![]() |
|
Sêgoed van Jan van Tonder “Skryf is ’n passie, maar dit is beslis nie maklik nie. Ek stem saam met ’n skrywer wat een keer gesê het: ‘I don’t like writing. I like to have written.’ Dit is nie maklik nie. Elke sin word geskryf met ’n rede en moet aanleiding gee tot ’n volgende punt. Jy moet karakters in jou kop skep en hulle moet interessant en geloofwaardig wees. As dit vir jou begin lekker raak wanneer jy skryf, is jy besig om nonsens te skryf.” (Rapport, 8 April 1990) Hoe om te leer skryf en jou skryfvermoëns te verbeter: “Lees, lees, lees! Jy moet soveel as moontlik lees in die genre waarin jy skryf. Alle goeie skrywers lees; dis die enigste manier om te verbeter.” (Rapport, 8 April 1990) Oor die stelling dat ’n skrywer vir homself skryf met geen spesifieke gehoor in gedagte nie: “Daar is min dinge belagliker as daardie stelling. As dit die goddelike waarheid was, waarom publiseer die mense hul werk dan? As iemand in die stort sing en vir my sê dit is vir homself, glo ek hom, maar wanneer hy dit oor die radio doen en dieselfde ding beweer, weet ek hy lieg.” (Volksblad, 19 Mei 1990) Oor pryse: “Oor pryse is ek dankbaar (veral dié wat ek ontvang het). Dit bly ’n aansporing vir gevestigde skrywers en lok nuwes lessenaar toe. Ek wonder byvoorbeeld of ek ooit ’n radiodrama sou geskryf het as daar nie prysgeld aan verbonde was nie – ’n mens kan soveel werk doen vir die patetiese bedraggie wat jy vir die gewone uitsaai van ’n radiodrama betaal word nie. Dit geld boeke soms ook: ek het met die smous van een van my boeke meer verdien as met die tantième wat ek gekry het.” (LitNet) Resensente: “Hulle bevind hulle seker in ’n groot mate in dieselfde posisie as verkeersbeamptes: as daai wit handskoen vir jou wys jy kan maar ry, is die spietkop nice, maar as hy wys jy moet stilhou omdat jy te vinnig gery het, of jy met ’n selfoon in die hand betrap is, is hy ’n bliksem.” (LitNet) “Ek is min beïndruk met die mens as groepsdier. Individue gryp my verbeelding aan. En niemand is meer van ’n enkeling as ’n outsider nie, of hy dit is omdat hy dit verkies, of omdat die samelewing dit van hom maak, of as gevolg van ’n gebrek/talent/versteuring.” (LitNet) “Skrywers en ander kunstenaars moet van buite kan inkyk, maar ook van binne af uit. ’n Mens skryf moeilik oor die dinge waarvan jy nie kennis of ervaring het nie. Daarom kan jy nie op die periferie bly staan nie.” (LitNet) “Met die skryf van Roepman het ek probeer verstaan waar ek vandaan kom, wie ek is, in watter mate my omgewing my gevorm het. Ek het simbolies op die grond gespoeg en modder aangemaak en aan my ooglede gesmeer en vir myself gesê: Sien ’n slag, en moet nooit weer néérsien op waar jy vandaan is, of waar ander vandaan is nie of waar wie ook al nou is nie. Ek het ’n probleem daarmee dat mense na poepôlle opsien net omdat hulle ryk is.” (Insig, 30 November 2004) “Roepman is ’n verhaal wat vertel móés word, maar ek sou dit nie kon doen toe ek dertig was nie – ek sou nie gereed gewees het daarvoor nie, te onryp om te gaan krap in doerietyd se dinge, te onwys om te begryp wat daar alles gebeur het. En toe kry ek ’n dringendheid daaroor. Dit moes vanjaar verskyn.” (Insig, 30 November 2004) “Ek het wat ek nog altyd wou hê. Ek het nie veel meer nodig as wat ek het nie. ’n Lekker dak oor my kop, ’n mooi uitsig en ’n voertuig om mee te ry. Ja, en ek sou iemand wou hê om saam mee oud te word. En bitter graag ’n kind.” (Insig, 30 November 2004) “Ek sal ’n gans ander mens word as ek nie skryf nie. ’n Ou drol.” (Insig, 30 November 2004) “Ek wil niks na ’n sedeles laat klink nie. Ek is nie ’n moeilikheidsoeker nie. Ek wou net ’n storie skryf oor hoe mense lyk en oor hoe hulle kán lyk. Ek het nie die issues berekend aangepak nie. Dit kom oor en oor in my skryfwerk uit hoe ongenadig mense kan wees teenoor dié wat aan hulle uitgelewer is. Ek skryf: ‘Kyk hier hoe is ons. Dis nie hoe ons gemaak is om te wees nie.’ As ek vir my myself kon laat sien, kan ek dalk vir iemand anders help sien deur iets wat ek self gesien het.” (Insig, 30 November 2004) “Ek het ’n vermoede dat die meeste mense nie eens wéét ek skryf nie. En ek wíl so graag beroemd wees. Mense hoef my nie op straat te herken nie. Ek wil net ongemerk hoor hulle sê vir mekaar: ‘Dis ’n móói storie dié’.” (Insig, 30 November 2004) “Ek wil skép, ek wil mense laat huil en lag. Ek dink dis die oudste sonde, om soos God te wil wees. Om te wil skep.” (Insig, 30 November 2004) “’n Skrywer mag hom aan nóg staat, nóg ideologie, nóg kerk godsdienstig maak, Elke politieke of teologiese denkrigting het ’n meerdere of mindere persentasie klei in die voete. As die skrywer so in verwondering staan oor die standbeeld dat hy nalaat om die klei in die voetstuk genadeloos aan te val in ’n poging om dit met iets sterker en beter te vervang, kan hy net sowel registreer as ’n kopieskrywer in daardie organisasie/regering se propagandakantoor.” (Die Burger, 22 Mei 1990) “Die skrywer het ’n plig om nie net verkeerde ou stelsels af te breek nie, maar ook om te sorg dat daar gesonde nuwes in die plek daarvan kom.” (Die Burger, 22 Mei 1990) Watter prosavorm (kortverhaal of roman) verkies hy? “Ek sou moeilik kies, maar die geleentheid wat die roman my bied om so diep as moontlik in so veel as moontlik skakeringe van ’n karakter se persoonlikheid te krap, is vir my nogal bevredigend. Die karakter/s wat ek gemaak het, moet vlees en bloed genoeg hê om ’n leser te laat lag en huil.” (Beeld, 15 Mei 1990) Op LitNet maak Madri Victor die stelling dat Jan van Tonder se vrouekarakters sterker as die manlike karakters is: “Die kort antwoord hier? Ek hou meer van vroue as van mans. Ek het in ’n huis vol van hulle grootgeword: vyf sussies, my ma, my ouma en ons huishulp. Dit teenoor een broer en ’n pa. Telkens voel ek die krag van vroue aan, sien ek hoe hulle kan uithou en aanhou en ’n gelapte spul kan bymekaarhou. Selfs die meisiekinders in my jeugstories troon bo die seunskarakters uit.” “Wanneer ek skrywe, soek ek plekke en dinge uit wat by my storie pas, en om dit te kan doen, moet ek die wêreld waarin dit afspeel, ken (of leer ken). Sodoende lei ek sommige lesers hopelik deur ’n bekende tyd en wêreld, en ander in die belewing van nuwe dinge.”(LitNet) Oor sy skryfwerk: “Ek skryf van nature redelik gestroopte, onderbeklemtoonde prosa. Ek onthou my wonderlike uitgewer, Marietjie Coetzee, het destyds met Is Sagie vir my gevra of ek nie die liefdestoneel tussen Sagie en Ansie net so ’n bietjie meer eksplisiet sal maak nie. Toe ek haar weer sien, het ek vir haar gesê ek het probeer, maar Sagie wil nie.” (LitNet) Oor die aanpassing van romanskryf na draaiboekskryf: “Elke genre stel sy eie eise en sy eie reëls. Ek moes heelwat lees oor draaiboekskryf: The idiot’s guide to screen writing, William Goldman se Adventures in the screen trade, Screen writing van Syd Field. En soveel as moontlik draaiboeke. (...) Ek glo ’n draaiboek moet so getrou as moontlik aan die siel van die boek bly, want dit is tog wat die vervaardiger/regisseur se belangstelling aanvanklik geprikkel het. Maar draaiboek skryf is nie vir sissies nie.” (Volksblad, 14 November 2011) Waar skryf hy? “In my kop, meestal, maar omdat dié so deurmekaar is, skryf ek net dit wat sin maak neer, en selfs dit verg her- en her- en herskryf voordat dit onder ander oë kan kom. As jy die plék bedoel: in my werkkamer op ’n rekenaar, en as dit daar te eensaam raak, met pen en notaboek by wyle Bertie Reed se restaurant in Harbour Island, Gordonsbaai, waar ek die see en bote in die hawe kan bekyk, en stemme om my hoor.” (Volksblad, 14 November 2011) “Met verloop van tyd het ek geleer wanneer jy iets in jou eie vel beleef, iets wat jou emosies holderstebolder krap, vóél dit altyd so ’n bietjie interessanter as wat dit regtig is. Ek dink dis vir ons gewone sterflinge moeilik om te erken, maar 99% van ons se lewe is so donners vaal. Saai. Saai verby. Maar woorde ... woorde kan daai saaiheid ’n wyle laat wyk.” (Rapport, 31 Maart 2019) Oor sy liefde vir die Klein-Karoo: “Van kleins af het ons as gesin Desembervakansie per trein Klein-Karoo toe gereis. Dit was die hoogtepunt van my jaar. As student het ek weer daarheen gegaan en besef dat my liefde vir Dwarsrivier en sy mense nie net ’n kinderparadys was nie, maar dit altyd sal wees.” (Volksblad, 3 April 2019) “As skrywer het jy die voorreg om weg te vat en by te lap; jy hoef jou nie tot ‘die waarheid’ of ‘die feite’ te beperk nie. Vir die mens was die waarheid immers nog nooit goed genoeg nie. Ek dink die waarheid is hopeloos te veel vir ons. Dit sit ons ore aan.” (Rapport, 31 Maart 2019) Het Jan van Tonder ’n bucket list? “Ek wil net altyd ’n sinvolle bestaan kan maak – leef, lees en skryf, ’n gemaklike bestaan maak uit skryf, sodat ek kan bekostig om te reis vir navorsing.” (Kaapse Bibliotekaris, September–Oktober 2018) Is kortverhale sy eerste liefde, of het romans daardie plek ingeneem? “Skryf is my allesoorheersende liefde. Die genre wissel. Die afgelope jare hou ek meer van romans, maar ek word soms verlei om iets anders aan te pak – aandagafleibaarheid synde een van my vele tekortkomings. Buiten romans en kortverhale het ek al suksesvolle radio- en verhoogdramas geskryf, selfs die eerste weergawe van Roepman se draaiboek. Ek droom van ’n digbundel, maar nie alle drome word waar nie.” (LitNet, 12 Mei 2020) Hoekom skryf hy? “Ek deug nie as baas óf Klaas nie. Skryf maak my vry. Dit is ’n keuse waarvoor ek soms duur betaal, want ek weet nooit of die een boek vir die volgende sal betaal nie.” (Netwerk24, 21 November 2021) Oor sy boeke wat vir skole voorgeskryf word: “As ’n skrywer se skryfwerk sy enigste inkomste is, sorg dit vir ’n dak oor die kop, iets waaroor ek baie dankbaar is. Die feit dat my werk oor jare en selfs dekades voorgeskryf word, skryf ek toe aan die eenvoud en universaliteit van die verhale.” (Maroela Media, 14 Junie 2020) |
Gebore en getoë
Jan van Tonder is op 29 Augustus 1954 op Sabie in die Oos-Transvaal gebore. Hy is die jongste van sewe kinders – hy het een broer en vyf susters. Jan se pa was operateur van ’n stootskraper en eenmanbaggerboot en as jongman wou hy ingenieur word, maar die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het dit verhoed. Sy ma was ’n huisvrou. Jan bring sy jeugjare in Durban deur en matrikuleer in Stanger aan die Natalse Noordkus.
