Kortliks met Stefaans: 23 Oktober 2024

  • 0

Tussen al die rondry en -vlieg na verskeie boekfeeste (Prins Albert, Aardklop en die Woordfees), het ek min tiktyd gehad, maar hier is ’n paar hoogte- en laagtepunte van my leesgenot van die laaste paar weke.

Skrywer: Kurt Ellis
Titel: Deadly benefits
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776380084

Engelse misdaadskrywers in Suid-Afrika word baie onderskat.

Buiten Mike Nicol – loshande my gunstelingskrywer – soek ek gewoonlik Michael Connelly, John Sandford, Lee Child en ander internasionale skrywers se nuutste boeke uit wanneer ek Engelse misdaadfiksie aankoop. Ek slaan maklik boeke met Afrikaanse vanne – soos Amanda Coetzee (One shot) en Lauren Beukes (Broken monsters) – oor.

Nadat ek Nicol ’n paar jaar gelede toevallig ontdek het, het ek doelbewus na Suid-Afrikaanse Engelse skrywers begin soek. Daar was ’n paar verrassings, Roger Smith vir een. En nadese Kurt Ellis.

Dit is die “psychopathic hitman” op die voorblad wat my aandag op Ellis se boek Deadly benefits gevestig het. Maar dit was Gabriel Laucus se worsteling met depressie wat my geboei het. Ek kon myself in sy stryd voel. Die skrywer erken dat Gabriel se depressie nie te danke is aan kreatiewe skryfwerk nie, maar dat dit uit geheue neergepen is.

Die boek is vir sy MA geskryf en verdien alle lof wat saam met so ’n graad kom. Ellis het ook By any means en In the midst of wolves geskryf.

Net ’n tegniese fout op die voorblad: Kharon is nie ’n “psychopathic hitman” nie. Hy erken op bladsy 11: “He detested the title ‘hitman’. Any fool with a gun could be a hitman, but it took real training, skill and talent to be an assassin ... No, he was a professional. He was an artist. He was an assassin.”

Skrywer: Tom Wood
Titel: Blood debt
Uitgewer: Little, Brown Book Group
ISBN: 9780751584899

Terwyl ek by assassin-boeke is: Ek was gelukkig om Tom Wood se Blood debt op die lughawe te vind. Ek kon dit by geen van die boekwinkels waar ek gestop het om my boeke te teken vind nie. Die Victor-boeke is die perfekte vliegtuigleesstof, want die skrywer trek jou dadelik in. Anders as Kharon, is Victor heavy ingestel op detail. Lesers bereken elke opsie saam met hom. Victor kantel amper na formule, maar ek moet bieg – dalk het ek ’n soft spot vir hom – dit pla my nog nie. Ek geniet dit regtig om saam met hom te ontspan. Ek gaan later breedvoerig ’n indruk skryf waarin ek myself ondersoek en Wood met Daniel Silva vergelyk, maar vir nou wil ek net sê: Lees dit! Jy mis uit as jy nog nie met Victor kennis gemaak het nie.

Skrywer: Brett Battles
Titel: The cleaner
Uitgewer: Dell
ISBN: 9780440244387

’n Toerverrassing uit die boonste rakke, is Brett Battles se debuutfiksie The cleaner. Dit is ’n heerlike toevoeging tot die internasionale spioenasie-genre. Gayle Lynds sê tereg dat The cleaner vinniger as ’n “assassin’s unerring bullet” beweeg. Jonathan Quinn is ’n professionele skoonmaker. Hy maak ná sluipmoorde of spioenasie-operasies skoon. Niks gewelddadig nie. Kort ná sy laaste skoonmaak-operasie oorleef hy ’n sluipmoordaanval – daarna tel die boek spoed op.

Daar is ’n paar goedjies wat hinder rondom Quinn se professionaliteit, maar dit is Battles se eerste boek, so ek gaan dit nie uitwys nie. Die humor tussen Quinn en Nate maak in elk geval daarvoor op. Soos Robert Ludlum van ouds, neem die skrywer ons na eksotiese plekke. Hy handhaaf ’n goeie balans tussen humor en aksie.

