Innibos 2018: Die magiese drie – ’n teater-onderhoud oor die produksie 3 Susters

  • 0

Lizz Meiring, Margit Meyer-Rödenbeck en Nicole Holm

’n Splinternuwe teks deur Louis Pretorius, die skrywer van kykNET se bekroonde reeks Die Boekklub, is vanjaar tussen die opwindendste debuutproduksies by Innibos. Die stuk heet 3 Susters; ’n dramady oor liefde, verlies en ontvlugting in vyf bedrywe. Dit vra die vraag: Is bloed dikker as water? Dit word met baie humor, patos, ironie en al die ander teksture van emosies hanteer.

Kom reis saam met drie susters deur die slaggate en mynvelde van vrou-, dogter-, en ma-wees. Christine, Anel en Bianca se vlug na Thailand is vertraag. Dis Christine se 50ste verjaarsdag en dis die tweeling se verjaardaggeskenk aan haar. Hoekom moet Anel en Bianca altyd inmeng? ’n Bord sushi sou net so goed gewees het. Sy weet hulle is familie, maar hulle weet ook sy’s bang vir vlieg.

Terwyl die susters die tyd verwyl met kaarte, boeke, cappuccino’s en vlymskerp tonge word lewenskeuses uitmekaar getrek en ou koeie opgegrawe. Want, hier sit hulle nou. Die vlug is vertraag en sy's hoog op kalmeerpille. Bianca is vas oortuig sy't hulle verlore ma gesien. Anel praat met ’n aantreklik man. Christine maak haar oë toe. Sy droom van stilte. Absolute stilte. Sy wens partykeer haar man en seuns wil net verdwyn. Sy mag dit nie dink nie, maar ... sê nou maar, sê nou maar Thailand is die antwoord.

Sal hulle ooit daar kom? Of is almal net te vlugvoos?

Die spelers is Lizz Meiring, Nicole Holm en Margit Meyer-Rödenbeck.

Christiaan J de Swardt gesels met die skrywer Louis Pretorius.

Louis Pretorius | Foto: Lulama Zenzile

Die produksie 3 Susters word as die genre dramady beskryf. Waarom?

Dit is ’n versnit van drama en komedie, soos Die Boekklub. Daar’s ernstige temas wat met ’n onderliggende komiese element vertel word. Ek glo dis altyd die beste mengsel vir ’n storie, want ek voel dis maar die lewe en deel van die Suid-Afrikaner se psige. Ons maak grappies oor die Westdene-busramp. Dis hoe ons sin van ons lewe maak.

’n Mens dink onwillekeurig aan die regisseur Corné van Rooyen se onlangse rolprent, Susters, en die dramaturg en regisseur Nico Scheepers se bekroonde teaterproduksies Amper, Vrystaat en Nêrens, Noord-Kaap waarin die verhouding tussen sibbe ondersoek word. Hoe het jy die magiese drie-konsep in jou teks benut?

Vir my lê die kern van die magiese drie in die balans wat dit skep. Daar’s ’n sentrale punt wat die twee uiterstes balanseer. Die probleem kom egter in as die sentrale punt te swaar dra aan die twee pole. Wat gebeur as die middel in mekaar sak?

Toe Margit vir my gesê het sy soek ’n teks oor drie susters het my moed in my skoene gesak. Ek beskou Amper Vrystaat as een van die beste stukke teater in ’n baie lang tyd. Hoe verbeter jy daarop of hoe skep jy nuut rondom die tema van susters met iets so vars in die geheue. Willem Anker het my die idee gegee om twee van die sussies ’n tweeling te maak, wat darem al klaar ’n ander dinamika gegee het. Ek het geweet ek wil ’n meer dialooggedrewe teks skep, maar met die gebeure in die verlede wat die hede beïnvloed sou daar altyd monoloë wees. Ek was bewus van Nico se werk en het probeer wegskryf van dit wat hy so ongelooflik goed reggekry het. Hopelik hét ek dit reggekry en vind mense iets nuut in die dinamika van dié drie sussies. 

Wat is die temas en kwessies waarmee jy in die produksie delf?

Die hooftema is hoe ’n groot verlies in ’n mens se jeug jou kan beïnvloed. Die susters is deur ’n gemeenskaplike ervaring as jong dogters en dit het elkeen van hulle se uitkyk en houding teenoor die lewe bepaal. Die een het ontsnap in ’n droomwêreld, die ander het ’n rebel geword en die ander ’n versorger. Hierdie rolle wat hulle aangeneem het, het dan ook – en beïnvloed steeds – die susters se verhoudings met mekaar. Ek het probeer kyk na hoe ’n mens dan hierdie sikliese aard van konflik wat tussen sibbe ontstaan kan verbreek. Dit klink alles baie droog en akademies en vervelig. Basies is dit drie sussies, elkeen met hulle eie moerse koffers baggage wat vasgevang is op ’n lughawe, die aand probeer oorleef en tussenin ontdek dat om werklik te lewe jy die verlede moet laat gaan. 

’n Man ondersoek die psige van drie vroue. Wat het jou navorsing behels? Sou dit nie “natuurliker” met drie broers gewees het nie?

