LitNet Akademies-resensie-essay: Grensgeval as interteks tussen môre en gister

  • 3

Grensgeval
Marita van der Vyver

Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781485903796

Marita van der Vyver se Grensgeval1 is ’n nuwe toevoeging tot ons immer groeiende korpus grensliteratuur. Dit verskil egter van talle ander, want Van der Vyver vertel die verhaal uit die oogpunt van die duisende wederhelftes wie se mans steeds met die stres van vervloë jare moet saamleef.

Van der Vyver betrek boonop ook die inwoners van Kuba, want ook daar is die spore van die oorlog nog te sien. Die Kubane was óók dienspligtig. Hulle is ook, soos die Suid-Afrikaanse troepe, gestuur om in ’n oorlog te veg oor iets waarin hulle geen aandeel gehad het nie; talle van hulle is steeds grensgevalle.

Kuba se nasionale vlag

1. Die storie

Grensgeval is ’n lekker speur- en reisverhaal, als in een.

Ná die afsterwe van haar vervreemde man, Theo van Velden, ontdek Theresa, die hoofkarakter, ’n brief wat deur ’n Kubaanse soldaat aan sy dogter geskryf is. Dit blyk dat Theo die Kubaan geskiet het. Van daardie dag af moes hy met hierdie brief saamleef, wetende dat hy die oorsaak was dat die brief nooit die meisie sou bereik nie.

Theresa besluit om na Kuba te reis in ’n (byna gek) poging om die meisie op te spoor.

’n Kubaanse landskap (foto: Wikipedia)

2. Van der Vyver die lekkerleesskrywer

Marita van der Vyver is ’n besonderse skrywer. Haar werk lees só lekker dat ’n mens dit op die sand by die see, knus onder die komberse met ’n beker warm sjokolade, of selfs hoog in die berge met ’n kopliggie in ’n grot wíl lees. Haar stories is spannend, haar styl lig en vriendelik. Tog, onder die oppervlak, wemel dit van intertekste en hoogs intelligente, baie aktuele gesprekke.

Op die agterblad het die uitgewers ’n aanhaling van Dewald Koen geplaas wat op LitNet verskyn het: “Marita van der Vyver beskik oor die vermoë om ’n balans tussen sogenaamde hoë letterkunde en ‘lae’ of populêre letterkunde te handhaaf sonder dat die een of die ander moet terugstaan.”

Grensgeval is geen uitsondering nie. Die storie stu voort; jy kan nie wag om uit te vind wat uiteindelik met al die karakters gaan gebeur nie.

Máár, dit is veel meer as ’n lekker storie.

3. Van der Vyver as letterkundige

Van der Vyver het onder DJ Opperman gestudeer, as joernalis gewerk en uiteindelik ook as uitgewer diens gedoen. Meer nog, sy lees; sy ken die genres waarin sy skryf.

Griet skryf ’n sprokie2 was ’n sonderlinge boek. Aan die een kant was daar ’n overte interteks met die sprokies van die broers Grimm, maar onder die oppervlak was daar ook talle verwysings na Griekse mites.

Daardie roman se opvolg het eweneens aangesluit by die Griekse tema – die ganse Griet kom weer3 is geskoei op die reise van Odusseus. “Die hele gemors het met ’n appel begin.”4 Só open Griet kom weer. Dié boek eindig met die bak van ’n tarti di pomni en ’n overte verwysing na die baie lang reis wat die hoofkarakter afgelê het5. Tog, toe ek by geleentheid ’n baie neus-in-die-lug leeskring moes toespreek oor hierdie boek, was daar nie ’n enkele persoon wat die verwysings na Helena van Troje, die Trojaanse oorlog óf selfs Odusseus se reisverhale gesnap het nie.

Van der Vyver se vermoë om intertekste by haar werk te betrek moet dus nooit onderskat word nie. Sy skryf nie net lekker stories nie; haar werk het baie diepte.

4. Die intertekste wat direk tot Grensgeval spreek

Enige teks is verbind aan ander tekste in ’n web van betekenisse. In die letterkunde word intertekste gebruik as sleutels na ander wêrelde, Harry Potter sou praat van “portals”.

Jy hoef nie veel verder as ’n heerlike popliedjie van Avril Lavigne te gaan soek om die begrip interteks te verstaan nie. Haar treffer “Sk8ter Boi”6 begin so: “He was a boy / She was a girl / Can I make it any more obvious?”

Die leser, of in Lavigne se geval die luisteraar, weet onmiddellik wat hierdie drie sinne beteken. Die ganse wêreld van liefdesverhale word ontsluit; selfs Theresa en Ruben se latere bewussyn van mekaar se lyflikheid is van toepassing. Intertekstualiteit is dus allermins beperk tot “hoë letterkunde” (wat dit ook mag beteken). ’n Intelligente skrywer van lekkerleesromans, en popliedjies, kan dit besonder goed gebruik.

Van der Vyver is ’n meester wanneer dit kom by die oproep van intertekste.

In die letterkunde bestaan daar die ideologiese konstruk “die ideale leser”. Dit is ’n teoretiese persoon wat vir die bepaalde teks elke liewe interteks wat al ooit geskep is, sal kan oproep en korrek sal verstaan. In die praktyk bestaan daar nie so ’n mens nie. Hoe meer mense dus saamgesels, saamlees en idees uitruil oor ’n boek, hoe groter is die kans dat die intertekste raakgesien en na waarde geag sal word. Dié essay sal hopelik leeskringe aanvuur om Grensgeval en die belangrikste intertekste te lees en te bespreek.

