Jan van Tonder vertel vir Madri Victor van Is weer Sagie

  • 1

Titel: Is weer Sagie
Skrywer: Jan van Tonder
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798163026

 

Koop Is weer Sagie by Kalahari.com.

 

 

 

Jan van Tonder se eerste Sagie-roman, Is Sagie, het in 1987 onder groot lof van kritici verskyn en is in die daaropvolgende jaar as naaswenner van die ATKV-prosaprys aangewys. Na 25 jaar verskyn die opvolg, Is weer Sagie, in 2013. Waar die fokus van die eerste Sagie-roman op die ontluikende (liefdes)verhouding tussen Sagie en Ansie was, ontgin Is weer Sagie ander temas: onder andere volwassewording, die pa-seun-verhouding, konflik tussen werknemer en werkgewer, asook wat “man-wees” beteken en die samelewing se persepsies daarvan.

Barend, Sagie se pa, is bekommerd: hy weet dat Sagie na sy dood die plaas moet oorneem en twyfel nie aan sy vermoë as boer nie, maar Sagie se naïwiteit en onskuld is ‘n ander saak. Groot-Lucas maak reeds al planne om die grond te bekom. Dan is daar ook nog die ding met Freek en die werkers se murmurering oor die dopstelsel. Boonop is Sagie se aandag deesdae nie volledig by die plaaswerk nie. Saans wanneer almal uitval, bou Sagie aan Ansie se huis. Hy dra klip uit die berg af, dress dit self, trap klei (met die hulp van die skugter kind) en kap riete vir die dak. Want, glo hy, sodra daar rook uit die skoorsteen trek, sal Ansie terugkom.

Jan van Tonder bewys met hierdie roman weer eens sy fyngevoeligheid vir die buitestander, die onskuldige individu, en skep genuanseerde karakters wat deernis by die leser wek. Tipies van so ‘n plaasroman is die verbondenheid van die karakters aan die plaas, die grond en die landskap. Is weer Sagie wys ‘n plaaswêreld wat aan die verdwyn is, waar daar klip met die hand gedress word (iets wat Jan terloops ook kan doen), pyp uit kalbas gemaak word en daar met die hand gemelk word. Ook van die onskuld van Sagie is daar maar min te sien in die hedendaagse lewe – miskien juis daarom dat die karakter soveel impak op die leser het.

Jan van Tonder het Madri Victor se vrae oor dié nuwe boek van hom beantwoord.

 

Die eerste boek, Is Sagie, het in 1987 verskyn. Waarom nou, na al die jare, ‘n opvolg skryf?

Daar was geen plan om ‘n opvolg te skryf nie. Sagie was ‘n volledige storie, klaar, bedoel om te eindig soos hy het, maar 25 jaar lank het mense (veral vroue, en vir hulle sê ek altyd moeiliker nee), wanneer hulle verneem dat ek die skrywer van Is Sagie is, my verwytend gevra hoe ek dit aan Sagie kon doen: “om hom só te los”. Ek was bang dat ek die karakter wat ek die liefste van almal het, skade sou aandoen met ‘n opvolg, en het teen die versoeke bly stry. En, mettertyd, die versoeking. Maar sou ek na ‘n kwarteeu weer in Sagie se kop kon kom? Ek het probeer, die boek in die spreekwoordelike laai gebêre, en ‘n klompie jaar later uitgehaal en weer probeer. En uiteindelik besluit dis nou of nooit.

Sagie is ‘n wonderlike karakter: met sy onskuld, eenvoud en naïwiteit wek hy baie deernis by die leser. Waar kom jy aan hom? En waarom só ‘n karakter?