Jan vertel dat hy op skool nooit ’n goeie student was nie, maar hy was altyd goed met opstelle. “Ek het daarvan gehou om my eie ding te doen en het nooit regtig aan spansport deelgeneem nie.”
In 2004 roep Jan hierdie tyd op: “Dit was wonderlik om daar (in die Durbanse spoorwegwoonbuurt) groot te word. Daar was ’n rykheid en ’n lekkerte van mense bymekaar. Waar mense saam swaarkry, is daar altyd ’n sekere warmte.”
Jan vertel aan Mariëtte Crafford (Insig, 30 November 2004) dat die Van Tonder-gesin in die spoorwegjare in meer as een spoorwegwoonbuurt gebly het.
Ook vandat hy kan onthou, het hulle in buurte gewoon waar “minder begunstigdes” van allerlei aard deur hul omstandighede bymekaar gegooi is. “Daar was veral twee jaar, in ’n bitter ontvanklike tyd van my lewe (die eerste twee skooljare) wat ons in ’n buurt gebly het waarna party mense spottend as ‘Klein Hollywood’ verwys het. My ma het hard probeer om ons te beskerm teen wat om ons aangegaan het, maar ’n kind sien en hoor en voel mos fyn. Party mense word in omstandighede ingedwing, of daarin gebore, en wegkomkans is daar nie. Selfs die gelukkiges, of dié met ouers soos ek, my broer en vyf susters, wat die skok van baie houe vir jou absorbeer, selfs hulle kom nooit regtig los van daardie soort herinneringe nie,” vertel hy aan Elfra Erasmus (Die Burger, 26 Mei 1990).
Verdere studie en werk
Na matriek is Jan na die Suid-Afrikaanse Vloot in Simonstad, waar hy as hondehanteerder werk. Hy gaan daarna na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1978 sy BA-graad behaal. Hy studeer aanvanklik vir predikant, maar beskou sy jare lange onsuksesvolle pogings om Grieks en Hebreeus onder die knie te kry as ’n Vingerwysing en volstaan met sy BA-graad met Afrikaans, Sielkunde en Kriminologie as hoofvakke. Jan werk vyf jaar aan ’n driejaargraad, maar verontskuldig homself hieroor deur te vertel dat hy gedurende vakansies veertien tot twintig uur per dag as stoker en kaartjiesondersoeker moes werk.
Gedurende sy finale jaar op universiteit is hy getroud. Hy vertel dat die huwelik oorhaastig binnegegaan is en na enkele jare op dieselfde wyse ontbind is “jeugdige ongeduld met die aanpak en deurvoer van iets wat andersins ’n lewe lank sou kon gehou het”. Hy is nie weer getroud nie en is na die beste van sy wete kinderloos.
Hy werk as nywerheidsopleidingsbeampte (vir twee jaar), tronkbewaarder, joernalis (by verskeie koerante, onder andere as hofverslaggewer by Die Transvaler en ook by die SAUK), restaurantbestuurder, skilder en natuurlik skrywer. Die jaar in die Gevangenisdiens en die stuk of ses, sewe jaar as verslaggewer het seker die grootste invloed op sy skryfwerk gehad. Aan Elfra Erasmus (Die Burger, 26 Mei 1990) vertel hy: “In die tronk en op sekere plekke waar ’n verslaggewer met mense te doen kry, byvoorbeeld die Hooggeregshof, is daar nie geheime nie; daar staan ’n mens poedelkaal, gestroop van feitlik alle maskers.”
In 1979, die jaar toe hy as bewaarder in die Point-gevangenis in Durban gewerk het, begin Jan skryf. Hy vertel aan Elfra Erasmus in Beeld van 15 Mei 1990: “My gedurige gekyf oor die behandeling van die mense (die gevangenes) het veroorsaak dat ek met ’n groot geweer in ’n wagpos op die muur beland het. Maande van frustrasie wat my tot by die punt gedryf het waar ek ’n keuse moes doen. Ek moes kies: gaan ek die hoof van die gevangenis skiet of myself? Dit was te veel van ’n Catch 22-situasie en ek het besluit om ’n storie te skryf, ’n kortverhaal wat my gedagtes oor die mure sou wegvat, na ’n wêreld van onskuld. Die verhaal is gepubliseer en is aangewys as Huisgenoot se Kortverhaal van die Maand. Dit was die voorloper van my latere werk Is Sagie.”
In 1983 word Jan se eerste boek, Wit vis, deur Perskor gepubliseer. Dit beeld die trauma van ’n lesbiese verhouding in ’n eng gemeenskap uit. Koos Bester skryf in sy resensie in Die Vaderland (5 Maart 1984) dat daar klein hinderlikhede is wat die uitgewer kon uitgeskakel het, maar dat daar tog sterk oomblikke in die boek is en dat Van Tonder die skryfkuns waardig is.
Jan self sê dat die boek te vroeg uitgegee is. “’n Skrywer is altyd haastig om sy eerste boek te laat verskyn. Dit is soos ’n tiener in wie die eerste jeuk van sy/haar seksualiteit gekom het – hy/sy weet dat dit goed is om te wag met die liefde tot dit die liefde behaag, maar meestal ontbreek geduld (vra maar Maretha Maartens se hoofkarakter in ’n Pot vol winter) en dan is die agtersitplek van ’n motor ook goed genoeg. As ’n mens terugdink aan daardie eerste ondervinding, is dit nie met ’n gevoel van genoegdoening nie, want die tyd was nie ryp nie. Jy ook nie. Wit vis was ’n agtersitplek-ondervinding wat ek liewer wil vergeet.”
Jan se volgende publikasie, ’n bundel kortverhale getiteld Aandenking vir ’n vry man, word in 1984 deur HAUM-Literêr uitgegee. Die bevat 23 kortverhale uit en oor die tronkbestaan en word byna almal vanuit die hoek van die gevangenes vertel. Hieroor laat André P Brink (Rapport, 19 Mei 1985) hom as volg uit: “[D]ie kortverhaalbundel Aandenking vir ’n vry man wat pas by HAUM-Literêr verskyn het, is des te meer ’n verrassing. (...) Van Tonder is ’n meester van die skielike ommekeer, veral dan in kort bestek, en juis die eienaardige, kru, stroefheid van die taalgebruik maak dit treffend, met ’n soort kale, bloedige reportage-eerlikheid. (...) En nog selde is hierdie gruwelike skemerwêreld in ons midde met soveel verdoemende oortuigingskrag voor Afrikaanse lesers ontbloot.” Hy sluit af deur te sê dat Aandenking vir ’n vry man iets “memorabels” is.
Vir HP van Coller (Volksblad, 11 Mei 1985) is een van die pluspunte van Aandenking vir ’n vry man “juis die afwesigheid van ’n opvallende manipulering deur die outeur, hoewel daar nie sprake kan wees van onbetrokkenheid nie. As geheel is hierdie verhale ’n felle aanklag teen ’n stelsel waarin mense uitgelewer word aan die genade en willekeur van ander.”
Jan ontvang van Perskor ’n leergebinde eksemplaar van die bundel. By die oorhandiging sê prof Elize Botha (Transvaler, 28 Maart 1985) die volgende: “Merkwaardige dissipline word deur die skrywer aan die dag gelê. Hy ontkom aan twee gevare – sensasie en sentimentaliteit. Hy soek geen maklike oplossings nie. Hy beweeg verby reportage na literêre vormgewing en sê die onsegbare, sodat die verhale in sy hande veel méér word as die oorspronklike feite. Abraham de Vries beskou die bundel as een van die beste Afrikaanse kortverhaalbundels wat hy die vorige aantal jare gekeur het.” (Transvaler, 10 Desember 1984)
Vir sy volgende werk keer Jan terug na prosa. Is Sagie word in 1987 gepubliseer, ook deur HAUM-Literêr, en dadelik trek dit die aandag van letterkundiges én gewone lesers. Dit vertel die verhaal van Sagie, ’n vertraagde natuurkind, en sy liefde vir Ansie.
Ia van Zyl (Die Republikein) skryf dat hierdie kort roman soos ’n vars bries in die wêreld van die Afrikaanse letterkunde is waar dit deesdae behoorlik wemel van allerlei vreemde dwarrelwinde wat die gewone leser heeltemal buite rekening laat. “Van Tonder bewys dat dit vir die Afrikaanse skrywer nog moontlik is om met die taal in sy eenvoudigste – en derhalwe suiwerste – vorm en met die lewens van doodgewone, ongekompliseerde mense as grondstof, ’n meesterstuk te skep. Want Is Sagie is in elke opsig ’n meesterstuk.”
Volgens Heilna du Plooy (Beeld, 16 November 1987) word die verhaal gemaklik en vloeiend, en in ’n volgehoue pas vertel, sodat die leser inderdaad deur die lotgevalle van die karakters meegevoer word. Is Sagie was in 1987 en 1988 finalis vir die ATKV-Prosaprys.
