Daar is geen keer aan haar talent nie. Jonk, dinamies en vasberade — en ook nie skaam vir harde werk nie.
Kanya Viljoen is ’n jong teatermaker wat vinnig opgang maak in die teaterwêreld.
Nie net is haar toneelstuk op die hoek van die sesde straat, wat by die Vrystaat Kunstefees gespeel het, benoem vir beste vrynge-produksie nie, sy is ook onlangs gekies as een van vyf jong teatermakers wat gaan deelneem aan die Jakes Gerwel Foundation se mentorskapprogram in Somerset-Oos vir opkomende dramaturge.
Een van haar vorige toneelstukke RAAK, wat verlede jaar by die Vrystaat Kunstefees gedebuteer het, is vir beste produksie by die fees benoem, sowel as twee Fiësta-toekennings.
Sy was ook verlede jaar een van die jong teatermakers wat ’n beurs by die jaarlikse Teksmark ontvang het om ’n toneelstuk verder te ontwikkel en op die planke te bring.
Verder is jy ook bekend vir produksies wat sy op die planke gebring het soos mank, braak, Die skrif is aan die muur en Like Hamlet.
Kanya vertel meer oor haar passie vir haar loopbaan.
Kanya, vertel ons meer oor jouself — wie is Kanya Viljoen?
Ek is ’n jong kunstenaar wat nog glad nie verstaan hoe die lewe werk nie. Dus probeer ek maar skryf en skep om dalk ’n klein bietjie duidelikheid oor die lewe en die kwessie van menswees te ontlok.
Vanwaar jou liefde vir die kunste?
My ma is ’n musiekonderwyseres en my pa skryf in sy vryetyd ongelooflike artikels en digkuns, so daar is ’n kunstenaarsstreep wat deur die familie loop. Ek dink die passie was al van kinderdae af daar. Ek onthou ek het elke Sondagmiddag, wanneer my ouers ’n middagslapie neem, my broers en suster opgesweep om tonele op te voer, choreografie te leer en modeparades te hou. Dit het van daar af net gegroei en ek was baie geseënd dat almal in my familie, skole en gemeenskap die liefde aangemoedig en ontwikkel het.
Jou produksie op die hoek van die sesde straat is by die Vrystaat Kunstefees genomineer vir beste vrynge-produksie. Vertel ons meer oor die produksie — waaroor gaan dit?
op die hoek van die sesde straat is die verhaal van twee jongmense wat in dieselfde woonstelblok in Bellville bly. Hulle altwee is tans nie seker wat hul regtig met hul lewens wil doen nie en waarheen hulle oppad is nie, maar iewers tussen die onsekerheid vorm ’n vriendskap tussen die twee, een wat hul eie standpunte uitdaag en mekaar uiteindelik dwing om die lewevoluit aan te pak. Verweefd met hulle verhaal is die verhaal van Meisa, hul buurvrou wat in die huis op die hoek van die sesde straat woon, wat gebaseer is op die Griekse toneelstuk, Medea.
Hoe het jy met die konsep van die teks vorendag gekom?
Dit het eintlik begin met ’n beeld wat vir my baie duidelik was, dié van ’n wasgoedlyn in ’n lae middelklas gebied. Ek kon nie ophou dink oor hoe magies ’n wasgoedlyn is nie, die idee dat almal se klere, se persoonlikhede, so onbewustelik mekaar op ’n wasgoedlyn ontmoet; die skadu’s wat agter klere gevorm kan word; en wat dit beteken om saam te bestaan. Dit is uit díe beeld wat die teks en storie stadig ontwikkel het. Daarna het ek die wonderlike Laura-Lee Mostert en Stefan Erasmus genader en so stadig maar seker die stuk aanmekaar begin lap.
Watter temas spreek jy aan in die toneelstuk en hoekom juis dié temas?
Die stuk werk hoofsaaklik met temas van vrouwees, ma-wees en die idee van verlating, of iemand wat jou verlaat. Ek dink die temas is ongelooflik relevant in die kontemporêre Suid-Afrikaanse konteks.Baie van ons verstaan wat dit is om ‘agter te bly’, om verlaat te word, om te moet regkom met mense wat uit jou lewe geloop het. Beide die eenvoud en ongelooflike kompleksiteit rondom verlating.
Jy het al toneelstukke soos onder andere braak, mank en RAAK geskryf, waar kry jy jou inspirasie vir jou skryfwerk?
Hoe lag ek nou vir die kort, vierletter titels van die vorige stukke — duidelik ’n tema van laasjaar gewees. Ek dink die inspirasie kom van ’n kombinasie van elemente. Daar is altyd ’n sterk beeld, byvoorbeeld die bokkop, of porseleinbad, of die wasgoeddraad, wat die eerste intreeslag op ’n stuk bied. Daarna is dit mites, volksverhale en stories wat op die beeld van toepassing word. Ek weet dit klink dalk na ’n cliché, maar daar is so baie oomblikke in ons alledaagse bestaan dat die inspirasie nie kan verdwyn nie.
