre siektes en kanker.

’n Nuwe pasiëntgesentreerde benadering met ’n sterk fokus daarop om gesond te bly deur die inherente genesingspotensiaal van die liggaam te stimuleer, word nou aanbeveel vir die hantering van hierdie lewenstylverwante siektes. Bewysgebaseerde, niefarmakologiese en pasiëntgesentreerde intervensies, insluitend gesondheidsopvoeding en die bevordering van gereelde oefening, gewigsverlies, dieetintervensies en rookstaakprogramme, is aan die orde van die dag. Uiteraard behels hierdie benadering positiewe motivering vir die pasiënt om betrokke te raak by sy eie genesing en behoud van gesondheid. As ’n bonus het gesonde mense beter weerstand teen infeksies soos COVID-19.

Genetiese faktore

Die dokter moet fokus op die pasiënt se unieke familiegeskiedenis en genetiese risikofaktore wat betrokke kan wees. Dit is vandag al moontlik om genetiese risikofaktore vir nie-oordraagbare siektes soos kanker, kardiovaskulêre siektes, diabetes, demensie, osteoartritis en osteoporose te identifiseer wat interaksie met omgewingsfaktore toon. Hierdie omgewingsfaktore sluit die asidogeniese Westerse dieet, vetsug, rook en fisieke onaktiwiteit in. Lewenstylveranderinge soos die voorkoming van mikronutriënttekorte kan die uitdrukking van hierdie genetiese risikofaktore voorkom. Die interaksie van genetiese faktore met omgewingsfaktore is ’n opwindende nuwe dimensie in geneeskunde wat in die toekoms dalk ’n groot rol sal kan speel in die voorkoming van voortydige dood as gevolg van chroniese en degeneratiewe siektes te wyte aan ’n ongesonde lewenstyl en ernstige infeksies.

Obesiteit en fisieke aktiwiteit in perspektief

Wat is die rol van vetsug in pasiënte met COVID-19? Obesiteit word nie net in verband gebring met ’n positiewe energiebalans waar daar meer kalorieë ingeneem word as wat verbruik word nie, maar staan ook in verhouding tot ander faktore, soos te min oefening.

Foto: Pixabay.com

Daar is voldoende wetenskaplike bewyse dat fisieke aktiwiteit die bloeddruk verlaag, insuliensensitiwiteit verbeter, cholesterolvlakke voordelig beïnvloed, gewig in toom hou, en die bloedvate se funksie verbeter. Gesien teen die agtergrond van die potensiële newe-effekte van die cholesterolverlagende middels (die sg statiene), is dit ’n betekenisvolle bevinding. Ons navorsing het getoon dat die matige gebruik van rooiwyn beskerming bied teen die vaskulêre risikofaktore vir hartaanvalle deur die voordelige HDL-cholesterol te verhoog en plaatjiekleefbaarheid te verlaag. Obesiteit moet dus nie in isolasie gesien word nie, maar as deel van ’n komplekse interaktiewe metaboliese afwyking wat verskeie dieetfaktore, onaktiwiteit, rook en alkoholmisbruik insluit.

Die rol wat oefening speel in die behoud van gesondheid moet nie geringgeskat word nie. Oefening is noodsaaklik om die intra-abdominale vet te verloor wat die hoofoorsaak is van chroniese inflammasie en diabetes as gevolg van sitokienafskeiding. Terwyl akute (korttermyn-) inflammasie essensieel deel is van die genesingsproses, kan chroniese inflammasie aanleiding gee tot siektetoestande wat die mens vandag bedreig.

Daarbenewens is oefening ook ’n effektiewe stresweringsmeganisme, en dit bevorder ook ’n positiewe selfbeeld. Fiksheid dra by tot ’n aangename gevoel van welsyn, en bevorder ook ’n meer gesonde eetpatroon. Dit gaan ons verstand te bowe dat die huidige riglyne wat die regering voorstel om COVID-19 te bekamp, oefening vir mense bo 60 afraai! Te meer nog, om oefening te beperk tot drie ure per dag maak ook nie sin nie. Die arme honde wat staatmaak op hulle daaglikse stappie word ook aan bande gelê.

COVID-19 in perspektief

Dit is belangrik dat die regering die COVID-19-epidemie ernstig opneem, maar ook om ander epidemiologiese faktore wat ’n rol speel in voortydige dood en siekte in ag te neem. Natuurlik is ons bekommerd oor hierdie nuwe infeksie, maar dit sou wenslik wees dat dieselfde energie ingesit sal word in die epidemie van vetsug wat mense se gesondheid negatief beïnvloed. Infeksie met COVID-19 in mense met chroniese en degeneratiewe siektes dra ’n groot risiko vir voortydige sterftes.

Dit is interessant om te let op die stemme wat opgaan dat die beperking op ekonomiese aktiwiteite van die kwesbaarste arm mense van ons land aanleiding kan gee tot ongekende hongersnood! Die streng inperkingsmaatreëls maak dit vir mense wat afhanklik is van ’n dagloon onmoontlik om in hulle lewensbehoeftes te voorsien. Mense wat in informele nedersettings woon, kan ook nie veilige afstande handhaaf soos die huidige regulasies voorskryf nie. Die epidemies van tuberkulose, Vigs en rookverwante siektes vier hoogty in hierdie kwesbare gemeenskappe. Dit voorspel niks goeds vir die gesondheid van hierdie mense wat blootgestel kan word aan die koronavirus nie.

Ten besluite

Miskien is die COVID-19-wekroep ’n goeie ding om die land bewus te maak van die werklike nood in ons gemeenskap. Ons moet nie net fokus op hierdie vreemde virus nie, maar ook kennis neem van die sosio-ekonomiese en maatskaplike probleme wat aanleiding kan gee tot swak weerstand teen siektes en voortydige dood. Vetsug as simptoom van ’n ongesonde leefwyse in beide hoë- en lae-inkomste-groepe is onlosmaaklik deel van die invloed van die COVID-19-pandemie.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johann Cronje

    Ek kan verstaan dat ons in SA 'n probleem het met baie wat 'n ongesonde lewenstyl het, maar ek sou verwag dat die Italianers, wat soos ons verstaan, 'n Meditereense dieet volg, en daarom gesonder moet wees, moes sekerlik meer weerstandig gewees het teen die Corona-infeksies? Dawie, kan jy help?

  • Avatar
    David Pieter van Velden

    Dit is waarslynlik omdat hulle 'n ouer gemeenskap is wat kan verklaar waarom hulle weerstand teen infeksies laer is. Daar is in ons land 'n groot verskil in die sosio-ekonomiese stand wat ons situasie ook beinvloed.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top