Jan vertel aan Sonja Loots (Rapport, 17 Oktober 2004) dat Is Sagie gebore is uit ’n verlange na onskuld. “Ek het daar in die tronk soveel skuld gesien. Toe stroop ek Sagie van alles wat boos is. Dis waarskynlik hoekom hy verstandelik vertraag is. Dit lyk my hoe onskuldiger ’n ding is, hoe minder intellek is daar. Het jy al in ’n Jersey-kalf se oë gekyk? Dis net die mooiste ding; ek verstom my elke keer.”
’n Mens sou kon sê dat onskuld die leitmotief in Jan se werk is. “En die underdog. Die uitgeworpene, die ontmagtigde, die ou wat nooit regtig ’n kans kry nie.”
Sedert 1988 is Jan voltyds skrywer en hy vertel aan Elfra Erasmus dat hy vir die eerste keer in sy lewe vir ’n goeie baas werk. Die enigste negatiewe aspek van sy werk, erken hy, is die min geld wat hy verdien, maar die res verruil hy vir niks nie.
Met sy volgende roman, Die kind, wen Jan in 1990 die ATKV-Prosaprys en in 1991 die FAK-prys vir Ontspanningsleesstof. Die kind is ’n boeiende, afgeronde verhaal van die wêreld van die Zoeloe. Met hierdie boek het Jan teruggegaan na sy kinderlewe waar hy in Stanger aan die Natalse Noordkus grootgeword het.
“Ek het van kleins af met die Zoeloes te doen gehad. Hul landelike, rustige lewenspatroon en die eenvoud van hul lewe, het ’n groot indruk op my gemaak. Ek het eendag in die Klein Karoo rondgestap toe ek dié sin in my kop kry: ‘’n Seun sonder naam, omdat sy ma hom nie wou hê nie’. Ek het daarmee rondgespeel en dit het agtien maande later Die kind geword.”
Daar is soveel alledaagse gebeure in elke dag se kleinlewe, sê Naomi Meyer aan Jan van Tonder op LitNet (17 Februarie 2022) en verder vra Meyer: “Hoe kies ’n mens watter van hierdie gebeurtenisse die totstandkoming van ’n roman teweegbring?”
Jan se antwoord: “Ek sal die vraag probeer beantwoord deur ’n voorbeeld te gee van so ’n ingewing. Ek het my werk by die SAUK in Pretoria se nuuskantoor bedank om nog ’n boek in die Klein Karoo te gaan skryf, sonder die vaagste wete waaroor dit sou handel. Ek het ’n plaashuis gehuur en kort na my aankoms daar het ’n sin uit die bloute in my kop gekom.
“Die sin kan ek nie onthou nie, maar dit het gehandel oor ’n jong Zoeloe-meisie wat swanger geword en ’n seuntjie in die lewe gebring het. Sy wou hom nie ’n naam gee nie, om op daardie manier sy bestaan te probeer ontken. Dit was al.
“Ek het die woorde neergeskryf en meer het gevolg. Nooit voor dit of daarna het ek ’n storie so vinnig op papier gekry nie. Maar die herskrywing het daarna baie maande in beslag geneem. Die boek wat uiteindelik verskyn het, se titel is Die kind, en hy het die ATKV- en die FAK-prys verower, en was vir baie jare lank by skole voorgeskryf.
“Wat daartoe gelei het? Ek kan nie sê nie. Dalk my Natalse agtergrond, die intensiewe navorsing oor die Zoeloe-kultuur wat my tot in die hartjie van die destydse Zoeloeland geneem het? Dieselfde ingewing/waarneming/vertelling sal verskeie skrywers koud laat, maar as daar ‘Jan van Tonder’ op die presentjie staan, vat ek hom vir my.”
Hilda Grobler skryf in Tempo van 8 Februarie 1991: “Dit is ’n roman waarin die kenmerke van Van Tonder se skryfstyl en sterk talent verfyn word tot ’n singende boog, tot die musiek wat die Amazolo uit die umakweyane-boog tower. Die roman is om ’n eenvoudige dog besondere treffende verhaal gekonstrueer. Wanneer Amazolo swanger raak, wil sy die kind nie hê nie omdat Mlenzana haar verlaat het toe sy hom die nodigste gehad het. Haar seun wat later gebore word, wat die merk van die amathongo op het, wat twee moeders het, wat aanhoudend vra wie sy vader is, wat nie saam met die jong seuns wil bokke oppas nie en aanmekaar vir homself groter uitdagings stel, is die seun vir wie Amazolo uiteindelik die hoogste offer bring. Dit is ’n verhaal waarin menslike tragiek op grootse wyse uitgebeeld word. (...) Dis ’n roman wat vry is van enige patroniserende etnisiteit, wat vry is van enige wanklank. Dis trouens ’n roman wat vry is en los staan van ’n rassestempel, want dit handel oor mense en hul belewenisse. (...) Dit is ’n mylpaal in die Afrikaanse letterkunde en een van die eerste geloofwaardige en werklik geslaagde werke in die betrokke genre.”
Ia van Zyl (Die Republikein, 30 Maart 1990) meen dat Van Tonder daarin slaag om “deur middel van die eenvoudige, maar treffende, verhaal die dilemma van ’n hele volk uit te beeld. Met hierdie roman toon hy weer eens dat hy nie bereid is om mee te doen aan heersende letterkundige modegiere nie.”
Vir Riana Botha (Volksblad, 26 Mei 1990) was Die kind, ten spyte van sekere voorbehoude soos die kontekstuele- en woordverklarings wat die spoed van die verhaal belemmer, asook die pedantiese styl wat hinder, ’n “genotvolle en selfs roerende leeservaring”.
Die kind het alreeds twintig drukke beleef as voorgeskrewe boek vir wit en swart skole. “Die kind het vir my gesorg,” sê Jan aan Mariëtte Crafford (Insig, 30 November 2004), “en het my in staat gestel om in 2004 my eerste huis en my eerste betroubare voertuig aan te skaf.”
By die oorhandiging van die ATKV-Prosaprys spreek Jan hom sterk uit teen die steun wat aan die kulturele boikot toegesê word en teen alle vorme van sensuur. “Jare lank al stry skrywers teen sensuur, nie teen dié of daardie vorm van sensuur nie, maar alle vorme daarvan. Het ek so verstrik geraak in my klein Karoose isolasie dat ek nie gehoor toe medeskrywers en skrywersorganisasies geskel het teen die ANC se planne om uiteindelik die pers in ‘The People’ en dus die regering se hande te plaas nie? Hét hulle daarteen in opstand gekom, of het hulle aanvaar dat dit net so onskuldig is soos sensuur onder die nuwe naam van ‘kulturele boikot’?” (Die Burger, 22 Mei 1990)
Saam met Lanz von Hörsten as fotograaf publiseer Jan in 1998 ’n “koffietafelboek”, The Little Karoo = Die Klein Karoo = Die Kleine Karoo by Human & Rousseau. Die teks is in drie tale – Engels, Afrikaans en Duits.
In sy resensie oor Radiosondergrense sê George Weideman: “Die storie van die Klein Karoo adem in die hand van Van Tonder die gees van die Klein Karoo, wat so bekend is aan storievertellers. En wat uit hierdie boek blyk, is die seggingskrag van Afrikaans in die hand van ’n gesoute en bekroonde skrywer soos Jan van Tonder. Von Hörsten [kry] dit reg om die geheimsinnige sjarme van die Klein Karoo landskap op film vas te lê. (...) [D]ie twee samestellers van die boek slaag uitmuntend daarin om mekaar aan te vul. Teks komplementeer foto; foto suggereer wat teks nie gesê kan krý nie.”
’n Volle vyftien jaar verloop voordat Jan se volgende prosawerk gepubliseer word, maar volgens almal was die wag die moeite werd. Nadat hy drie jaar aan die storie gewerk het, word Roepman in 2004 deur Human & Rousseau gepubliseer. Jan vertel aan Mariëtte Crafford (Insig, 30 November 2004) dat hy eers klaar moes sluimer, maar dat hy nou gedoen het wat gedoen moes word. Die boek wat hy ’n leeftyd in sy gemoed gedra het, het hy skuins voor sy vyftigste verjaardag úitgeskryf.
Op LitNet skryf Jan dat hy met Roepman sy ganse grootwordtyd moes evokeer. “Ek het kort-kort my susters gebel om inligting te bekom, en my broer stilletjies verwyt oor sy voortydige dood, want hy sou beter as ons almal onthou het.”
Roepman vertel met humor en patos die verhaal van die dertienjarige Timus Rademan wat saam met sy ouers, broer en susters – daar is drie tweelinge in die familie – in die 1960’s in ’n spoorwegkamp in Durban grootword. Elfra Erasmus som die verhaal as volg op (Beeld, 20 Oktober 2004): “Dit is ’n verhaal van grootword en die verlies van onskuld, maar ook van geborgenheid en grootword in ’n gemeenskap waar mense na mekaar omsien.”
Jan erken teenoor Erasmus dat Roepman seker die naaste is wat hy aan ’n outobiografie sal kom. “Ek het ’n klomp dinge vertel soos dit was, ek het ’n klomp bygelieg en ’n klomp weggesteek.”
Op LitNet skryf hy: “Dit maak nie saak hoeveel ooreenkomste daar tussen die werklike Van Tonders en die fiktiewe Rademans is nie, Roepman is stórie. Dis die storie van elke seun wat sy onskuld verloor in hierdie wêreld waarin onskuld deur dese en gene besing, maar ironies genoeg nie lank geduld word nie.”
Teenoor Mariëtte Crafford sê Jan dat hy Roepman beskou as ’n klag teen die kerk wat sy plig teenoor mense skandelik versaak het: “Sy plig teenoor eie gemeente, maar ook teenoor dié wat daarbuite val. Die kerk het nie sy opvoedingstaak gestand gedoen nie, het meegedoen met die staat om mense in onkunde te hou sodat hul werk nie kon lig werp oor die verskriklike dinge wat in die donkerte van regeringsgeboue en sinodale vergaderings aangevoer is nie. En voorts is die boek ’n klag teen die onderwys wat die ander sterk arm van die regering was. Onderwys wat die heilige taak had om op te hef, maar wat toegelaat het dat dit misbruik word om te indoktrineer, om vrye denke aan bande te lê. Dominees en onderwysers ... seker ook slagoffers van ’n stelsel, tóé. Maar hoekom dan nie begrip hê vir mense (kinders) wat aan húlle uitgelewer was nie?”
