1 Recce, die nag behoort aan ons: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

  • 0

1 Recce, Die nag behoort aan ons
Alexander Strachan

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978062481494

 

1 Recce van Alexander Strachan is ’n belangrike stuk militêre geskiedenis, en as sodanig beveel ek dit aan vir lesers en versamelaars van hierdie genre.

Wat is die grootste voordeel van hierdie boek? Dit is soos ‘n militêre operasie beplan.

Wat is die grootste nadeel van hierdie boek? Dit is soos ‘n militêre operasie beplan.

Wat doen 1 Recce dus vir die niespesialis? Alexander Strachan kán skryf en 1 Recce lees meestal baie maklik, selfs lekker. Wanneer oorlog gemaak word, is dit asof die bos stil word en die feite skielik begin sin maak. Die probleem is dalk: kontak in enige oorlog duur minute, die beplanning duur maande. Getrou hieraan bevat die boek wonderlike beplanningstories en hope bladsye oor opleiding, maar betreklik min kontaksessies.

’n Mens moet dus waarsku: Wanneer Al Venter ’n boek skryf, kies hy hoogtepunte en laat die koeëls fluit. Wanneer At van Wyk oor die wenners van die Honoris Crux skryf, gooi hy onnodige besonderhede uit en neem jou na die hart van die geveg. Strachan hanteer dit anders. Hy neem die leser deur die opleiding, die geskiedenis, die verdere opleiding, die beplanning, nog meer opleiding, en dan eers klap die koeëls.

 

Militêre geskiedenis op die keper beskou

Die leser móét 1 Recce as geskiedenisteks lees. So, wat word bereik?

Die onmiddellike antwoord is natuurlik dat ons hier te doen het met die eerste boek oor 1 Verkenningseenheid (1VK), algemeen bekend as 1 Recce, wat onderskryf is en openlik ondersteun is deur die mense oor wie geskryf word. 1VK het van 1972 tot 1981 bestaan. In 1981 is 1VK opgeneem in ’n groter bestel, en die onderskeie recce-eenhede het toe die status van ’n regiment gekry.

Die belang van die recce’s, en die storie van hulle ontstaan, moet nooit onderskat word nie.

Tot vandag is die recce-eenhede ’n belangrike deel van die weermag. Steeds word recce’s opgelei en steeds bestaan daar geheimhouding, want onsigbaarheid bly die kern van hierdie tipe eenheid. Selfs in die nuwe Suid-Afrika word recce’s oor grense heen ontplooi.1

Dit is niks minder nie as reg dat mense wat bloed en sweet gelaat het om hierdie eenheid tot stand te bring, vereer word. Jan Breytenbach word gereken as een van ons groot militêre denkers. Dat hy kontroversieel was, blyk duidelik in hierdie teks, “Breytenbach het gedoen wat hy wou, wanneer hy wou” (53), maar dat hy, dalk juis daarom, dekades later nog geliefd is onder diegene wat hy gelei het, kan nie ontken word nie.

Ook Breytenbach se opvolgers, en die mense wat hy opgelei het, was merkwaardige mense en hulle verdien die kollig wat in hierdie boek op hulle geskyn word.

Uiteindelik sou die Suid-Afrikaanse recce-eenhede dieselfde soort aanhang kry wat die Britse SAS en Amerikaanse Navy Seals sou kry.

Tog sou diegene wat die grensoorlog van binne ken, dalk vrae kon hê oor enkele aspekte van hierdie teks.

Die grootste probleem vir enige teks soos hierdie is dat die “beste” dele van enige geheime groep se optredes geheim moet bly. Die agterbladteks beloof: “Nou, vir die eerste keer, openbaar die Recces se legendariese bevelvoerders besonderhede oor verskeie polities sensitiewe operasies.” Ek is onseker of dié belofte gestand gedoen word. Dit word dalk vir die eerste keer in een boek saamgevat, maar oor Operasie Savannah is al baie geskryf, onder andere in Willem Steenkamp se boek Die Suid-Afrikaanse grensoorlog;2 of google dit bloot en verskeie bronne verskyn. Die nuuskierige leser kan ook inligting op die internet kry oor Operasie Curry,3 Operasie Seiljag4 en Operasie Kropduif.5 Dít is die vier operasies wat in besonderhede bespreek word in 1 Recce; ander operasies word in die verbygaan genoem.

