
In die tronk verkies ons dik boeke – dink Wilbur Smith, Tom Clancy en Robert Ludlum – aangesien ons nie boeke kan gaan omruil soos ons wil nie. Op Vrydae, in B-enkelselle, ongeveer 2001 tot 2003, het ’n verhoorafwagtende gevangene weekliks vir my boeke ingebring, onder hulle was ’n bundel kortverhale, Black evening, deur David Morrell. Morrell was een van my gunstelingskrywers, maar ek was traag om dit te begin lees. Kortverhale, jig. Elke verhaal het my egter vasgevang. Daarna het ek ander gunstelingskrywers, soos Jeffrey Archer, Jeffery Deaver en Frederick Forsyth, se kortverhaalbundels aangepak.
Voor ek myself kon kry, het ek verlief geraak op die korter kuns. In Afrikaans is die kunsvorm ’n bedreigde spesie. Goeie bundels is skaars. Selfs ervare skrywers pak dit selde aan. Jy moet amper ’n kortverhaalspesialis wees om deesdae ’n bundel te kan publiseer.
Gelukkig keur die Woordfees sedert 2016 jaarliks ’n klomp vir ’n bundel. NB-Uitgewers het met drie volumes Nuwe stories ’n dekade terug nuwe talent geïdentifiseer en ontwikkel. En soms bied gesaghebbende instansies soos PEN Afrikaans en LitNet kortverhaalkompetisies aan, wat beteken ons gewone lesers kan goeie kortverhale gratis aanlyn lees. (Onthou dat jy die gekeurde verhale van die “Kyk hoe ver het ons gekom”-kortverhaalkompetisie op LitNet kan lees.)

Samesteller: Karina M Szczurek
Titel: Tiger en Temperature
Uitgewer: Karavan Press
ISBN: 9781776472604 & 9781067222437
Sedert my seun, David, se geboorte vier jaar gelede, soek ek gereeld aanlyn na bundels kortverhale. Ek het van Karavan Press tydens verlede jaar se Prins Albert-leesfees te hore gekom, en gedurende Desember op hulle webbladsy gaan rondkyk na leesstof.
In 2023 het Tiger verskyn, ’n versameling kortverhale van mense wat einde April 2023 aan ’n werkswinkel deelgeneem het. Die eerste verhaal, “Tiger girl”, deur Kerry Hammerton, is loshande my gunsteling. Al koop jy die bundel net vir háár verhaal, bly dit ’n winskopie. Toe ek Temperature (2024 se bundel) oopmaak, het ek eerste gekyk of Hammerton in hierdie bundel ook opgeneem is. Haar verhaal, “Blueberry street”, is weer eens my gunstelingverhaal van die bundel.
In “Tiger girl” worstel Kaylee Robinson met haar ma se verdwyning toe sy 10 jaar oud was. Net soos ’n tier in ’n hok, is sy in ’n liefdelose verhouding gevange. Wat het regtig met haar ma gebeur? Het die tier haar opgeëet?
“Blueberry street” gaan net soos met die 2021-Woordfeesbundel-wenner, Coen Basson, se wenverhaal, “Eenzaamheid”, ewig by jou spook. Erotiese verhale is volop. Skrywes waar na seksuele verhoudings uit ’n ander hoek gekyk word, is skaars. As ek meer sê, gee ek die plot weg.
In Tiger is ’n kortverhaal opgeneem wat deur ChatGPT geskryf is. Ek dink die eksperiment was nodig aangesien soveel skrywers wonder of ChatGPT hul werk gaan oorneem. My insiens, hoef geen skrywer bekommerd te wees nie. Ek sou wel nog ’n ChatGPT-verhaal in Temperature wou sien. Ek meen, mense het ’n jaar langer gehad om met ChatGPT te eksperimenteer.
Buiten Hammerton, het Alexandra Wood en Gail Gilbride ook in albei bundels gepubliseer.
Mag hierdie projek vir Karavan Press doen wat die Woordfeesbundels vir Afrikaans doen. Ek dink dit is nogal iets om te versamel.