Hy vertel ook aan Mariëtte Crafford (Insig, 30 November 2004) dat Roepman ’n wekroep is, “’n gepluk en gestoei om mense wakker te skud – met die toegevoegde waarde van wonderwerke. Gelukkig is daar altyd mense in ’n gemeenskap wat bereid is om alles op te offer vir ander, soos wyle Beyers Naudé; altyd een soos die proponentjie in Roepman; altyd iemand wat kans sien om selfs die onwilligste mense wakker te maak om te gaan kyk wat gedoen moet word, soos Joon Sterrekyker, die roepman; altyd iemand met die lewenslus van ’n ouma Makkie wat met ironie en humor na die menslike toestand kyk; altyd ’n wonderwerk, as ’n mens dit net wil raaksien, wat jou daaraan herinner dat jy nooit alleen is nie.”
Cecile Cilliers (Rapport, 6 Februarie 2005) beskou Roepman as die hoogtepunt in Jan se oeuvre. Sy skryf dat Van Tonder se aanslag lig is, en dat humor Roepman se geloofwaardigheid onderskraag. “Hy lei die leser met ’n vaste hand deur ’n doolhof van realiteit en hersenskimme totdat Timus se verbeeldingsvlugte naatloos deel van die werklikheid word.”
Philip John (Die Burger, 3 Januarie 2005) skryf: “Ons het hier ’n teks van ’n skrywer met ’n virtuose en oënskynlik moeitelose beheer oor die gedagtes en spraak van sy karakters, asook oor die psigiese en sosiale aspekte van die situasie wat vir die roman as stof dien. (...) Roepman bied ’n meesterlike beeld van die werkersklas-wêreld van Timus en sy mense, en daarmee saam ’n genotvolle én ontstellende leeservaring.”
Volgens Willie Burger (Beeld, 29 November 2004) bied hierdie roman ’n vars blik op grootword en verlies. “Dit word veel wyer as ’n verlies van onskuld ten opsigte van die seksuele, die politiek of godsdiens. Die perspektief van die kind word met deerniswekkende sukses volgehou, terwyl dit daarin slaag om te vermaak en te skok. Dit boei, vermaak, skok, herinner en lei tot nadenke.”
Louise Viljoen (LitNet) beskou Roepman as een van die aangename verrassings van 2004.
In 2006 word Roepman deur Elsa Silke in Engels vertaal onder die titel Stargazer en deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer.
Roepman word departementeel vanaf graad 10 voorgeskryf, maar is deur die Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch voorgeskryf vir hulle graad 9-seuns. Dit lei egter tot ’n herrie toe ’n groep ouers protes aanteken omdat hulle gevoel het dat die boek seksueel eksplisiet genoeg is om hulle kinders se “onskuld” te bedreig. Die saak is later geskik.
Daar is ook beplan om Roepman in ’n kunsfilm te omskep. In 2008 was Jan reeds besig met die draaiboek van die roman. Piet de Jager, ’n senior advokaat in die Pretoria-balie, sou die vervaardiger van die prent wees. Hy vertel dat hulle ’n Afrikaanse kunsfliek wil maak met onderskrifte in verskeie tale. Volgens hom gaan die Vlaamse rolprentmaker Walter Stokman die regisseur van die film wees.
Hierdie plan om Roepman op die silwerdoek vas te lê, het toe nie in 2004 van die grond af gekom nie. Dit het eers sewe jaar later, in 2011, gebeur. Piet de Jager was een van die vervaardigers en hy het van die begin af vir Jan ten nouste betrek – nie net by die maak van die film nie, maar ook by die skryf van die draaiboek. Jan, Piet en Sallas de Jager en die Belgiese regisseur Walter Stokman het saam begin werk aan die draaiboek. Jan het daarna die eerste weergawe op Gordonsbaai waar hy deesdae woon, geskryf. Hulle het die draaiboek heen en weer tussen die Kaap en Gauteng gestuur en het later besluit om nie gebruik te maak van ’n oorsese regisseur nie. Paul Eilers was uiteindelik die man wat die regie sou behartig en Jan het oor hierdie besluit aan Terésa Coetzee (Rapport Boeke, 5 Junie 2011) gesê: “’n Ware vonds vir ons rolprentbedryf.”
Roepman is in Durban gesitueer, maar die film is in ’n spoorwegbuurt in Springs verfilm. “Gepraat van ’n vonds,” sê hy vir Coetzee, “daardie spoorwegbuurt in Springs het sit en wag vir ’n fliek. Die rooibaksteenhuisies, die hoek- en wasgoedpale wat van treinspoor gemaak is, die atmosfeer, die agtergrondgeluide. En het The Film Factory nie getoor daarmee om dit na ’n Durbanse buurt te laat lyk nie! Ek was ’n week daar op die stel en dit het vir my gevoel of ek weer ’n kind in so ’n omgewing was.
“Ek het Paul Eilers en Piet de Jager en ’n paar van The Film Factory se mense na Durban vergesel om hulle te gaan wys waar ek ’n knopkniekind was, waar van die werklike tonele afgespeel het, en hulle het met die verfilming teruggegaan en die tonele op plekke geskiet wat presies met die prentjies in my kop ooreengestem het. Min skrywers het die voorreg om so nou betrek te word by die verfilming van hul werk – ek sal Piet en sy span vir ewig dankbaar bly.”
’n Kontrak is ook gesluit waarvolgens Roepman in Amerika vertoon sou word met Engelse onderskrifte. Die kontrak is gesluit nadat spesiale toetsvertonings in Los Angeles en San Francisco gehou is.
Jan vertel op LitNet aan Chanette Paul-Hughes dat hy in die vyftien jaar tot die publikasie van Roepman nie stil gesit het nie. “’n Klompie kortverhale en sketse het in tydskrifte verskyn, asook The Little Karoo en twee radiodramas. Tussendeur werk ek aan my Oudtshoorn-roman, wat nog altyd onvoltooi is. Laasgenoemde het my die hele tyd in ’n halwe Nelson geklem, wat dit moeilik gemaak het om iets anders aan te pak. Roepman het my gered, maar die Oudtshoorn-ding moet nou klaar, of ek moet onder ’n skuilnaam van hom ontslae raak. En nee, ek het geen plan (of tyd) om weer so lank te wag voor my volgende skryfsel nie. Ek is nog nie seker of dit prosa, drama of poësie sal wees nie. (Ek droom al 25 jaar daarvan om ’n verhoogstuk te skryf.)”
Jan waag ook sy hand aan ander genres. Hy begin radiodramas skryf en Die swakkeling behaal die derde plek vir ervare skrywers in RSG en Sanlam se Radiodrama-kompetisie.
Jan se droom van 25 jaar word verwesenlik toe sy drama Lewensreg: ’n tragi-komedie vir mede-sterwendes in 2007 opgevoer word by die KKNK en die wenner is van die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT). Die stuk is onder regie van Nico Luwes by 2007 se KKNK opgevoer, waar dit ook aangewys is as die beste produksie op die fees. Nico Luwes is ook aangewys as die beste regisseur. Lewensreg handel oor twee amper bejaarde broers wat die reg verkry om tot hul dood in ’n huisie in die hart van ’n begraafplaas te woon. Omring deur dooies leer die broers wat dit beteken om te leef. Die stuk is in 2008 deur Genugtig! (nou Joho!) gepubliseer.
Jan vertel aan Volksblad (9 April 2007) dat hy in ’n graf in Oudtshoorn se begraafplaas gaan lê het voordat hy Lewensreg aangepak het.
Marelize Potgieter berig in Die Hoorn van 26 Maart 2008 dat Jan besluit het om Oudtshoorn, waar hy sedert die laat 1990’s woon, te verlaat. Hy beoog om in die omgewing van Kaapstad te gaan woon, sodat hy nader aan meer kunsuitstallings kan wees en ander kunstenaars se werk kan sien en beleef. Hy het hom toe in Gordonsbaai gevestig waar hy saam met Jenny, “die liefde van sy lewe”, woon.
Anderkant omdraai wat in 2011 by Protea Boekhuis verskyn het, is ’n versameling van Jan van Tonder se rubrieke wat in Rapport Tydskrif verskyn het. Volgens die uitgewer se inligtingstuk wissel kort-kortverhale, essays, sketse en anekdotes mekaar af en bied dit ’n vermaaklike leeservaring. “Die leser van dié rubrieke kan verwag om te lag én om geroer te word. Van Tonder skryf oortuigend oor die nostalgie van vroeër, en jukstaponeer dit met aktuele sake van vandag. Hy slaag weereens daarin om lewenswaarhede op ’n ongeforseerde en verrassende vars manier oor te dra.”
In Rapport Boeke (6 November 2011) word Anderkant omdraai beskryf as ’n heerlike leeservaring “wat wissel van die humoristiese tot die melancholiese, die stuitige tot die diepsinnige. Verwag om te lag én om geroer te word. Van Tonder skryf oor die ou Suid-Afrika en die nuwe een, oor die wonder van onskuld en oor ouer word.”
Op die agterflap van die boek skryf Daniel Hugo: “Dat soveel temas en toonaarde binne die beperking van ’n koerantrubriek oortuigend en boeiend gestalte kon kry, is ’n ware kragtoer.”
25 jaar ná die verskyning van Is Sagie in 1987 word die opvolg Is weer Sagie in 2013 gepubliseer.
Op LitNet wou Madri Victor by Jan weet hoekom hy ná soveel jaar besluit het om ’n opvolg te skryf, waarop Jan geantwoord het dat hy glad nie van plan was om ’n opvolg te skryf nie: “Sagie was ’n volledige storie, klaar, bedoel om te eindig soos hy het, maar 25 jaar lank het mense (veral vroue, en vir hulle sê ek altyd moeiliker ‘nee’), wanneer hulle verneem dat ek die skrywer van Is Sagie is, my verwytend gevra hoe ek dit aan Sagie kon doen: ‘om hom só te los’. Ek was bang dat ek die karakter wat ek die liefste van almal het, skade sou aandoen met ’n opvolg, en het teen die versoeke bly stry. En, mettertyd, die versoeking. Maar sou ek na ’n kwarteeu weer in Sagie se kop kon kom? Ek het probeer, die boek in die spreekwoordelike laai gebêre, en ’n klompie jaar later uitgehaal en weer probeer. En uiteindelik besluit dis nou of nooit.”