Gereeld word byvoorbeeld vertel van motorfietsopleiding, geboupenetrasie en stedelike opleiding, maar nêrens word voorbeelde genoem van aanwendings daarvan nie. Boonop was die recce’s nie die enigste korps wat hierdie opleiding gekry het nie. Dit is moontlik dat van hierdie vertellings in ’n tweede boek gedek sal word – daar word reeds melding gemaak van so ’n teks (344). Dit is egter ook moontlik dat diegene wat intiem by sulke aanwendings betrokke was, beslis nie daaroor sou wou praat nie.6

Die ander probleem wat lede van ander korpse met 1 Recce mag hê, is dat dit grootliks die recce’s se optrede isoleer tydens operasies. Daar word genoem dat hulle 32-Bataljon, en ander, oplei en dan saam deelneem aan operasies, maar daar word min melding gemaak oor die integrasie van ander eenhede tydens die veldslae. Die gemeganiseerde eenhede word hier en daar genoem, die lugmag se rol word grootliks onderspeel en die bydraes van ander valskermbataljonne is skynbaar beperk tot die beskikbaarstel van afstuurders. Uiteindelik is die boek se naam egter 1 Recce; en dit is wat jy kry.

Dit is ’n interessante boek oor die ontstaan en groei van hierdie legendariese eenheid én dit vertel heelwat oor die besonderse mense wat 1VK tot stand gebring het. Dus: Operasie Boekskryf het geslaag.

Tog, dit is nie die hele prentjie nie.

 

Strachan as skrywende recce

Alexander Strachan het naam gemaak as skrywer van uitsonderlike fiksie waarin die oorlog, ook recce-wees, voortdurend ’n rol speel.

Strachan is nie bloot ’n verkennende oorlogskrywer nie; hy is Afrikaans se recce-skrywer.

’n Wêreld sonder grense (1984) is ’n uitstekende debuut.7 Dit is ’n baie dun bundel, slegs 52 bladsye en nege kortverhale lank, maar uitsonderlik: ’n lewe word vasgevang, en verwoes. Hoewel dit uit kortverhale bestaan, vorm die boek ’n strak eenheid. Die leser beleef ’n jong seun en sy ma se neurose oor die grens, volg die man tot hy getroud is, aan posttraumatiese stres ly en, heel teen die einde, kwansuis “bossies” raak wanneer hy besluit om teen die Weermag se instruksies in nie verdedigend op te tree teen rebelle wat ’n basis oorkant die grens oorgeneem en beset het nie.

André P Brink het in ’n Rapport-resensie die volgende oor ’n Wêreld sonder grense gesê: “’n Man wat met sy debuut so ’n knap teks kan lewer, bewys al vanself dat die pen iets bó die R1 te sê het.”8

In 1990 verskyn Die jakkalsjagter, Strachan se eerste roman.9 ’n Jagter word gevra om ’n probleemhond wat kalwers doodmaak, van kant te maak. Die stil, naamlose man word gejukstaponeer met Lenka, ’n karakter wat in die weermag was en uiteindelik van sy vrou geskei is. Albei karakters weet hoe ’n geweer kan doodmaak, albei skroom nie om die wapens te gebruik nie. Honde word ook ingespan – wat weer direk terugverwys na die openingsverhaal in ’n Wêreld sonder grense.

Strachan se tweede roman is Die werfbobbejaan, wat in 1994 verskyn.10 Nogeens word die jagter, die wapens en die seksuele frustrasie, waarskynlik oor posttraumatiese stres, die sentrale temas. Die bobbejaan ruk los, maar word dan gejag. En die jagter? Poog hy nie ook, onsuksesvol, om los te ruk van sy verlede nie?

In 1997 verskyn Strachan se tweede kortverhaalbundel, Agter die suikergordyn.11 Die wêreld van die grenssoldaat is met die koms van die demokrasie omgekeer, maar nuwe grense word gevorm. Die ou temas van drankmisbruik, seks, buitehuwelikse verhoudings en mislukte verhoudings bly relevant. Die oorlog is steeds daar, die skrywende verteller gaan terug na Fort Doppies en Fort Voet, waar die recce’s hulle geheime basisse gehad het. Selfs Teddy, die mak leeu van wie in 1 Recce vertel word, maak ’n verskyning. Van belang is die spel tussen feit en fiksie: Watter stukke is feitelik en watter nie?

