Fyn skryf aan regsreeks – ’n onderhoud met Louis Pretorius en Albert Snyman

  • 0

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Louis Pretorius en Albert Snyman, skrywers en vervaardigers van dié gewilde reeks wat tans op kykNET uitgesaai word, gesels.

Albert Snyman en Louis Pretorius (Foto: verskaf)

Wie se idee was die konsep van Fynskrif? Is dit waar dat die reeks eintlik as ’n sitcom begin het?

Louis: Fynskrif het so lank gelede begin, ek kan nie eers eintlik meer onthou wat gebeur het nie … Dit het amper ’n mite geword, maar wat ek kan onthou is: ons’t net voor ons Die Boekklub 1 geskiet het, ook sommer vinnig ’n loodsepisode vir ’n sitcom, getiteld Net nog ’n dag (not to be confused with Môre is nog ’n dag) geskiet. Toe gebeur Boekklub 1, Boland Moorde 2, Boekklub 2 en toe, so tussendeur dit alles, het ons die sitcom omvorm na ’n regsreeks met die gelyknamige titel. Dit is aanvaar deur kykNET en het deur baie iterasies gegaan (die reeks sou onder ander ook in George of Wellington afgespeel het). Uiteindelik het ons in 2017/2018 aan die reeks begin skryf wat vandag Fynskrif heet. Die naam was my vrou se idee, nadat meer as helfte van die 1ste reeks al geskryf was en die oorspronklike titel die hel uit meeste mense confuse of irriteer het.

Albert: Soos ek dit onthou het ons die pilot vir die sitcom ’n maand voor die verfilming van Boekklub 1 geskiet. Toe is daar skielik ’n rits projekte oor ’n tydperk van twee jaar. Teen die tyd wat ons weer oor die sitcom met ons toesighoudende vervaardiger Marguerite Albrecht gesels het, het Louis en ek nie meer gedink die sitcom sou noodwendig werk nie. Daar het in dié twee jaar ’n paar ander sitcoms gewys wat baie soortgelyke temas en tegnieke gebruik het wat in Net Nog ’n Dag sou wees. Sy noem toe dat die kanaal weer begin soek vir ’n nuwe serial, iets soos ’n hospitaal- of polisiedrama. Aangesien ons reeds op Binnelanders gewerk het en ook Boland Moorde, vra ons toe of kykNET sou belangstel in ’n regsdrama. Sy het gesê ons moet ’n voorstel aanmekaar sit en indien ... en Fynskrif is gebore.

Fynskrif is oor die algemeen ongelooflik positief deur kykers ontvang. Hoekom, dink julle, resoneer die reeks met soveel mense?

Louis: Ek dink mens is oor die algemeen eenvoudig net plein gelukkig as mense hou van iets wat jy doen. As ek egter gedwing word om iets te sê, dink ek dis maar net die karakters van die storie. Hulle is mense. Met foute en vratte en alles wat daarmee saamgaan. Ek dink ons kykers hou van karakters netsoveel as wat hulle van die “spanning” van ’n storie hou. Hulle wil op reis gaan saam met die karakters. En ek dink dis wat ons so nou en dan reggekry het met die karakters.

Albert: Om ’n prokureur of ’n advokaat te word is nie maklik nie. Dis mense wat lank moet swot en hard moet werk om suksesvol te wees. Dis ook mense wat elke dag moet glimlag vir geharde misdadigers wat soms hul kliënte is. En dan moet daai selfde mense elke aand huis toe gaan en kinders grootmaak. Dis wat ons die meeste gefassineer het van ons gesprekke met regslui toe ons aan die reeks begin werk het. Hulle is ook maar normale mense met normale probleme. En dis die wêreld wat ons wou wys. En ek dink dis hoekom die kykers van die reeks hou. Maar op die ou end lê die balans in die skets van daai wêreld altyd in die tekste. Ek dink Louis het ongelooflike werk gedoen, hy het elke karakter ’n stem van hulle eie gegee wat hul uniekheid en alledaagsheid in ’n komplekse wêreld uitbeeld.