Oor waar Jan die karakter van Sagie gaan haal het, vertel hy aan Madri Victor dat terwyl hy in die Point-gevangenis in Durban gewerk het, hy sterk onder die indruk van die boosheid van die stelsel in die tronk gekom het en besluit het om ’n storie te skryf – oor ’n mens wat geen kwaad in hom het nie: “Sagie was die produk. Toe ek egter alle boosheid en slinksheid uit hom gehaal het, was hy na die verstand ietwat stadiger as ander mense. Dit sê natuurlik nie dat hy nie ’n goeie boer is nie; inteendeel, sy kennis van knoppiesblaar en water lei en beeskwale en plant en oes is vir hom tweede natuur. Hy verstaan net nie waarom mense mekaar soms seermaak nie.”
Lesers het Sagie in die eerste roman, Is Sagie, en sy ontluikende verhouding met Ansie wat aan die einde van die boek uitloop op ’n mislukking, leer ken. In Is weer Sagie word daar op ander temas gefokus, skryf Madri Victor op LitNet: “volwassewording, die pa-seun-verhouding, konflik tussen werknemer en werkgewer, asook wat ‘man-wees’ beteken en die samelewing se persepsies daarvan.”
Vir Victor lewer Van Tonder met hierdie roman weer eens bewys van sy sensitiwiteit vir die buitestander, die enkeling wat onskuldig staan, terwyl sy karakters skerp genuanseerd is wat die leser tot deernis stem.
“Tipies van so ’n plaasroman is die verbondenheid van die karakters aan die plaas, die grond en die landskap. Is weer Sagie wys ’n plaaswêreld wat aan die verdwyn is, waar daar klip met die hand ‘gedress’ word (iets wat Jan terloops ook kan doen), pyp uit kalbas gemaak word en daar met die hand gemelk word. Ook van die onskuld van Sagie is daar maar min te sien in die hedendaagse lewe – miskien juis daarom dat die karakter soveel impak op die leser het.”
In hierdie tweede roman oor Sagie bly hy glo dat wanneer hy Ansie se huis klaar gebou het, sy sal terugkom. Vir Victor ontwikkel Ansie se huis vir haar as ’n karakter op sy eie wat sentraal in die verhaal staan. Jan se reaksie hierop is as volg: “Die huis het onder my hand as karakter ontwikkel, soos wat hy onder Sagie s’n ’n potensiële woning geword het. Sonder daardie huis wat hy vir Ansie bou, is daar geen storie, of hoop vir Sarys van Greunen nie. Maar saam met die huis, as simbool van permanensie en geborgenheid en hoop, staan ’n ander karakter nader, een wat die leser self in Is weer Sagie sal ontmoet.”
In Vrouekeur (3 Januarie 2014) skryf Willie Burger: “Byna alle romans gaan oor die botsing tussen die spesifieke beeld wat een mens van die wêreld het met die manier waarop die res van die mense die wêreld verstaan. Wanneer ’n karakter dapper veg om sy of haar ruimer beeld van die wêreld teen ’n gemeenskap se stiksienigheid te verdedig en om die gemeenskap van die gevolge van hul stiksienigheid te red, ontstaan ’n heldeverhaal. Wanneer ’n individu egter, soos Sagie, ’n beperkte begrip van die lewe het, ontstaan iets tragies, ’n verlies van onskuld en droefheid. Te maklik kan só ’n vertelling soetsappig, ’n maklike opwekking van emosies word, maar Van Tonder is ’n uitgeslape verteller wat dit nie laat gebeur nie. Is weer Sagie is ’n roerende leeservaring.”
Ook Dewald Koen is beïndruk met Is weer Sagie. In Beeld van 7 Oktober 2013 skryf hy dat Sagie in Is Sagie lesers bekoor het met sy “fynbesnaarde aard en ongekunstelde persoonlikheid, ondanks sy intellektuele eenvoud”. In Is weer Sagie kan daar verder gelees word aan hierdie verhaal van die inwoners van die plaas Greundal. Gedurende die vier jaar wat verloop het tussen die twee verhale, het Sagie se toekomsdrome nie verander nie en hoewel hy steeds sy pa gehoorsaam, is daar beslis ontwikkeling wat sy karakter betref en raak hy al meer onafhanklik en selfstandig.
Koen gaan voort: “Die roman bied terselfdertyd ’n poëtiese beskrywing van die plaaslewe. Van Tonder se fyn waarnemingsvermoë en karakterbeskrywings sluit sterk aan by die skryfstyl van Karel Schoeman. Die tradisie van die plaasroman word met Is weer Sagie voortgesit, ondanks die veranderde sosio-politieke klimaat waarin Suid-Afrika hom sedert 1994 bevind. ’n Aspek van die roman wat deurgaans deurskemer, is die emotiewe en deernisvolle rasharmonie wat tussen die boere en hul werkers heers. Hierdie gegewe word met tye effens soetsappig uitgebeeld, maar doen geensins afbreuk aan die roman nie.”
“Is weer Sagie is die soort roman wat ’n leser meer as een keer sal wil lees. Sagie toon deurentyd deernis teenoor sy medemens, al word hy by talle geleenthede verneder en onwaardig geag. Van Tonder se Sagie is geen slagoffer van sy omstandighede nie, maar word uitgebeeld as ’n alledaagse persoon wat die lewe opreg waardeer.”
“Hierdie boeiende roman se verrassende slot sal menige leser laat uitsien na die vervolgroman, waarin Sagie se droom (hopelik) bewaarheid word.”
Tydens die Aardklop-kunstefees van 2011 is Jan se eerste klug, Die onbeholpe djin, op die planke gebring en waar Jan ook oor die stuk gepraat het. Hy het Djin lank terug geskryf (nog op ’n dot matrix-drukker gedruk) en het dit toe in ’n laai gesit en daarvan vergeet. Hy het dit in ’n boks gevind wat hy nog nooit uitgepak het nie en het dit toe verwerk.
Jan vertel aan Anim van Wyk (Beeld, 8 Oktober 2011) dat hy daarvan hou om iets van alles te doen: “Dit pas by my geaardheid. Ek raak verveeld met ’n ding. Ek probeer elke keer ’n nuwe ding wat ek nog nie het nie. Die feit dat ek soveel genres beoefen, is vir my baie bevredigend.”
In 2019 word Jan se volgende roman, Die verevrou, deur Human & Rousseau uitgegee. Die oorsprong van hierdie roman kan teruggeneem word na 1997 toe Jan en die fotograaf Lanz von Hörsten op Oudtshoorn was vir die navorsing van hulle boek The Little Karoo. Jan het geweet dat die inligting wat hulle oor die verebedryf op Oudtshoorn gehad het, nie genoeg was nie. Hy het ook al gehoor van die bekende “meesterpluimbereider”, Luisa Pappalardo, wat vanaf Parys na Oudtshoorn gekom het en beskou is as dié kenner van volstruisvere in Suid-Afrika.
Jan vertel verder aan Johan van Zyl (Rapport, 31 Maart 2019): “Op 4 Junie 1997 het ek voor dooiemansdeur te staan gekom by Luisa se huis in Kerkstraat, maar wel twee vroue in die erf langsaan gewaar. Dit was die befaamde verevrou en haar buurvrou wat opsluit vir my gesê het: ‘Sy wil nie met jou praat nie; sy sê sy is klaar met vere.’
“Presies hoe kláár het ek glad nie besef nie. Twee dae ná my besoek het Luisa Pappalardo haarself op ’n klein lappie gras buite die polisiekantoor op Oudtshoorn doodgeskiet. Dit was ’n geweldige skok en van toe af het hierdie vrou eenvoudig by my gespook.”
Aanvanklik het hy probeer om die basiese inligting tot ’n verhoogdrama te verwerk, met ’n filmdraaiboek daarna, maar dit wou net nie werk nie: “En tog, keer op keer tussen my ander projekte en boeke deur, het ek bewus gebly van haar teenwoordigheid en ’n geweldige fassinasie met haar ontwikkel: Wat laat ’n meesterpluimbereider al die pad uit Parys na Oudtshoorn toe verhuis? Luisa se ma het later ook Karoo toe gekom, en ’n jaar ná haar ma se dood (in 1996) het Luisa besluit om haar lewe te beëindig.”
“Dit was asof sy van toe af voortdurend oor my skouer geloer het. Ek het later die idee gekry sy hou nie van wat ek doen nie. Dit was asof sy wou hê ek moet die storie nie vertel nie.”
Luisa se lewe het met baie lande en gebeure gekruis, soos dit duidelik blyk uit die navorsing waarmee hy in verskeie stadiums obsessief besig was – Algerië en die Algerynse Vryheidsoorlog van 1954 tot 1962, Parys, Korsika en die fyner kunsies van die volstruisveerbedryf.
Luisa se suster wat in Parys woon, was glad nie geneë om Jan enigsins te help nie. Mense op Oudtshoorn wat haar geken het, het met hom gepraat en hy het die grusame foto’s van haar dood bestudeer, asook die hofverslae en die nadoodse verslag.
Hy vertel verder aan Van Zyl: “Sy het mense eintlik voorberei op haar dood en in haar selfmoordbrief laat blyk sy sy kon haar ma se dood nie verwerk nie. Sy het daarna ook die polisie om verskoning gevra dat sy haar lewe buite die polisiekantoor beëindig het, en selfs ’n lys van mense gemaak wat ná haar dood gebel moes word.”
“Ek het later uitgevind Luisa het ook in São Paulo, Brasilië, waar sy tien jaar gebly het (’n tydperk wat Jan glad nie vir sy roman gebruik het nie), haar lewe probeer beëindig. Ná haar dood het ek boonop ’n magdom stories oor haar gehoor, natuurlik tweedehands. Dit was asof hierdie vrou in verskillende wêrelde geleef het. Vir party mense het sy glo gesê sy is ’n maagd; vir ander het sy vertel sy het ’n seksuele verhouding met haar neef gehad; nog ’n klomp het vertel hoe sy op haar bors geslaan en gesê het ‘I’m a Christian!’; ander sê sy was ’n uitgesproke ateïs. Al wat ek weet, is dat sy my ná haar dood eenvoudig nie wou uitlos nie.”
Dit is dan die lewe van Luisa Pappalardo wat die inspirasie agter Jan se skepping van Liora Papalato was, maar sy is net ’n “lugspieëling” van die vrou wat eens gelewe het.
Jan het ook nog nooit vantevore in sy lewe so “hard en ernstig en ingrypend” aan enige van sy ander boeke geskryf nie: “Hierdie roman het my vir die eerste keer regtig diep laat twyfel oor of ek nog kán skryf. Die verevrou is aanvanklik vir publikasie aanvaar, maar is toe afgekeur. Ek het dit dramaties gesny en herskryf, maar dis weer afgekeur. Toe herskryf ek weer en dit word wéér afgekeur. En toe wend ek my in ’n staat van totale moedeloosheid tot my ou uitgewer, Marietjie Coetzee, wat my en my talente en my beperkings goed ken ... en toe probeer ek weer.”
