
Foto: Pixabay
Almal soek Kersfeesleesstof of -presente. Hier is my top-10 van 2024. Ek het my keuse uit alle genres waar ek vanjaar gekuier het, saamgestel. Uiteraard bestaan my lys ook uit Afrikaanse en Engelse boeke. Ek het meestal probeer bly by boeke wat in 2024 verskyn het, maar vermeld wel twee keer ouer boeke. Ons almal koop mos ook boeke by tweedehandse boekwinkels.
Omdat ek nie appels met piesangs probeer vergelyk nie, verskyn my keuses in geen spesifieke volgorde nie, buiten nommer 1. Bloot omdat dit my gunstelingboek van 2024 was.
(10)

Skrywer: Brin Hodgskiss en Nicole Engelbrecht
Titel: Killer stories: Conversations with South African serial murderers
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781776193325
Boeke oor reeksmoordenaars is volop. Die bestes is uiteraard – volgens my – geskryf deur die mense wat hulle gejag en gevang het. Dink byvoorbeeld aan Gérard Labuschagne se The profiler diaries 1 en 2, asook Micki Pistorius se Catch me a killer. En sekerlik ook Ann Rule, wat saam met Ted Bundy gewerk het, se ikoniese The stranger beside me.
Wat Brin Hodgskiss en Nicole Engelbrecht se Killer stories vir my uitsonder, is dat die stories uit die monde van die “monsters” vertel word.
Brin gaan egter ’n waagmoedige stap verder: Hy bied lesers die geleentheid om ’n reeksmoordenaar se storie te gebruik om húlle eie verhaal te skaaf. Die skrywers koppel elke reeksmoordenaar se verhaal aan ’n sielkundige aspek van menslike gedrag wat lesers moontlik in hulself sal kan identifiseer. Brin vertel dan wat gedoen kan word om nie dieselfde weg van misdaad te volg nie, sou jy iets van ’n bepaalde “diagnose” in jouself ontdek. Daarom is die boek, veral die laaste gevallestudie, dus meer ’n middel tot introspeksie as bloot ’n paar sensasionele misdaadsake.
Lesers wat van Criminal minds, Mindhunter en soortgelyke TV-reekse hou, sal hierdie boek verslind. Dit is volgens my los hande die beste niefiksiepublikasie van 2024.
(9)

Skrywer: Graham Coetzer
Titel: Hunting with the Hawks
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624093565
Die ondersoekende joernalis en Carte Blanche-vervaardiger, Graham Coetzer, se boek, Hunting with the Hawks, wys ’n kant van die polisie wat ons selde sien. In die nege uiteenlopende stories waarin hy die Valke se staal wys, toon hy aan Suid-Afrikaners dat die polisie nog lank nie die stryd teen misdaad verloor het nie. Hierdie verhale is nie net nagevors nie; dit is beleef.
Ek het Hunting with the Hawks uitgekies omdat boeke oor die grensoorlog volop is, so ook boeke oor die vryheidstryd – boeke oor die polisie is egter skaars, en broodnodig vir die geskiedenis. En Coetzer het dit goed geskryf!
(8)

Skrywer: Bettina Wyngaard
Titel: Wat sê Bettina?
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485315575
Ek onthou my dae van oogklappe in die kerk rondom politiek en seksualiteit – die gevolge van beperkte kennis. En my belofte om voortaan vir myself te dink. Dit is juis hoekom ek boeke lees van mense wat met my verskil, soos Marion Sparg se Guilty and proud: An MK soldier’s memoir of exile, prison and freedom. Ek wil sommer hier in die middel van nêrens Koos Kombuis se Deur die tonnel van twyfel ook aanbeveel. Hy is eerliker oor sy geloof as wat ek in jare met myself was.
Om vir jouself te dink vra waagmoed, want jy moet jou tradisies eerlik ondersoek en jou geloof bevraagteken. Jy móét jouself uitdaag om self te kan dink – anders papegaai jy bloot wat jy geleer is, reg of verkeerd.
Een van my gunstelingbundels vol tuimeldroërrubrieke is Jonathan Jansen se Oor bokdrolletjies en rosyntjies. Wat sê Bettina? sluit hierby aan.
In die voorwoord waarsku sy immers self:
’n Ware demokrasie kan net floreer as mense blootgestel word aan menings teenstrydig met hul eie. Demokrasie kan net gedy as stemme wat verskil van die meerderheid, of wat dinge anders uitdruk as wat die meerderheid sou, ook gehoor word.
(7)
Skrywer: Dana Snyman
Titel: Seun
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 97806624093671
Professor Jonathan Jansen se Breaking bread was ’n hoogtepunt in my leerervaring gedurende 2024, maar dit is Dana Snyman se memoir, Seun, wat by my spook. Die meeste mans wat ek ken, was op die grens en dan spesifiek in Recce’s of Koevoet. Luister net in die kroeë of om braaivleisvure.
Nie Snyman nie. Inteendeel, hy praat vir die eerste keer oor sy skaamte en Kainsmerk, dat hy onbevoeg verklaar is om Suid-Afrika teen sy vyande te beskerm. Hy toon geen genade aan homself nie; kruisig hom weer en weer.
(6)

