"Om mense te laat lag, is my roeping" – ’n onderhoud met Bennie Fourie

  • 1

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Bennie Fourie wat die rol van Burger in Fynskrif vertolk en ook by ’n rits ander kykNET-produksies betrokke is, gesels. 

Foto van Bennie Fourie: YouTube

Bennie, jy het bekendheid verwerf in komedies soos Hotel, Vuil Wasgoed en As ek reg verstaan het jy jou rol in die ernstiger reeks, Fynskrif, ook met ’n grap losgeslaan. Kan jy meer hieroor vertel asseblief?

Ja, ek het my rol in Fynskrif met ’n grap losgeslaan, of eintlik ’n bietjie van ’n skimp. Ek het op Pukke geswot waar ek my BCom Regte-graad gekry het. Toe Fynskrif uitkom het ek gedink dat dit die één plek is waar ek uiteindelik my regsagtergrond kan gebruik! Maar ek het nie in die eerste seisoen ’n rol losgeslaan nie. Ek het daardie jaar die Fiëstas aangebied en het tydens dié geleentheid ’n grap gemaak waarin ek verduidelik dat ek die enigste Suid-Afrikaanse akteur met ’n regsgraad is, sónder ’n rol in Fynskrif! Albert Snyman en Louis Pretorius was in die gehoor. Ek is op die ou end gekontak oor ’n oudisie vir die tweede seisoen, want hulle het my grappie gehoor en gedink dis net regverdig. Ek het die rol gekry, so dit was op die einde van die dag ’n goeie grap om te maak!

Hoe was die ervaring om deel van Fynskrif te wees? Kan jy ’n klein bietjie oor jou karakter, Burger, vertel?

Dit was eintlik ’n droom wat waar geword het. Die cast is só ongelooflik en spog met ’n verskeidenheid van ons land se top teater- en TV-akteurs. Dit was ’n wonderlike ervaring, maar ook scary, want ek het eintlik ’n agtergrond in komedie. Mens twyfel dikwels in jouself en wonder of jy sekere goed reg doen, so dit was ook ’n uitdaging. Ek het baie tonele teenoor die briljante Cintaine Schutte gespeel, saam met wie ek al van te vore gewerk het, asook teenoor Martelize Kolver wat saam met my in Hotel is. Dit was lieflik.

My karakter, Burger Gouws, is ’n staatsaanklaer. Dit is ’n briljant geskrewe karakter. Hy is ’n selfsugtige chauvinis in sy persoonlike lewe, maar in sy professionele lewe jaag hy reg en geregtigheid na. Hy het dus ’n vreemde morele kompas wat heerlik was om te speel.

Bennie Fourie en Tinarie van Wyk-Loots in Fynskrif (Foto: verskaf)

Waar kom jou liefde vir komedie vandaan? Hoekom dink jy is dit so ’n belangrike genre – veral in ’n tyd soos nou?

My liefde vir komedie kom van my pa af. Hy het die vermoë gehad om mense te vermaak. Hy was ’n dominee met ’n baie musikale agtergrond –’n ongelooflike entertainer en ’n ensiklopedie van grappies. Net om te sien hoe mense lag en hoe dit mense bymekaarbring, was nog altyd vir my fassinerend. Ek dink ek het van kleins af soos hy probeer grappe maak.

Ek het aanvanklik gedink mens kan nie ’n lewe maak uit grappe vertel nie, maar ek het uiteindelik tot die besef gekom dat dit my roeping is. Dit is baie harde werk om mense te laat lag, maar komedie is ’n waardevolle medium. Veral in ’n tyd soos nou, waar alles so ernstig en neerdrukkend is.  

Jy is ook ’n regisseur. Wat verkies jy – om voor of agter die kameras te werk?

Dis ’n moeiike vraag, want ek sal nie net die een óf die ander wil doen nie. Directing is vir my ’n groot passie en iets wat ek heel moontlik in die toekoms meer as acting sal wil doen. As ’n  mens verstaan hoe dit voel om in die akteur se skoene te wees, maak dit van jou ook ’n beter regisseur. Om ’n regisseur te wees, is soos om deel te wees van ’n kreatiewe weermag. Ek sal egter graag in elke projek aan beide kante van die kamera wil wees, soos Jason Bateman van Ozark, byvoorbeeld.  

Bennie as Burger in Fynskrif (Foto: verskaf)

Jy is goeie vriende met baie van jou kollegas. Hoe is dit om saam met van jou beste vriende te werk? Is dit wonderlik of uitdagend?

Ek is mal daaroor. Een van die belangrikste dinge wat mens kan leer om te doen is om jou ego te laat gaan en te collaborate – drie breine is beter as een. Jy kom vinniger tot ’n konklusie, jy kan meer skep. Ek dink as jy jouself ’n bietjie laat gaan en ophou om so heilig te wees op jou eie goed, is dit lieflik om met mense te werk wat jy ook hoog ag. Ek het nog nie slegte ervaringe in die verband gehad nie.