Daar was, veral in seisoen 3, egter heelwat kritiek deur sommige kykers oor byvoorbeeld sekstonele en karakters wat vloek. Hoe hanteer julle kritiek? 

Louis: Om Albus Dumbledore aan te haal:

“Really Hagrid, if you are holding out for universal popularity, I'm afraid you will be in this cabin for a very long time.” (JK Rowling se Harry Potter and the Goblet of Fire.)

As jy gaan TV maak – of enige vorm van kreatiwiteit aanpak – gaan daar kritiek wees. Daar’s niks wat jy kan doen nie. So jy vat dit maar soos dit kom. Party houe is seerder as ander, maar ek gaan beslis nie in ’n bekgeveg op sosiale media betrokke raak nie. Smile and wave boys. Smile and wave ...

Albert: Dis moeilik om almal gelukkig te hou. As ’n karakter vloek of ongemaklike seks het soos Lara en Jaco in reeks 3, dan is dit in die teks, want dit moet daar wees. Want dit is op daardie oomblik die eerlikste weerspieëling van daai karakter se gemoedstoestand. Selfs slim mense kan kwaad word en dan kwets. Dit gebeur. As ons wegskram daarvan, dan kan ons net sowel wegskram van moeilike temas of ongemaklike waarhede. Hoe is dit dan drama? Ek dink nie dis ons werk om vir die gehoor te preek of lesse te leer nie. Dis ons werk om ons stories so eerlik as moontlik te vertel. En ’n mens voel maar sleg as jy hoor jy het mense ontstel, maar dan wonder jy soms ook hoekom mense so maklik ontsteld raak oor ’n vloekwoord in ’n land waar almal daagliks aan soveel wreedhede in die nuus ontbloot word?

Watter eienskappe maak van julle twee so ’n uitstekende span? Sit julle ooit vas oor idees?

Louis: Dit is nou al meer as 10 jaar wat ons saamwerk, so ons het mekaar geslyp oor baie jare. Deesdae is slegs ’n halwe woord nodig en dan verstaan ons mekaar. Daar’s twee goed wat vir my uitstaan van ons verhouding. Aan die een kant is ons smaak in TV en films baie dieselfde, maar het ons ook ons eie niche belangstellings wat beteken ons kom baie keer van verskillende hoeke na dieselfde storie. En dan sou ek sê ek is stadiger en meer berekend as dit by stories kom, waar Albert se kop teen ’n miljoen kilometer per uur werk met duisende idees wat ontplof. So ek anker hom, maar hy gee die hardkoppige Capricorn vlerke om mee te droom en saam kom ons by ons stories uit.

Albert: Ek dink dit help baie dat ons mekaar al lank ken. Ons het mekaar leer ken by die Universiteit se dramadepartement en het jare saam vir Binnelanders geskryf. So ons deel ’n geskiedenis en verwysingsraamwerk. Louis is ongelooflik geduldig met my – as ek opgewonde word oor ’n idee sal my kop in ’n duisend rigtings spring, wat ek vermoed uitputtend kan wees om na te moet luister. Tog luister hy altyd daarna, en sal dan vir my sê wat hy dink kan werk en wat nie, en ek het dit nog altyd baie waardeer. Baie mense in ons bedryf beskik nie oor daai tipe geduld en empatie nie. Tog dink ek die een groot faktor wat ons van die begin af aan mekaar gebind het is dat televisie nie vir ons ’n tweede keuse is nie. Dis ons eerste keuse. Daar is baie mense wat in televisie werk wat liewers in film of meer gereeld in teater sou wou werk. En daar is niks fout daarmee nie, geleenthede is skaars. Maar ek dink ons albei voel passievol oor televisie. Die lang formaat. Die landskap wat bly verander met groter en beter stories wat regoor die wêreld op die medium vertel word. Ons geniet dit om idees met mekaar te deel en saam te skaaf aan daai idees, om te sien waarheen dit kan gaan. Maar op die ou end is Louis die een wat die tekste skryf, en dis ’n moerse las. Dis waar vertroue belangrik word. Ek vertrou dat Louis nooit minder as sy beste sal gee vir enige teks nie. Hy sal elke woord weeg en seker maak dit hoort daar. Elke toneel moet ’n doel dien om die storie vorentoe te dra en nie net tyd opmaak nie. Louis is een van die min skrywers wat goed is met storie en teks. En dit is wat sy tekste so goed maak. Ons sit wel soms vas oor sport ...

