Die Boekklub 3: ’n onderhoud met Louis Pretorius en Albert Snyman

  • 0

Albert Snyman en Louis Pretorius (foto: verskaf)

Louis Pretorius en Albert Snyman praat met Naomi Meyer oor Die Boekklub 3, wat hierdie week op kykNET afgeskop het.

Louis en Albert, veels geluk! Die Boekklub 3 is terug – en dit is 2024. Het die virus die ywerige lesers van die boekklub vrygespring? En wou julle die karakters ook ’n paar jaar vorentoe skuif, met ekstra onvertelde tyd?

Nie almal het die virus vrygespring nie. Tobias se man is oorlede aan die virus en dit het uiteraard gevolge vir haar. Die virus het egter ’n impak op almal se lewens gemaak en daar word deurlopend daarmee in die reeks omgegaan. Die rede waarom die reeks in 2024 geplaas is, was deels om ’n storie post-Covid te skep, maar ook om vir Tom rede te gee om ’n wyle in Merweville te vertoef. Die dorp is so onlosmaaklik deel van die storie dat dit nie anders kan nie. Maar hoe gemaak om Tom daar te kry en te laat bly? Toe kyk ons na die tydlyn van sterftes van die Boekklublede en toe werk dit so uit dat Tom dan weer vir ’n groot begrafnis in 2024 sou moes terugkeer. Net mooi na hy 40 geword het. En ’n midlife crisis is mos nou ideaal vir ’n bietjie drama ... Dit het al die ander karakters dan ook toegelaat om te groei. Anna word oud, Hanli is amper 50 en Kara en Lourens is al sewe jaar getroud …

Daar is ’n begrafnis en Tom moet na Merweville gaan, soos jy pas genoem het. Dis ’n donker opening van die nuwe reeks, en tog bring dit weer al die ou vriende en geliefdes saam. Wie is almal daar – oud en nuut?

Die meeste van die ou lede is nog daar – Hanli, Sofia, Kara, Lourens en Anna. Lillie keer ook onverwags terug. Daar’s egter ook ’n paar nuwe gesigte: die vrouedominee wat voorheen ’n marinebioloog was; Sofia se susterskind, Julia, wat die nuwe dokter is; en John – Tom se ander beste vriend – wat sy hart verloor in Merweville. Saam met al die karakters gaan Tom weer op ’n reis van selfontdekking en vind hy weer vreugde in die lewe.

Kringe in ’n bos – dis die tema van die eerste episode. Hoe besluit julle op die boek waarop jul episodes gebaseer is?

Dit gaan maar baie oor die gevoelswaarde van die boek of ’n tema of partykeer selfs net ’n titel. Kringe in ’n bos is byvoorbeeld gekies omdat die eerste episode van die eerste reeks “Susters van Eva” was en dit maar ’n hoedlig was vir tannie Dalene. Maar dit speel ook in op Tom se psige: die kringe wat hy bly loop.

Wanneer het julle hierdie nuwe reeks geskryf en vervaardig en met watter unieke uitdagings het julle te doen gehad in 2020, toe julle hiermee besig was?

Die reeks is in twee maande geskryf, van Augustus verlede jaar. Ons het einde Oktober begin skiet. Die eerste twee seisoene is gedeeltelik in Merweville verfilm, maar ook in Stellenbosch, Strand en Somerset-Wes. Die verfilming het twee maande geduur. Ons het 1-uur die oggend die 23ste Desember klaar gemaak! Die Covid-wêreld was baie uitdagend. Ons moes natuurlik streng protokolle volg om almal te beskerm en het ’n veiligheidsbeampte sowel as mediese beampte op die stel gehad. Temperature is gemeet, vorms voltooi, die stelle gereeld ontsmet. Maskers was natuurlik verpligtend behalwe as die akteurs voor die kameras verskyn. Omdat ons geweet het ons gaan gedurende Covid verfilm, het ons natuurlik ook al in die teks gesorg dat daar nie groot skares is nie en probeer om die groot groepstonele te beperk. Maar die boekklub ontmoet darem nog!

Die Boekklub is ’n uiters suksesvolle reeks. Mense voel of hulle die karakters ken. Die vraag is: Ken julle ook die karakters? Is hulle gebaseer op werklike mense wat julle ontmoet het, of het julle hul net beter en beter leer ken soos wat julle verder aan die reeks geskryf het?

Na 36 episodes ken ons die karakters, maar nee, hulle is almal fiktief. Natuurlik is daar eggo’s uit kleintydse herinneringe van mense wat ek (Louis) op die platteland leer ken het, maar niemand is gebaseer op mense in Merweville nie.

Die Boekklub word vanaf 16 Februarie 2021 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Lees ook:

"Ek is eintlik net ’n nerd" – ’n onderhoud met Nina Swart

Fyn skryf aan regsreeks – ’n onderhoud met Louis Pretorius en Albert Snyman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top