Tydens die KKNK van 2000 word Strachan se drama Hartebees opgevoer. Bullet, die jagter en oudsolaat, maak sy verskyning, ook die mitiese wit hartebees wat later in Strachan se werk sou terugkeer. Daar is ooreenkomste met van die karakters in Agter die suikergordyn; die jag, op diere en vroue, verander ook uiteindelik maar weer in daardie kringloop waar die jagter deur sy verlede gejag word. Hartebees word in 2003 onder die titel Kloof uitgegee.12

In Strachan se volgende roman, Dwaalpoort, wat in 2010 verskyn, keer Bullet terug, so ook die mitiese hartebees.13 Bullet se storie word vervleg met verhale uit die Anglo-Boereoorlog, en natuurlik die grensoorlog. Aan Willemien Brümmer vertel Strachan: “Daai Bullet-karakter se manlikheid baseer ek waarskynlik op hoe ek was in my lewe. Ek kan hom nie meer nastreef nie. Hy’t my ontgroei, hy’t meer as ek geword. Hy’s groter as ek, ek’s kleiner as hy.”14

Bullet en die hartebees keer weer terug in Brandwaterkom, wat in 2015 verskyn, ’n roman wat grootliks handel oor verraaiers in die Boereoorlog.15 Bullet het as recce aan die grens geveg en verskaf sekere historiese dokumente aan ’n navorser, Ester van Emmenes, wat haar tesis doen oor die karakter Fanie Vilonel, ’n besonder goeie skut tydens die Anglo-Boereoorlog, maar ook ’n skadufiguur wat tydelik die doodstraf in die gesig staar omdat hy die sin van die oorlog bevraagteken.

Toe, in Augustus 2015, word Strachan na ’n vergadering in Centurion genooi. ’n Boek oor 1 Recce moes geskryf word, en “’n [g]eskikte skrywer met bewese skrywersrekord moes geïdentifiseer word” (343). So het 1 Recce, geskryf deur Alexander Strachan, ontstaan. Dit is in 2018 uitgegee.

1 Recce is ’n belangrike teks, maar die probleem is: ’n Wêreld sonder grense vertel die leser in 52 bladsye soveel meer oor die menswees van die soldate agter die opleiding, swaarkry, myne, bloed, sweet, stof en kameraderie as wat 1 Recce in 351 bladsye regkry, want 1 Recce is ’n militêre teks; wat tussen die boys gebeur het, bly tussen die boys.

 

Was Zander Strachan die “geskikte skrywer”?

Waarom sou Alexander Strachan die “geskikte” skrywer wees vir hierdie boek? Hy antwoord self: “Dit is nie in die aard van die spesialemagte-lede om inligting sonder meer beskikbaar te stel nie” (343–4). Daarom was dit “hoogs onwaarskynlik dat hulle ’n buitestander – iemand wat nie deel van die spesiale magte was nie – sou kies” (343).

Dit verstaan ’n mens.

Ongelukkig bestaan daar iets soos intertekstualiteit – ’n kunsvorm waarin die skrywer Alexander Strachan ’n meester is.

In die laaste verhaal van sy debuutwerk, ’n Wêreld sonder grense, vind ’n ontmoeting plaas waarin ’n oudrecce na ’n vergadering ontbied word. Die grootkoppe het iemand nodig gehad wat in die recce’s was, iemand wat intiem bekend was met die spesiale magte. Die kortverhaal heet “Visioen”. Om te beweer dat die uitkoms anders was as wat die grootkoppe wou gehad het, sou ’n onderbeklemtoning wees. Strachan mag ’n oudrecce wees, maar sy gepubliseerde rekord is ’n visioen wat nie strook met ’n verheerliking van die oorlog nie.

In “Visioen” sê Jock, “die beste operateur wat die Weermag nóg gelewer het”, die volgende: “Ek is bang. Nie vir mense nie; dis ’n dooie gevoel in my bors. Dinge wat ek gedoen het, begin my pla.”16

Hierdie weerstand teen die weermag dryf Jock om ’n rebel te word wat teen sy bevelvoerders draai; wat meer is, die soldaat wat ingestuur is om Jock uit die weg te ruim, skaar hom ook aan die kant van die rebelle.

Strachan het sy skrywersloopbaan daaraan bestee om te verduidelik hoekom soldate se visioene nagmerries kon word. Op ’n briljante wyse kon hy die seer, die woede en die ontnugtering van die soldaat, en later ook die oudsoldaat, vasvat saam met die trots en die gloed van die oorlog. Selfs die verhaal “Caprivi” uit Agter die suikergordyn wat in De Kat as niefiksie aangebied is, verval nie ’n blote nostalgie nie.17 Die nostalgie en die kameraderie van oudsoldate is daar, maar word getemper deur die harde werklikheid en word, intertekstueel, verdag gemaak deur die omringende verhale, veral “Plek van die wind”, waarin ’n tydskrifredakteur vir die skrywende instansie sê: “Lieg hier en daar as dit dit interessanter sal laat klink.”18

Moet ons, as lesers, ons heeltemal afstomp van Strachan se vorige werk?

