
Selfportret, met perskaarte
Daar is ’n oomblik in ons gesprek wat Johan Allers onverwags klein maak. Nie toe hy van Nelson Mandela vertel nie. Nie toe hy die val van die Berlynse Muur onthou nie. Nie eers toe hy vertel hoe hy uit 54 lande verslag gedoen het nie. Dit gebeur wanneer hy skielik stil raak en sê: “Ek het die feite geken. Maar nie altyd die groter storie nie.”
Hy sê dit sonder enige selfbejammering, amper asof dit die vanselfsprekendste ding in die wêreld is.
*

Praat, praat, praat. Op Monitor in die oggend, Spitstyd in die middag en TV Nuus in die aand, deur 54 lande en honderde stede. Klik hier vir meer foto’s uit sy album.
*
Voor my sit ’n man wat 16 jaar lank Suid-Afrika se venster op die wêreld was. Hy het oor revolusies verslag gedoen, wêreldleiers ontmoet en geskiedenis sien afspeel terwyl dit nog nuus was. En tog is dit nie daardie oomblikke wat hom vandag die meeste besig hou nie.
Terwyl ons oor Zoom gesels, sit hy rustig voor ’n eenvoudige muur in sy huis in Amsterdam. ’n Groot mikrofoon staan langs hom soos ’n ou kollega wat nog nie heeltemal afgetree het nie. Hy leun effens vorentoe wanneer hy praat. Voor baie antwoorde kyk hy eers vir ’n oomblik af, asof hy eers deur die jare moet stap voordat hy die regte herinnering optel.
Wanneer ek hom vra hoe hy homself beskryf, antwoord hy sonder huiwering.
“Storieverteller.”
Dit is hoe die 69-jarige voormalige buitelandse korrespondent homself beskryf. Nie as die man wat tussen 1984 en 1995 uit meer as 50 lande verslag gedoen het nie. Net: “Ek is al my lewe lank ’n storieverteller.”
Hy glimlag. “Ma, ek het dit gesien. Pa, ek het dit gesien. Het julle dit al gesien?”
Sy storie begin op ’n klein dorpie buite Johannesburg. Edenvale. Daar word hy groot in ’n tipiese Afrikaanse gesin met vyf kinders. Sy pa het nooit universiteit toe gegaan nie. Hy was ’n gewone man. Maar in Johan se oë was hy iets anders. ’n Meesterverteller.
“My pa sou daai vis elke keer groter maak.” Hy lag wanneer hy dit sê. “Hy kon die mooiste Afrikaans praat.”
Wanneer hy oor sy pa praat, verander iets in sy stem. Dis sagter. Stadiger. Vir ’n oomblik verdwyn die internasionale korrespondent en sit daar weer ’n seuntjie wat met groot oë luister.
“Ek dink alles kom van hom af.”
Daardie liefde vir stories sou later op plekke beland waarvan sy pa waarskynlik nooit kon droom nie. Moskou. Washington. Rome. Hy werk uiteindelik 16 jaar lank as die SAUK se buitelandse korrespondent. Terwyl Suid-Afrikaners saans die nuus kyk, leef hy uit ’n tas. Maandag is hy in Genève. Woensdag in Parys. Vrydag in Berlyn. Die volgende week dalk in Noorweë of Skotland.
“Drie stories ’n week vir televisie,” sê hy. “En dan nog radio.”
Hy haal later ’n Excel-lys uit waarop hy al sy reise begin dokumenteer het. Vier-en-vyftig lande. Honderde stede. Hy skud sy kop ongelowig wanneer hy daarna kyk.
“Dis belaglik.”
Die indrukwekkendste deel van sy loopbaan is nie die getalle nie, dit is die oomblikke. Hy was daar toe die Berlynse Muur geval het. Hy het die verbrokkeling van die Sowjetunie beleef. Maar opvallend genoeg praat hy skaars oor die prestasie; hy praat oor die mense. Hy onthou Moskou met die verwondering van ’n jong man uit Edenvale. Die sneeu wat oor die Rooi Plein val. Lenin se wagte wat doodstil voor die mausoleum staan. ’n Beeldskone Russiese gids wat hom deur die stad lei. “Ek was blown away,” lag hy. Eers op pad lughawe toe draai sy begeleier om en praat onverwags Afrikaans met hom.
Later sou hy mense ontmoet wie se name vandag in geskiedenisboeke staan. Tony Blair, Bill Clinton, Michail Gorbatsjof en Kofi Annan. En natuurlik Nelson Mandela.
Wanneer hy oor Mandela praat, kyk hy nie na die kamera nie. Hy kyk effens weg, asof die herinnering steeds groter is as die woorde. Hy onthou die oproep van Mandela se kantoor terwyl hy in Portugal was. Mandela wou hom in Genève sien.
“Ek het soos ’n kind voor Mandela gesit.”
Hy glimlag verleë.
“Die beeld van my kon ons amper nie gebruik nie. Ek het net met sulke groot oë gekyk.”
Wanneer hy vandag terugdink aan Mandela, is dit nie die onderhoud wat hom bybly nie.
“Dit was ’n ontmoeting met myself.”
Nie met ’n president nie, maar met sy eie geskiedenis.
Toe hy oor die val van die Berlynse Muur praat, sê hy: “Ek was eintlik maar ’n klein SAUK-outjie.”
Hy verduidelik dat hy destyds die feite geken het – wanneer die muur gebou is, wie die leiers was en wat daardie dag gebeur het – maar dit was eers baie jare later dat hy werklik verstaan het wat hy aanskou het.
“Ek was nie voorberei vir wat ek beleef het nie.”
Maar hoe opwindend die wêreld ook al was, het dit ’n prys geëis. Wanneer hy oor daardie jare praat, raak sy stem stadiger en sy glimlag verdwyn. Hy beskryf dae waar hy skaars tyd gehad het om te eet. Van die lughawe na ’n perskonferensie. Van daar na ’n ateljee. Dan snywerk. Dan regstreekse nuus. Dan weer die vliegtuig.
Hy noem dit vandag sonder enige drama.
“’n Totale fisieke en geestelike ineenstorting.”
“Burn-out.” Hy sê dit amper klinies. As iemand wat lankal vrede daarmee gemaak het.
“Ek het myself mal gewerk.”
Dit het hom byna twee jaar geneem om weer homself te word. Later verhuis hy Nederland toe, want toe hy Nederlands op straat hoor, het Afrikaans vir hom weer nader gevoel.
“Dit was ’n emosionele besluit.”
Die vliegtuie het intussen stil geword, maar die stories nie. Vandag ry hy met sy fiets deur Amsterdam, maak video's vir LitNet en gesels weekliks op sy potgooi met Suid-Afrikaners uit byna elke denkbare politieke hoek. Hy wil nie mense in kampe verdeel nie, daarom praat hy met almal. Van Julius Malema se bondgenote tot mense in Solidariteit en AfriForum.
Hy beskryf sy rol met ’n eenvoudige beeld. “Ek is die ou wat met die bootjie in die middel van die rivier vaar.” Hy wil nie een oewer kies nie, hy wil verstaan waarom albei bestaan.
Teen die einde van ons gesprek vra ek hom of hy al ooit daaraan gedink het om sy eie boek te skryf. Hy lag. Hy hét, maar toe hy dit weer lees, het dit vir hom te veel oor homself gegaan.
“Ek is skaam en skugter om dit te publiseer.”
Dit is moeilik om aan ’n mooier slot vir Johan Allers se lewe tot dusver te dink.
Hier is ’n man wat saam met wêreldleiers aan tafels gesit, revolusies sien ontvou en van die grootste oomblikke van die 20ste eeu beleef het. En tog praat hy vandag nie eerste oor wat hy gesien het nie. Hy praat oor wat hy eers later verstaan het.
“Ek was nie voorberei vir wat ek beleef het nie.”
Johan se fotoalbum