“Terselfdertyd moet ek hier erkenning gee aan my geliefde, Jenny Pieterse. Op ’n dag toe ek weer heen en weer in die huis rondstap en nie herwaarts of derwaarts weet nie, het sy vir my gesê: ‘You’re pacing again.’ En toe sê sy ek moet ophou probeer om ’n biografiese roman te skryf. Ek moet ’n stórie skryf. Die stórie. En dit is wat dit is, al is daar sekere raakpunte met sekere biografiese werklikhede: mý storie.”
Die storie van Liora begin toe sy ses jaar oud aan die kant van die Sahara-woestyn en die roman neem dit deur haar werk as verpleegster in Algiers, haar lewe as pluimbereider in Parys tot die einde van haar lewe in die Klein-Karoo.
Vir Laetitia Pople (Volksblad, 3 April 2019) is die karakters in Die verevrou baie besonders – Liora, haar ma, Maman, haar geliefde oom en mentor, Moshe en Candice, die stelteloper van De Rust.
Pople skryf verder: “Die raakpunte tussen Suid-Afrika (in 2019) aan die vooraand van ’n verkiesing en die wêreld van Die verevrou, die roman, is duidelik met Algerië voor die bloedige oorlog, Suid-Afrika in die hoogty van apartheid en net voor die eerste demokratiese verkiesing. Die beskrywing van die vlug uit Algiers is skokkend tydloos – dit herinner aan die nood van tallose vlugtelinge tans (2019) in die wêreld.”
Vir Jan is dit verblydend dat Pople dié verband raakgelees het: “Ek het dit doelbewus onderspeel sodat die onuitgespreekte ’n onheilspellende fluistering kan wees: Daar is nie wenners in dié soort revolusie nie, want ’n groot deel van die bevolking verloor alles, ook hul lewe, en in gans te veel gevalle word die bevryders daarna ook die grootste uitbuiters.”
Deur die karakter van die erg beseerde soldaat, Chrestien, word die verskrikking van die oorlog vir die leser realisties uitgebeeld.
Jan het die karakter van Chrestien geskep juis om die verskrikking van die oorlog “op ’n individuele en persoonlike vlak uit te beeld. Chrestien Blanc kom vermink by die hospitaal aan en beland weens die oorvloed gewondes in die sorg van Liora, die jong vrou wat haar mediese studie gestaak het omdat sy geglo het sy kan as verpleegster gouer van diens wees. Daar vorm ’n besondere band tussen haar en die soldaat, iets wat ek nie voorsien het nie – die soort geskenk waarvoor ek altyd dankbaar is.”
Die karakters wat hy in Die verevrou geskep het, het hom verras, vertel hy verder aan Pople. Hy beplan nie te veel aan hulle nie. Vir Pople stereotipeer hy nie sy vrouekarakters en hulle lewe vry en avontuurlik ondanks die periode waarin hulle leef: “Ek beplan my karakters nie in fyn besonderhede nie,” vertel Jan. “Hulle groei namate hulle hul plek in die roman inneem en mettertyd vol staan. Hulle verras my telkens met hul eiesinnigheid wat lei tot wat ek hoop afgeronde persoonlikhede is, hetsy swak of sterk, buitestanders of opdringeriges.”
In Rapport van 3 Maart 2019 is Louise Viljoen die resensent van Die verevrou. Volgens haar het baie skrywers al die pen opgeneem om te skryf oor die Klein-Karoo en die verebedryf aldaar, maar dat Jan van Tonder dit reggekry het om hierdie storie vanuit ’n unieke invalshoek te teken. “Dit het veral te doen met die uiteenlopende wêrelde wat hy op dramatiese wyse in dié verhaal byeenbring.”
“Die roman vertel in wese twee verhale wat mekaar op ’n bepaalde punt in die tyd kruis. Hulle word gelyklopend, maar afwisselend weergegee sodat die kontraste en raakpunte sorg vir ’n byna kontrapuntale geheel.
“Die eerste verhaal begin in 1948 op die volstruisplaas Finisterre aan die rand van die Sahara in Algerië. Die hooffiguur in hierdie vertelling is Liora Papalato, ’n jong kind wanneer die verhaal begin en wat in die middel staan van ’n ongemaklike driehoeksverhouding tussen haar Franse ma, Charlotte, haar Korsikaanse pa, Emilio, en die Joodse man Moshe Habib, ’n sakekontak uit die Klein-Karoo.”
“Hul lewe word verder bemoeilik deur die gespanne atmosfeer in die koloniale Algerië en die Algerynse Onafhanklikheidsoorlog wat van 1954 tot 1962 geduur het. Liora vlug in 1962 tydens die hoogtepunt van die geweld, wat veral vanuit ’n Europese oogpunt beskryf word, uit Algiers na Parys.”
“Die tweede verhaal begin in 1976 in De Rust in die Klein-Karoo waar die bruin dogtertjie Candice Amat deur haar pa, wat op volstruisplase in die omgewing werk, bewus raak van die verleiding van vere, en mettertyd op Walter, die seun van een van die plaaseienaars, verlief raak. Sy verlaat uiteindelik die Klein-Karoo om oorsee te gaan en werk vir ’n aantal jare in die buiteland as model, maar keer dan terug na De Rust waar sy op haar eie woon en vereprodukte vervaardig wat sy aan toeriste verkoop.”
Liora en Candice se lewens kom in 1992 bymekaar uit. Liora is na die Klein-Karoo om vir Moshe wat aan demensie begin ly, te gaan kuier. Sy sien vir Candice wat op stelte loop en herken in haar ook iemand wat die taal van die volstruisveer verstaan.
Louise Viljoen gaan voort: “Van altwee die karakters teken die roman die oorgang na volwassenheid (’n belangrike tema in Van Tonder se werk) om verskillende kontekste en uiteenlopende families. Liora word groot in die koloniale Algerië met ’n kleinsielige pa wat lyk of hy minder vir haar omgee as oom Moshe. Candice word groot onder apartheid met ’n arbeiderpa wat ’n swakheid vir die bottel het, maar ook ’n groot teerheid vir sy enigste dogter. Die roman toon hoe hul grootwordjare die verloop van hul volwasse lewens bepaal. (...)
“Van Tonder slaag daarin om ’n hele aantal belangrike kwessies te vervleg met die dramatiese verhaalgebeure. Dit is ’n roman oor sterk, onafhanklike vroue wat terselfdertyd hul kwesbaarheid beklemtoon, veral in toestande van oorlog en armoede. Dit vertel ook die liefdesverhoudings wat selde die geleentheid kry om probleemloos te ontwikkel. Ook van liefdes wat duur ten spyte daarvan dat hulle onvervuld bly. (...)
“Van Tonder gee tekstuur aan sy roman deur die beskrywings van geweld en stryd af te wissel met liriese momente waarin mense se deernis met mekaar die geleentheid kry om na vore te kom. Hy werk ook treffend met verswyging en suggestie wanneer hy spanning bou deur sekere elemente aanvanklik vaag te hou en hulle gaandeweg aan die leser te onthul. (...)
“Die verevrou is ’n roman waarin daar met verskillende drade geborduur word op ’n kleurvolle doek.
“Die roman mis die eenduidige fokus wat van Van Tonder se roman Roepman so suksesvol gemaak het; dit bekoor eerder deur die rykheid aan karakters, gebeure, veelseggende detail en geheimsinnige slot. As sodanig is dit ’n aanduiding van Van Tonder se groeiende veelsydigheid as romanskrywer.”
Francois Bekker (Beeld, 18 Maart 2019) skryf as volg oor Die verevrou: “Stilisties beleef ’n mens die verloop van die verhaal en die afloop daarvan op twee uiteenlopende vlakke. Dit is ’n besige storie wat met ’n snelle pas ontvou, Van Tonder se beheer oor so ’n wydlopige verhaal bevestig hom as ’n virtuose prosaïs.
“Die dénouement ruk die karakters en die leser egter tot stilstand. Dit is gewyde laaste oomblikke wat miskien meer vrae as antwoorde bied. Want al vind jy ’n holte vir jou voet wat landstreek, geloof of liefde betref, is dit oplaas die self teenoor wie jy in die finale instansie verantwoordbaar is.
“Die verevrou, ’n hoogtepunt in Jan van Tonder se oeuvre, is ’n ambisieuse werk wat bewys watter wonderlike beelde en emosies woorde by lesers kan wek.”
En op LitNet sluit Elbie Adendorff haar bespreking van Die verevrou as volg af: “Die verevrou is ’n epiese verhaal van bevryding wat waarskynlik in die slottonele ’n hoogtepunt bereik met die religieuse element van die Goeie Vrydag-optog waarin daar genesing vir etlike karakters kom: moontlike versoening tussen Candice en Walter en vir Liora: ‘Sedert haar deelname aan die Goeie Vrydag-optog het sy vreugde in dit wat nooit aan haar kan behoort nie’ totdat sy bevrydend in die swempoel ‘oopvlerk op pad’ sweef bo almal uit soos Moshe aan haar as kind gesê het: ‘Eendag sal jy bo ons klomp gewone mense sweef, my engel.’
“Jan van Tonder se oeuvre bereik ’n hoogtepunt met Die verevrou. Dit is ’n moet-lees vir diegene wat van verweefde karakters en storielyne en motiewe hou.”
Jan vertel aan Laetitia Pople dat hy nie sy boeke in hoofstukke skryf nie, maar in tonele: “[E]n uiteindelik voeg ek dit soos ’n filmredigeerder aanmekaar. My skilderwerk moes ek voorlopig op die lange baan skuif vanweë Luisa Pappalardo se konstante teenwoordigheid. Sedert die verskyning van my boek laat die verevrou wat dit op so ’n tragiese wyse geïnspireer het, my met rus. Hopelik kom daar ’n vervaardiger of regisseur wat soos jy (en ek) oor die verfilmbaarheid van Die verevrou voel, iemand wat toegang tot genoeg geld het om reg aan die storie te laat geskied. Intussen skryf ek.” (Volksblad, 3 April 2019)
Jan is ’n buitestander en daarom is baie van sy hoofkarakters ook buitestanders. Hy verduidelik aan Johan van Zyl dat hy ’n baie private persoon is – “nie vreeslik outgoing nie, sukkel om met vreemdelinge ’n gesprek aan te knoop en haat onderhoude en openbare verskynings, maar verstaan ek is dit aan myself, my uitgewer en die boek verskuldig.”
