
ek en jy bestaan nie: Tafelberg; om my kastele in Spanje te stroop: Human & Rousseau; Nou in infrarooi: Kwela; Seun: Tafelberg; Sing, Mamma, sing: Litera; The Equality of shadows: Pan Macmillan; Kinderlê: Queillerie; Onrus op Steynshoop: Human & Rousseau; Die geskenk: Tafelberg; Taboek: Naledi
- Jonathan Amid skryf voortaan ’n nuwe boekrubriek vir LitNet. Hier onder is die eerste aflewering.
“Books are a uniquely portable magic” – Stephen King
1.
Ek hou nie altyd van lees nie. There, I said it. ’n Mens moet jouself darem in die oë kan kyk – en soms is dit makliker gesê as gedaan.
Ek hou nie altyd van lees nie. Boeke lees vir plesier en ontspanning en ontvlugting is een ding. Manuskripte lees, sommige aan die korter kant en sommige gemaklik oor 100 000 woorde, word diep bevredigend die oomblik wanneer jy besef wat ’n skrywer wil regkry: wat hulle wil seg, en wat hulle wil doen (en nee, die twee is nie dieselfde nie, maar vul mekaar tog aan), en waar jy ’n beduidende bydrae kan lewer om die skrywer te help om beide uit te klaar – en om nooit van die persoon agter die sleutelbord te vergeet nie. Dan word die reis die moeite werd. Resensies, waar jy nie slegs die skrywer se boek lees nie, maar ook die konteks waarin die boek verskyn, ’n goeie greep op die betrokke oeuvre moet hê, gemaklik moet voel om die nodige vergelykings te tref, en ja, soms stewige sarsies kritiek ook moet uitspreek, wat nog te sê van die resensieleser te vermaak en nuuskierig of sku te maak, is ’n werk. Nietemin, dit bly ’n bevredigende tydverdryf, en jy kan ’n lekker sakgeldjie daarmee verdien. Geen resensent wat sy of haar sout werd is, het as doelstelling om skrywers te verkleineer of af te kraak nie, ook nie die betrokke uitgewer of die leser nie. Inteendeel.
Wat jou moed dan tot in jou skoene kan laat sak, is gevalle waar ’n gulde geleentheid tot gesprek en vrugbare diskoers op ’n skinkbord aangebied word, maar “gesprekvoering” dan nuwe laagtes van moddergooiery, ad hominem-aanvalle, opsetlike beterweterigheid, domastrantheid, en uiteindelik ’n merkbare vervlakking van kommunikasie eerder as verheldering, ’n sinvolle uitruil van idees, en die triomf van die rede en rasionaliteit tot gevolg het. Kortom: Wees gesubstansieer, opreg, eerlik, nugter (dit beteken nie jy’s skielik ’n robot nie) en bowenal ingelig in die menings wat jy in die openbare domein lug, en handhaaf goeie gees en basiese ordentlikheid. Punt.
Letterkundige diskoers is nie gelyk aan bekgevegte soos dié wat in ’n swak beligte kroeg of parkeerterrein begin in die vroeë oggendure nie. En om hierdie geheen-en-weerdery te volg is vir vyf minute interessant voor dit baie gou baie vervelig en afgesaag raak. Niemand wen nie, ten spyte van wat die een juigkommando oor die ander te sê het.
Dit daar gelaat.
Mag ons landskap van boeke spoedig (weer) gemaklik-ongemaklik raak met die idee van onafhanklike, anonieme kritiek van resensies: Dis nie die masker wat die geneuk afgee nie, dis die onwelkome spoeg van vuur en braak van gal agter die veiligheid van anonimiteit, en waar dit waarskynlik nie geregverdig is nie, wat die publiek aan die waarde van so ’n kritiese instansie laat twyfel. Dis hiér, en met bitsige bekgevegte, waar ek nie hou van lees nie.
Toe ek onlangse een oggend gevra word om ’n boekerubriek te oorweeg en ’n titel te verskaf, het ek nie eers gedink nie; my antwoord was ja, en die titel “Boeksemdais” het dadelik by my opgekom. Boeke. Die groter prentjie. Die legkaartstukkies so gebuig dat hulle nie maklik wil pas nie. Die lekkerleesboeke. Die crowd pleasers. Die sleeper hits. Die swart swane – die paar boeke wat hulle elke dekade kom aanmeld om die fondasies te skud van alles wat jy gedink het jy goed weet. Die “belangrike” boeke en die uitskieters wat jou fassineer en laat diep delf en laat kopkrap. Die “belowende” debuut – eenvoudig kode vir ’n skrywer en die boek wat nog lank nie reg is om saam met die groot honde te hardloop nie. Die “skitterende” spanningsverhaal wat eintlik maar net nog ’n aflewering in ’n reeks is.
Daar word nie sommer deesdae meer van “grensverskuiwende” literatuur gepraat in ons konteks nie, maar jy bly hoop dat hierdie die jaar is waarin ’n Willem Anker, ’n Marlene van Niekerk, ’n John Miles of ’n Johan Myburg ons weer bederf. Daai boeke wat jou menswees verruim en jou sekerhede een vir een aftakel. Boeke, soos tans met Ingrid Winterbach se Onrus op Steynshoop, wat jou tot in jou siel bly maak dat jy ’n leser is en deel is van ’n gemeenskap van lesers.