Alexander Strachan (foto: Naomi Bruwer)

Die bagasie wat jy dra

Een van die opvallende dinge in 1 Recce is die voortdurende verwysings na die swaar toerusting wat die recce moet dra – in opleiding, tydens spronge, tydens operasies, en dies meer.

Ongelukkig bestaan daar onderhoude met Strachan waarin hy tevore hieroor gepraat het.

Tydens ’n onderhoud oor Wêreld sonder grense sê hy aan Volksblad: "Ek was op ’n landsdienskamp waar al die kampeerders gekla het oor die massa wat hulle moes dra en al wat klippie is van die grond verwyder het voordat hulle hul slaapsakke saans oopgegooi het. As soldaat het ek dikwels my eie liggaamsmassa kilometers ver moes dra en sou ek snags in ’n bos of struik met my 'kit' nog op my rug neersak en slaap. Toe besef ek ek het ’n storie om te vertel. En ek was moeg vir geweld.”19

Veel later, met die publikasie van Dwaalpoort, sê Strachan aan Willemien Brümmer: “Omdat ek daai Bullet-karakter was, het ek as weermagsoldaat my eie gewig gedra in operasies. Ek moes albei my heupe vervang as gevolg van daai kit; dit was te f*kk*n swaar – niemand kon dit dra nie. As jy 36 is en jy lyk pragtig en jy moet daai kit uittrek, dan knak die liggaam, maar die gees gaan aan. Maar ek droom glad nie meer daaroor om dit te wees nie, want ek wás dit. Partykeer is ek selfs verleë daaroor.”20

Dat baie mense verleë is oor goed wat in die weermag gebeur het, is gewoon ’n feit. Talle van ons, ek inkluis, was in die weermag en wonder soms oor die verlede. Geheime oorgrensoperasies is ook deur ander korpse uitgevoer – die recce-eenheid was beslis nie die enigste nie.

Die heel grootste probleem wat ek uiteindelik met 1 Recce het, is juis dit wat nie geskryf is nie. ’n Mens hoor baie oor die opleiding en beplanning, ons beleef enkele operasies en gaan kuier selfs in die hospitaal en langs die grafte van die gevalle makkers. Tog: Waar Strachan se fiksiewerk deurgaans die donker kant van die oorlog op die psige van die karakters beklemtoon, is hier geen sprake daarvan nie. Ons hoor wel dat vroue soms baie moes opoffer, maar die psige van die soldaat word nie bespreek nie.

’n Mens sou geensins van Strachan kon verwag het om ’n negatiewe teks oor 1 Recce te skryf nie, maar sou daar nie erkenning gegee kon gewees het aan die eise van die oorlog nie?21

’n Wêreld sonder grense vertel ook oor die strawwe opleiding, die swaar pakke en die trots van die manne wat al die toetse geslaag het, maar dit vertel óók van die verskrikking, die skending van lyke, en die onbedoelde slagoffers. Die res van Strachan se oeuvre worstel ook met die posttraumatiese stres wat soldate ervaar het.

Nêrens verskyn enige van hierdie sake in 1 Recce nie. Glad nie.

Watter Strachan is dus korrek? Die fiksieskrywer of die imbongi?

’n Verdere probleem rondom 1 Recce is dat die laaste bladsy van die boek, waarskynlik nie deur Strachan geskryf nie, maar wel deur iemand by die uitgewer, groot gewag maak van Strachan as skrywer van grensliteratuur (351). Of die persoon wat hierdie bladsy geskryf het, enige idee het wat grensliteratuuur is, weet ’n mens nie, maar ander skrywers van hierdie genre word geredelik by die naam genoem: “JC Steyn, Etienne van Heerden en Koos Prinsloo”. Hierdie drie name, wat so direk gekoppel word aan grensliteratuur, ontsluit ’n hele alternatiewe ruimte gesetel in protesliteratuur. Steyn, van Heerden en Prinsloo het, soos Strachan in sy fiksie, die meesternarratief deeglik uitgedaag. Grensliteratuur as genre is hoegenaamd nie ’n verheerliking van die stelsel nie – dit vertel juis van die ontsetting wat met militêre diensplig gepaardgegaan het.

Daardie laaste, biografiese bladsy waar die term grensliteratuur so rojaal betrek word, sou ’n leser waarskynlik nie voor Strachan se deur kon lê nie, maar die kanse is baie goed dat Strachan self daardie bladsy sou gelees het as deel van die nagaan van die bladproewe.