Samestellers: Joanne Hichens en Karina M Szczurek
Titel: Fluid en One life
Uitgewer: Tattoo Press
ISBN: 978-0-9946805-7-0 & 978-0-994446805-9-4
Lees Keith Oliver Lewis se wenverhaal, “Blue boy lagoon”, laaste, anders gaan die derde verhaal in die Fluid-bundel die dwarslat vir jou te hoog stel. “Blue boy lagoon” herinner aan Brian Fredericks se As die Cape Flats kon praat. Die skrywer het ’n sterk stem met driedimensionele karakters en mooi simboliek. En net soos in Hammerton se “Blueberry street”, is daar ’n sterk seksuele aanslag. Hierdie keer met ’n 28-nommer-ondertoon.
“Blue boy lagoon” sluit vir my mooi by Peter-Adrian Altini se “Hanna. With two n’s”, Yuwinn Kraukamp se “Heart you now and always” en Lerato Moletsane se “Pink balloon trousers” aan.
In my eerste skrywe vanjaar het ek genoem dat ek voortaan meer gaan fokus op “betrokke literatuur”. Altini se kortverhaal is geïnspireer deur die voormalige weermag se mediese martelprogram, The Aversion Project, waar homoseksuele soldate gemartel is totdat hulle “genees.” Die menslike emosies van so ’n soldaat word kragtig uitgebeeld.
“Pink balloon trousers” handel oor ’n metroman toe, soos die skrywer dit stel, MC Hammer nog onbekend was. Ek het daarvan gehou dat hierdie verhaal deur die ek-verteller se stem beleef word.
“Heart you now and always” was die joker van die pakkie. Die skrywer wou oor sosiale verskille skryf, maar op ’n humoristiese manier. Hy doen dit deur ’n dating app se avatar. Omstandighede dwing die avatar om sy realiteit, seksuele settings en menslikheid te bevraagteken. My insiens, kon hierdie net sowel die wenverhaal gewees het. Dit is befok!
Ek wens meer mense wil so waagmoedig oor seksualiteit skryf as van die verhale in die hierdie bundels.
Andrew Prior se “The addict’s wife” is my gunstelingverhaal in One life. Is ’n boek al op pad?
Jarred Thompson is die enigste skrywer wat in albei bundels opgeneem is.
Die Short. Sharp. Stories. is die eerste keer in 2013 uitgegee; One life is hulle agste bundel. Hierdie bundels, asook Karavan Press s’n, gaan in my boekrak langs die Woordfeesbundels staan.
Hoekom is die Woordfeesbundel ons enigste groot kortverhaalkompetisie?

Samesteller: John Grisham en Jim McCloskey
Titel: Framed
Uitgewer: Hodder & Stoughton
ISBN: 978-1-399-73860-6
Terwyl ek in die tronk was, het ek vas geglo dat almal wat ’n oranje pakkie dra, skuldig is. In die apartheidsera, waar die polisie mense gemartel het totdat hulle ’n bekentenis aflê, kon heelwat mense onskuldig toegesluit word. Maar nie in die nuwe Suid-Afrika nie.
Tog. Ek het baie gewonder of daar nie dalk êrens iemand onskuldig tussen ons lê nie. In Sel ses vertel ek in die kortverhaal, “Hang hom”, so ’n storie. Maar dit is fiktief.
Framed is ’n honderd present feite.
John Grisham het geen bekendstelling nodig nie. Baie van sy boeke is al verfilm. A time to kill, The firm, The pelican brief, The chamber, net om ’n paar te noem. Framed, wat hy saam met Jim McCloskey geskryf het, is nie sy eerste nie-fiksie boek nie, maar anders as The innocent man, vertel Framed 10 stories.
Dit word in ’n verslaggewer-skryfstyl berig. Die spanning waaraan ek in sy fiksie gewoond geraak het, ontbreek, asof McCloskey die verhale geskryf het en Grisham se naam net op die voorblad is om die boek te help bemark. Of laat ek eerder sê: die saak help bevorder. Die deernis waarmee die verhale verwoord word, hou lesers vasgenael.
Dit is misdaadfiksie op sy beste. ’n Dokumentêre TV-reeks kan maklik hierop volg.
Dit is moeilik om ’n saak uit te sonder, maar die saak van die drie soldate – Dominic Lucci, Mark Jones en Ken Gardiner – laat my yskoud. Ek voel net soos die leuenaar in die verhaal. Te bang om op te staan teen die waarheid.
’n 35-jarige swart man word doodgeskiet. Die polisie plaas hulle versier op die drie wit mans, maar kort ’n ooggetuie; hulle vind dit in James White, ’n swart assistentprediker by ’n klein Baptistiese kerk in Savannah. Alhoewel sy vrou by hom pleit om die regte ding te doen, lieg White onder eed.
Hoe kan ’n man van God Sondag na Sondag preek, wetend dat drie onskuldige mense in die tronk is weens sy leuens?
Hoe kan ek myself in die oë kyk, as ek swyg wanneer ander verdruk of verkleineer of beledig word? Vervolging vind immers nie net in die howe plaas nie, maar soms ook op sosiale media. Ek weier om langer te swyg, daarom verklaar ek:
Party Afrikaners is lesbies.
Party Afrikaners is gay.
Party Afrikaners is heteroseksueel.
Party Afrikaners is biseksueel.
Party Afrikaners is transgender.
Party Afrikaners is cisgender.
Party Afrikaners is niebinêr.
Party Afrikaners is Moslem.
Party Afrikaners is Joods.
Party Afrikaners is Christene.
Party Afrikaners is agnosties.
Party Afrikaners is ateïste.
Is dit nie juis Grisham wat daardie ikoniese aanhaling: “Imagine she is white” in A time to kill neergepen het nie? Imagine sy/hy (wie ook al jy haat) lyk net soos jy.
Lees ook:
Short.Sharp.Stories anthology Fluid: interview with Anna Hug, author of "Fynbos"


Kommentaar
Dankie vir al dié stof tot nadenke Stefaans…