Ek kan nie al die intertekste bespreek nie, maar om Grensgeval te verstaan, is daar twee intertekste wat indringend betrek móét word.

Die eerste is Etienne van Heerden se kortverhaal “My Kubaan” uit sy bundel My Kubaan (1983).7 Die tweede is Van der Vyver se eie teks Die dinge van ’n kind (1994),8 haar tweede roman vir volwassenes.

Daar is baie ander ook. Van hulle word later aangeraak.

4.1 “My Kubaan” deur Etienne van Heerden

Etienne van Heerden het in 1983 ’n bundel gepubliseer met die titel My Kubaan. Die laaste verhaal in die bundel heet “My Kubaan”. Dit handel oor ’n Suid-Afrikaanse soldaat wat ’n Kubaan tydens ’n oorgrensoperasie skiet en nooit van daardie oomblik kan ontsnap nie.

“My hele lewe het verander sedert ek dié Kubaan het. Ek mag hom nie alleen laat nie. Hy is altyd by my. Deel van my, kan ’n mens maar sê. Ons is, by wyse van spreke, één. As ek afgaan na die latrineblok, moet hy saam. As ek gaan stort, moet hy ook in dié private oomblik deel. Hy is so na aan my dat hy my drome deel.”9

In Grensgeval is dit Theresa se man, Theo van Velden, wat nie van sy Kubaan ontslae kan raak nie.

Theo se Kubaan het ook die private ruimte van hulle huwelik binnegedring. Later, vir nog twintig jaar ná hulle huwelik vernietig is, was daardie Kubaan steeds aan Theo se sy, tot sy dood.

Nou, in die hede en kort ná sy dood, maak Theresa ’n boks oop waarin enkele van Theo se besittings steeds met háár saamreis. Sy ontdek dan die brief wat ’n Kubaanse soldaat, Angel Perez Gonzales, veertig jaar tevore aan sy ongebore dogter geskryf het.

Theresa besluit om die brief te gaan aflewer.

Daar is ’n overte verwysing na Van Heerden se bundel in Grensgeval: “My Kubaan. Theresa proe die frase op haar tong, skud haar kop. Hy is tog eerder haar gewese man se Kubaan.”10

Dié eiening – en wegstoot – van ’n Kubaan as besitting, is belangrik, want Grensgeval is die storie van oneindig baie Suid-Afrikaners. Die boek is immers opgedra aan “alle mans wat nie wou gaan nie en alle vroue wat nie kon bly nie”.11

Dit word dus Van der Vyver se Kubaan, dit is Theresa se Kubaan, dit is beslis Theo se Kubaan, maar hy behoort ook aan alle troepe wat aandadig was aan die Grensoorlog, én aan hulle gades. Ons is almal grensgevalle.

Theresa se reis gee die leser dan die geleentheid om ook die Kubaanse grensgevalle te ontmoet; hulle moet as spieëlbeelde vir die Suid-Afrikaanse ondervinding dien.

Lazaro, een van die Kubane wat Theresa op haar reis ontmoet, was gedurende 1975 in Angola. Hy “onthou die lang konvooie voertuie wat suidwaarts gery het. Op pad na Suid-Afrika, die enigste beloofde land in Afrika wat nog vir wittes oorgebly het.”12 (Dié sin roep natuurlik Chris Barnard se Moerland13 as interteks op.)

Lazaro het dus, soos Theo, in 1975 deelgeneem aan Operasie Savannah.14 Of, in sy eie woorde: “Dis wat die Suid-Afrikaners dit genoem het. Vir die Kubane was dit Operasie Carlota. Vir my was dit net oorlog.”15

Vir lesers wat belangstel in Operasie Savannah, en in Theo se deelname in die geheime groen uniforms, sou ’n mens Willem Steenkamp se boek Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog 1966–1989 kon aanbeveel.16 Steenkamp is aan die kant van die Suid-Afrikaanse magte, maar hy erken dat ons toetrede tot daardie oorlog uiters problematies was. Selfs John Vorster, toe nog premier van Suid-Afrika, was nie ten gunste daarvan nie. Dit was PW Botha wat die Suid-Afrikaanse deelname gedryf het, en ons troepe is ingestuur met wapens wat nie kon kers vashou by die wapens wat deur die Kubane en die Russe gebruik is nie. Ons 5,5 duim-kanonne was heeltemal te swak; die MPLA en hulle alliansies het veel beter kanonne gehad. Die Suid-Afrikaners moes dus nader aan die vyand stelling inneem – wat hulle in groot gevaar gestel het.17

Verder was Angola se Savimbi, wat kwansuis ’n vennoot sou wees, tóé reeds ’n problematiese figuur.

Van der Vyver skep ook ’n ander karakter, Miles, wat in 1988 vir die Kubane deelgeneem het aan die Slag van Cuito Cuanavale.

Theresa “onthou dat Cuito Cuanavale as ’n keerpunt beskou is. ’n Triomf vir die Kubane – of ’n taktiese oorwinning vir die Suid-Afrikaners. Dit hang net af waar jy staan as jy na die feite kyk.”18

Feite? Selfs die “feite” is verdag. Blaai ’n leser deur Willem Steenkamp se boek oor die Grensoorlog, vind jy geen hoofopskrif wat verwys na die Slag van Cuito Cuanavale nie.

