Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
*
Dit is nooit maklik om boeke wat onpopulêr is, aan te beveel nie. Veral nie wanneer die boeke met ’n handvol klippe uitgereik (kan) word nie. Ek ag dit egter nodig om soms ook hierdie boeke, wat my dwing om selfondersoek in te stel, met lesers te deel.
Hier is twee klippe-kou-publikasies. Albei kan hewige debat veroorsaak, veral onder lesers wat dit nie gaan lees nie. Albei het ook die vermoë om groei te ontkiem.
Skrywer: Koos Kombuis
Titel: Deur die tonnel van twyfel
Uitgewer: Naledi
ISBN: 978-1-991256-39-3
Koos Kombuis is eerliker oor sy geloof as wat ek in jare met myself was.
Ek het sy boek, Deur die tonnel van twyfel, saam met Abel Pienaar se God se oë is blou gelees as deel van my maandelikse Bybelstudie. Hierdie maand (met ’n skamele 139 bladsye) is toe uitgerek na amper ses maande. En ek stoei nog plek-plek met Pienaar.
In my dagboek lees een inskrywing: Glo ek nog in God?
Ek praat nie van die kruisie wat ek op die sensusvorm langs “Geloof – Christen” trek nie. My glo “met hart, siel, gees en verstand” sluit tog oordink in. Glo ek alles wat my geestelike herder van die kansel verkondig bloot omdat hy studeer het? Of bevraagteken ek ons visionêre leier, asook my tradisies en geloofsienings, weg van politieke invloed en populêre gewildheid? Deel ek net die mooiprentjie-preke op sosiale media omdat mense dit like, of glo ek elke woord wanneer die storms woes rondom my slaan en ek donkernag uitroep: My God, my God, waarom het U my verlaat?
My reis saam met Kombuis en Pienaar is duskant ’n boek. Ek is nie seker of ek van alles hou wat ek gedurende hierdie tydperk oor myself ontdek het nie. Maar om God in waarheid te aanbid, moet ek tog doodeerlik met myself kan wees in stiltetyd.
Hoekom praat ek nie daaroor nie?
My kindertydvrees van “wat gaan die bure sê” verhoed dat ek met kerktoere aan die gemeentes noem dat ek nie my Bybel ingepak het nie. Maar wel die nuutste krimi.
Glo jý nog in God? Of twyfel jy ook oor iets? Wat doen jy met die twyfel? Dalk moet jy Kombuis se boek nadertrek en jou siel antwoord. Jou eie vrees, jou eie twyfeling.
Kom ons erken dit maar: Die meeste van ons het lankal huisgodsdiens vir Netflix verruil. Gebed is ’n papegaairympie aan tafel of ’n skietgebedjie net voordat ek slaap of op pad werk toe. Dit het immers al aanvaarbaar geword om vroegoggend op te staan vir ’n Bok game of Dricus se Stillknocks, terwyl dit, byvoorbeeld, in die winter lyk of die wegraping alreeds die meeste kerke getref het.
Die ikoniese popster, skrywer en kunstenaar teken graag kerkgeboue en skryf op bladsy 13 soos volg daaroor: “My vriende wat weet van hierdie stokperdjie van my spot my dikwels en sê dat ek meer hou van die buitekant van ’n kerk as die binnekant.”
Ek weet dit weergalm ook meermale in my. Op my af-Sondae wil ek inlê.
Hulle weet nie wat ons weet nie, eggo in Kombuis se skrywe. Hy weet nie, weet nie, weet nie. Dit is juis omdat hy nie meer seker is wat hy glo nie, dat hy homself ontmoet in hierdie Naledi-publikasie. Sodat hy met sekerheid kan weet.
En dit is die rou eerlikheid waarmee hy met homself worstel wat hierdie boek in ’n moet-lees-publikasie verander. Dit gaan jou dalk langer besig hou as wat jy dink.
