
Titel: Sing, Mamma, sing
Outeur: Theresa Papenfus
Uitgewer: Litera
ISBN: 9781-920188573
Wie was Braam Papenfus?
So het ’n onlangse berig in die Overstrand Herald streekkoerant gelui, na aanleiding van ’n plaatjie op ’n rots op Kleinmond. Die bewoording; “Braam Papenfus.” En dan daar onder “’n Kind wat so stout is, moet reguit poeletjies toe gestuur word en eers teen die aand weer by die huis toegelaat word.”
Dit was die onnutsige Braam se eie woorde toe hy ’n klein seuntjie was en sy ma hom radeloos gevra het wat op aarde sy met hom moet aanvang. Haar wilde loot.
Iemand het vir Theresa Papenfus die knipsel gestuur waarop ’n berig oor hom in die koerant verskyn het.
En kort daarna is haar boek Sing, Mamma, Sing bekend gestel.
Die boek bevat skets grepe uit die lewe van die hegte Papenfus-gesin waarin die lewensverhaal van haar jongste seun vanaf sy geboorte tot sy sterfte opgeteken is, maar mens ook sy ouers, Theresa en Awie en sy twee ouer broers, Charl en Paul leer ken. Hy sterf op byna 38 na ’n lang en dapper stryd teen melanoomkanker.
Die diep gelowige gesin en hul vriende het tot op die einde vir ’n wonderwerk gebid en geglo dat God Braam sou red “indien dit Sy wil was.”
Toe dit hom nie beskore was nie, was daar berusting.
Braam was ’n uitbundige, lewenslustige jong man met vele talente, vriende en belangstellings. Hy was ’n lewensgenieter en het die lewe omtrent verslind.
In die voorwoord lees mens die hartbreekwoorde; “My kind is dood. Dit is ’n swaard wat deur jou siel gaan, dit is die plek waar die son ondergaan. Die blou is weg. Ek sien net swart.”
Maar dan lees mens ook dat Braam behoorlik gelééf het. Selfs gedurende die moeilike tye tussen chemo en bestraling kon sy lewenslus nie geblus word nie. Ook nie sy energie nie.
Hy was ’n avonturier, ’n buitelugmens, gek oor reis, jag en die see.
Mens lees van sy kleintyddae in ’n huishouding met die chaos wat net deur drie jong seuns veroorsaak kan word. Papenfus merk ook so terloops op dat iemand al gesê het as jy drie seuns het, gaan jy hemel toe.
Reguit en met ’n kortpad klink dit my, as mens so van al hulle manewales lees. Soms maak hulle haar mal. Hulle baklei oor mekaar se speelgoed en luister nie altyd vir haar nie. Soos elke ma vertel sy van skoolvakansies wat al reeds op die eerste dag te lank voel.
Dit alles klink bekend vir ma’s wat hiermee ’n vertroulike gevoel van déjà vu oor hul eie kroos ervaar het toe hulle kleiner was.
Papenfus se vertellings is eerlik en daar is geen blinkgevryfde stralekransie wat bo haar jongste se kop sweef nie. Die gesin skerts en lag en pak saam avonture aan. Braam dikwels die voorbok.
Sy beskryf haar jongste se doop, die talle vrae oor die tandemuis, sywurms, hul geliefde troeteldiere en hoe sy wens sy kon ’n rustiger ma soos haar eie ma gewees het wat “nooit tekere gegaan het nie.” En dan, o ramp, der rampe, hoe sy oor haar dertigste verjaarsdag gewroeg het. Dit was mos stokoud as jy soos sy, op 21 getroud is.
Baie van ons het so gevoel en kan met hierdie emosies identifiseer.
Braam word reeds as klein seuntjie siek en doen nierskade op maar beur bruisend en onblusbaar voort. En so sou dit lewenslank voortduur.
Hoewel Papenfus glad nie raad gee of preek nie, haal mens jou hoed af vir die gesin se gereelde huisvergaderings waar elkeen sy sê kon sê en na hartelus stoom af blaas. Uiters demokraties. Almal kon saam huisreëls opstel. Sowaar ’n blink plan.
Hoekom het mens nie self daaraan gedink nie?
Braam was stout. So het hy en sy maat van die berugte Bende van Twee, bomme met versiersuiker in die motorhuis gebou, en haar kar snags geluidloos by die hek uitgestoot. Dan was die meisies lief vir hom en hy vir hulle.
Mag hy tog net sonder ’n gesinnetjie deur matriek kom, het sy ma geskerts.
Tydens sy studentedae het hy akute nierversaking opgedoen. Sy ma het nie ’n oomblik daaraan geweifel om een van haar niere aan hom te skenk nie. Dit het hom nog 15 lewensjare gegee.