Steenkamp spandeer egter twee hoofstukke om daardie laaste deel van die oorlog te probeer verduidelik.19 Hy wys voortdurend daarop dat die Suid-Afrikaners gekies het om nie Cuito Cuanavale amptelik in te val nie. Volgens Steenkamp was daar dus nooit ’n Slag van Cuito Cuanavale nie.

Ek is geen militêre kenner nie, maar ek was in die Weermag in 1978 en ‘88. Self het ek geen heldedade gepleeg nie, maar my termyn in die Seinkorps het ’n breë oorsig oor die oorlog gebied.

In 1987 het ons reeds G-5-kanonne gehad – waarskynlik die beste kanon in die wêreld. Ons het Cuito Cuanavale pap geskiet daarmee, want die Kubane wou bitter graag daar deurbreek om Unita vir eens en altyd van die aarde af te vee. Verder noord kon ons egter nie veg nie. Die Kubaanse MiG-21-vegvliegtuie, en uiteindelik ook MiG-23’s, en hulle loodse, was gewoon te goed; ons sou nie lugsteun kon bied aan ons troepe nie. Die Suid-Afrikaners kon egter nie gewoon terugtrek nie – Unita het ons kwansuis nodig gehad en PW se ego was te groot.

Castro se elite-eenhede kon nie kon deurbreek verby Cuito Cuanavale nie; hy kon egter ook nie onttrek nie. Daarvoor was sý ego te groot.

Ek sou dus volstaan daarby dat ons, die Suid-Afrikaanse Weermag, teen 1987 besef het dat ons nie meer ’n kans sou staan om Cuito Cuanavale formeel in te neem en verder noord te veg nie. Jannie Geldenhuys het dit immers in die openbaar gesê, en die senior offisiere met wie ek kontak gehad het, was dit ook eens.

Tog het die Suid-Afrikaners Cuito Cuanavale bestook met bomme, en ons het verskeie pogings van die Kubane om Unita te verpletter, uiters professioneel gestuit.

Aan albei kante was die troepe heldhaftig aan die baklei terwyl die politici van een vergadering na die ander gevlieg het om ’n skikking te probeer bereik. Daardie troepe (aan beide kante) het nie ’n groter prentjie gehad nie. Hulle het om lewe en dood geveg en hulle was goed – aan albei kante.

Of daar dus ’n Slag van Cuito Cuanavale was of nie, is irrelevant. Dat daar intens oorlog gemaak is deur Kuba én Suid-Afrika se bestes, daaroor twyfel niemand nie.

Die Suid-Afrikaners is boonop aangevuur deur die apartheidsdroom en die vrees vir die kommuniste. Die Kubane is gedryf deur die droom van die kommunisme.

Toe die vrede uiteindelik kom, kon daardie troepe, aan beide kante, nie verstaan waarom hulle moes veg en toe onttrek nie.

Ek is in Desember 1989 weer ’n keer opgeroep. Ek moes aanmeld by ’n basis op die Bluff, in Durban. Van daar sou ons met siviele motors noord ry. So beland ek tussen die talle troepe wat op pad was huis toe. Normaalweg sou dit ’n jolige rit gewees het. Dit was egter ’n nagmerrie, want daardie troepies het nie geweet hoekom die oorlog verby was nie. Hulle het so hard gewerk en het hulle man gestaan teen die Kubane. Hulle was trots op die manier waarop ons Kuba se beste telkens teruggedryf het.

Daardie einste troepe is vandag almal baie na aan vyftig. Hoeveel van hulle sleep nog hulle Kubane aan toue rond? Te veel. Let maar op hoeveel huwelike steeds sneuwel danksy die Kubane wat nou nog iewers in die slaapkamer rondlê.

En hoeveel Kubane sleep steeds Suid-Afrikaners aan toue rond, plak hulle in die nag langs hulle beddens neer?

Fidel Castro het, as propagandamiddel, medaljes laat maak vir die troepe wat deelgeneem het aan die “Slag van Cuito Cuanavale”. Miles sou een gekry het, die einste Miles wat sê: “Ek het al twee vroue gehad. (...) Twee keer getroud, twee keer geskei.”20

My Kubaan. Theo se Kubaan. Ons kollektiewe Kubaan.

4.2 Die dinge van ’n kind deur Marita van der Vyver

In 1994 verskyn Van der Vyver se langverwagte tweede roman vir volwassenes. Griet skryf ’n sprokie was ’n wegholsukses. Van der Vyver verbaas toe vriend en vyand met ’n keiharde, betrokke roman oor die Grensoorlog en die gevolge daarvan. Die titel was Die dinge van ’n kind.

Dalena en Mart is twee dogters in standerd 9 (nou graad 11) wat nuuskierig is oor seuns, soene en seks. Mart se ouer broer, Simon, gaan weermag toe en maak vriende met ’n seun genaamd Pierre.

Die hoofverhaal speel af in 1975. Simon en Pierre is op pad na die grens; meer nog, hulle moet Angola toe, net soos Theo van Velden in Grensgeval.