Kom ek bieg: Alhoewel ek ’n volgeling van die dominee-skrywer Jaco Strydom is en baie uit sy doen-bediening put, het ek onderlangs gehoop Kombuis wen die Andrew Murray-prys. Dit sal goed wees vir die Christendom dat ’n boek oor twyfel die gesogte tweejaarlikse prys inpalm, want Deur die tonnel van twyfel weerspieël eintlik waar baie van ons charismatiese broers en susters vandag sit. Ook ek. Al erken ons dit nie om braaivleisvure nie en al val ons op sosiale media dominees aan wat nou die slegte nuus van die evangelie verkondig.
Daag jouself met hierdie boek uit om jou geloof onder die vergrootglas te plaas.
Skrywer: Marion Sparg
Titel: Guilty and proud: An MK soldier’s memoir of exile, prison and freedom
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978-0-624-09469-2
Onlangs wonder ek of daar nog plek is vir boeke oor die Grensoorlog of die ANC se vryheidstryd. Ons leef immers al 30 jaar in demokrasie.
Die dominee-skrywer Schalk van Heerden het onlangs ’n boek oor die aktivis Bram Fischer gelees en daag nou lesers uit om die boek saam met hom te lees. Om daaroor te praat. Te debatteer. Bram was immers ’n ateïs, kommunis en vyand van die volk. So anders as wat die meeste van ons grootgeword het.
Ná die lees van Marion Sparg se memoir, Guilty and proud: An MK soldier’s memoir of exile, prison and freedom, het ek besluit om hom uit te daag om ook háár boek in groepverband te lees. Te bespreek.
Hierdie boek demonstreer hoekom ons nodig het om mekaar se stories aan te hoor om sodoende die verlede beter te verstaan, daaruit te leer en saam aan ’n beter toekoms vir almal te bou.
Sparg skryf feitelik, amper soos ’n geskiedenishandboek, maar sonder ’n politieke sousie. Haar skrywe speel nie die goed teenoor die sleg af nie. Sy probeer ook nêrens iemand oortuig om haar as ’n heldin te sien nie.
Wat sy wel regkry, is om die wêreld van toe sy grootgeword het kristalhelder te skets. Die anderkant van die munt wat ons so maklik vergeet wanneer ons verkondig dat “apartheid beter was”. Jy hoef nie saam met haar te stem nie, jy hoef wel net saam met haar te verstaan.
Hierdie boek, net soos Nelson Mandela se Long walk to freedom, verwyder die oogklappe van tonnelvisie. Dit is regtig ’n moet-lees om die geskiedenis reg te dokumenteer.
Terloops: Wat my die meeste van haar verhaal aangeraak het, is dat dit juis haar Afrikaanse onderwyser, Jack Voster, is wat haar van 16 Junie 1976 bewus gemaak het. Ons twee het aan verskillende kante geveg, ook jare uitmekaar, maar in retrospeksie wens ek ek kon in sý klas gesit het toe volksgedigte in my ingeburger is.
Kommentaar
Dankie Stefaans. Ek het 'God se oë is blou', en ook al Abel se ander boeke, baie kosbaar gevind. 'Deur die tonnel van twyfel' gaan ek nie lees nie. Koos het al interessante dinge geskryf so oor die jare, maar daai spesifieke boek, klink vir my nie juis interessant nie.
Jesus has been kicked out of the churches a long time ago. Best place to start looking is in fact not in the superficial white-washed carnal church, but His Word. The most important question is not "do we know Jesus", but "does Jesus know us?"
What does it mean in practical terms Bianca? That which you are saying? Does it mean people must read the Bible and then Jesus will magically reach out to them and get to know them, by means of them reading the Bible? What about all the people who daily read the Bible and still feel disconnected? Are you suggesting they are not reading it correctly? How about illiterate people? Or the blind who did not have access for centuries? I think churches fail because they are run by humans and humans can mess up things badly. And I don't think there are any gods involved in any decisions that we take. The good. The bad. The ugly. It is all our own choices. We should try as human beings to take responsibility of our choices. To be honest to ourselves. And take steps to change outcomes. Waiting and hoping on some mysterious gods, will not get us from A to B.