Kortliks met Stefaans: Boeke wat jou asem wegslaan

  • 0

Illustrasie deur Tumisu | Pixabay

Kersfees is om die draai en daar is heelwat boeke wat ek wil aanbeveel. Hierdie boeke is (nog) nie my Kerskeuse nie; hierdie boeke gaan wel jou asem wegslaan!

Skrywer: Jack Jordan
Titel: Redemption
Uitgewer: Simon & Schuster
ISBN: 978-1-3985-3155-0

Wat gaan jy doen as iemand jou seun vermoor? Die wraaktema is al ondersoek, nie net in boeke nie, maar ook in films. AJ Quinnell se Man on fire (1980) is sekerlik een van my gunstelinge. En glo my, die boek is baie beter as die film. Ja, ja, ek weet, dit was nie Creasy se dogter nie. Maar dit is juis die vars invalshoek wat vir my uitstaan, en hoekom ek so baie van Jack Jordan se Redemption hou.

Evelyn Moorse se seun, Joshua, sterf in ’n tref-en-trap; 11 jaar later word Aaron Alexander vrygelaat. Jy weet wat gaan volg en kan lees hoe die storie uitspeel. Wat my aan die boek vasgenael gehou het, is nie die skrywer se driedimensionele karakterontwikkeling nie, nog minder sy geloofwaardige dialoog of lekker skryfstyl. Dit is omdat die storie vanuit Evelyn en haar man, Tobias, se perspektiewe vertel word. Hulle is uiteraard nie dit eens oor Aaron se lot nie en dit is waar die krag van die boek lê!

“Are you ready to murder the man who killed our son?” (bl 13)

Skrywer: Matthew Blake
Titel: Anna O
Uitgewer: HarperCollins Publishers
ISBN: 978-0-0633-14153-3

Vier jaar gelede is die 25-jarige joernalis, Anna Ogilvy, in ’n diep slaap gevind, in bloed bedek. Haar twee beste vriendinne is doodgesteek en in ’n teksboodskap het Anna aan haar ouers erken dat sy die moorde gepleeg het.

Wat het regtig daardie nag gebeur? Het Anna die moorde gepleeg terwyl sy geslaap het? Indien ja, kan sy krimineel verantwoordelikheid gehou word?

Benedict Prince, ’n forensiese sielkundige en slaapspesialis, moet vasstel of sy skuldig of onskuldig is. En sê nou net sy is onskuldig, is haar en Ben se lewe nie in gevaar as sy wakker word nie?

Dit was genoeg om my pap, hoek en sinker te vang.

Een korreltjie kritiek: Ek voel die einde is onnodig lank uitgerek en dat die skerp spanningslyn waarmee die boek afgeskop het, gebreek het. Maar net soos Redemption was die vars storielyn vir my ’n 2024-hoogtepunt. Alex Michaelides sou geen beswaar aanteken as Anna O beskryf is as die beste sielkundige riller naas The silent patient (2019) nie.

Skrywer: Erla Diedericks
Titel: Swyg
Uitgewer: Lapa
ISBN: 978-1-77635-964-6

Soms gebeur dit dat ’n slothoofstuk so onnatuurlik voorkom dat ons lesers gemanipuleer voel. Dit gebeur gewoonlik as ’n paar kinkels in die kabel kort op mekaar volg. En in die laaste paar bladsye inmekaar gedruk word. Selfs al wil ons uitoorlê word – ah, jy het my! – wil lesers nooit verkul voel nie.

In haar vierde sielkundige riller, Swyg, neem Erla Diedericks haar tyd om die skaakbord op te stel. Amper 120 bladsye.

Vanessa Wessels, afkomstig van ’n welgestelde familie in die Paarl, wat daarvan verdink word dat sy haar studentemaat, Christie Bester, in 2009 met ’n draadhanger verwurg het, sien Ann Marais in Molenberg-psigiatriese staatshospitaal. (Ons het Ann in Die bewonderaar ontmoet en in Salemstraat beter leer ken, hoewel die drie romans nie op mekaar volg nie.) Vanessa, wat nou aan geheueverlies ly, was so hoog soos ’n kite. Waar kry sy die dwelms? Het sy die moord gepleeg? Hoekom? As dit nie sy was nie, hoekom is sy in ’n malhuis? (Ek wil net byvoeg, ek kry hoendervleis met enige verhaal wat in ’n malhuis draai.) Vanessa haal graag aanhalings van die bekende digter en dosent Didi Donkermann aan.

Didi se selfdood in 2010, by Voëlklip in Hermanus, is vol raaisels.

Die sosiale media-sensasie, Frederick Jordaan, beter bekend as Brand de Wyn, klop by Didi se beroemde professor-skrywer-seun, Louis, se huis aan om inligting te verkry vir sy meestersgraad oor sy voormalige dosent, Didi (en nie dóktor Donkermann nie).

