Kortliks met Stefaans: 28 Oktober 2026

  • 0

“Wanneer verskyn jou volgende ‘Kortliks met Stefaans’?” lees ek in ’n WhatsApp-boodskap.

Ek skuld nie net my vriend ’n antwoord nie, maar ook elkeen wat vir die volgende “Kortliks met Stefaans” wag. Daar lê ’n paar stukke op my desktop. Ek wil egter nie bloot boeke een na die ander bespreek nie; ek probeer ’n draad bou.

Die afgelope paar maande het ek minder gelees en meer agter die skerms aan boeke gewerk wat nou stuk-stuk die lig sien. Ek skryf ook gereeld resensies vir Netwerk24. Boonop het heelwat boeke op my wil-lees-lys jare gelede verskyn; om dié boeke nou hier aan te beveel, sou amper onregverdig wees.

Tog. Tot onlangs het ek nog nooit ’n kortverhaal van Izak de Vries gelees nie. Toe skenk hy my Kom slag ’n bees en Byna liefde. Ek het albei geniet, maar Byna liefde is een van daardie bundels wat my eie skryfwerk onder die vergrootglas geplaas het.

Ná Kerry Hammerton se kortverhaal “Tiger girl” in Tiger (Karavan Press, Karina M Szczurek) (Kortliks met Stefaans: 11 April 2025 – LitNet) wou ek oor liefde skryf. Misdaad is mos my default setting, terwyl ek met liefde dieper moet delf. ’n Storie het in my agterkop begin broei, maar ek wou nie hê dit moet in bloed uitloop nie. De Vries het my gewys hoe wyd mens oor liefde kan skryf, veral as jy bereid is om jouself as skrywer uit te daag.

Toe lees ek Seuns weet (Frederick Botha, Protea), en daarna Koos Prinsloo se Jonkmanskas, Die hemele help ons, Slagplaas en Weifeling. Ek het al van Prinsloo in Abraham H de Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek gelees, maar nog nooit dié bundels agtereenvolgens nie. (Net so terloops: Ek dink dit is tyd dat een van die groot kanonne Die Afrikaanse kortverhaalboek bywerk. Asseblief.)

Jare gelede was André P Brink se ’n Droë wit seisoen die vonk van my politieke ontwaking. Byna liefde, en veral Prinsloo se bundels, het iets soortgelyks reggekry. Sedertdien het ek byna geen boeke oor politieke sluipmoorde of spioenasie gelees nie. Daarvoor sal ek die skrywers ewig dankbaar wees. Maar húlle moet ook die skuld daarvoor kry dat die halfvoltooide “Kortliks”-stukke op my desktop lê.

Danksy hulle het ook ’n paar dapper kortverhale oor liefde ontstaan. “Go” is op FunDza gepubliseer.

Dalk is dit juis wat ’n goeie boek doen: Dit laat jou iets sien, voel of probeer wat jy andersins nie sou nie.

Ek wonder: Wat laat ’n boek vir jóú wat hier lees, uitstaan?

Lees ook:

Seuns weet deur Frederick Botha: ’n resensie

Oop boek: Gesprek met Frederick Botha oor Seuns weet

Frederick Botha beantwoord vrae oor Seuns weet

Koos Prinsloo Miniseminaar

Kortliks met Stefaans: 11 April 2025

Koos Prinsloo (1957–1994)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top