Skrywer: Sunel Combrinck
Titel: Sneller
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637004442
Ek lees weinig jeugverhale, maar elkeen wat ek vanjaar aangepak het, was vir my besonders goed. Jan Vermeulen se eerstepryswenner van LAPA Uitgewers se Jeugromankompetisie 2015, Asem, staan vir my uit bo enige jeugboek wat ek vanjaar gelees het. Ek is net nie seker of dit nog vrylik beskikbaar is nie. As tiener sou ek graag Annerle Barnard se Sweepslag, Sindikaat, Spel en Gif wou lees, maar my keuse vir die beste jeugverhaal van 2024 is Sunel Combrinck se Sneller.
Sunel illustreer die boelietema deeglik in haar verhaal. Nie net in die skool of op sosiale media nie, maar ook by monde van die hoofkarakter se ma. Sy slaag ook daarin om die uitdagings van die LGBTQ+-wêreld emosioneel uit te beeld.
(5)

Skrywer: Dirk Jordaan
Titel: Arendsnes
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9870624055327
Met sy tweede boek, Arendsnes (2012), volg Dirk Jordaan in Piet Steyn (Tou) se spore en ondersoek die vraag of dit eties korrek is om die reg in eie hande te neem wanneer ’n gebrekkige regstelsel landsburgers in die steek laat.
In Tou, Steyn se derde boek met superintendent Pine Pienaar aan die stuur van sy misdaadreeks, maak hy gebruik van die myner Kris Frieslich en sy gesin om die spanning van die Hof onder die Kruis se vigilantemoorde te breek. Jordaan draai die tou om sy leser se nek en verslap vir geen oomblik gedurende die 270 bladsye die spanning nie – inteendeel, hy trek dit stywer. Genadeloos!
Hy het die web so goed geweef, ek het gesukkel om saam met luitenant Lydia Stander, van die Valke se afdeling vir prioriteitsmisdaad, ’n los draadjie te vind. Maar wat vir my die meeste uitgestaan het, is die skrywer se skryfstyl. Veral as dit by die polisie kom. Net soos Deon Meyer, is hy ’n meester in polisieprosedure.
Die skrywer is ’n skat om te ontdek en werd om weer gelees te word.
(4)

Skrywer: Karin Brynard
Titel: Plaasmoord, Onse vaders en Tuisland
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9870798158237
In die tronk kon ons gedurende die feesseisoen ’n paar boeke uitkies. Twee goed was belangrik. Dit moes eerstens dik boeke wees en tweedens goed. Ek het dus nooit met onbekende skrywers ’n feesseisoen ingegaan nie; eerder my ou gunstelinge, soos Robert Ludlum, Frederick Forsyth en Gerald Seymour, se boeke weer uitgeneem om te lees.
Ek het die laaste paar jaar die krimikoningin, Karin Brynard, se stem so gemis dat ek besluit het om vanjaar weer haar boeke te lees. Net soos Deon Meyer en Mike Nicol, is sy die volmaakte pakkie. Sy skryf ’n bliksem van ’n boek (aldus Izak de Vries)!
Hopelik bederf sy (net soos Martin Steyn) ons binnekort weer met haar teenwoordigheid. Asseblief?
(3)

Skrywer: Erla Diedericks
Titel: Swyg
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776359646
Verbeel jou jy word in ’n tronk aangehou waar ter dood veroordeelde gevangenes aangehou is en gehang het ... Verbeel jou iemand begin spookstories vertel ... Enige sielkundige riller van Erla Diedericks lewer dieselfde hoendervleis en slaaplose nagte as so ’n aand in die dodeselle. Sy doen vir die Suid-Afrikaanse sielkundige riller wat Stephen King vir die bonatuurlike gedoen het.
Dit is al. Gaan koop haar boek(e)!
(2)

Skrywer: Marie Lotz
Titel: Breekpunt
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776380794
Afrikaanse krimilesers is geseënd met van die beste talent in die wêreld. Chris Karsten, Rudie van Rensburg en Irma Venter het lankal nie meer resensies nodig nie – hulle name verseker verkope by die duisende! Jaco Wolmarans, Sidney Gilroy en Julio Agrella lewer konstant blitsverkopers, so ook Marie Lotz.
Sy het reeds met haar kragtige debuutroman, Roofdier, getoon dat sy ’n woordkunstenaar is wat weet hoe om haar lesers te boei. Ons weet dat haar skryfwerk aan die krimikoningin, Karin Brynard, herinner. Dit is waagmoedig en hard.
Dit is egter haar uitbeelding van die milieu waarin die karakters beweeg wat vir my in al haar boeke uitstaan. Haar storielyne is deurmekaar geweef soos ’n Rubik-kubus en sy huiwer nooit om haar karakters tot die uiterste te strek nie! In so ’n mate dat ek nooit seker is of almal aan die einde van ’n boek lewendig gaan uitstap nie. Haar kinkels tref soos ’n sluipmoordkoeël – onverhoeds!
(1)

Skrywer: Christelle Wessels
Titel: Wegkruiper
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776380695
Christelle Wessels se vierde boek, Wegkruiper, staan soos ’n lyk in ’n kerk uit. Nie net is dit verhewe bo haar vorige drie boeke nie, maar ook wat vanjaar in die krimiarsenaal verskyn het. Ek het ’n paar keer met verbasing na die voorblad gestaar. Is dit dieselfde skrywer van Adder, Brandmerk en Om beter te moor? Haar intrige is deeglik uitgewerk – dink aan Dibi Breytenbach se Buit – en die belangrikste van alles, dit ontspoor nêrens nie.
Elke karakter het ’n stem en sy slaag meesterlik daarin om haar karakters af te wissel en die spanningslyn behoorlik soos galgtoue om almal se keel styf te trek.
Lees ook:
Boeksemdais 1: Die groter prentjie, die legkaartstukke, lekkerleesboeke en swart swane

