"Ek het nie net geleer hoe om goeie apple cider tydens lockdown te maak nie" – ’n onderhoud met Melt Sieberhagen

  • 0

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Melt Sieberhagen wat ’n gasverskyning in Fynskrif maak gesels. Dié reeks se finale seisoen word tans op kykNET uitgesaai.

Foto van Melt Sieberhagen: verskaf

Hallo Melt! Hoe hou jy nog uit tydens die lockdown? Oorleef jy?

Ja, ek dink ek oorleef. My ritmes is wel heeltemal daarmee heen. Ek sit en doen hierdie onderhoud 03:20 in die oggend, want deesdae is ek hierdie tyd van die nag wakker. Crazy tye! Maar ja, kortom: ek oorleef.

Jy het in hierdie week jou eerste verskyning in Fynskrif Kan jy baie kortliks oor jou karakter en die storielyn waarby jy betrokke is vertel asseblief? (Sonder om te veel weg te gee, natuurlik!)

My karakter is terug uit die tronk waar hy intussen die Muslimgeloof aangeneem het. Hy was voorheen by ’n padwoedevoorval betrokke, maar die slagoffer in die voorval is dood. My karakter is dus vir moord tronk toe gestuur. Hy hou egter vol dat dit nié hy was wat vir die dood van die slagoffer verantwoordelik is. Hy is vas van plan om sy naam skoon te kry, want hy sukkel om sy dogter te sien omdat hy ’n veroordeelde moordenaar is. Hy is ’n ou kliënt van Lara en keer terug na die praktyk om geregtigheid te kry. Hy forseer Lara om in haar verlede te delf en te laat nadink oor hoe sy dinge gedoen het en die effek wat dit op mense gehad het.

Melt vertolk die rol van Marco in Fynskrif (Foto: verskaf)

Dit is nie dikwels dat mens jou in ’n ernstige rol sien nie. Hoe was die ervaring vir jou om deel te wees van ’n drama, naamlik Fynskrif? Het jy baie in die proses geleer?

Dit is waar dat mens my nie gereeld in ’n ernstige rol sien nie. Ek is egter altyd baie bly oor ernstiger rolle wat oor my pad kom. Ek doen hulle darem hier en daar. Ek doen enige iets! Ek love toneelspeel en ek doen dit myns insiens heeltemal te min. Hierdie is ’n blatante skimp, nie net omdat ek post-COVID werkloosheid in die gesig staar nie, maar dis vir my lekker om toneel te speel. Ek geniet my loopbaan as komediant vreeslik baie. Die werk wat ek doen is dikwels komies, I like it, maar om ernstige werk te doen is great.

2019 was ’n goeie jaar vir my, want ek het weer Nagskof-kliek gedoen. Dis ’n play wat Retief Scholtz geskryf het en wat ek saam met Albert Pretorius gedoen het. Om verlede jaar toneel te kon speel was vir my ’n groot ding – ek mis dit al klaar en nie nét vir die ooglopende redes nie.

Die proses om saam met Nina Swart as ’n regisseur te werk was ongelooflik. Ek het al van te vore saam met haar in Proesstraat gewerk wat ’n ander setup was, maar wat ook onder haar leiding geskied het. Dit was regtig net só lekker om saam met haar te werk en teenoor Tinarie van Wyk Loots te speel. Die hele Fynskrif-stel is ’n ongelooflike plek om ’n draai op te maak. Dit was great!  

Foto van Melt deur Ivan Naude

Jy is ook ’n gesoute standup comedy kunstenaar. Na watter plaaslike en internasionale komedie-kunstenaars kyk jy op?

Baie dankie! Die eerste komediekunstenaar van wie ek bewus was, was Pieter Dirk-Uys. My ma’le het sy shows in die 80’s gaan kyk toe ek ’n kid was. Ek het sy boeke wat my ouers gekoop het, gelees. Toe ek op laerskool was, in 1992, het Casper de Vries ’n  show, Small talks, in die Alhambrateater in Braamfontein gedoen. My ma’le het my geneem om dit te gaan kyk en ek was dadelik mal daaroor. Toe ek met comedy begin het, het ouens soos Mel Miller, John Vlismas, Loyiso Gola en Conrad Koch ‘n groot invloed op my gehad.

Ek het tydens lockdown my Mad magazines ontdek en net weer gesien dat dít is waar my simpel, af sin vir humor vandaan kom. Maar nie net my sin vir humor nie – ek dink ook my kennis van pop culture kom van daar af. Ek is so bly ek het hulle ontdek! Ek lees hulle op die oomblik weer van vooraf.

Wat maak, volgens jou, goeie komedie? Wat is van jou gunsteling shows, plaaslik en/of  internasionaal wat aan hierdie vereistes voldoen?

Dis  ’n moeilike vraag. Goeie komedie is snaaks. Dit sê iets. Nie noodwendig met  ’n flashing, bright neon sign nie, maar dit sê dit hard. Daar is so baie ongelooflike goeie comedy daarbuite. The Marvelous Mrs. Maisel is op die oomblik een van die greatste goed wat ek nog ooit gesien het. Fleabag was ook fantasties. Daar is so baie komedies en dis so  lekker om toegang daartoe te hê en dan natuurlik te probeer om dit te emuleer.

Die inperking het ’n verlammende effek op vele kunstenaars. Hoe beïnvloed dit jou? Hoe hanteer jy die situasie?

Verlammend, soos jy sê. Dis mal! Die inperking het gekom op ’n tyd vir baie kunstenaars, veral in Afrikaans, waar die KKNK en die Suidoosterfees, en in my geval nog ’n  boot cruise, voorgelê het en dis eenvoudig gekanselleer. So, daardie inkomste was al wat daar was en dis gone. Nou is die res van die jaar ook op ys. Dinge word oral gekanselleer, so dis  ’n  verskiklike onseker tyd. Ek is baie dankbaar vir die ander goed wat ek byvoorbeeld van die huis af kan doen, soos stemwerk en skryfwerk. Maar dit gaan taai en ek weet dit gaan nie net taai met ons wat optree nie, maar met almal in die industrie: die beligtingsingenieurs, die klankingenieurs, die verhoogtegnici, almal. En in die standup comedy-wêreld word elke bar, elke pub, elke club, elke venue waarin ons speel, die chefs, die barmen, die waiters, die bouncers beïnvloed.  

Wat is jou drome vir die toekoms?

Dat dinge net kan terugkeer na normaal. Dit gaan moeilik, maar dit gaan soveel moeiliker met so baie ander mense, so dis net crazy.

Watter ander belangstellings het jy?

Ek hou baie van kosmaak. Ek het nie net geleer hoe om goeie apple cider tydens lockdown te maak nie, ek het my ander skills ook uitgebrei. Ek hou ook baie daarvan om kostelevisie-shows te kyk. Ek kan ’n season van MasterChef bingewatch soos  ’n monster. Mindless entertainment op sy beste.

Foto’s van Melt se kosskeppings: verskaf

Enige projekte waarmee jy tans besig is?

Daar is een of twee skryfprojekte, maar ek mag op hierdie stadium ongelukkig nie daaroor praat nie.

Lees ook:

"Ek is eintlik net ’n nerd" – ’n onderhoud met Nina Swart

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top