Kompleks: ’n onderhoud met Louis Pretorius

  • 0

Foto se agtergrond: Pexels op Pixabay; boekomslag: LAPA

Kompleks
Louis Pretorius
LAPA
ISBN: 9780637003537

Louis Pretorius praat met Naomi Meyer oor Kompleks, Louis se boek vir jong volwassenes.

Louis, geluk met Kompleks! Die proloog vertel iets van die boek se geboorte. En dan, in ’n onverwagse wending, eindig die proloog met ’n naelskou-cliffhanger. Ek val met die deur in die huis. Is Kompleks wetenskapfiksie?

Goeie vraag. Ek sou sê elemente daarvan, soos die idee van meeralle, lê binne die grense van wetenskapfiksie, maar in dieselfde asem is daar so baie teorieë wat vandag gedy in astronomie dat ek glo niks is meer onmoontlik nie. Dit vorm egter net ’n klein deel van die verhaal en uiteindelik is dit maar net ’n "good old-fashioned love story" met ’n bietjie sterre, Griekse mitologie, kuns en baie musiek ingemeng. En ook TikTok. Ek wil nie te veel verklap nie, maar Mika en Sean se ontdekking lê ook so ‘n bietjie aan die kant van wetenskapfiksie. Nie onmoontlik nie, maar onwaarskynlik. Maar ek het gereken as John Green ’n versinde kankermedikasie in The fault in our stars kan gebruik, mag ek seker ’n bietjie die grense van waarskynlikheid strek vir my liefdespaar.

Ek het nogal gewonder of die onderwerp kompleks sou wees, en of daar ’n verwysing na ’n behuisingskompleks sou wees. Begin by die titel. Wat het jou die idee daarvoor gegee?

...........
Toe ek die oorspronklike storie uitgedink het, het die titel eenvoudig net by my opgespring. Dit het op soveel vlakke gelyktydig gewerk.
..............

Toe ek die oorspronklike storie uitgedink het, het die titel eenvoudig net by my opgespring. Dit het op soveel vlakke gelyktydig gewerk. Op sy basiese vlak is dit waar Sean en Mika bly. Tweedens sinspeel dit uiteraard op die kompleksiteit van tienerverhoudings, maar ook jou verhouding met jouself en jou familie en vriende. Belangriker as al hierdie dinge verwys dit egter ook na die sielkundige komplekse wat in jou kinder- en tienerjare ontstaan en waarmee jy uiteindelik jou hele lewe lank worstel. En hierdie is vir my die kern van die verhaal. Kompleks het begin by daardie liefdeservarings in jou jeug wat deur jou hele lewe eggo. En die vraag: "What if ...?" Wat sou gebeur het as ek gesê het hoe ek regtig voel? Wat sou gebeur het as ek nie so skaam was nie? Sou dit anders uitgewerk het? ’n Mens weet nie, maar daar’s altyd die herinnering wat bly knaag.

Dis jeugfiksie, sou mens kon sê, maar dis ook poësie: offers vir sterre, gesprekke oor sterstof. Hoeveel van jou karakter is jy, in die Covid-tyd, met nadenke oor die lewe en die heelal en ewigheidswaarde van enigiets?

Die peinsinge oor die sterre en ons plek daarin en waarheen alles op pad is, kom baie lank. Jy moet verstaan ek is ’n ’90s child, en daarmee saam ’n hopeless romantic, ’n sucker en ook soms sentimenteel. Ek het grootgeword met Sleepless in Seattle en Bed of roses en A river runs through it, en Legends of the fall en Scent of a woman. Die lys is eindeloos. Twee sinne uit twee films het my altyd bygebly. Dis seker nie cool om aan te haal nie, maar ek gaan in elk geval: John Travolta aan die einde van Phenomenon: "Everything is on its way to somewhere. Everything." En dan die strandtoneel aan die einde van Contact tussen Jodie Foster en David Morse: "You’re an interesting species. An interesting mix. You’re capable of such beautiful dreams, and such horrible nightmares. You feel so lost, so cut off, so alone, only you’re not. See, in all our searching, the only thing we’ve found that makes the emptiness bearable, is each other."