“Dalk skryf ek oor outsiders omdat hulle op interessante maniere ánders is en gewoonlik aan die kortste ent trek. Ek is van kleins af ’n agie en meesterlike luistervink wat mense en gesprekke en gebeure opsuig soos ’n spons en dan stadig tot fiksie verteer.
“As jy grootgeword het soos ek ... as jy sonder ’n sekere soort selfvertroue deur die lewe gaan ... ontdek jy naderhand dat jy met woorde amper soos God mense kan ‘skep’, dat woorde jou ’n sekere mag of selfvertroue kan gee om iets te wees wat jy nie regtig is nie.” (Rapport, 31 Maart 2019)
Jan se volgende roman, Grootgeluk, word in 2021 deur Human & Rousseau uitgegee. Jan vertel aan Elretha Britz (Netwerk24, 21 November 2021) dat die kreatiewe proses om Grootgeluk op die rakke te kry nog traer verloop het as die een met Die verevrou: “My plan was om ’n boek te skryf wat in die distrik Oudtshoorn afspeel, maar ek had g’n storie nie. Toe besluit ek om al die koerante wat in die dorp gedruk is – van die eerste uitgawes van die Oudtshoorn Courant (Mei 1879) en die latere Het Zuid-Westen – te lees totdat ek op iets afkom wat my aangryp. Ek het in 1989 met die navorsing vir Grootgeluk begin (destyds met ’n gans ander werktitel) en wel ’n aangrypende beriggie raakgeloop.
“My boek sou al in die 1990’s gepubliseer word – twee jaar ná mekaar in die pers aangekondig en als – maar albei geleenthede is eers uit- en toe afgestel. Elke paar jaar het ek probeer om die storie rég te skryf, sonder sukses.
“Later was daar 12 of meer volledige manuskripte met uiteenlopende verhaallyne op my lessenaar opgestapel. Toe verbrand ek die hele spul en begin oor, weer elke paar jaar máánde lank, met ’n stormagtige pylvak wat kort ná Die verevrou begin en in Augustus 2021 geëindig het. Uiteindelik is die boek op die winkelrakke.”
Britz wou weet of die verhaal ook op die waarheid gegrond is, soos sy vorige werke: “Die berig, waarop ek nie wil uitbrei nie, was die stimulus vir die skryf van Grootgeluk en het die volgende sin bevat: ‘Die Magistraat merkte aan, dat de getuige scheen doodgeschrikt te zijn, en niet wist wat er gebeurd had.’ Dit is maar ’n klein deel van die verhaal, maar dit was sterk genoeg om my verbeelding op loop te sit, dus is die boek sekerlik gebore uit die saad van waarheid. Maar al het ek aanhou lees, het daar nie ’n opvolgberig verskyn nie, en ná die val van die volstruisveerbedryf in 1914 was die storie uitgespeel.”
Vir Naomi Meyer op LitNet beweeg Grootgeluk binne die genre van die plaasroman: “Daar is dadelik die idealisme en vrae rondom die naam Grootgeluk. Bestaan daardie plaas werklik in jou omgewing, of hoe het die naam van die roman hom kom aanmeld?” wou Meyer by Jan van Tonder weet.
“Die plaas met sy eienaars en arbeiders word een van die hoofkarakters,” antwoord hy. “Hy had ’n naam: Grootgeluk. ’n Keuse gegrond op die ironie daaragter, maar die boek het (na vele herdope) tot baie na aan sy spertyd titelloos gebly. Uiteindelik het Nèlleke de Jager, my uitgewer, my op ’n sinnetjie in die manuskrip gewys en het ons daaruit net die plaasnaam behou. Die plaas bestaan nie werklik nie.”
Meyer vra weer: “Jou boek handel weer oor wat die waarheid is en wat régtig gebeur het. Een is die waarheid en een is ‘net ’n storie’. En dalk is dit nie meer moontlik om dit van mekaar te onderskei nie. En toe, na al die baie jare van skryf, hoe het jy geweet die storie is nou klaar?”
Jan van Tonder verduidelik: “Met die skryf van Die verevrou was dit baie moeilik om te verhinder dat feit nie die fiksie oordonder nie, want ek het die Franse plumassiere met my eie oë gesien. Ek kon onderhoude voer met mense wat noue verbintenisse met haar had. Om sulke ‘harde feite’ te fiksionaliseer, is moeilik. In ’n stadium het Jenny vir my gesê ek moet onthou dis nie ’n biografie wat ek skryf nie: ‘Vertel die stórie.’ Dit het my baie gehelp. Ek kon net die essensie van die werklikheid gebruik waar dit nodig was en sodoende by die waarheid van my verhaal bly.
“Op jou vraag oor wanneer ek geweet het my storie is nou klaar: Toe Nèlleke op ’n dag vir my sê ek kan maar ophou, hy werk nou, het ek geweet.”
Naomi Meyer beskryf Tijs Velaat as ’n “getuie, ’n waarnemer en ’n afloerder” – iemand wat later beskuldig word van dinge wat hy nie gedoen het nie. Daar is ander dinge wat hom pla, maar dít waarvan hy aangekla word, is nie dít waaraan hy skuldig bevind word nie. Sy wou verder by Jan weet: “Ek kon nie anders as om te dink dat moderne lesers wat onvergenoegd voel oor die spoorweë van Roepman wat so verval het, dalk nou ook kan dink miskien kon mens in die tyd van Grootgeluk net so min staatmaak op die regsbank soos mense dalk nou voel. Ek lees ook in hierdie boek baie oor hoe ’n jong man onderdruk is, hoe hy geslaan en gemartel is en valslik beskuldig is. Hoe gee mens stem aan iemand wie se omstandighede jy jou beswaarlik volledig kan indink? Het jy aan hierdie dinge gedink terwyl jy besig was om die roman(s) te skryf?”
Jan se antwoord lui as volg: “Toe oompie Geswint die wonde op Tijs Velaat se rug sien, wys hy Tijs op die simboliek van die volstruisveer, en sê dat hy geregtigheid moet najaag, nie geld nie, anders sal hy onregverdige merke op ander mense maak, maar die óú slang verlei hom. Hy doen dinge met gruwelike gevolge waaroor sy gewete hom jare later treiter en hy eerder wil sterf vir dit wat hy nié gedoen het nie; maar vir leef onder die juk van skuld waarvan net hy weet, sien hy nie kans nie.
Dit is natuurlik onmoontlik om jou geheel en al in ’n ander se omstandighede, en veral die invloed wat dit op hom/haar het, te kan indink en dan te beskryf. Moeiliker nog as die verhaal hom meer as ’n eeu gelede afspeel. Maar te oordeel aan die reaksie op Grootgeluk op Facebook en elders blyk dit dat lesers meegevoer word deur die tyd en wêreld wat geskep is, en ook deur die karakters wat daardie ruimte bevolk.
“’n Skrywer wat gelukkig genoeg is (?) om oor baie jare heen te woon en te werk in omstandighede wat wissel tussen die uiterstes van rykdom en ontbering, ekstase en smart, gevangeskap en vryheid, leer, met die nodige nuuskierigheid en waarnemingsvermoë en empatie, genoeg van die mens ken om karakters van vlees en bloed te skep.
“Maar op die moeilike pad van boekmaak is daar ook diegene wat skrywers teen hulleself beskerm, soos ’n eerlike eerste leser, kundige buitekeurders en jou uitgewer wat teregwys en lei.”
Carla van der Spuy is die FAK (19 Januarie 2022) se resensent van Grootgeluk en sy skryf as volg: “Moet jou nie deur die ironiese titel laat mislei nie. Grootgeluk bevat al die elemente van tragedie tot verbode liefde, verwerping, wreedheid en patos. Nie almal is stralend van geluk op Grootgeluk nie.
Dié historiese roman speel af vanaf die 1850’s tot 1914, ’n onstuimige era in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dis ’n tydperk van ossewaens, kapkarre, treppies, verewaens, vierperdekarre, perde, donkies, muile, osse en die opkoms en ondergang van die verebedryf. En die landskap is die Klein Karoo, hartskontrei van die skrywer. (…)
“In ’n neutedop gaan die storie oor Tijs Velaat wat op die plaas Grootgeluk in die distrik Oudtshoorn gebore is. Hy moet voorgee dat hy stom is. Die gedagte is dat hy op hierdie wyse hopelik die hef in die hand kry, sodat sy lewenslot dalk net anders as dié van ander werksmense op die plaas verloop. Tijs en sy ma woon naby die deftige Schoemans se opstal. En soos so dikwels met werknemers die geval is, beskik hulle oor eerstehandse inligting oor die ryk eienaars se wel en wee, familievetes en donker geheime. Tijs raak selfs ’n ooggetuie van dinge wat heeltemal taboe moet wees. (…)
“As Maria, die eienaar se enigste kind, op ’n Skotse beeldhouer verlief raak, loop die lewe verkeerde en onvoorspelbare paaie. Twee seuns vind eers laat in hul lewe uit wie hulle werklik is en waar hulle vandaan kom.
“Dit is interessant dat Van Tonder om die beurt van twee vertellers gebruik maak; twee mense uit twee verskillende wêrelde, selfs al leef hulle so na aan mekaar maar nogtans apart; naamlik Tijs Velaat en Hendriena, die onverbiddelike Andries Schoeman se vrou. Onderdanig-eerbiedige terme soos ‘Baas’, ‘Kleinnooi’ en ‘Mies’ was aan die orde van die dag. Tog is daar die paradoks rondom intieme deelgenote enersyds en verskeurdheid aan die ander kant.
“Die toeganklikheid van die roman kan toegeskryf word aan die onvergeetlike karakters wat jou om die beurt skok, verras en jou selfs met die soort vooroordeel en rassisme konfronteer wat al ’n lang pad in ons land se geskiedenis kom. Die veelvlakkige karakters ontwikkel voortdurend en dit lei daartoe dat die leser se emosies oor die karakters ook verander. Geeneen is heeltemal van onbesproke karakter en sonder integriteit nie.
“Van Tonder maak van lieflike beskrywings gebruik (…). Hy maak ook van baie uitdrukkings gebruik wat die kontrei weerspieël (…) en mens lag soms hardop vir die droë humor soos wanneer Tijs aan die ‘overledene’ dink wat ‘ver van oorlede af gelyk het’ in die jong dame se kooi.