Die beroerde morele kodes van die NG Kerk en die Nasionale Party word uitgedaag deur die tieners. Mart en Pierre raak goeie vriende; Pierre sterf dan aan die grens. Dalena en Simon besluit om “al die pad” te gaan, met die gevolg dat Dalena per ongeluk swanger word.

Die dinge van ’n kind is dus ’n wrang roman oor die manier waarop seuns en dogters hulle kinderskoene moes ontgroei ten tye van ’n verstikkende politieke bestel.

Grensgeval praat op ’n aantal vlakke met Die dinge van ’n kind.

Ten eerste het Theo, soos Simon en Pierre, in die geheime groen uniforms geveg. Operasie Savannah was waar hy “sy Kubaan” geskiet en op sleeptou geneem het.

Ten tweede is daar ’n baie duidelike kode ingebou in Grensgeval. “Oplaas, in haar vyftigerjare, het sy begin verstaan wat ‘al die pad’ beteken, en dat dit soms niks met tienerseks te doen het nie.”21 Dit spreek direk tot Dalena en Simon se tienerseks; want Dalena droom daarvan om “al die pad” te gaan en doen dit dan ook uiteindelik.

Ten derde lees Theresa in Grensgeval elke nou en dan uit haar eie dagboek wat sy in 1975 gehou het. Die onskuldige, maar smeulende, tienerflirtasies in Grensgeval stem baie ooreen met Mart se tienerjare in Die dinge van ’n kind. Daar is ook ’n snaakse gebeurtenis in Grensgeval waar ’n Amerikaanse onderwyser ’n aantal skoolkinders in Kuba se koshuiskamers verseël, skynbaar in ’n poging om te keer dat hulle “al die pad” sal gaan daar op die verloklike eiland.22 Dié prentjie het my herinner aan die gruwels van ’n koshuisbestaan wat Dalena en Mart beleef het in Die dinge van ’n kind.

Laastens skryf Mart in Die dinge van ’n kind as volwassene ’n groot aantal briewe aan Dalena en Simon se dogter; dit is briewe wat waarskynlik nooit hulle bestemming sal bereik nie. In Grensgeval is Theresa egter vasbeslote om die brief wat Angel, die gestorwe Kubaan, geskryf het, af te lewer, hoe gek dit ook al mag wees om ’n onbekende meisie te gaan soek veertig jaar ná haar pa se dood. 

5. Grensgeval as self-bewuste grensliteratuur

Grensgeval maak self-bewustelik en overt ’n konneksie met Suid-Afrikaanse grensliteratuur wanneer Theresa vir Theo oor “grensliteratuurstories” vra.23 Enige boek wat al ooit oor die Grensoorlog geskryf is, of nog geskryf sal word, kan dus as interteks betrek word.

Theo maak dan grensliteratuur af met die woorde: “Fiksie! Niemand neem dit ernstig op nie, want dis nie die waarheid nie.”24

Daarop antwoord Theresa25 : “Ek dink stories kan soms meer waar wees as ‘die waarheid’.”

Enige oorlog handhaaf ’n vreemde verhouding met die waarheid, en die Grensoorlog was geen uitsondering nie.

Beide Grensgeval en Die dinge van ’n kind maak melding daarvan dat die Suid-Afrikaanse troepe in Angola geveg én gesterf het, terwyl ons regering aanhoudend ontken het dat enige Suid-Afrikaners daar ontplooi is. Die regering het gewoon aangehou lieg. Theresa stel dit so: “Soms vermoed sy dat alles wat sy in haar ouerhuis of op skool of in die kerk gehoor het, niks meer as fopnuus was nie.”26

Daarom verduidelik Etienne van Heerden die belang van grensliteratuur so: “Omdat hierdie tekste ágter die amptelike leuen wou inbeweeg – sommige is geskryf terwyl die Minister van Verdediging in die parlement aan die ontken was dat Suid-Afrikaanse soldate in Angola veg – word dié ontkenning dít wat ’n mens, in die taal van Foucault, ‘counter memory’ noem.”27

Alexander Strachan se fiksie is ’n baie goeie voorbeeld van “counter memory”;28  dieselfde kan egter nie gesê word oor sy niefiksieteks 1 Recce, die nag behoort aan ons29 nie. Daardie teks, histories korrek nagevors, gee ontsettend veel feite oor die geskiedenis en die ontstaan van die recces. Hierdie manne word as helde geskets, wat hulle binne ’n bepaalde konteks dan ook was. Lees ’n mens egter Strachan se fiksie, kry ons ’n totaal ander prentjie; sy fiksie praat van die manne se bravade, maar ook die enorme lading van posttraumatiese stres wat altyd deel van hierdie soldate se lewens sou wees.

In ’n LitNet-resensie-essay verlede jaar het ek die volgende hieroor gesê: “Die heel grootste probleem wat ek uiteindelik met 1 Recce het, is juis dit wat nie geskryf is nie. ’n Mens hoor baie oor die opleiding en beplanning, ons beleef enkele operasies en gaan kuier selfs in die hospitaal en langs die grafte van die gevalle makkers. Tog: Waar Strachan se fiksiewerk deurgaans die donker kant van die oorlog op die psige van die karakters beklemtoon, is hier geen sprake daarvan nie. Ons hoor wel dat vroue soms baie moes opoffer, maar die psige van die soldaat word nie bespreek nie.”30

In Grensgeval skryf Van der Vyver bewustelik rondom “counter memory”; sy gebruik Theresa, as vrou en eggenoot, om die voortslepende impak van die oorlog op huwelike toe te lig.

