Koeke, terte, Paris se twisappel en ’n bietjie Marita van der Vyver

  • 5

Ek is eenmaal, meer as 20 jaar gelede, genooi om die binnekamer van ’n allerheiligste plek in die Afrikanerdom te betree; daar waar beleid bedink en versprei is, soms geweeg en dikwels bespreek is.

My bydrae was nie rondom landsake of belangrike goed nie, helaas nie. Ek moes praat oor ’n boek.

Ook nie enige boek nie: Die boek was dalkies effens skunnig. Dis hoekom ek gevra is om dit te kom verdedig.

Nou, dalk net gou die volgende: Die meeste mense wat daardie dag teenwoordig was, is lankal dood. Daarom mag ek dit nou vertel.

Hogere en lagere leeskringe

Voor ek meer oor die bepaalde dag vertel, eers net die volgende staaltjie. Daar is ’n ander leeskring wat vergader in die Kelvin Grove Klub. Nogal ’n fênsie plek. Baie Engels. Toe ek die eerste dag daar opdaag met ’n rekenaar en skerm en ’n sak boeke, is ek mooi gevra om nie die voordeur te gebruik nie.

“The tradesman’s entrance is around the corner, sir.”

Waarop ek toe sê dat ek graag die ander ingang sal gebruik, maar mag ek verneem hoe ek by daardie lokaal uitkom? Ek wys toe na ’n groot kennisgewing, met my naam op, wat die leeskring se byeenkoms aankondig.

Sy wou natuurlik weet wat ek nou met hulle te doen het, en toe ek sê dat ek die geleentheid moes toespreek, wip haar wenkbroue: “Are you Mr de Vries?”

Die volgende oomblik verskyn ’n span, nie een nie, ’n span draers om my van my sware las te verlig en met die trappe van die hoofingang na bo te begelei.

Die mense in daardie leeskring het vriende geword en ek is gereeld teruggenooi. As ek kon, het ek egter sedertdien myself by Tradesmen’s Entrance ingelaat.

Ander leeskringe vergader in kerksale, of ou plaasskure, of privaatwonings. Om oor boeke te praat, bring ’n mens in aanraking met fassinerende mense.

Ek geniet leeskringoptredes geweldig en van die mees fassinerende mense wat ek ken, het ek al op hierdie manier ontmoet.

Maar hierdie bepaalde geleentheid rondom die Griekse gode en ’n skunnige boek was anders en is op ’n heel, heel ander plek gehou.

’n Vreemde boek in die Afrikaanse letterkunde

Ek is gevra om oor ’n interessante boek te kom gesels en te verduidelik waarom dit dan nou sou tuishoort in die Afrikaanse letterkunde.

Die boek was Griet kom weer deur ene Marita van der Vyver.

Nou ja.

  • Van der Vyver is ten eerste ’n vrou, en navorsing deur PEN Afrikaans het getoon “resultate wys dat 68,6% van die bekroonde boeke deur mans geskryf is en 31,4% deur vroue”. Dit is nou as ’n mens “inligting oor 10 literêre pryse” sou beskou.
  • Ten tweede was Van der Vyver se eerste roman ’n blitsverkoper, en die res het ook goed verkoop weens ... uhm ... wel, ja ... goed ... Die mense praat mos maar.
  • Sy was lank ’n enkelma.
  • En die titel van hierdie roman, Griet kom weer, bewys sommer reeds dat ons nie veel meer sou kon verwag van hierdie boek as dit wat die wulpse voorblad van haar eerste roman nie al klaar voorspel het nie.

Die lot het op my geval om oor die boek te kom gesels, dalk omdat ek jonk en voortvarend was.

Gewoonlik vra leeskringe my vir ’n kort CV.

In hierdie geval het niemand in my kennis, of gebrek daaraan, belanggestel nie. Ek is wel bedien met ’n lys van die uitgelese mense wat teenwoordig sou wees en aan baie is titels en/of hogere grade geheg.