“Van Tonder verval nie in die slaggat van sentimentaliteit of stereotipes nie. Wat my die meeste beïndruk, is sy diep verstaan van die psige van die vrou sonder om hulle te verromantiseer. Van hulle soos die Jodin Raizel – ’n paar lesers se gunstelingkarakter – is nogal heel aweregs vir daardie tydperk.
“Mens kan skaars glo dat Van Tonder 30 jaar gelede aan die boek begin skryf het, die manuskrip telkens weggegooi het en van voor af begin het. Wel liewer laat as nooit!
“Hy kén die omgewing waaroor hy skryf omdat hy self daar gewoon het en oor eerstehandse ervaring daarvan beskik. Dis altyd tot ’n skrywer se voordeel. (…) Ek is nie verbaas dat die boek so goed ontvang is nie. Lofbetuigings is volop. Grootgeluk was vir my ‘onsitneerbaar’ meesleurend en die skuld vir die swart pandabeerkringe om my oë. Jy sterf van nuuskierigheid oor wat met die karakters gaan gebeur.”
Willem van der Berg skryf as volg oor Grootgeluk op Netwerk24 (9 Januarie 2022): “Dit gaan goed met die volstruisboere van Oudtshoorn in hierdie tyd, veral met Andries Schoeman van die plaas Grootgeluk. Hy het van die mooiste voëls. Daar is egter een wens wat hy en sy vrou, Hendrien, nie met hul rykdom kan laat waar word nie: ’n erfgenaam vir Grootgeluk. Twee keer sterf ’n seuntjie voordat Maria gebore word en bly leef. Al word Andries later baie lief vir sy dogter en erg besitlik oor haar, is hy nooit tevrede nie. Hy neem Hendrien altyd kwalik dat hulle nie ’n seun het nie, hy weier dat Maria ’n verhouding met ’n skot aanknoop, hy skreeu op sy werkers, deel graag houe met die agterkant van sy hand of met die sweep uit en andersins brom en blaas hy soos ’n omgekrapte volstruismannetjie oral waar hy beweeg.
“Na aan die Schoemans se huis bly Tijs Velaat en sy mame, Hessie Geswint, in ’n werkershuisie. So naby is hulle dat die Schoemans se lewe húl lewe word. ’n Lelike perdekarongeluk op sy 16de verjaardag veroorsaak dat Tijs vir ’n ruk nie kan praat nie, maar wanneer sy mond weer begin woorde maak, verduidelik Hessie vir hom dat stomheid ’n seën kan wees. (…)
“So word Tijs en Hessie die getuies van alles wat op Grootgeluk gebeur. (…) Die leser volg Tijs se spore en vertellings gretig. Hy is ’n interessante man wat wonder oor die krummels wat hom gegun word op hierdie aarde en die skrale moontlikheid dat sy bruin hand ooit dié van ’n wit Here sal groet. (…) Of Tijs se gepraat eie is aan dié van bruin mense in daardie jare sal ons nie weet nie. Ek weet wel dit is baie lekkerder om na hom te luister as na die paar kere wat Hendrien op haar stywe en onderdanige manier iets oor haarself, Andries of Maria deel. Om die waarheid te sê, haar stem is geensins nodig in die verhaal nie. Tijs kyk skerp genoeg. En sy geselse hou jou oë op die 364 blaaie van die boek en jou lyf saam met hom tussen die mense en die struise in die Klein-Karoo.”
Nadat Jan klaargemaak het met Grootgeluk is hy terug na ’n plaas in die Klein-Karoo, ongeveer 80 kilometer van die Dwarsriviervallei buite Ladismith téén die Swartberg naby Calitzdorp. Dit is waar Sagie gewoon het en sê hy aan Naomi Meyer: “Ek sal nou en dan Dwarsrivier toe gaan om die atmosfeer van die vallei opnuut te beleef en Sagie se teenwoordigheid aan te voel, maar hoe ek weer in sy kop gaan kom, weet ek nie.”
Jan vertel aan Maryke Roberts op Maroela Media (14 Junie 2020) as hy die dag vir Sagie moet groet, dit ’n baie hartseer dag sal wees: “Maar hy is deel van die Dwarsriviervallei naby Ladismith soos wat die Klein-Karoo deel van mý is. Elke keer wanneer ek daar kom, wag Sagie vir my. So sal dit altyd wees, hoop ek. (…)
“Is Sagie het die grootste invloed op my lewe gehad. Hy het my gered van raserny toe ek op ’n tronkmuur diens gedoen het. Sy onskuld het my skans geword, want myne het ek veels te jonk verloor.”
In 2023 word Sagie se storie: ’n drieluik deur Human & Rousseau uitgegee. Dit bevat die eerste twee stories Is Sagie en Is weer Sagie en dan nou ook Sagie is…, tien jaar nadat die tweede een verskyn het.
Op bookhub word daar kortweg oor die drieluik geskryf: “In die eerste boek, Is Sagie, word ons betower deur die weerloosheid en onskuld van Sagie se half-verstaan. Tog weet hy baie van boerdery. En wanneer hy Ansie ontmoet, word sy wêreld volmaak. Hy leer Ansie van die veld en die wonder van die Klein-Karoo. En oplaas loop hy verlies op die lyf.
“In Is weer Sagie beleef Sagie opnuut eensaamheid. Klip vir klip begin hy bou aan ’n huis langs die kleidam vanwaar hy die Dwarsriviervallei en Towerkop mooi kan sien. Hy glo Ansie sal terugkom na hom toe sodra daar rook uit die skoorsteen trek.
“En dan, Sagie is. Sagie boer nou alleen op Greundal en kry meer te doen met die goed en kwaad in ander mense. Maar deurentyd bly Ansie in sy kop, al is daar die vertroostende teenwoordigheid van Sofia. Eendag sal hy op die Makkadas-trein klim en na Ansie soek tot hy haar kry.”
Jan het op Maroela Media aan Maryke Roberts vertel dat hy ’n klompie jare aan die laaste boek in die Sagie-trilogie gewerk het: “Ek het die tweede een geskryf omdat ek lank deur baie lesers die verwytende vraag gevra is: ‘Hoe kon jy Sagie só los?’ En toe Is weer Sagie eindig met nuwe moontlikhede, het ek besluit om vir hom afsluiting te bied. Hopelik kry ek dit reg om die storie só te skryf dat my uitgewer nie anders kan nie as om dit te publiseer. As ’n omnibus dalk? Of droom ek nou oumansdrome?”
En met Sagie se storie: ’n drieluik is Jan van Tonder se “oumansdrome” toe bewaarheid.
Publikasies:
|
Publikasie |
Wit vis |
|
Publikasiedatum |
1983 |
|
ISBN |
0628023707 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Aandenking vir ’n vry man |
|
Publikasiedatum |
1984 |
|
ISBN |
0798614099 (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
|
Literêre vorm |
Kortverhale |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Is Sagie |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
|
|
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Die kind |
|
Publikasiedatum |
|
|
ISBN |
0798630396 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
|
|
Vertalings |
Engels |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
The Little Karoo = Die Klein Karoo = Die Kleine Karoo |
|
Publikasiedatum |
§ 1998 |
|
ISBN |
0798138165 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Kontrei |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
|
Publikasie |
Roepman |
|
Publikasiedatum |
2004 |
|
ISBN |
0798144580 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
|
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Lewensreg: ’n tragi-komedie vir mede-sterwendes |
|
Publikasiedatum |
2008 |
|
ISBN |
9780980275438 (sb) |
|
Uitgewer |
Parklands: Genugtig! |
|
Literêre vorm |
Drama |
|
Pryse toegeken |
Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater 2007 |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Anderkant omdraai |
|
Publikasiedatum |
2011 |
|
ISBN |
9781869194680 |
|
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
|
Literêre vorm |
Kortprosa |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Is weer Sagie |
|
Publikasiedatum |
2013 |
|
ISBN |
9780798163026 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Grootgeluk |
|
Publikasiedatum |
2022 |
|
ISBN |
9780798182416 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
2022 kortlys Hertzogprys |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Sagie se storie |
|
Publikasiedatum |
2023 |
|
ISBN |
9780798183635 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
Artikels oor Jan van Tonder
- ABSA-Ketting: Chanette Paul-Hughes in gesprek met Jan van Tonder. LitNet, 30 Julie 2006
- Coetzee, Nia: Jan van Tonder sê op Ladismith “Roepman” is sterk sy eie storie. Die Burger, 6 November 2004
- Erasmus, Elfra: Afstand geskep in grootword-storie. Die Burger, 20 Oktober 2004
- Erasmus, Elfra: Die lewe is nie ’n storie nie. Beeld, 16 Oktober 2004
- Erasmus, Elfra: Jan van Tonder: van tronkbewaarder tot skrywer. Die Burger, 26 Mei 1990
- Erasmus, Elfra: Roerende deernis met “underdogs”. Beeld, 15 Mei 1990
- Jan van Tonder
- Jan van Tonder
- Jan van Tonder
- Loots, Sonja: Die roepstem van ’n boek. Rapport, 17 Oktober 2004
- Myburgh, Melt: Koronoa-kortverhaalfees: Jan van Tonder oor “Pa, ma en die liefde”. LitNet, 12 Mei 2020
- Roberts, Maryke: Jan van Tonder: sy romans word óf voorgeskrewe werk óf ’n topfliek
- “Roepman” in kunsrolprent omskep. Die Burger, 3 Desember 2008
- Skrywer kry sy inspirasie op Ladismith. Die Burger, 27 Julie 1988
- Steyn, Tisha: Skrywer se skootrekenaar gesteel. Die Burger, 17 Oktober 2007
- Verster, Francois: Skrywers gesels: Jan van Tonder
- Wen-skrywer waarsku teen boikot, sensuur. Die Burger, 22 Mei 1990
Artikels deur Jan van Tonder
- ABSA-Ketting: Jan van Tonder gesels met Nanette van Rooyen
- Die beste van twee wêrelde [gedig]. OuLitNet, 2 Mei 2004
- die gerehabiliteerde [gedig]. OuLitNet, 22 Junie 2004
- Die put het nou agter die Skrywersgilde toegeval. Die Burger, 11 Junie 1991
- mirakelspel [gedig]. OuLitNet, 22 Junie 2004
- op-lossing vir ’n droëbek [gedig]. OuLitNet, 14 Junie 2004
- Skrywer van Roepman aan die woord
- That’s life: he may be a city dweller but Jan van Tonder knows about keeping chickens
- Van self sprekende [gedig]. OuLitNet, 1 April 2004
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

- Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