Soms is mens die regisseur en een van jou vriende is een van die akteurs. As jy voel hulle sit die pot bietjie mis, moet jy hom maar net weer mooi reguit trek. Gelukkig is meeste van die mense saam met wie ek gereeld werk oop en eerlik met mekaar. Mens kan reguit  wees sónder dat iemand in die gesig gevat voel.

Ek dink jy is so goed soos die mense met wie jy jouself omring en dis vir my lekker om myself te omring met mense wat beter as ek is – hulle trek my op.

Jy kom eintlik uit ’n familie van dominees. Waar val jy uit? Hoe was dit om in die pastorie groot te word? Was jy ’n tipiese pastorie-probleemkind?

Ja, my pa was ’n dominee, my broer is ’n dominee en my oom is ’n dominee. Daar is dus ’n klomp dominees in ons familie! Ons is almal baie ligte mense. Mens dink vinnig dominees is ernstige ouens, maar tussen my pa, broer en oom was en is daar van die stoutste mense wat ek ken, en almal is baie lief vir komedie en om te lag. So, die twee wêrelde is nie eintlik so ver uitmekaar uit nie. Ek wens ek kon sê ek was hierdie stout, rebelse kind, maar ek was eintlik maar ’n bietjie van ’n voorbeeldige kantpaadjieseuntjie. Ek het eintlik eers op universiteit ’n bietjie stout begin raak – ’n bietjie te laat. Maar ek is baie lief daarvoor om te sê ek is ’n pastoriekind!  

Wat is die snaaksste / vreemdste situasie waarin jy jouself al op stel bevind het?

Die vreemdste situasie waarin ek al betrokke was, was by verre in Ander mens. Ek het ’n naaktoneel gehad waar ek alles wat nie gesien moes word nie, in ’n sonbrilsakkie moes wegbêre. Dit was onsettend koud, van die akteurs het hipotermie gekry. Ek moes in ’n poel spring en swem, en toe ek uitklim het my brilsakkie afgeval, sonder dat ek daarvan geweet het. Ek het toe met gevoude arms daar rondgeparadeer. ’n Ou in ’n japon het uiteindelik vir my kom sê my sakkie het afgeval.

In dieselfde film is daar ’n toneel waarin ek vir Tim Theron op die keel met ’n vuis moes slaan. Mens slaan uiteraard verby, maar ek werk myself toe so op dat ek, teen die tyd wat ek die “hou” moes uitdeel, hom per ongeluk op die ken getref het! 

Wat maak jou opgewonde oor die toekoms? Waarna streef jy?

Daar is baie om oor opgewonde te wees. Ek het ’n paar groot drome van my eie, baie van dit het te doen met improvisasiekomedie en teaterinisiatiewe. Maar wat my oor die algemeen opgewonde maak, is die feit dat die virutele wêreld alles wat ons wil doen baie moontlik maak. Die internet is ’n wêreld waar elke persoon ’n kanaal het. Dis nie meer soos destyds waar jy net ’n naam vir jouself op TV kon maak nie. Deesdae is jou eie Instagram account eintlik jou eie TV-kanaal en die wêreld is jou oester. Niemand sê vir jou wat om te doen nie, jy kan maak wat jy wil. Dit maak my ongelooflik opgewonde. Ek is nie mal oor sosiale media nie – ek post nie graag foto’s van my nuwe jean nie. Maar vir sketse en so aan is dit ’n wonderlike medium. Ek dink dis ook belangrik vir jongmense om te besef dat jy nie hóéf te wag vir jou beurt nie, jy het jou beurt op jou foon. Jy het klank, ’n kamera – niks keer jou om jou drome te bewaarheid nie.  

Jy het ’n baie opwindende projek wat in September vir ’n toetslopie op kykNET verskyn. Kan jy bietjie hieroor vertel asseblief?

Die Broer Toer is een van die dinge wat my die meeste opgewonde maak op die oomblik. Dit is ’n travel show met my twee broers. Ons het dit goedgedink om ’n show te maak waar ons op motorfietse van Kaapstad tot Angola se grens ry. Die loodsepisode is reeds geskiet en dit word in September uitgesaai. Dit is nie net ’n travel show nie. Ons gee vir onsself snaakse challenges om te doen. So, dis bietjie iets tusssen Jackass, Long Way Round en TopGear. Ons werk nog daaraan om befondsing vir die reeks te kry en borge te werf, maar die projek lê baie na aan my hart en ek dink dit kan regtig iets spesiaal wees. Ek hoop ons kan geld kry om vir mense daarbuite te wys dat mens nie miljoene rande nodig het om te toer nie. Jy kan die wêreld sien en dit interessant maak. Skakel op 10 September om 21:00 op kykNET in om te kyk!   

Kies vinnig en sonder om te dink:

Burgers of pizza? Burgers!
Flieks of reekse? Flieks!
Seks of Rock & Roll? Rock & Roll!
Netflix en chill of bier in ’n bar? Bier in ’n bar!

Lees ook:

"Ek het nie net geleer hoe om goeie apple cider tydens lockdown te maak nie" – ’n onderhoud met Melt Sieberhagen

  • 1

Kommentaar

  • Rina Bodenstein

    Ons het die wonderlikste akteurs wat wêreldklas is. Het dit sooo baie geniet om meer van hulle te wete te kom!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top