Louis, ’n skatryk nuttelose suiplap met seks op sy brein, vertolk sy rol goed. Sy bestaan ontlok ’n paar vrae wat spanning skep. Bietjie later in die boek beskuldig hy Brand van plagiaat. Dan is daar nog Mariaan Prinsloo, die fiksiehoof van Eureka Uitgewers en Ronel Hofmeyer-Smuts se regterhand, en twee manuskripte wat eenders is, buiten vir die laaste hoofstuk.

Die lesers weet dat alles êrens inskakel, maar hoe dit gaan ontknoop is ondenkbaar. Om seker te maak dat al die legkaartstukkies teen die einde reg inmekaar val, het Diedericks ’n hele paar hoofstukke in die deel, Stellenbosch 2009, ingekleur. Hiermee keer sy dat haar einde geforseer word.

Ek het destyds met Jeffery Deaver se The coffin dancer verkul gevoel omdat hy my insiens te min leidrade gegee het vir my om saam met hom die skuldige te identifiseer. Diedericks het genoegsame broodkrummels wat na die skuldige lei, neergegooi om te volg, maar sy het moeite gedoen om aan al die karakters ’n irritasie te gee wat veroorsaak het dat ek almal, behalwe Ann natuurlik, verdink het.

Alhoewel ek op haar plot en veral die einde gefokus het, staan die skrywer se beeldspraak ook vir hierdie leser uit. Die res: Die milieubeskrywing, driedimensionele karakterontwikkeling en dialoog is presies soos dit hoort vir enige persoon wat onder ’n groot druknaam uitgee. Om tans by enige groot uitgewer uit te gee, is ’n klop op die skouer; om tussen al die talent uit te staan, is prysenswaardig. Erla Diedericks doen vir die Suid-Afrikaanse sielkundige riller wat Stephen King vir die bonatuurlike gedoen het.

Skrywer: Gustaf Skördeman
Titel: Codename Faust
Uitgewer: Zaffre
ISBN: 978-1838777838

Het enigiemand die 59-jarige Sweedse draaiboekskrywer, Gustaf Skördeman, se debuut-spioenasieriller, Geiger? Ek moet dit lees! Asseblief!

’n Gevreesde sluipmoordenaar met radikale terroristekonneksies is aan die jag (detective Sara Nowak is in sy versier). ’n Kodewoord, legkaartstukkies vanuit die Koue-oorlog en Europese terreur en ’n spioen wat nie kan vergeet nie en weier om te vergewe ... Wat wil ek meer van ’n spioenasieriller hê?

Skördeman skryf meer Le Carré as Ludlum, meer karaktergedrewe as plotgedrewe, alhoewel daar niks kortkom met sy goed-geweefde plot nie. Inteendeel, vergeet van double-crossing, verwag triple-crossing. Hierdie is sonder twyfel een van my heel gunsteling-spioenasierillers van die laaste paar jaar. Aanhangers van I am Pilgrim (Terry Hayes) en Nomad (James Swallow) sal Codename Faust regtig geniet.

Skrywer: Terry Hayes
Titel: The year of the locust
Uitgewer: Atria Books
ISBN: 978-1668055786

Moenie The year of the locust in die week begin nie, want net soos Tom Clancy van ouds, gaan Terry Hayes jou toegooi onder nagevorste informasie. Die boek lees weens al die feite (dink The sum of all fears) stadiger as ’n Ludlum, maar net soos Frederick Forsyth laat die skrywer nie toe dat lesers tussen al die inligting verdwaal nie. Dit is uiteraard nodig om geloofwaardigheid aan die storie te verleen, maar haastige lesers mag die boek dalk te gou neersit. Ek het plek-plek van die inligting oorgeslaan.

En wees vroegtydig gewaarsku: In ’n kitsera is hierdie lywige boek ’n afskrikmiddel. Jou palms voel die gewig, veral as die skrywer sy tyd neem om die binnewerk van die CIA in te kleur. Dan wonder mens of alles nodig was. So ook al die voorbeelde om die negatiewe van die organisasie uit te wys. Dit dra egter by om die komplekse morele kompas van die CIA se superspioen, Ridley Walker, wat ná ’n dekade terug is, uit te wys – veral omdat hy met die nagevolge van sy optredes worstel.

Die geweld en marteling in die boek is grafies, maar niks erger as wat reeds op die mark leesbaar is nie.

Hayes is nie ’n maklike lees nie, weens bogenoemde redes, maar as jy enduit hou, sal jy my innig dankbaar wees vir die aanbeveling.

Ek doen dit nooit, maar as jy net een van die boeke op die lys kan koop en nie omgee om lank aan een boek te lees nie, dan beveel ek The year of the locust aan.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top