Louis Pretorius en Albert Snyman (Foto: verskaf)

Sukkel een van julle ooit met skrywersblok? Wat doen ’n mens om dit te oorkom?

Louis: Daar is nie iets soos skrywersblok nie. Daar’s angs, verwagtinge, selftwyfel, oordeel en verwyt, vrees en ’n miljoen redes hoekom jy dink iets nie gaan werk nie. Daar’s verlamming en dae op Facebook en nuus websites, maar al wat jy uiteindelik kan doen na jy die pyn lank genoeg vermy het, is om die een woord na die ander te tik totdat dit uiteindelik weer begin vloei.

Albert: As ek die dag sukkel, dan staan ek op en gaan stap ’n bietjie buite en rook ’n sigaret. Sigarette wat ek obviously moerse baie van opgestock het pre-COVID. Chicago en JFK was nog altyd my gunsteling-sigarette … Dan gaan sit ek weer en mors ’n paar minute op nuuswebwerwe en dan probeer ek weer … dan staan ek weer op en gaan stap en rook weer ...

Was die regsaspek van die reeks ’n uitdaging vir julle?

Louis: Dit was ’n enorme uitdaging. Aan die begin wou ek ’n hele paar keer vir kykNET die geld teruggee en sê: “Ek kan nie. Los my net uit!” Maar met die hulp van ons regskonsultant en Albert se ontsaglike verbeelding het ons dit stukkie vir stukkie gebou en uiteindelik het dit begin sin maak.

Albert: Dit was baie moeilik. Kriminele sake in Suid-Afrika neem vir ewig. En dis nie Amerika waar die prokureur of advokaat net ’n mooi toesprakie kan maak vir ’n jurie en hul oorwin met sjarme of passie nie. Daar is streng reëls en prosesse wat enige normale mens mal sou maak! Plaaslike televisie het ook baie beperkte begrotings. So ons kon ook nie stelle bou van howe ens nie. Gelukkig het ons vir Johann Viljoen ontmoet, ons regskonsultant. En hy was die een wat ons aangeraai het om liewer op Siviele reg in die storie te fokus. Hy het ook opgekom met wonderlike voorstelle oor hoe om die stories en idees aan te pas om meer aspekte van Siviele reg te kon dek. Baie van die sake in Fynskrif kom uit stories wat hy ons vertel het. Dan het ek en Louis bietjie aan dit gaan torring en weer vir hom gestuur om te kyk of dit doenbaar is. Ek dink ons het in die proses baie geleer oor die regstelsel en dit het weer baie bygedra tot die emosionele landskap van die karakters. Ek dink vir my was die interessantste hoe modern baie van ons wette is, maar ook hoe oudmodies. En al die nonsens wat ons glo, want ons het dit in Amerikaanse programme gesien. ’n Dokter kan forseer word om in ’n hof te getuig … jy gaan nie noodwendig miljoene kry as jy iemand dagvaar nie en as jy nie kinderonderhoud betaal nie, kan die hof jou ma of pa maak betaal! Ek is seker daar is baie prokureurs wat voel ons het sommige goed verkeerd gedoen, maar ons het ons bes probeer.

Wat was die lekkerste deel daarvan om hierdie reeks te skep?

Louis: ’n Paar goed staan vir my uit. Toe ek die eerste reeks klaar geskryf het in Merweville en Coldplay se “Something just like this” op repeat was. Toe ek die laaste reeks in Graaff-Reinet klaar geskryf het. Al die dae saam met Albert op ons stoep om ’n tafel waar ons die reeks uitgedink het. Baie koffie en sigarette (toe ek nog gerook het, voor Corona ...). Die ongelooflike tegniese span en akteurs waarmee ons hierdie reis meegemaak het.