Waarom en vir wie is hierdie “counter memory” belangrik?

Voor in Grensgeval staan daar: “Opgedra aan al die mans wat nie wou gaan nie en al die vroue wat nie kon bly nie.”31 Die dinge van ’n kind weer is opgedra aan “almal wat dáár was”.32

Waarheen het die mans gegaan wat nie wou nie? Waarheen het die vroue gegaan wat nie kon bly nie?

Waar is “dáár”?

Is “dáár” ’n plek anderkant ’n grens? Indien wel, watter grens?

Grensgeval is, by implikasie, die dinge van middeljariges.

Die troepe wat tussen 1975 en 1988 aktiewe diens gedoen het, staan nou nader aan aftrede. Hierdie middeljarige mense het reeds vertrek na die plek waar hulle besef dat die lewe dalk nie uitgewerk het soos hulle eens gedroom het nie.

Theresa ervaar dit bewustelik: “Haar lyf het ’n slagveld geword, onherstelbaar geskend, die ene kraters en slote en onnatuurlike bulte ná ’n lewenslange oorlog teen ’n onoorwinlike vyand. Tyd is die vyand, die dief, die wenner. Altyd.”33

Die ontdekking van Angel se brief en Theresa se reis maak ook weer ou herinneringe aan haar eie tienerjare wakker. Waar was sy toe haar lyf nog ongeskonde was, voor sy “al die pad” gegaan het? Waar was sy, ’n onskuldige Afrikaanse meisie in 1975, terwyl haar aanstaande in Angola was? Die leser ervaar dus ’n reis in die hede én die verlede. Op ’n metavlak sien die hoofkarakter dit raak, en waarsku die leser: “Hierdie reis bly vir haar ’n tydsprong, agtertoe en vorentoe, aanhoudend.”34

Hayden White het dit so verduidelik: “Carlyle defined the purpose of history as the attempt to revoke ‘the Edict of Destiny so that Time shall not utterly, not so soon by several centuries have dominion over us’. The historian’s purpose, in Carlyle’s view, was to transmute the voices of the great men of the past into admonitions of, and inspirations for the living. In great historical writing, he said, ‘they who are gone are still here, though hidden, they are revealed; though dead they yet speak.’ Here the historian’s task is conceived as plainness, the pious reconstruction of the past in its integrity, the spirit of which has continued to dominate nostalgic historiography down to the present.”35

Van der Vyver se antwoord op “counter memory” verdryf alle pogings tot nostalgie. Die brief laat wel die dooies praat, maar die lewendes ervaar die harde werklikheid van posttraumatiese stres.

Dalk is “dáár” ’n plek in ’n middeljarige mens se kop; vir baie soldate en hulle gades is daardie plek steeds besoedel met ’n Kubaan wat iewers in ’n kas of onder ’n bed lê.

Jonger lesers sou dalk wonder: Waarom sou die Grensoorlog steeds woed in ons literatuur, dertig jaar ná die kanonne stil geword het? Ruben, die Kubaanse cowboy, beantwoord dié vraag so: “Ek besef nou eers hoe diep daardie oorlog van lank gelede van my landgenote geraak het.”36

Mense wat nie oorlog ken nie, raak maklik sentimenteel daaroor. Theo beskryf dit in ’n brief aan sy pa, een wat hy weet nooit afgelewer gaan word nie. “En Churchill se fokken toesprake. We shall fight them on the beaches we shall fight them in the hills we shall never surrender. Maklik om sentimenteel te raak oor sulke woorde as jy nie weet wat oorlog regtig is nie.”37

As interteks sou ’n mens hier Chris Louw se Boetman38 kon noem. Louw, wat homself simbolies met ’n AK-47 om die lewe gebring het, vaar in sy teks uit teen die leiers van sy pa se generasie wat onskuldige troepe laat offer bloot omdat hulle nooit aan ’n oorlog deelgeneem het nie en dus nie weet hoe dit is om oorlog te maak nie: “Nee, u sal nie weet nie, dr De Klerk, want u was te regvaardig. U het self nooit die wapen opgeneem nie.”39

Daar sal beslis nóg boeke oor die Grensoorlog geskryf word – alles in ’n poging om die sentimentele nostalgie rondom oorlog te beveg.

Terwyl Van der Vyver Grensgeval geskryf het, was daar ook ’n aantal ander outeurs wat besig was met boeke wat na die Grensoorlog verwys. Voor in Grensgeval staan “Ter nagedagtenis aan David Bishop.”40 Bishop is Van der Vyver se toenmalige man, iemand wat, soos Theo van Velden, gesukkel het om van sy Kubaan ontslae te raak. Ruan Kemp se roman Gedeeltelik bewolk41  betrek ’n karakter, George Moore, wat op Bishop geskoei is; dit is selfs opgedra aan “DB”. Kemp het aan Jonathan Amid gesê: “Ek het die boek aan DB opgedra omdat George Moore nie David Bishop is nie.”42  (Lesers wat in posttraumatiese stres belangstel, sal waarskynlik ook Francois Smith se Kamphoer43  ken, wat sonder twyfel met Grensgeval in gesprek tree, al het daardie boek geen ander raakpunte met die Grensoorlog nie.)

Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld44  handel oor ’n prokureur, Ian, wat ook ná al die jare nie die Grensoorlog kan agterlaat nie. Ian, die twietboer, moes in die laat tagtigs op die grens geveg het – daardie tyd toe Cuito Cuanavale van albei kante af bestook is. Daar is ’n tweede intertekstuele verwysing na Grensgeval: Ian word in die hede genader om te help met ’n projek wat die verhale van Kubaanse soldate op video wil vaslê.

In Die boek van gelukkige eindes45  skep Debbie Loots ook manlike karakters wat jare ná die oorlog steeds met die gevolge daarvan saamleef: “Op aandag, bors uit, maag in, voete klap en styf skop teen mekaar. Oë fronsend en ernstig, gefokus op die deinserige horison van niks. Dis hoe manlikheid in daardie tyd gelyk het.”46 Loots se roman worstel egter nie so overt met die oorlog soos Van der Vyver s’n nie.

Van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld het ná Grensgeval verskyn en Loots se Die boek van gelukkige eindes kort daarvoor. Dié twee tekste, en alle ander oor die Grensoorlog wat “die ideale leser” sou raaklees, word dus by implikasie betrek, anders as met My Kubaan en Die dinge van ’n kind, wat baie direk betrek word. Die ideale leser sal dus al die intertekste ken en die relevante dele daaruit kan raakvat, maar vir die gewone leser sou die vraag wees: Kan ons die boek verstaan sonder die interteks? Ja. Grensgeval is ’n storie uit eie reg. ’n Mens kan dit lees sonder om van enige ander tekste te weet. As die leser die intertekste verstaan, word die leeservaring egter soveel ryker.

Wat meer is: Deur die belang van Grensgeval as ’n deel van die korpus grensliteratuur te verstaan, kan die leser besef hierdie boek is ’n bewuste poging om ’n jonger generasie van ’n oorlog te probeer bevry, “dat sy geslag daardie lewenslange letsels sal vryspring”.47

6. Die Griekse mitologie, name en populêre tekste

Soos Die dinge van ’n kind, het Grensgeval talle verwysings na films, popliedjies en ander intertekste. Dit sou ’n tesis neem om almal te bespreek, maar leeskringe kan gerus dié wat hulle ken, by die bespreking betrek.

Wat hier volg, is ’n breë oorsig oor sommige van die sleutels wat Van der Vyver aan ons geskenk het om haar roman beter te verstaan.

Theresa se gids in Kuba se naam is Oreste, ’n overte en self-bewuste skakel na die Griekse mites.48

Orestes (soos hy in Afrikaans sou bekendstaan) is die jongste kind van Agamemnon en Klutaimnestra.49 Agamemnon was ’n generaal in die Trojaanse oorlog en hy het sy eie dogter aan die gode geoffer in ’n poging om seker te maak dat hy die oorlog teen Troje wen. Klutaimnestra sou hom dit nooit vergeef nie. Toe hy dus ná tien jaar van die oorlog terugkeer met ’n Trojaanse lover, wreek Klutaimnestra haar deur vir Agamemnon én sy meisie te laat vermoor. Dié bloedsug ontketen weer ander wraakgedagtes en Orestes moet uiteindelik sy pa se dood wreek deur sy eie ma te vermoor; daarna word hy deur die wraakgodinne vervolg. Dink nou aan Theo wat vir die res van die lewe nie rus kry vir sy siel nie.

Die Griekse mitologie verskaf dus nog eens die onderbou vir Grensgeval.

  • Net soos Agamemnon, het PW Botha en Fidel Castro hulle onderskeie lande se kinders geoffer om hulle eie agendas te dryf.
  • Die Griekse mites wys ons ook: Niemand tree as wenners uit ’n oorlog nie en jou dade sal jou altyd agtervolg.

PW Botha (links) en Fidel Castro (regs)

Van der Vyver speel egter ook ’n bietjie met fopnuus.

In die Griekse stories word daar leuens oor Orestes versprei – sy gesin hoor hy is dood tydens ’n wedren waaraan hy deelgeneem het as die drywer van ’n strydwa. Dit is nie te moeilik om die Plymouth Fury waarmee Oreste in Kuba ry, te verbind met Orestes se strydwa nie – veral as ’n mens in gedagte hou dat die Griekse Orestes deur wraakgodinne (in Engels bekend as furies) vervolg is ná hy sy ma vermoor het. Só glip Van der Vyver vals leidrade in, want die Fury in Stephen King se Christine waarna Oreste so openlik verwys het, lei tot vele mense se dood.50 Dit skep natuurlik spanning by die leser – sal Theresa haar reis oorleef?

Gelukkig is die Griekse interteks duidelik – die dood in die strydwa is ’n vals berig; hierdie sportmotor is dalk veiliger was wat ’n mens vermoed. Of is dit? Die leser kan maar net saamspeel en begin soek na verskuilde betekenisse.