My loopbaan as joernalis het in die tagtigerjare begin. Ek ontmoet vir Anneline Kriel, volg prinses Anne in Swaziland en gesels met Zola Budd. (Foto’s van prinses Anne en Zola Budd deur Nardus Nel.)

Ek word “ons man in die buiteland”. Die eerste drie postapartheid presidente.

My eerste besoek aan Berlyn by Checkpoint Charly en die beroemde Berlynse Muur. Op 9 November 1989 het ek, na weke van 'n vreedsame revolusie, die ineenstorting van die muur beleef, 'n gebeurtenis wat massiewe geopolitieke verskuiwings in die wêreld teweeggebring het wat ek destyds nooit werklik verstaan het nie. Dit was inderdaad “die einde van die geskiedenis”.

Ek volg Mandela op nege buitelandse besoeke. Hier saam met die president van Finland en wenner van die Nobelprys vir vrede, Martti Ahtisaari, in Helsinki.

Die verloop van die geskiedenis: Drie Suid Afrikaanse ministers van buitelandse sake. Pik Botha (die langsdienende minister van buitelandse sake), Alfred Nzo (ons eerste swart minister van buitelandse sake) en Nkosazana Dlamini-Zuma (ons eerste vroulike minister van buitelandse sake).

Aan die gesels met Gerrit Komrij (Nederlandse digter, kritikus, polemikus en dramaturg), en ’n onderhoud met Martti Ahtisaari in die Presidentspaleis in Helsinki.

Baklei met Blair in Brussel. ’n Ongemaklike situasie tussen my en die Britse premier toe ek sy rol in die oorlog in Irak bevraagteken.

In die Europese Thalys, nou die Eurostar, op pad na 'n ontmoeting met Thabo Mbeki in Parys en later saam met hom in Skagen, die mees noordelike dorp in Denemarke.

Op die spoor van Mbeki vlieg ons oor die Skagen Odde in Noord-Jutland (die noordelike deel van Denemarke) waar Mbeki op my en kameraman, Darin Campbell, wag.

Jare van nuus het my uitgebrand. In ’n poging om te herstel doen ek twee “sagte” reekse vir kykNET saam met Amanda Strydom (Trippe trappe trone) en Valiant Swart (Veertig dae deur die Delta).
- Die foto’s is Allers eiendom en is deur sy kameraman Darin Campbell geneem, tensy anders vermeld.
Lees ook:
Pareltjes uit Amsterdam: "Josephine Baker: ’n lewe van weerstand"
Pareltjes uit Amsterdam: ’n Suid-Afrikaanse fokus op die Rijksmuseum
Franz Marx: Uit die perd se bek deur Chris Vorster: persoonlike herinneringe en foto’s


Kommentaar
Man met die mooiste stem! Wat 'n kleurryke lewe.