Albert: Ek dink dit was ons moeilikste reeks. Baie stres en angs. Baie probleme en uitdagings wat ons nog nooit voorheen gehad het nie. Baie sigarette, koffie en dink-op-die-stoep by Louis se huis. Maar dit was alles actually fantasties. Hoe baie mense kan op ’n random Dinsdagoggend saam met hul vriend stories uitdink op ’n stoep? Om elke dag met ’n groep akteurs te werk wat jou daagliks verstom met hul talent. ’n Tegniese span wat nooit ophou werk en innoveer nie en wat hierdie ongelooflike wêrelde skep en verfilm en vermeng. ’n Regisseur wat meer omgee oor die storie as wat jy gedink het menslik moontlik is. Maar my gunsteling-gedeelte van die hele proses is om op ’n Dinsdagaand, net na dit uitgesaai het, my vrou Andy se reaksie aan die einde van elke episode te sien. Sy sien nie die episodes voor die tyd nie, soms huil sy of lag sy of is sommer net bedonnerd vir my as sy dink ons is wreed met ’n karakter. Ek sit altyd in spanning en wag om te sien hoe sy gaan reageer. Min mense kan hul werk huis toe bring op so ’n manier.

Die Fynskrif-span (Foto: verskaf)

Hoekom is dit belangrik om stories te vertel? En wie is iemand wat ’n groot invloed op julle elkeen as storievertellers gehad het?

Louis: Stories was nog altyd vir my hoe ons sin gemaak het van ons bestaan. Stories is die enigste manier hoe ek betekenis aan die lewe kan gee, want dit is daaruit wat ons leer wie ons is en waarheen ons op pad is. Daar’s baie name wat ek kan noem wat ’n invloed op my gehad het. En ek kan nou probeer om baie high brow te wees of what ever, maar daar’s drie mense wat ’n enorme invloed op my as skrywer gehad het: Mitzi Booysen, Johan van Jaarsveld en Shonda Rhimes.

Albert: Stories help ons om onsself en die wêreld om ons te verstaan. Dit offer vir jou ander perspektiewe en moontlikhede. Dis iets wat mense ook aanmekaar bind, jy kan baie oor iemand leer as jy weet watter stories hul roer. Maar dit laat ons ook droom, en dis vir my belangrik. Oor ander lande en wêrelde, dit beweeg die mensdom vorentoe en gee hoop vir ’n beter toekoms. My grootste invloed was verseker Mitzi Booysen. Sy is die persoon wat my aangespoor het om te skryf en my die opleiding en hulp gegee het om ’n storyliner te word. Ek weet nie van enige kursus in die land wat mense oplei as storyliners nie. Ek dink nie eers daar is ’n Afrikaanse woord vir die werk nie? Sy is ongenaakbaar in haar werksetiek en het ’n verbeelding wat by enige genre kan inpas. En beste van alles, sy is skreeusnaaks. Sy het ’n wonderlike, vreemde sin vir humor. Ek vrees wat met Binnelanders gaan gebeur as sy die dag klaarmaak.

Fynskrif is tans in die finale seisoen. Dink julle dis deel van die geheim van ’n suksesvolle reeks – om te weet waar/wanneer om op te hou?

Louis: Ek glo altyd dat as die karakters se reise klaar is, is die storie klaar. Ek sal nooit probeer om ’n storie nog verder te melk nie.

Albert: Hel ja! Vra enige Lost-aanhanger … of How I met your Mother … of Scrubs ... of The Walking Dead deesdae … 

Is julle reeds besig met ’n volgende projek waarna kykers kan uitsien?

Louis: Ek kan nie te veel sê nie, maar ons skryf aan twee nuwe reekse wat hopelik oor die volgende paar maande verfilm sal word. Die een is ’n teenage love story en die ander handel oor ’n dokter op ’n klein dorpie.

Lees ook:

"Om mense te laat lag, is my roeping" – ’n onderhoud met Bennie Fourie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top