Ruben, die cowboy wat Theresa later in die Fury begelei, is ’n man der manne. Sy naam beteken “Kyk, ’n seun”.51, 52 Die eerste knaap wat hierdie naam gedra het, Jacob en Lea se eersgeborene, het homself sommer gou reeds in die moeilikheid laat beland deur “al die pad” te gaan met een van sy pa se byvroue53 by wie die pa reeds seuns verwek het. Theresa beteken in die Grieks “om geoes te word”. Nou ja. He was a boy, she was a girl. Hulle is op ’n verleidelike eiland. Can I make it any more obvious? Leeskringe kan gerus daardie mooi sekstoneel in Harry Mulisch se De ontdekking van de hemel opsoek. Mulisch se enorme boek speel af in die tyd toe Castro nog aan bewind was en die sosialistiese droom hoogty gevier het.54

Tog sal daar altyd ook iets anders wees wat Van der Vyver wegsteek. Die internet en die konkordansies vertel vir ons wat die betekenis is van die naam Ruben, maar die Bybel self gee ’n tweede betekenis: Lea het die knaap Ruben genoem, want die woord klink soos die Hebreeus vir “my smart raakgesien”;55 kyk gerus wie is die een wat al die pad (per motor) help om Mercedes te soek ...

Van der Vyver is slim.

Leeskringe kan dus moeite doen om self verder te delf in die name en te probeer besluit of daardie sleutels spanning of verdere toeligting tot die teks meebring. Dr Casanova se van is byvoorbeeld nie om dowe neute gekies nie.

Verder is daar is nog talle boeke en films en popsterre waarna verwys word. Moenie hulle bloot verdiskonteer nie.

Hier is een maar een voorbeeld: Tydens een van hulle laaste ontmoetings los Theo ’n boek by Theresa in die woonstel – Kierkegaard se The concept of anxiety. Daar is geen twyfel nie dat Theo angstig is, maar ook hierdie sleutel dra ’n mens na ’n ander wêreld. Die volledige Engelse titel is naamlik The concept of anxiety: A simple psychologically orienting deliberation on the dogmatic issue of hereditary sin.56

Vir Kierkegaard is die keuses wat ’n mens telkens moet maak, die bron van angs. Adam moes kies tussen kennis en onskuld toe hy oor daardie verbode vrug moes besluit. Op dié manier maak die mens se vermoë om keuses uit te oefen van ons ’n angstige, maar bewuste, spesie. Kyk maar na Theresa se keuses daardie nag in Ruben se woonstel.

7. Mercedes en die laaste interteks

Hierdie bespreking is baie opsetlik só geskryf dat daar nie iets verklap sal word oor Mercedes nie. Vind Theresa haar? Dit is immers die groot vraag.

Die volgende twee paragrawe word dus met omsigtigheid geskryf.

Mercedes beteken “barmhartigheid”. Die naam kom van die Spaanse woorde María de las Mercedes, oftewel, Maria van Barmhartigheid. Dink aan die Engelse woord mercy.

Gekoppel aan Mercedes se keuses, sou lesers dalk belangstel in ’n kortverhaal “Ons Kubaan”57 wat opgedra is aan Etienne van Heerden omdat dit direk in gesprek tree met sy verhaal “My Kubaan”. “Ons Kubaan” is in 1998 gepubliseer in ’n tyd toe daar vir die eerste keer sedert die Grensoorlog weer direkte en formele kontak was tussen Kubane en toenmalige wit, Afrikaanse dienspligtiges. Dit eindig met ’n brief in Spaans wat met ’n gesukkel afgelewer moet word.

8. Die verhaal gaan voort

Lesers mag dit interessant vind om Lucia Prinsloo se uitstekende roman Vegters58 te lees as ’n gesprek met Grensgeval. Prinsloo beskryf die oorlog in Afghanistan verbluffend goed, deels omdat haar seun daar was en telkens kon raad gee. Die leser word ingetrek in die klank, die reuk, die vrees ...

Prinsloo se seun en sy makkers is jonk, los van apartheid; is nooit opgeroep vir diensplig nie en kon hulleself sonder ideologiese angs skaar aan die kant van Brittanje se elitemagte.

Vegters is besonder knap en is die eerste vernuwende werk oor oorlog in Afrikaans, juis omdat dit wegbreek van Suid-Afrikaanse grensliteratuur.

Dié essay van my moet nou klaarkry. In Van der Vyver se eie woorde: “Theo van Velden se storie gaan voort. Dit het net ander hoofkarakters gekry.”59