Boekomslag: Human & Rousseau
Die hele boeksemdais, wat wyer strek as net die amptelike kanale van reklame, van boekbekendstellings, van resensies en selfs resensie-essays, wat die onderstrominge van ernstige gesprek, van speelse vergelyking, van volkome nuuskierigheid, van meelewing, van saamstem en heftig verskil, by boekklubs en laatnag-whatsapps en lewendige Facebook- en Instagram-gesprekke oor boeke insluit.
Boeksemdais. Nooit die finale woord of afsluiting oor die saak nie; eerder die totstandkoming, oor tyd, van nuwe voetpaadjies, proesels van ’n nuwe umamigeur.
2.
Twee boeke, albei niefiksie, neem ruimte in my gees en verstand op soos ek begin herkou aan gedagtes vir die rubriek. Kom ons begin met Salman Rushdie se Knife, die skrywer se besinning oor die gebeure van 12 Augustus 2022, toe hy voor die beplande lesing in New York by die Chautauqua Institution herhaaldelik met ’n mes gesteek is en deels sy sig verloor het in die aanval. Knife, Rushdie se ontstemmende publikasie oor die aanval, hoe hy daarna tot verhaal gekom het, hoe die aanval op sy liggaam tot verskillende insigte en gewaarwordinge oor sy eie sterflikheid, persona en kreatiewe etos gelei het, is nie ’n maklike boek om te lees nie.
En daar word veel meer by die leser opgeroep as blote bewondering vir die begaafde skrywer se veggees: Hier is oorblyfsels, opdrifsels, fragmente, wrakstukke as ’t ware, wat ’n uiters komplekse prentjie skets van die wêreld waarin ons vandag leef, van wat die rol, verantwoordelikhede en verpligtinge van die kunstenaar en skrywer moet wees, en hoe die skrywer-kunstenaar op kritiek reageer – as skrywer, en veral as mens. Knife is ’n kroniek van en ook polemiek oor verwonding, trauma en oorlewing, van re-membering, van ’n nuwe narratief skep uit die puin. Dit het baie om te bied soos ons besin oor ons eie troebel poeletjie, ons eie (soms) verwronge landskap en die konteks waarin ons skrywers hul verhale skep en skaaf.
The creative act (2023) deur die musiekvervaardiger Rick Rubin was die régte boek op die régte tyd, al het ek dit reeds maande lank op die rak. Kortliks is die legendariese musiekvervaardiger, wat met uiteenlopende kunstenaars soos The Beastie Boys, Public Enemy, Red Hot Chili Peppers, Slayer en Metallica sowel as Lady Gaga en Adele gewerk het, se boek ’n uiters toeganklike, leesbare en helder verhandeling oor die kreatiewe impuls, die skeppende proses, en die magdom moving parts wat deel uitmaak van die skep van ’n kunswerk; wat dit verg, daagliks, veral ook ten opsigte van ingesteldheid en manier van dink en doen, om jouself ’n kunstenaar te noem.
Rubin ken sy storie, ongetwyfeld, maar dis hoe hy alles herverpak wat jy eintlik gedink het jy alreeds weet wat die boek so lekker maak om te lees. The creative act het my behoorlik laat nadink oor “inspirasie”, “genre”, “vorm” en “betekenis”, en hoe kunstenaars veral intuïtief reageer op die tydsgees en maatskaplike konteks – ook beslís ander kunswerke en boeke – om iets nuuts te skep wat voortdurend in gesprek is met ander werke.
Rushdie en Rubin, hoewel ver verwyderd van die Suid-Afrikaanse opset, het nietemin vele stof tot nadenke gebied – en my herinner om voortdurend oop te wees vir soveel moontlike variasies op Suid-Afrikaanse skryfwerk – romankuns of andersins.
3.
2024 is ’n baie goeie, selfs uitstekende, jaar vir die digkuns. Verlede jaar het Tom Dreyer se Nou in infrarooi ieder en elk bekoor met ’n beeldryke, liriese, konkrete, en soms abstrakte, manier van dig wat nuwe maniere van kyk en sien kon ontsluit. Die digbundel het bewys dat digkuns tog kan verkoop – en dat veelsydige romanskrywers benewens niefiksie ook hul hand aan uitstaande digkuns kan waag.