So ja, Sean se peinsinge oor die sterre en die drome wat daarmee gepaard gaan, lê uiteraard in my ook, maar dis meer ’n hoopvolle versugting dat ons deel vorm van die ewige tapisserie van die kosmos.

Louis en Mareli Pretorius (foto: verskaf)

Kommentaar tussen die lees deur: Die sinne en die hoofstukke is kort. Mens hou net aan met lees. Skryf mens so vir jongmense, vir alle lesers, vir TV, vir film, vir teater? Skryf mens net deesdae so? 

In my geval is dit maar oorblyfsels van baie jare se TV-skryf. Een van die goue reëls in TV is jy begin ’n toneel so laat as moontlik en jy eindig hom so gou as moontlik. Dit en gestroopte dialoog.

..........
Een van die goue reëls in TV is jy begin ’n toneel so laat as moontlik en jy eindig hom so gou as moontlik. Dit en gestroopte dialoog.
.............

Jeanette Ferreira, my redigeerder, het ook gehelp om weg te beweeg van TV-"aksiebeskrywings" en om meer prosamatig om te gaan met sekere beskrywings. Die kort hoofstukke kom ook uit al die YA-boeke wat ek oor die jare verslind het. Ek sal skaamteloos erken dat YA-boeke my gunstelinggenre is. Ja, ek het die hele Twilight-sage gelees. Al meer as een keer. Ek besef ek sal nooit weer ernstig opgeneem word nie. Team Jacob, foreva ...

Hoe maklik of hoe moeilik was dit vir jou om ‘n meisiekarakter te wees? Of weer laat in die hoërskool?

Mika is ’n sameflansing van al die belangrikste vroue in my lewe oor baie jare en het ook ’n baie spesifieke verwysingsraamwerk gehad van waaruit ek kon skryf, so dit was maklik om haar te "channel". Ek was nog altyd gelukkig dat ek met redelike gemak vrouekarakters kan skryf. Bygesê, ek probeer soveel as moontlik sielkundige boeke lees om ’n beter verstaan van my vrouekarakters te kry. Of van enige karakter. ’n Boek wat my altyd nog baie gehelp het is Maureen Murdock se The heroine’s journey. Ek is ook bevoorreg genoeg om ’n wye verskeidenheid onverskrokke en eenvoudig baie "cool" vroue in my lewe te hê.

Het jy aan die begin van die storie net die idee gehad van ’n komplekse verhouding binne die kompleks (elkeen met sy eie komplekse en nog meer komplekse verhoudings binne elke karakter se lewe), of het jy geweet hoe dit gaan eindig?

Kompleks se kern kom uit my eie lewe. Dis ’n somervakansie in standerd 9. (Ek gaan nie “graad 11” sê nie. Ek’s middeljarig. Ek weet dit. Ek het dit net weer eens besef toe ek vanoggend in die lift staan ná ek my terapeut gesien het en die student wat pas in die gym was, sê: "Oom kan maar stap ...") Hierdie vakansie het ek my beste vriendin van nou al meer as 25 jaar ontmoet. Toe was ek egter smoorverlief op haar, maar het nooit die moed gehad om dit vir haar te sê nie. Ons het aan die begin van matriek uitmekaar uit gedryf en eers maande later weer "connect". Sy was ’n rebel en ek ‘n nerd. Ek’t altyd gewonder wat sou gebeur het as ek haar al daardie jare gelede gesê het hoe ek voel. Dit was die vonk vir hierdie verhaal. So daar was ’n deel van my wat weet hoe dit sou eindig, maar dis fiksie, so mens kan die einde skep wat jy wou gehad het.

Jy werk al lankal met skryf vir skerms, so hierdie is iets heeltemal anders. Lees Afrikaanse jongmense nog Afrikaanse boeke? Uit keuse?