Albei daarna gesond, het ma en seun verskeie kere die Midmar geswem. Braam het met oorgawe voort geleef, sy LLB-graad behaal, getrou, as prokureur gewerk en ’n suksesvolle aanlynwinkel bedryf. Hy was gek oor hengel, visskiet, duik, snorkel, stap, bergklim, die see en die buiteluglewe. Hy het volgens Papenfus hard gewerk en hard gespeel.
Toe kom die skok. Melanome op sy kop. Dit wat soms die “galopkanker” genoem word. Intussen vra sy vrou hom vir ’n egskeiding wat vir hom ’n groter slag as die kanker was. En die melanoom slaan sy tentakels al dieper in sy.liggaam in. Dit gebeur boonop tydens die pandemie wat besoeke en ondersteuning bemoeilik.
Die een operasie op die ander volg.
Groot dele van sy kopvel word weggesny en vel word uit sy bobene oorgeplant. Hy word al sieker.
Die kanker versprei. Dis die eerste keer dat Suid-Afrikaanse dokters ’n pasiënt met ’n oorgeplante nier vir melanoom moet behandel. Intussen vaar die nier uitstekend.
Papenfus swig nooit voor sentiment of ophemeling waarvoor mens ’n gesin wat so ’n groot tragedie beleef, nie kan verkwalik met die vertel van so ’n verhaal nie. Daar is wel dele waar jy as leser ’n knop in die keel kry en besluit om maar later verder te lees.
Maar daar is ook hope humor en lewensvreugde.’n Lag by die traan. Dankbaarheid.
Wat die boek ook besonders maak, is die feit dat Braam se skrywes ook daarin opgeteken is. Ins sy eie woorde en in Engels sodat sy oorsese vriende dit ook kan verstaan. Dis duidelik dat hy sy ma se skryftalent gekry hetr.
Papenfus is ’n bedrewe skrywer en het ’n slag met woorde. Sy draai nie doekies om as dit by hul ervarings van dokters kom nie. Een spreek haar dapper seun as “Braampie” aan en vra om verskoning omdat hý hom nie kon red nie. Hy het een fout gemaak, vertel die dokter en dis om “lief te word vir Braam.”
Dan vra Papenfus radeloos; “Waar was hy toe Braam die hardste houe aan sy lyf en gees sonder ’n klag geneem het? Hy verstaan niks van Braam se oorgawe aan die see en haar wonders nie.
“En genesing is tog die Here se terrein.”
Maar dan is daar ’n ander dokter wat met hom vriende word en steeds besoek lank nadat hy nie meer sy pasiënt is nie.
Die gesin se sterk geloof kom deurentyd na vore.
Hulle glo aan en bid vir wonderwerke. Twee jaar lank pleit hulle vir genesing.’n Whatsapp-ondersteuningsgroep met meer as 120 lede bid saam.
Maar daar is ook berusting oor hierdie geweldige slag wat mens so maklik bitter sou kon maak.
Braam word heel gepas tussen die fynbos op sy geliefde Kleinmond naby die see begrawe.
Die boek sluit aan by die genre van die moeder-memoir en die subgenre van verlies.
Hoewel die meeste van ons al verliese na aan ons ervaar het, bly die verlies van ’n kind ondenkbaar. Onnatuurlik. Mens moet in sulke gevalle versigtig met sogenaamde trooswoorde omgaan. Dit kan onbedoeld lomp uitkom.
Dis beter om liewer niks te sê nie en net jou arms vir die bedroefde ouers oop te maak, het Papenfus in die program Skrywers en Boeke op RSG aan Ilse Salzwedel vertel.
Maar hierdie boek gaan ook oor liefde. Liefde in die gesin, liefde vanuit Braam se groot vriendekring, ouerliefde, broederliefde en dan verrassend ook romantiese liefde, ondanks die verskriklike tydsbereking.
’n Mooi slim jong vrou ontmoet hom as hy reeds baie siek is, maar sy kry hom nie uit haar kop nie.
Sy is elke moontlike oomblik by hom en later langs sy sterfbed. Sy het hom lief al kan hy haar niks bied nie. Al is daar geen toekoms vir hulle nie. Onvoorwaardelik. Tot die einde.
En dít is wat van sy lewe, soos sy broer, Paul, gedurende sy gedenkdiens gesê het, ’n goeie “roman” gemaak het. ’n Page turner.
Hierdie boek behoort wyd byval te vind. Nie net by ouers wat die ontsaglike verlies van ’n kind moes beleef het nie maar ook oor kinders grootmaak en die huwelik waar die ouers ’n sterk span vorm.
Wie was Braam Papenfus?, lui die koerantberig.
Met die lees van Sing, Mamma Sing sal jy presies weet.
Lees ook:
’n Onderhoud met Heilna du Plooy oor haar jongste digbundel, Getye van tyd