Omslag: Naledi
Martina Klopper se Kuborg is ’n fassinerende bundel wat verdien om sy gehoor te vind, terwyl Cas Vos se Wisselende stemminge en Clinton V du Plessis se Joernaal soms uiters treffende gedigte opgelewer het, maar nie aan die verwagtinge voldoen het nie. Alwyn Roux se Weerskyn bied veral indrukwekkende formeel-tegniese beheer en ’n kombinasie van intimiteit, weerloosheid en afstand wat jou telkemale intrek. Roux weet presies van watter digters en digvorms hy hou, en dis tasbaar in sy gedigte. Die “weerskyn”-idee bly mens lank by.

Omslag: Naledi
So is Lynthia Julius se Kinderlê ’n bundel met emmersvol rou emosie en trefkrag, en takel die bundel vrouwees, moederskap, liggaamlikheid, trauma, verlies en verwonding vreesloos, dog intens deernisvol. ’n Bundel vol pyn en paradokse. Jaco Barnard-Naudé se Om my kastele in Spanje te sloop is ’n komplekse bundel, dog met sommige verse gestroop en gespierd, wat weer die verhouding met die vader as geweldenaar en bron van diepe angs, vrees en ontsteltenis oopskryf. Daar is heling hier te vinde – in die kleinste oomblikke van menswees en van stem gee aan die “klein revolusies” van weemoed en waagmoed.

Omslag: Protea Boekhuis
Riku Lätti se bundel Taboek weerspieël op vele vlakke die onvolmaaktheid van die mens. Ten spyte daarvan dat sommige verse veels te uitgesponne is, dat die rym soms gedwonge vertoon, dat daar nou en dan ’n uitputtende eenselwigheid en “hardkoppigheid” in die uitvoering blyk te wees, is daar ook etlike geslaagde gedigte, werklik slim en deurdagte woordspelings en verse en teer oomblikke, en is daar heelwat gedigte wat net lank en diep genoeg is. Ek verstout my om te sê dat die drie shouts op die agterplat waarskynlik iets van ’n onredelike klompie verwagtinge by en eise aan die leser gestel het. Taboek se resepsie uit sommige oorde illustreer juis, uiters ironies en wrang, hoe geslote sommige lesers steeds met die lees van iets behalwe “suiwer” digkuns is.
Ek het nog nie Johann de Lange se Miniatuur onder oë gehad nie, maar ek is mateloos beïndruk met Danie Marais se Ek en jy bestaan nie. Gaan lees gerus Thys Human se resensie-essay, asook resensies deur Louise Viljoen en Charl-Pierre Naudé, om ’n goeie idee te kry van die beleë digkuns wat Marais hier vir sy lesers bied. Soms is ongemak ook ’n luukse. Hierdie bundel slaan jou wind uit – en word nie sommer tot ’n skril white whine afgemaak nie.