Eindnotas

1 Van der Vyver, Marita. 2019. Grensgeval. Kaapstad: Penguin.
2 Van der Vyver, Marita. 1992. Griet skryf ’n sprokie. Kaapstad. Tafelberg.
3 Van der Vyver, Marita. 2001. Griet kom weer. Kaapstad. Tafelberg.
4 Griet kom weer, bl 3.
5 Griet kom weer, bl 306.
6 Lavigne, Avril. 2002. Van die album Let Go, vrygestel deur Arista Records. Die skrywers word aangedui as Avril Lavigne, Lauren Christ, Scott Spock en Graham Edwards.
7 Van Heerden, Etienne. 1983. My Kubaan. Kaapstad: Tafelberg.
8 Van der Vyver, Marita. 1994. Die dinge van ’n kind. Kaapstad. Tafelberg.
9 My Kubaan, ble 96–7.
10 Grensgeval, kursief deur Van der Vyver, bl 83.
11 Grensgeval, voorwerk.
12 Grensgeval, bl 121.
13 Barnard, Chris. 1992. Moerland. Kaapstad: Tafelberg.
14 Die kodenaam was inderdaad so, met die Engelse spelling; sien ook verwysings in Steenkamp hier onder.
15 Grensgeval, bl 121.
16 Steenkamp, Willem. 2016. Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog 1966–1989. Kaapstad: Tafelberg.
17 Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog 1966–1989, bl 60.
18 Grensgeval, bl 122.
19 Sien: Die Suid-Afrikaanse Grensoorlog 1966–1989, ble 245–309.
20 Grensgeval, bl 123.
21 Grensgeval, bl 12.
22 Sien: Grensgeval, bl 179.
23 Grensgeval, bl 220.
24 Ibid.
25 Ibid.
26 Grensgeval, bl 179.
27 Sien: Van Heerden, Etienne. 1994. Vanuit eie werk: Die skrywer as historiograaf. Tydskrif vir Letterkunde, 32(3):1–15. (Hierdie aanhaling van bl 7.)
28 Sien veral: Strachan, Alexander. 1984. ’n Wêreld sonder grense. Kaapstad: Tafelberg.
29 Strachan, Alexander. 2018. 1 Recce, die nag behoort aan ons. Kaapstad: Tafelberg.
30 De Vries, Izak. 2019. 1 Recce, die nag behoort aan ons: ’n LitNet Akademies-resensie-essay. LitNet. 2019-01-19. https://www.litnet.co.za/1-recce-die-nag-behoort-aan-ons-n-litnet-akademies-resensie-essay.
31 Grensgeval, voorwerk.
32 Die dinge van ’n kind, voorwerk.
33 Grensgeval, bl 226.
34 Grensgeval, bl 138.
35 White, Hayden. 1975. Metahistory: the historical imagination in nineteenth-century Europe. Baltimore: Johns Hopkins University Press.
36 Grensgeval, bl 208.
37 Grensgeval, bl 257.
38 Louw, Chris. 2001. Boetman en die swanesang van die verligtes. Kaapstad: Human & Rousseau.
39 Boetman en die swanesang van die verligtes, bl 12.
40 Grensgeval, voorwerk.
41 Kemp, Ruan. 2019. Gedeeltelik bewolk. Kaapstad: Tafelberg.
42 Amid, Jonathan. Gedeeltelik bewolk: ’n onderhoud met Ruan Kemp. LitNet. 2019-09-19. https://www.litnet.co.za/gedeeltelik-bewolk-n-onderhoud-met-ruan-kemp.
43 Smith, Francois. 2014. Kamphoer. Kaapstad. Tafelberg.
44 Van Heerden, Etienne. 2019. Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Kaapstad: Tafelberg.
45 Loots, Debbie. 2019. Die boek van gelukkige eindes. Kaapstad: Queillerie.
46 Die boek van gelukkige eindes, bl 175.
47 Grensgeval, bl 289.
48 Grensgeval; sien die gesprek op bl 57.
49 Hierdie teks word aanbeveel as ’n goeie, breë oorsig oor Griekse mitologie: Conradie, PJ. 1964. Avonture van die Griekse helde en gode. Kaapstad: Human & Rousseau.
50 King, Stephen. 1983. Christine. New York: Viking.
51 Genesis 29:32.
52 Mijnhardt, FA. 1986. Bybelkonkordansie. Pretoria: Van Schaik.
53 Genesis 35:22.
54 Mulisch, Harry. 1992. De ontdekking van de hemel. Amsterdam: De Bezige Bij.
55 Genesis 29:32.
56 Die oorspronklike boek is in 1844 uitgegee. Die titel is Begrebet Angest.
57 Die verhaal verskyn in De Vries, Izak. 1998. Kom slag ’n bees. Kaapstad: Tafelberg.
58 Prinsloo, Lucia. 2019. Vegters. Pretoria: Wenkbrou. Louis Esterhuizen sê oor Vegters: “Hierdie werk is by verre een van die mees indrukwekkende tekste wat ek tot nog toe die voorreg gehad het om te hanteer.” Wenkbrou is ’n druknaam van LAPA Uitgewers.
59 Grensgeval, bl 293.

 

Lees ook

Grensgeval deur Marita van der Vyver: ’n resensie

Video: Kaapstad-bekendstelling van Grensgeval deur Marita van der Vyver

  • 3

Kommentaar

  • Pingback: Borderline

  • Ek het jou Magnum Opus gate uit geniet.
    Ek het met Marita kontak gemaak in konteks van Harry se dood (nadat sy 'n besonderse huldeblyk geskryf het) en ons het tussendeur beaam dat ons beide positiewe ervarings van Dao gehad het.
    Grensgeval is 'n top verkoper en ek weet nou hoekom.
    Van die os op die jas:
    'n Kubaan het Nelba in Greys 'gered' met 'n noodoperasie na Lia se geboorte op 7 Julie 2011.
    Ek was in vervoering oor die briljante Kubaanse Ensemble Vocal Luna wie my gefassineer het met hulle 2de plek in kategorie C18.
    Dit is met gemengde gevoelens dat ek terugdink aan my ondervindinge in die Kanaries in 1980/81.
    Jy het die woorde uit my mond geneem met jou kort en kragtige "Marita is slim"!
    Sy is!
    Andries Buys is ook slim...
    Jou bespreking het my deurgaans aan die Dao laat dink.

  • Pingback: Vegters, deur Lucia Prinsloo

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top