Fraksie op kykNET: ’n onderhoud met Louis Pretorius

  • 1

Louis Pretorius, een van die skrywers van Fraksie, praat met Naomi Meyer oor die reeks wat eersdaags op kykNET begin.

Louis, jy en Albert Snyman is nou al bekend vir julle TV-reekse wat mense voor kykNET vasgenael hou. Die boekklub, Troukoors en Fynskrif. Ek wil net eers vra: Hoe doen julle jul huiswerk oor die mense (jul karakters) se beroepe? Ken julle mense in hulle werke of luister julle net af as julle vriende praat? Of wat is julle albei se onderskeie agtergronde?

Ons doen ons huiswerk. Ons praat met mense. Ons praat met konsultante. Met Troukoors het ons met ’n trouebeplanner gepraat, met Fynskrif met ’n regskonsultant. Met Fraksie het ek staatgemaak op Amazon en op my Kindle. Ek het baie opgelees oor onderwerpe soos “starting your own software company”. Ek dink my Google-soektog-algoritmes maak die advertensiemense baie deurmekaar, want ek het wyd en syd opgelees.

..........
Ek dink my Google-soektog-algoritmes maak die advertensiemense baie deurmekaar, want ek het wyd en syd opgelees.
...........

Toe ons uiteindelik op die tegnologie besluit, het ons vir iemand in die bankwese gevra oor iets soos ’n “mobile wallet”. Ons soek mense op en vra hulle om ons te help!

Waar het julle idees vir Fraksie vandaan gekom? Waar het dit begin?

Ons moes ’n voorstel indien. kykNET het gesê hulle soek iets in Vallei van Sluiers, en ons het geweet ons wou dit in Stellenbosch laat afspeel. Toe dink ons aan Technopark en aan die “Silikon Vallei” wat hier is. Ons het gedink aan ’n antiheld en ’n Macbeth-karakter. Ons het gedink aan ou geld en nuwe geld. Toe begin ons dink aan dollar-miljoenêrs in Suid-Afrika. Daar is 40 000 dollar-miljoenêrs uit ’n bevolking van meer as 50 miljoen. Dis maar ’n breukdeel, of ’n fraksie van ’n samelewing. Dis al hierdie elemente saam wat Fraksie tot stand gebring het.

Prent: kykNET

Fraksie het heerlike karakters – ma's, pa's, mense wat wil geld maak, mense wat op pad is na hul skoolreünie, mense van wie mens onseker is of jy hulle kan vertrou, mense wat sukkel met verhoudings ... Hoe weet julle wie en wat om saam te gooi? (En wat kom eerste: die karakters of die stories?)

Die oorspronklike voorlegging het baie gefokus op Schalk en sy reis. Toe moes ons die res van die karakters rondom hom bou. Toe moet ons dink aan wat het die stories nodig. Uiteindelik dink mens aan karakter-argetipes. Mens dink aan wat veroorsaak die meeste konflik. Mens dink aan watter veranderinge het mens nodig. Mens dink wie het jy nodig, wat het jy nodig om veranderinge te weeg te bring. Mens dink aan ’n hoofkarakter en later het jy families en vriende wat bymekaar is. En uiteindelik gaan dit oor … konflik.

...........
Mens dink aan ’n hoofkarakter en later het jy families en vriende wat bymekaar is. En uiteindelik gaan dit oor … konflik.
.............

Julle storie begin by geld en dit eindig daarby. Geld praat hard. Geld kan harte verower en geld kan harte breek. Die spilpunt waarom alles draai, is Schalk. Vertel ’n bietjie van hom. 

............
Ons het van die begin af gedink aan ’n antiheld. Daar was ’n paar filmverwysings wat vir Schalk gevorm het. Die oorspronklike impuls vir my was Macbeth. “To wear the crown.” Wat hy bereid is om te doen om die kroon te dra.
..........

Ons het van die begin af gedink aan ’n antiheld. Daar was ’n paar filmverwysings wat vir Schalk gevorm het. Die oorspronklike impuls vir my was Macbeth. “To wear the crown.” Wat hy bereid is om te doen om die kroon te dra. Ons het gedink aan die man wat McDonald’s begin het, Ray Kroc. Ons het gedink aan die sosiale media, hoe Mark Zuckerberg voorgestel is. Koud, klinies, hard. Aan die een kant is dit Schalk, maar ek glo nie enige karakter is net sleg nie. So wat is die wond? Dit kom dikwels uit die kinderjare. Wat het hom so ver gedryf om enigiets vir geld te doen? So die vrae is: Wat simboliseer geld vir hom – is dit sekuriteit, is dit mag? Hy is dalk ’n moeilike karakter om van te hou, maar iets van sy donker kant sit in ons almal.

Wie is julle ideale kyker en waarna kan hulle uitsien as hulle die TV vir hierdie reeks aanskakel?

Ons ideale kyker is iemand wat nie bang is om uitgedaag te word nie. Om van die karakters te hou ten spyte van hulle feilbaarheid. Hulle is almal menslik, en almal probeer hard. Die kyker wat bereid is om in die spieël te kyk en bereid is om sy eie donker kant te sien, sal die reeks geniet. Ons vertel ’n verskeidenheid stories. Ons kyk ook na stories van ouers en kinders – alle generasies. Ons kyk na vriende en vyande, hoe staan ons op en hoe herdefinieer onsself. Daar is baie temas waarby baie mense sal aanklank vind. Ek hoop hulle geniet die reeks!

  • 1

Kommentaar

  • Doreen Solomons

    Ek het seker die laaste twee hoofstukke vsn Fraksie misgeloop. Ek het dit slaafs nagevolg en skielik is dit nie meer op 144 nie. Wanneer het dit geëindig?
    Storielyn, akteurs, alles fenomenaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top