Omslag: Naledi
Ek is tans besig met ’n resensie van Vlindervreter deur Christiaan Diedericks en Melanie Grobler. Al wat ek hier gaan sê, is dat die 21 aangrypende kunswerke of sadhoes deur Diedericks, wat ook debuteer as digter en ook saam met Grobler dig, nie die gehalte van die digkuns oorskadu nie. Moet ook nie Diedericks se gedigte vlak kyk of as onsamehangend afmaak nie; daar is ’n besliste logika en proses hier ter sprake.
Ek sien die bundel word as ’n “koffietafelboek” beskryf – daardie beskrywing vang nie die essensie van die werk as digbundel vas nie. Dit is ’n volslae kunswerk – it will comfort the disturbed and disturb the comfortable. Of digbundels plaaslik verkoop of nie, is ’n saak vir ’n ander dag; hier is ryke, ryke stof tot nadenke, uiteenlopende tematiese gegewens wat oopgeskryf word en ’n régte edge wat jou hoop gee vir die genre in die toekoms, in die hande van jonger en meer ervare digters.
Interlude: Dis ’n gesprek vir ’n ander dag, gewis, maar die vraagstuk van vertaling – spesifiek dan selfvertaling of ’n soort herverbeelding, waar die skrywer self spesifiek werk met bronteks sowel as doelteks en effektief ’n Afrikaanse en Engelse weergawe produseer – steek kop uit by Decima deur Eben Venter en Charl-Pierre Naudé se “re-imagined” Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey as The equality of shadows. ’n Paar jaar gelede, interessant genoeg, het PP Fourie se ’n Hart is so groot soos ’n vuis verskyn, asook The heart is the size of a fist, wat deur Marius Swart vertaal is in Afrikaans, en die skrywer het só nominasies vir pryse vir sy meesterlike debuutroman misgeloop.
Ek sonder graag vyf van vanjaar se niefiksieboeke uit: Dana Snyman se Seun; Riette Rust se Die geskenk; Theresa Papenfus se Sing, Mamma, sing; Amma deur Charmaine Africa; en Rachelle Greeff se Phoebe.

Omslag: Jakes Gerwel Stigting
Ek begin met Phoebe, ’n boek waaroor ek steeds meer vrae as antwoorde het. Ek het vroeër dié jaar ’n boekbekendstelling bygewoon waar Greeff met Hein Willemse gesels het. Dit was ’n onderhoudende gesprek, vol deernis en meegevoel – jy’t beslis die idee gekry dat Greeff baie omgee oor haar biografiese subjek. Die boek is ook keurig uitgegee, goed versorg en beslís boeiend, ten spyte van die betreklik beperkte aantal woorde. Waarom is daar dan tot dusver bitter min resensies en besprekings van, en aandag aan die boek gegee? Was die boek goed genoeg bemark? Of het ’n boek soos Charmaine Africa se Amma veel meer blootstelling gekry?
Amma is g’n ligte vrugte nie. Lees hierdie puik memoires oor grootword in Bishop Lavis, die belewenis van apartheid, en die versugting om die familie ten alle koste bymekaar te hou. Dis veel meer as bloot ’n sogenaamde misery memoir of poverty porn: Dit gaan jou hart breek, maar jou ook weer saggies help aanmekaarsit.

Omslag: Litera
Theresa Papenfus se onvergeetlike Sing, Mamma, sing is ’n verhaal van siekte, dood, verlies en trauma, maar bowenal ’n geestesreis saam met ’n ma en pa wat nooit ophou baklei nie, na ’n plek genoem Genade. Papenfus, ervare redakteur, is ’n bedrewe stilis, versamelaar van uitsoekfragmente – soms verbluffend eenvoudig, dog uiters treffend, soms oorweldigend emosioneel gelade – en onverskrokke in haar eerlikheid. Die dood verander ’n mens, so weet en verklaar Papenfus, maar dit is soms net die begin van ’n Groter Verstaan.
Riette Rust se Die geskenk is op my to-be-read hopie, en ek vermoed dit gaan sterk aansluiting vind by die Theresa Papenfus, al is een hooftema selfdood eerder as siekte.
Ek is intiem vertroud met Dana Snyman se skryfwerk, ook as keurder van manuskripte, en ek kan jou belowe dat Dana hom nog selde vantevore, indien ooit, so blootgestel het soos in Seun. Dit is oorrompelende memoires hierdie – gelade, gelaagd, vol subteks en wrang humor, en die pyn en seerkry lê bitter vlak – maar ’n boek wat Snyman eenvoudig moes skryf.
Trots op jou, Dana, soos jy steeds baklei teen die blaf van swart hond. Jy noem ’n ding op sy naam; jy werk teen stigma en skande. Gereeld voel ek – steeds – dat ons ’n paar treë agter die plaaslike Engelse mark is wat betref creative non-fiction, met boeke soos Hedley Twidle se Show me the place, Cato Pedder se Moederland: nine daughters of South Africa, en veral die onlangse Finding endurance: Shackleton, my father and a world without end wat die verbeelding aangryp. Maar dan besef ek weer hoe sterk memoires soos Seun, soos Amma en Sing, Mamma, sing is – en hoe soveel van ons nog leer, selfs veral as volwassenes, dat dit nie ’n misdaad is om jou gevoelens te voel nie.