Jy is gekies as een van vyf opkomende skrywers wat deel gaan neem aan die Jakes Gerwel Foundation se mentorprogram in Somerset-Oos.Wat beteken hierdie geleentheid vir jou? Wat is jou verwagtinge?
Ja! Ek kan nou nog nie glo dat ek gekies is nie. Die geleentheid is groot, veral omdat dit 'n mens 'n kans bied om intens gemoeid met jou skryfwerk te sit. Ek dink baie jong dramaturge wat skryf, doen dit laataande nadat hulle die hele dag aan ander goed werk, so die geleentheid om vir drie weke net aan jou skryfkuns te werk en te wroeg is werklik iets waarna ek smag en baie na uitsien. Ek dink ook dit gaan vir my die geleentheid bied om saam met 'n gemeenskap van skrywers te werk, te dink, te praat en dit kan net tot my eie voordeel wees.
Is daar 'n spesifieke stuk waaraan jy gaan werk by hierdie mentorskapprogram?
“Maan, dis ek, Jessie. Ek weet jy kan sien. Ek weet jy kan sien waar sy is. Ek weet jy weet waar sy wegkruip. Maan, asseblief, ek vra so mooi, asseblief, asseblief, groot asseblief, neem my saam met jou. Wys my waar sy is. Ek bid dit met alles wat ek het.”
Van ’n jong ouderdom af, is Jessie oortuig dat die maan ’n plek van wonders en misterie is en dat dít eintlik is waar hy moet woon. Sy pa, AB, het van sy geboorte af geweet dat Jessie deur die lewe gaan sukkel en keer op keer, dat hy sy seun aan die maan moet afstaan. Die verhaal van ’n gesin wat deur die maan verskeur word, word deur bewegingsteater en poëtiese monoloog vertel.
Jy skryf graag in Afrikaans, hoekom is dit vir jou belangrik om in Afrikaans te skryf?
Om eerlik met jou te wees, daar is vir my niks anders wat so lekker skryf soos Afrikaans nie. Dalk is dit omdat dit my moedertaal is, maar die klank, ritme, soms absolute anargie van die taal maak dit soveel makliker om daarmee te speel, te verniel en dan weer op te bou. Verder dink ek die beelde wat met woorde gevorm kan word, word dikwels nog ’n akteur op die verhoog wat saam skep en vertel.
Watter uitdagings is daar verbonde aan die skryf van ’n toneelstuk?
Persoonlik is dit altyd vir my ’n proses om myself stil genoeg te kry om vir ’n dag of twee my bas op ’n stoel neer te sit en aktief te skryf. Die opdroom deel van skryf is maklik, maar om dan pen op papier neer te sit is dikwels vir my ’n groot kat- en-muisspeletjie. As ek net eers die eerste twee of drie bladsye kan skryf, is ek al klaar halfpad aan die wen. Ek dink dit is hoekom ek so lief daarvoor is om met improvisasie en groepwerk te begin. Ek vind dat dit help as die akteurs ook insae in die storie, en veral op die karakters se stemme, kan hê, want dan is dit nie ek wat alleen skryf nie, maar ek wat met die groep se stemme skryf.
Dink jy daar is ’n toekoms vir die jeug in Suid-Afrika wat ’n loopbaan in die kunste wil volg en wat is jou raad vir iemand wat ’n voet in die deur wil kry?
Ek dink mense onderskat die kreatiewe sektor in die land — nie net in terme van finansies nie, maar ook in terme van wat dit vir die skep van ’n gevoel van gemeenskap, identiteit en kommunikasie beteken. Daar is ’n toekoms in die kunste, ’n moeilike een met sy eie hobbels en stampplekke, maar as jy aktief daaromheen kan dink en divers kan werk, is dit een wat ongelooflike waarde vir ’n mens inhou. Ek is self nie seker of my voet in die deur is nie, maar my raad sou wees dat ’n mens naïef-braaf alles moet aanpak. Vat ’n kans, skryf ’n teks, skep en ontwerp iets wat jou opgewonde maak. Ek dink om te begin, om net iets aktief na te volg, is dikwels die moeilikste deel.
Kanya, wat hou die toekoms vir jou in?
Tans is ek besig om my meestersgraad in teater te voltooi aan die Universiteit van Kaapstad, so vir die volgende jaar is daar nog baie lees-, skryf- en skepwerk wat voorlê, waaroor ek baie opgewonde is. In die toekoms sal ek eerstens wil bly groei as skrywer en regisseur. Dalk stadig begin eksperimenteer met film as ’n medium? Hopelik eendag my eie kunsmaatskappy-werkswinkel hê wat vermom en vervorm om kunstenaars in alle aspekte te help om te bly skep.
- Foto's: verskaf
Lees ook
Resensie: Op die hoek van die sesde straat deur Kanya Viljoen
Vrystaat Kunstefees 2018: RAAK deur Kanya Viljoen, ’n onderhoud