Sakkie is toe stupid genoeg om ja te sê, want Sakkie hou van Marita van der Vyver se werk.

Om die huis van die gode te betree

Op die gemelde dag en kort voor die gemelde uur maak ek my opwagting.

By sekuriteit het ek maklik verbygekom, maar toe ek die binnekamer nader, was ek onseker. Ek het rondgehang. Die bekendes in die kamer was omring deur koffiekanne, teepotte, koeke en terte.

Nou staan ek daar.

Hulle weet nie wie ek is nie, want hulle het geen CV of geen foto nie. Die sosiale media het ook nog nie bestaan soos vandag nie, so hulle sou my nie kon google nie.

Ek was netjies aangetrek.

Niemand het my verwelkom nie.

Soos die tyd naderkom, het ek nader aan die pratendes beweeg.

Die impasse is gebreek toe een van die manne my vra vir ’n koppie koffie. Ek het dit met graagte aangegee, toe vra die volgende persoon vir ’n koppie en daarna volg die res.

Gou-gou was die gesprekke aan die gang. Ek het gehelp om koek en tert uit te deel en die koppies is gevul soos versoek.

Tot iemand opmerk dat die spreker darem baie laat is. Weet iemand iets van hom af?

Ek meld toe maar dat ek genooi is om hulle toe te spreek en dat ek gereed is, wanneer hulle ook al sou wou begin.

’n Goue appel

Gedagtig aan die uitgelese gehoor wat ek sou gehad het, was my voorbereiding vir die praatjie om weer deur PJ Conradie se Avonture van die Griekse helde en gode te lees. Toe het ek rustig gaan sit om die mitologiese intertekste tussen Griet skryf ’n sprokie en Griet kom weer uit te lig.

Ek het gehoop dat ek ’n lansie sou breek vir Van der Vyver deur te toon hoe behendig sy die Griekse mitologie, wat hulle almal beslis sou ken, in haar boeke kon vasvat. Griet kom weer se storielyn volg losweg die omswerwinge van Odusseus.

Soos dit hoort, het ek met die goue appel begin, presies soos Van der Vyver dit gedoen het.

Toe kom ek agter die mense in die saal het nie ’n idee waar die goue appel inpas nie.

Ek het versigtig enkele ander simbole met die gehoor getoets.

Toe het ek maar my toespraak eenkant gesit en gewoon die appels, Troje se oorlog en Odusseus se reise met die gehoor gedeel, met talle verwysings na die twee Griet-boeke.

Hoekom ’n goue appel?

Griet kom weer begin so: “Die hele gemors het met ’n appel begin. Met Eva en ’n appel. Nie dáárdie Eva nie. Nie dáárdie appel nie.”

Daar word oor verskeie appels gesels in Griet kom weer en in Griet skryf ’n sprokie, maar aangesien Griet kom weer swaar steun op die omswerwinge van Odusseus, moet ons gaan soek na die “hele gemors wat met ’n appel begin het” – om Van der Vyver nou effens buite konteks aan te haal.

Odusseus se storie begin aan die einde van die Trojaanse oorlog.

Die Trojaanse oorlog het begin omdat Paris, die seun van die koning Priamos van Troje, weggeloop het met die skone Helena, vrou van koning Menelaos van Sparta.

En hoekom het Paris dit gedoen? Want hy was bekoor deur Aphrodite wat hom beloof het hy sal met die mooiste vrou op aarde ’n verhouding hê.

Aphrodite het Paris se voete onder hom uitgeslaan danksy ’n appel. Dáárdie appel.

Hoe so?

Nou kom ons by die huwelik van Koning Peleus met die seegodin Thetis. Dit was ’n hengse affêre en al die gode het bymekaargekom op die berg Olimpus om behoorlik partytjie te hou. Dit was hierdie einste partytjie wat so oulik uitgebeeld is tydens die opening van die Olimpiese Spele in Parys, blou mans en al.

Die gode se partytjies was nie kuise affêres nie.

Een godin, Eris, is nie genooi nie, want sy was die godin van tweedrag.

