
Naomi Meyer praat met storieverteller Danneline Ramsden en skrywer, regisseur en sangeres Melissa Moses oor ’n produksie wat in hierdie feestyd die wêreld van die Kaapse Vlakte en die landskap van Namakwaland met mekaar versoen het.
Danneline en Melissa, ek wil vir julle vra oor Kaapse Krismis. Vertel asseblief eers: Wie is julle en hoe het julle mekaar ontmoet?
Danneline: Ek, Danneline, is van Komaggas in die Noord-Kaap. Dis my komvandaan, soos ons in Namakwaland daarna verwys. Ek is ’n veelsydige kunstenaar en skrywer wat als van storievertel, toneel en MC-werk doen.
Melissa: En ek is Melissa, ’n sangeres en skrywer woonagtig in Somerset-Wes, waar ek ook sang afrig op ’n daaglikse basis. Ons het ontmoet deur ’n gemeenskaplike vriendin en toe ons agterkom dat ons albei kreatiewe mense is, was dit net ’n kwessie van tyd voor die gogga byt en ons ’n projek saam aanpak!
Julle het pas so ’n Kaapse Krismis opgevoer. Watter soort produksie is dit en wat was julle elkeen se onderskeie rol?
Melissa: Die produksie het reeds in 2018 op my [Melissa se] hart gelê nadat ek Danneline se show by die Woordfees daai jaar bygewoon het. Dit was die eerste keer dat Kaapse Krismis opgevoer is, by die Drostdy Teater in Stellenbosch. Die idee was om iets Kaaps en iets Krismis in een produksie te geniet, wat musiek en storievertel bymekaarbring. Die kernstorie is die Kersverhaal – met ’n twist.
........
Ons wil nie als verklap nie, maar dis soos ’n gelykenis. Die storie soos ons dit ken, wat afspeel hier en nou, op die Kaapse Vlakte met onse mense en in onse taal. ’n Veelsydige en diverse geselskap wat Suid-Afrika se ryk kulturele tapyt vier, het toe weer hierdie jaar die geleentheid gehad om dit op die planke te bring.
........
Ons wil nie als verklap nie, maar dis soos ’n gelykenis. Die storie soos ons dit ken, wat afspeel hier en nou, op die Kaapse Vlakte met onse mense en in onse taal. ’n Veelsydige en diverse geselskap wat Suid-Afrika se ryk kulturele tapyt vier, het toe weer hierdie jaar die geleentheid gehad om dit op die planke te bring. Twee publieke konserte wat ’n heerlike, intieme en gesellige affêre was, en toe ook ’n privaatvertoning by ’n aftreeoord op Stellenbosch. Mens, maar was dit nou vir jou lekker!
Kaapse Krismis. Maar Danneline, jy kom van Komaggas se wêreld af! Hoe versoen jy toe die storie van die Kaap met die storie van Namakwaland?
Alhoewel die storie afspeel in die Kaap, wou ons seker maak om Namakwaland daarmee te verbind. Dié dat ons dit toe in die teks weef met die wegsteek van Jesus, sodat Herodes hom nie kon kwaad aandoen nie. In ons storie vlug Josef en Maria met Jesus na Danneline se tuisdorp, Komaggas.
Hoe het dit gegaan? Wat was die gehoor se reaksie en terugvoer?
Dit was uitstekend! Die span het dit baie geniet en die gehoor was meelewend. Mense was dalk nie heeltemal seker wat om te verwag nie, met die titel wat eintlik reeds ’n aanduiding gee van iets interessants en ongewoons.
........
Die terugvoering was baie positief en mense was ontvanklik vir ’n nuwe, vars perspektief. Almal het weggestap met nuwe waardering en ’n vars uitkyk op die Kersverhaal, asook harte wat vol was na ’n vertoning met pragtige musiek.
.........
Die terugvoering was baie positief en mense was ontvanklik vir ’n nuwe, vars perspektief. Almal het weggestap met nuwe waardering en ’n vars uitkyk op die Kersverhaal, asook harte wat vol was na ’n vertoning met pragtige musiek.
Hoe het dit met die kaartjieverkope gegaan?
Ons is so dankbaar dat albei publieke vertonings uitverkoop wass. Dit is spesiaal om die unieke produksie vir ’n diverse gehoor aan te bied en te sien dat almal daarby aanklank vind.
Wat beplan julle vir volgende jaar?
Ons oorweeg dit sterk om die produksie weer volgende jaar aan te bied – daar is ’n aanvraag om dit na verskillende dorpe te neem. Mense is welkom om ons te kontak om die produksie te bespreek. (Kontak Danneline by dannelinerams@gmail.com en vir Melissa by melissalindoor@yahoo.com.) Ons wil dit baie graag Namakwaland toe bring – en dit dan verwerk vir die mense van die Noord-Kaap. Ons dink ook aan ’n nuwe produksie waaraan ons nog sal skryf en beplan. ’n Paar idees is al bespreek en ons sien uit om nog dinge saam aan te pak. Met Melissa se musiek, skrywe en regie en Danneline se storievertel, maak ons ’n gedugte span en ons geniet om saam te werk!
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Skatkis vol stories – ’n onderhoud met Danneline Ramsden
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: Oesie meense – ’n onderhoud