Ek dink die afleidings het meer geword. Ek sê nie dis ’n probleem nie. (Ek sal op die dorpsplein gestenig word vir die hoeveelheid "screentime" wat my seun het. In my defence: Ons lees ook elke aand Harry Potter en How to train your dragon.) Ek sê net daar is meer "geraas" en dis moeilik om jongmense te bereik. Maar kom ons wees eerlik: In enige generasie is natuurlike lesers in die minderheid. Dis nie asof Potgietersrus (nou Mokopane) se dorpsbiblioteek oorval is deur kinders toe ek daar grootgeword het nie. But I digress. Ek glo jongmense lees nog. Dis net ons verantwoordelikheid om hulle te help en van kleins af hulle verbeeldingswêreld te ontsluit.

Sean wonder of hulle alleen is in die heelal. Ironies – hy en Mika is albei nogal alleen tussen baie mense en in hulle gesinne.

Dit gaan terug na die strandtoneel in Contact, maar eintlik ook hoekom ek skryf. Dis om verbindings te soek. Ek dink, maak nie saak hoe gewild jy op skool is, of later in jou lewe, of hoe gelukkig getroud jy is of waar jy jou ook al bevind nie, daar’s altyd ’n tikkie eensaamheid. Vir party baie meer as ander. Ons is altyd op soek na die "magical other", en veral as mens jonger is, ervaar jy daardie soeke des te meer intens en is dit juis daardie verhoudings wat die eensaamheid vir ’n oomblik verdryf wat jou bybly.

Hoe doen jy dit – een oomblik is dit nog prettig en grappig en mens is verlief saam met die karakters .... en dan raak dit meer kompleks? Alles van elkeen se geskiedenis, alles van hoe betrokke hulle by mekaar is. Hoe hulle vriende op die lyflike reageer, en as iemand dalk nie lyk soos wat hulle gedink het iemand moet lyk nie. ’n Groter lyf het byvoorbeeld. Alles is donkerder en meer intens as voorheen. Is ons almal nog tieners in ons harte? Is die boek ooit jéúgfiksie?

Dit word geklassifiseer as ’n roman vir jong volwassenes, maar ek glo dat die verhaal met enige iemand van enige ouderdom sal resoneer. Soos die jare aanstap kan jy – as jy gelukkig is – met meer rooskleurige lense na jou tienerjare kyk. Baie van die pyn en komplekse bly by ’n mens en dit is probleme waarmee jy jou hele lewe lank worstel. Maar hopelik kan jy afstand kry en besef jy is nie meer dieselfde mens nie. Maar ja, ek is beslis nog ’n tiener in my hart en ek glo dis nodig om nie heeltemal die kind te laat los nie, want dit is deur daardie "wonderment" dat ons steeds die lewe nuut kan ervaar en stories skryf.

Ek het die boek klaar gelees en ek glimlag oor my vraag aan die begin: Het jy geweet, toe jy die storie begin skryf, hoe dit sou eindig? En wat nou, Louis? Wat is volgende? Nog ’n jeugboek?

Wat interessant is van die boek teenoor die reeks, is dat dit twee verskillende eindes het. Dieselfde op een vlak, maar ook baie meer verweef in die boek. Die reeks is baie vinnig geskryf, en toe ek tyd gehad het om in die boek dieper te delf, het ’n alternatiewe weergawe (of dan ander meeral) vorendag gekom waarvan ek baie meer gehou het. So, in die reeks het ek geweet hoe dit gaan eindig. Die roman was ’n ontdekkingsavontuur wat my aangenaam verras het.

Volgende? Ek sê altyd ek skryf en maak TV omdat ek niks anders wil doen nie. Ek’s mal oor TV. Maar ... die skryf van Kompleks was eerlikwaar een van die mees vervullende ervarings van my lewe. Die vryheid wat ’n roman bied, is ongeëwenaar. Dit beteken nie ek gaan dit voltyds doen nie, maar ek sal nog een wil skryf. Tien teen een weer ’n YA-roman. En ja. Seker weer ’n love story.

Lees ook:

Innibos 2018: Die magiese drie – ’n teater-onderhoud oor die produksie 3 Susters

Die Boekklub 3: ’n onderhoud met Louis Pretorius en Albert Snyman

Fraksie op kykNET: ’n onderhoud met Louis Pretorius

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top