Maar Eris hou van tweedrag saai en daag toe juis by die troue op. In haar hand was ’n goue appel. Die oorspronklike twisappel. Sy sit dit op die tafel neer en sê daardie appel is vir die mooiste vrou by die troue.

Drie van die godinne, Hera, Zeus se vrou, en Zeus se dogters, Athena en Aphrodite, het elkeen gedink die appel behoort hulle toe te kom. Toe hulle vir Zeus vra aan wie die appel moes behoort, was hy slinks genoeg om te weet dat geen antwoord van hom die regte een sou wees nie, daarom het hy Paris voorgestel as die arbiter.

Paris, na wie Parys vernoem is

Paris was ’n vreemde knaap. Al was hy ’n prins, het hy armoedig by ’n skaapwagter grootgeword.

En so beland die drie vroue voor Paris. Hy moes kies.

Aphrodite is die godin van liefde en skoonheid, maar in Engels is ’n seksuele opkikker nie verniet ’n aphrodisiac nie. Sy speel toe met Paris deur hom te belowe dat hy die heel mooiste vrou ooit sal kry as hy die twisappel aan haar toeken, wat hy toe doen.

Dit is dan hoe hy hoor van die mooie Helena van Sparta. Hy steel haar van haar man, neem haar na Troje en die Spartane verklaar oorlog.

Dit het alles met ’n appel begin.

Die intertekste met Griet skryf ’n sprokie

Aan die einde van Griet skryf ’n sprokie eet Jans, ’n goeie vriend van Griet, ’n appel terwyl Griet ’n voorgereg, genaamd angels on horseback, maak. Dit is oesters in spek toegedraai. Die einste roman begin waar Griet haar kop in die oond druk en dink aan Sylvia Plath se selfdood.

Griet kom weer begin met ’n appel en kort daarna probeer hulle ’n koek in die vorm van ’n vlieënde perd maak. Die roman eindig waar Griet, in Jans se teenwoordigheid, tarti di pommi uit die oond haal. Appeltert, dus.

In beide tekste word appels gereeld ingespan om intertekste met ouer tekste op te roep.

Die uiteinde van my boekpraatjie?

Die gehoor was warm en innemend. Hulle het ná die tyd lank nog vrae gevra, hul eie leeskennis gedeel en party het selfs erken dat hulle nou met nuwe oë na Van der Vyver se werk sou kyk.

As ek weer na so ’n heilige ruimte genooi word, sal ek vooraf werk aan my vaardighede as ’n barista.

Erkennings:
  • Die mooi goue appel is deur Elisa van Pixabay.
  • Die voorblaaie van Marita van der Vyver toon die eerste uitgawes deur Tafelberg.
  • Paris is deur Marie-Lan Nguyen via WikiMedia. Paris word dikwels uitgebeeld met ’n volle manlike glorie, die een is effens gesny. Daar is prente op die internet beskikbaar.
  • Die huwelik van Koning Peleus met die seegodin Thetis is deur Joachim Wtewael, via die blogger That Muse.
  • Paris se keuse is ook deur Joachim Wtewael. Ander, soos Rubens, was meer wulps in hulle uitbeeldings, soos gesien op die blog deur Greek Travel & Travellers.
Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Grensgeval as interteks tussen môre en gister

Elders gesien: Op Olimpus word die gode bymekaargemaak

Elders gesien: Die Jirre het kêk gehou die nawiek

Elders gesien: Waarom is dit nou skielik godslasterlik as ons dieselfde doen?

Kuns, godsdiens en daai Olimpiese openingstoneel

The power of symbolism

  • 5

Kommentaar

  • Dietloff van der Berg

    Dankie vir die humoristiese saamtrek van die insiggewende drade oor Marita se skryfwerk.

  • Genotvol, leersaam, meelewend en baie insiggewend. Izak, jy’s werklik jou woord waardig (eintlik meérderwaardig!). Ek het die vertelling oneindig geniet. Dankie my vriend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top