Omslag: Queillerie
Interlude: Inderdaad ’n stiller jaar vir die kortverhaalbundel. Dalk ook die geval dat heelwat skrywers oor die Covid-tydperk besig was met intensief skryf, langer skryf, en dat die afsondering en weemoed ook meer uitgesponne vorme soos die roman in die hand gewerk het? Nietemin, as dit nog nie die geval is nie, neem beslís kennis van twee heerlike en uiteenlopende bundels: die 46 reisverhale van Draaie, swaaie en afdraaipaaie saamgestel deur Corlia Fourie en Annelize van Rooyen, en die 21 verhale wat die Kaapse Moslem-gemeenskap betrek, Een voet innie kabr, deur Gaireyah Fredericks. VivA het ook ’n aantal kortverhaal-e-publikasies vrygestel. Ek wil tog ook vir Marnus Kok met Op die kantlyn ’n lansie breek: Hier is duidelik talent, potensiaal, en iemand wat skerp kan dink.
Hoekom was daar nie die nodige leiding en ingryping om eenvoudig daarop te wys dat sommige van die kort-kortverhale veels te kort en dus gebrekkig is nie? Dis reeds ekstra moeilik om die genre te bemeester, wat nog van aanpak met ’n debuut! Ongevraagde raad: As jy daaraan dink om ’n boek te skryf en ’n uitgewer te nader en jy’t ’n ekstra paar rand, oorweeg dit sterk om ’n keurverslag of hulp by ’n professionele manuskripontwikkelaar te kry vóór jy jou manuskrip voorlê.
Ek het tot my spyt hierdie jaar bitter min jeugromans gelees, maar ek het twee besliste gunstelinge: An-Mari do Carmo se Foto’s en fairy lights en Hannes Barnard se Vuur. Do Carmo se verhaal is die ene deernis, sensitiwiteit en slim invalshoeke soos sy belig presies wat dit beteken om neurodivers te wees. Daar’s lieflike, outentieke karakters en ’n egte boodskap van hoop teen die einde. Gepraat van ’n slot: Etlike lesers het, soos ek, gewonder hoe Hannes Barnard dit sou regkry om sy apokaliptiese drieluik vir tieners – musiekaangedrewe tot die elfde graad en so spanningsvol en energiek vertel soos kan kom – af te sluit. Geen bederwers: Vuur eindig witwarm!!! En Xandre en Ruth (Rufus) se liefdesverhaal en hul vriendskap word opnuut die bewys van Barnard se veelsydigheid en verbeelding. Hierdie boek is ’n moet-lees!
Besluit self oor Leon van Nierop se Droomjagter: Hoe “warmer” hierdie een sou word, hoe minder kon dit my oortuig. Iemand moet tog iets skryf oor romanskryf en vir radio skryf en hoe die twee mekaar vind – of glad nie. Ek is hoegenaamd nie oortuig dat enige van ons skrywers, behalwe dalk Ingrid Winterbach, die formule ontsluit het om oortuigend oor seks te skryf nie.
In deel twee van hierdie eerste aflewering van Boeksemdais pak ek Onrus op Steynshoop se gereedskap uit, deel ek indrukke oor September se kykNET-Rapport-pryse, en beskou ek die jaar se verhoudingsromans, fiksie wat nie mooi in boksies wil pas nie, die jaar se misdaadfiksiekorpus tot dusver. Ek deel ook na watter boeke ek uitsien vir die res van die jaar.
Lees ook:
Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Plekspesifieke poësie in Jaco Barnard-Naudé se Om my kastele in Spanje te sloop
Die poppe sal dans: ’n resensie van Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach
Nou in infrarooi deur Tom Dreyer: ’n LitNet Akademies-resensie-essay


Kommentaar
Wat 'n fantastiese rubriek, Jonathan! Ek sien uit na die tweede aflewering.