Resensie: Op die hoek van die sesde straat deur Kanya Viljoen

  • 1

Op die hoek van die sesde straat is ’n toneelstuk wat geraamtes en onderliggende pyn in ’n gemeenskap ontbloot. Dit kombineer twee uiteenlopende style: die een is realisties, effens komies met skerp dialoog; die ander is poëties, visueel treffend en het ’n stadige, onheilspellende tempo.

Met die eerste oogopslag lyk dit soos ’n liefdesverhaal, of 'n storie oor vriendskap. Twee bure ontmoet mekaar by die wasgoeddraad waar hulle 'n ongewone ooreenkoms bereik. Hy deel sy WiFi met haar en in ruil daarvoor bied sy aan om sy plant, wat in direkte sonlig moet staan, te sorg. Hulle raak onverwags beste vriende. Sy is ’n roekelose en waaghalsige alleenloper met ’n donker sin vir humor en ’n nikotienverslawing. Hy is ’n plantliefhebber, iemand wat ander mense se belange eerste stel (hy sorg byvoorbeeld vir sy ma), en 'n gehoorsame wetstoepasser. Die twee se interaksies met mekaar is snaaks, roerend, ongemaklik, intiem en soms emosioneel. Laura-Lee Mostert en Stefan Erasmus het ’n wonderlike konneksie op die verhoog en beweeg maklik tussen die komiese en swaarder tonele. Die dieper, donker tonele is slim versprei en maak die gehoor van die ongesêde pyn bewus, naamlik 'n gedeelde ondervinding wat hulle aan mekaar verbind.

Onder die oppervlak, in die skaduwees van die narratief (letterlik uitgebeeld in skaduwees en deur poppeteater), skuil die groot tragedie wat die gebeure in die toneelstuk dryf, naamlik die hartseer en heeltemal té bekende verhaal van Meisa wat op die hoek van Sesdestraat gewoon het. Meisa se man het haar verlaat vir ’n ryker vrou. Sy het haar  kinders uit die skool gehaal en stadig maar seker heeltemal verkrummel. Sy het dringende hulp nodig gehad, maar niemand was bereid om haar te help nie. Of dalk het hulle net nie geweet hoe nie? Sy is 'n tipiese tragiese figuur. Meisa se storie laat 'n mens dink aan dié van Medea, maar die moderne aanslag sorg vir 'n selfs. Die storie van Meisa herinner aan dié van Medea, maar die moderne herskepping is soveel meer treffend. Want ons almal ken daardie persoon of het al die storie gehoor van iemand wat op die afgrond staan, terwyl almal anders hulpeloos toekyk, onseker oor wat om te doen. Of die een waar iemand "onverwags" ’n geweer gryp en ’n hele familie uitwis voor hy of sy die wapen op hulself keer.

Tog loop mens nie uit en voel verpletter deur die hartseer verhaal nie. Die gevoel van hulpeloosheid word  deur die vriendskap wat om die wasgoeddraad ontwikkel, teengewerk. Die een waar twee jongmense wat die tragedie saam beleef het, mekaar help en so weer redes vind om aan te hou lewe. So verskillend soos wat hulle is, is hul invloed op mekaar ongelooflik positief. Sy kry hom so ver om te ontspan en sy drome te volg. Hy raak haar anker en help haar om vir die eerste keer in haar lewe met ander mense verhoudings te vorm. Sy vorm verbintenisse en word ’n belangrike lid van haar gemeenskap. Tragedie word dus op sy kop gedraai en gee hoop vir die mense in die gehoor: selfs in die moeilikste tye is daar mense wat bereid is om mekaar te help, is daar vriendskap en is daar geleenthede om iets van jou lewe te maak. Hartseer verander ons, maar die lewe gaan voort en ons hét steeds die mag om dinge te verander.

Kanya Viljoen is die regisseur en die stelontwerp en dekor is slim en uitstekend aangewend. Die vloei van die stuk is wonderlik en die struktuur skoon en netjies. Die akteurs is perfek gekies en albei karakters is volronde mense met wie die gehoor kan empatiseer. Ek het die stuk op Vrystaat Kunstefees gesien en na ’n week se feesviering was ek moeg, maar die subtiele toneelspel en gedetailleerde storie het my so weggevoer dat ’n uur se vertoning verby gevlieg het. Die stuk het lank by Kanya gebroei, maar die projek het eers werklik afgeskop na Vrystaat se Vrynge-program haar gekontak en aangebied het om ondersteuning te bied vir enige stuk wat sy na die fees sou wou bring. Dit was na haar vorige stuk Raak, baie goed gevaar het in die vorige jaar. 

As ’n jong teatermaker wou sy nie die geleentheid laat verbygaan om 'n nuwe, ekperimentele toneelstuk in ’n veilige ruimte te skep nie. Sy wou met albei akteurs werk en toe sy hulle kontak  het albei ingestem. Hulle het ingespring met 'n kort improvisasie-toneel wat as basis vir die teks gebruik is. Kanya wil almal se stemme in die stuk hoorbaar maak en sy glo dat dit die element is wat sorg vir 'n eerlike eindproduk. Ek glo ook dat dit  tot ’n baie gemaklike styl van toneelspel lei en die akteurs toon insig vir die temas en dieper betekenislae van die teks. 

Die stuk draai rondom die beeld van wasgoed en die simboliese assosiasies daarmee. Dit speel met idees soos om iets skoon te was, die intimiteit van vreemdelinge se klere op ’n publieke draad, die herhaling van ophang en afhaal, en die gemeenskap van vreemdelinge. Kinderlike storievertellingsmetodes soos die poppekas word aangewend. Klere en lakens word ingespan om dit wat ons nie in woorde kan sê nie visueel uit te beeld. Soos Kanya sê: “Daar is iets inheems menslik verbonde aan tragedie. Ons almal verstaan wat dit is. Dat goed gebeur wat buite ons beheer voel en hoe dit voel om in verhouding tot iets groter as ons te staan.” Dit is wonderlik om jong teatermakers te volg wat bereid is om rond te speel en te vertrou dat, as hulle dit net toelaat, die stuk vanself sal kom tot wat dit moet wees. Hopelik sal Op die hoek van die sesde straat een van die dae in Kaapstad te sien wees.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Bertus Mostert

    Wat ‘n uitstekende stuk goeie werk van regisseur sowel as uitstekende toneelspel deur die akteurs.
    Voorwaar ‘n moet-sien- en-beleefstuk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top