Die vraag ontstaan nou: Is Strachan, die meester van die interteks, besig om kodes te laat vir die leser van sy letterkundige tekste? Vertel Strachan met fyn-opgestelde verwysings en intertekste vir die literêre leser dat die stiltes in 1 Recce betekenis dra? Is die talle verwysings na “swaar” dra dalk ’n kode?

Strachan se swaarste bagasie, wat hy steeds met hom saamdra, is die talle uitstekende boeke wat hy vóór 1 Recce geskryf het. Het hy met opset die ontmoeting in Centurion so geskryf dat hy die ontmoeting van die soldaat in “Visioen” oproep? Is die herhalende verwysings na swaar bagasie ’n kode wat ons moet ontsluit om die visioen van 1 Recce te ontsyfer? As dit die geval is, sou ’n mens 1 Recce as briljant moet beskou, want dan ondergrawe dit die grootkoppe se opdrag meesterlik: “‘Ons moet saamstaan,’ sê ek, ‘Ons het ’n weermagaanval om af te slaan.’”22

Ek is dalk té sinies, maar Alexander Strachan weet hoe om spoor te sny in die letterkunde. ’n Leser wat deeglik ingegrawe is in die literêre verkenkuns, sal altyd weet dat enige kode in ’n teks soos 1 Recce, wat die meesternarratief skynbaar klakkeloos onderskryf, soos ’n Claymore-myn lê en wag om raakgetrap te word.

 

Verwysings

  1. Vir die leser wat meer wil weet oor die rol van die moderne recce, sou hierdie ruimte aanbeveel word: https://www.recce.co.za.
  2. Steenkamp, Willem. 2016. Suid-Afrika se grensoorlog 1966–1989. Kaapstad: Tafelberg.
  3. Hierdie ruimte vertel meer: http://www.gunsite.co.za/forums/showthread.php?63360-Anderkant-Cuito-n-Reisverhaal-van-die-Grensoorlog-Louis-Bothma/page10.
  4. Hierdie ruimte vertel meer: https://en.wikipedia.org/wiki/Operation_Seiljag.
  5. Hierdie ruimte vertel meer: https://m.news24.com/beeld/In-Diepte/Nuus/n-Dag-wat-bly-spook-20110725
  6. Op bl 82 van Agter die suikergordyn (1997, Human & Rousseau) vertel ’n oudrecce, Roy, oor Operasie Balrea “om ’n ANC-teiken buite die RSA te slaan”. Hierdie soort operasie is in die tyd van die grensoorlog en die totale aanslag uitgevoer.
  7. Strachan, Alexander. 1984. ’n Wêreld sonder grense. Kaapstad: Tafelberg. (Die teks is ’n hele aantal keer herdruk.)
  8. Dié aanhaling verskyn op die agterblad van die vyfde druk, wat in 1991 verskyn het.
  9. Strachan, Alexander. 1990. Die jakkalsjagter. Kaapstad: Tafelberg.
  10. Strachan, Alexander. 1994. Die werfbobbejaan. Kaapstad: Tafelberg.
  11. Strachan, Alexander. 1997. Agter die suikergordyn. Kaapstad: Human & Rousseau.
  12. Strachan, Alexander. 2003. Kloof. Pretoria: Protea.
  13. Strachan, Alexander. 2010. Dwaalpoort. Kaapstad: Tafelberg.
  14. Soos vervat in die ATKV | LitNet-Skrywersalbum: https://www.litnet.co.za/alexander-strachan-1955.
  15. Strachan, Alexander. 2015. Brandwaterkom. Kaapstad: Tafelberg.
  16. Sien bl 50 van ’n Wêreld sonder grense. Jock is in verskeie verhale ’n leiersfiguur, beide ’n uitstekende soldaat en ’n baie getraumatiseerde persona.
  17. Die verhaal “Caprivi” het in De Kat verskyn en is toe in Agter die suikergordyn opgeneem.
  18. Sien bl 37 van Agter die suikergordyn. Die verhaal heet “Plek van die wind”.
  19. Soos vervat in die ATKV | LitNet-Skrywersalbum: https://www.litnet.co.za/alexander-strachan-1955.
  20. Ibid.
  21. Die res van Strachan se oeuvre verwys beslis na die stres wat soldate ervaar het. Vir ’n akademiese blik op posttraumatiese stres, sien Bing, Elaine. 2014. Ek het gemartel. Pretoria: LAPA Uitgewers.
  22. Dit is die heel laaste sin in ’n Wêreld sonder grense, bl 52. Teen hierdie tyd het die leierskorps klaarblyklik besef dat hulle aanvanklike poging misluk het.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top