Ek het ’n jonger sussie, maar sy’s vroeg koshuis toe. Ons het later mekaar leer ken, maar sy’s in ’n ander fase van haar lewe as die drie susters oor wie ek geskryf het. Ek’t maar meer gedink en gekyk na die huidige vriendinne in my lewe. Toe ek besluit het op die tema wat ek wou ondersoek, het ek gekyk hoe so ’n gebeurtenis moontlik sielkundig die susters kan beïnvloed. Daarna het ek die karakters geskets en toe getoets by ’n paar vriende, my terapeut en so meer. Toe hulle gelukkig was met die karakters se reise het ek die storie begin weef. Ek het vrouetydskrifte en blogs gelees, maar dit het niks gehelp nie, want uiteindelik is mense, mense. Ons het sekere sentrale psigiese wonde wat dieselfde bly vir enige geslag. Ek weet eerlikwaar nie of dit natuurliker sou wees met drie broers nie. Ek dink partykeer my manlike karakters is meer stereotiep as die vrouens wat ek skryf.

Meen jy daar is ’n verskil in die intensiteit/aard van ’n verhouding/vriendskap tussen susters en susters versus broers en broers versus broers en susters?

Ek is nie ’n kenner op die gebied van broers/susters-verhoudings nie. Ek dink persoonlik dit wissel van huishouding tot huishouding. Ek glo as enige broer-suster verhouding oorleef tot almal groot is, verdien die ouers en die kinders ’n pluimpie!

Wat is die uitdagings/dissiplines in die skryf van ’n TV-teks (soos jou bekroonde Boekklub) teenoor die van ’n teaterstuk?

’n TV-reeks speel gewoonlik oor ’n langer tyd af met meer karakters en stories. Daar’s baie meer spesifieke struktuur wat gevolg moet word. Jy moet ook jou begroting en lokaliteitbeperkings in ag neem. Die skryf van 624 minute se TV is ook ’n marathon wat jy oor maande hardloop. Jy skryf elke dag. Jy’t sperdatums. Dis ’n werk deur en deur. Met die teaterstuk het ek bietjie meer vryheid gehad. Ek glo ook dat jy met slim ontwerp enige plek heen kan gaan op ’n verhoog. Dis ’n enorme vryheid.

Die aktrises gesels oor hul karakters.

Margit Meyer-Rödenbeck, die vervaardiger van dié produksie, is al 28 jaar in die vermaakbedryf betrokke. Sy vertolk die rol van Anel.

Anel is al deur die meule: drie keer getroud, drink te veel, rook te veel, redelik “sletterig”. Man het haar en tweejarige kind gelos. Sy is al vir 20 jaar permanent in survival mode. Sy leef letterlik van dag tot dag en van die hand in die tand. Om te survive, is universeel, maar Anel is redelik ver van my af – in die sin van ingesteldheid. Anel rebelleer teen haar omstandighede nog vanuit ’n tienerfase. En ek – Margit – wil beslis nie so baie aandag soos Anel trek nie!

Vir my is die tema elke vrou se versugting en drome en dikwels lê die antwoord sommer vlak voor jou. Susterliefde wat ’n vangnet skep vanwaar jy kan spring of inval. (Familie hoef nie van mekaar te hou nie, maar ons gaan mekaar nie verloën nie.)

Nicole Holm vier vanjaar 20 jaar op die verhoog. Sy vertolk die rol van Bianca.

Bianca is ’n klein dogtertjie, vasgevang in ’n grootmensbestaan. Haar veilige plek is haar ryk, effe desperate droomwêreld. Sy’s dus redelik gereeld in la-la-land en onbewus van haar onmiddellike omgewing. En ja, ai, hierdie kan net sowel ’n beskrywing van myself ook gewees het. Ek moet darem byvoeg dat Bianca net een job het en geen kinders nie. Dus het sy die luxury van wegglip wat ek nie so gereeld gegun word nie. En sy werk in ’n blommewinkel. Blomme gee my hooikoors!

Lizz Meiring, met 34 jaar se veelsydige ondervinding as aktrise, skrywer, regisseur en vervaardiger, vertolk die rol van Christine.

Christine is die ouer suster. Sy het pas 50 geword en haar tweelingsusters het vir haar ’n vakansie gekoop Thailand toe. Sy is bang vir vlieg. Sy is een van daardie helikopter-ma’s wat alles in haar wêreldjie beheer; ’n laerskoolonderwyseres wat al 27 jaar getroud is. Sy is eintlik ’n baie goeie mens, maar sy leef in ’n wêreld wat haar insluk. Sy is deernisvol, maar het min takt en haar oordrewe sin vir verantwoordelikheid eis sy tol.

Ek is nie naastenby soos dié karakter nie: nie getroud, ’n ma of ’n onderwyseres nie! Ook nie só georganiseerd soos sy nie! Ek steur my nie erg aan reëls en voorskrifte nie, maar ek het wel ’n sterk verantwoordelikheidsin. Ek het egter ’n vrye gees en het ’n breër verbeelding as dié karakter.

Ek skram weg daarvan om na boodskapgedrewe teater te verwys, want ons is nie ’n traktaatjie wat vir mens wil sê wat hulle mag of nie mag doen nie, wat hulle moet of nie moet glo nie, hoe hulle moet leef of nie moet leef nie. Dus: die oorkoepelende doel van teater is om mense aan hul menslikheid te herinner. Die lig en die donker en die goeie en die slegte van die mensdom – én al die teksture en al die skakerings daarvan tussenin – word met deernis in dié stuk belig.

  • 3 Susters is ’n Innibosproduksie ondersteun deur LW Hiemstra Trust, KWV, Vision Insurance, ClemenGold en Hannon, met die tydskrif Sarie as die mediaborg.
  • Met regie deur Tara Notcutt, tegniese regie deur Jeanne Steenkamp, stel, kostuums en beligting deur The Scenic Studio en klankbaan deur Gideon Lombard.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top