The cleaner is in 2007 gepubliseer; die reeks staan al op 16 boeke, met verskeie novelles tussenin. Lesers wat Matthew Quirk se debuut The night agent geniet het, sal The cleaner begin versamel. Hier is die volgorde waarin dit gelees moet word: Becoming Quinn, Just another job, The cleaner, The deceived, Shadow of betrayal, The silenced, Off the clock, The destroyed, The collected, The enraged, The assignment, The discarded, Quick study, Lesson plan, Flight 12, The buried, The unleashed, The aggrieved, The fractured, The damaged, The unknown, The vanished, The taken.

NOTA: The night agent is in ’n TV-reeks omskep met Gabriel Basso in die hoofrol. Mag dit jou na die skrywer se ander boeke lok.

Skrywer: Mark Greaney
Titel: Sentinel
Uitgewer: Sphere
ISBN: 9780751583625

Mark Greaney, die skepper van die Gray Man-reeks, het reeds met die Tom Clancy-franchise gewys dat hy weet hoe om geloofwaardige aksietonele neer te pen. Sentinel, die tweede boek in die Armored-reeks met die voormalige militêre kontrakteer Josh Duffy, is geen uitsondering nie. Lesers wat my skrywes volg, sal weet dat ek selde ’n nuwe reeks deur dieselfde skrywer begin (om vir nuwe stemme plek te maak). Maar die afleiding was goed.

Dit is een van die boeke wat nie saam met my teruggevlieg het nie, maar ek voel tog dat ander lesers dit in hulle versameling sal wil bewaar. In Sentinel se voorloper, Armored, het die hel in Mexiko uitgebreek; in Sentinel moet Josh tydens ’n staatsgreep in Ghana tussen sy familie en missie kies. Die skrywer neem sy tyd om eers die militante en die Duffy-gesin in posisie te plaas voordat die aksie uitbreek – glo my, daarna beweeg die boek vinnig.

Dit is juis die feit dat Greaney eers sy lesers verlief maak op die Duffy-gesin wat keer dat hierdie boek in net nog ’n skiet-almal-dood verander.

Lesers wat Andy McNab, Chris Ryan en Jaco Wolmarans se boeke geniet, sal Sentinel verslind.

Skrywer: Daniel Silva
Titel: A death in Cornwall
Uitgewer: Harper Collins Publishers
ISBN: 9780008710521

Ek wou Andy McNab se naam uit my gedagtes verban nadat hy die veertienjarige Kelly (in Dark winter) doodgeskryf het. Dieselfde met Daniel Silva nadat Gabriel Allon se gesin in Vienna gesterf het. Maar dit was sy vriendskap met die elfjarige Timothy Peel wat my die reeks laat aanhou lees het. Omdat Timothy nog ’n gereelde gas in die Allon-huis is, is Silva vergewe.

A death in Cornwall is die vier-en-twintigste boek in die reeks. Dit is 100% formule, so Silva-dissipels sal nie teleurgestel wees nie.

Maar.

Die Gabriel Allon, wat ons in The kill artist (2000) ontmoet het, is lankal nie meer in die fleur van sy lewe nie. Inteendeel!

Hy het sy loopbaan in 1972 met Operation Wrath of God, toe hy die Black September-ekstremiste, wat verantwoordelik was vir die dood van die 11 Israeliese atlete in Munich, gejag en doodgemaak het, afgeskop. Teen die derde boek, The confessor, was hy reeds 51, en teen boek 13, The English girl, in sy sestigs.

Dit maak die voormalige hoof van Mossad se karakter in ’n aksiebelaaide reeks vir my al minder geloofwaardig.

Ek geniet ook nie die kunsinvalshoek so baie soos die spioenasie-aanslag nie.

Jy mag anders voel, maar ek het Daniel Silva op OR Tambo Internasionale Lughawe vir oulaas gegroet. Totsiens, my vriend, ek hoop iemand tel jou op.

Vir my is dit tyd om plek te maak vir jonger bloed.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top