Toe ek pas afgestudeer was, met sielkunde, kriminologie en Afrikaans as hoofvakke, het ek my by die destydse Gevangenisdiens aangesluit met die doel om dié te gaan hervorm. En glo my, die tronk waar ek aangestel is, ‘n oorbevolkte Point-gevangenis in Durban met sy swart, Indiër- en bruin gevangenes, had behoefte daaraan. ‘n Verlore stryd, natuurlik. Die boosheid van die stelsel (gevangenes wat na willekeur aangerand is, wat hul tyd ledig en sonder gesonde ontspanning moes deurbring, die kwaad wat in myself was, soos in alle mense) het my ondergekry. Ek het besluit om in die wagpos op die tronkmuur waarheen ek verban is om my stil te kry, ‘n storie te skryf – my heel eerste poging. Ek wou ‘n mens skep wat sonder kwaad is. Sagie was die produk. Toe ek egter alle boosheid en slinksheid uit hom gehaal het, was hy na die verstand ietwat stadiger as ander mense. Dit sê natuurlik nie dat hy nie ‘n goeie boer is nie; inteendeel, sy kennis van knoppiesblaar en water lei en beeskwale en plant en oes is vir hom tweede natuur. Hy verstaan net nie waarom mense mekaar soms seermaak nie.

In beide Is Sagie en Is weer Sagie het die dialoog my opgeval: die mense se praat is outentiek, jy hóór hulle en herken dit. Die uitdrukkings wat hulle gebruik, is kostelik. Het jy self in die Ladismith-distrik gewoon? Hoe skryf ‘n mens dialoog wat so wáár is – skryf jy neer wat mense sê, of kom dit so half vanself, van goed luister?

Die Klein Karoo is ‘n wonderwêreld waarheen ons elke Desembervakansie met die trein is om by oupa Jan en ouma Makkie te gaan kuier. Ek het ná my skooldae bly terugkeer daarheen, en toe ek besluit het om ‘n roman (Is Sagie) te maak van die kortverhaal Legio, wat destyds in Huisgenoot verskyn het, het ek op ‘n plaas in Dwarsrivier, ‘n beeldskone vallei naby Ladismith, gaan bly. (Daar het ek ook die kortverhaalbundel Aandenking vir ‘n vry man, gegrond op my tronkervaringe, geskryf.) Ek ken dus die wêreld van kindsbeen af, en ek het mense graag dopgehou en afgeluister – ‘n gewoonte wat ek nie afgeskud kon kry nie en toe maar tot ‘n fyn kuns vervolmaak het. En uitdrukkings soos “hy hou hom asvaal” kan tog nie toegelaat word om in die vergetelheid te verdwyn nie, of hoe?

Die plaas en ruimte waarin Sagie hom bevind, staan sentraal in beide die romans. Waar en in watter tydsgees speel die verhaal af?

Vir Is Sagie het ek my oupa se plaas en dié van my neef Christo, ‘n ent verder in die vallei op, gekombineer. Die ewige stryd om waterregte in die Klein Karoo word hier geëggo, iets wat in Is weer Sagie nogal ‘n groot rol speel. Toe ek in 1983 die eerste weergawe van Is Sagie geskryf het, was dit ‘n storie wat in die hede kon afgespeel het, maar nou begin dit al ouwêrelds lyk. Dit was die tyd voor TV.

Albei die Sagie-boeke teken wat my betref ‘n vergange plaaswêreld: daar word nog pype uit kalbasse gemaak, koeie word met die hand gemelk en Sagie bou huis deur klippe uit te soek en te dress, klei te trap en alles dan met die hand te bou. As plaaskind herken ek baie dinge wat deel is van my romantiese kinderwêreld soos ek dit onthou. Is dit belangrik vir skrywers om daardie dinge as ‘t ware vas te skryf, te boekstaaf?

Die boekstawing en vaslegging van ‘n wêreld kan ‘n wonderlike uitkoms wees van die storie wat geskryf word, ‘n neweproduk, soos die moontlikheid van ‘n “les”. Maar die storie is wat voorop staan, wat belangrik is. Behoede die skrywer wat ‘n “boodskap” het en daarvan ‘n storie wil maak. Te gereeld belaai skrywers en filmmakers Bybelse of Christelike stories met sedepreke en sendingywer, tot die laaste strooi toe, wat die kameel afrug laat neerslaan, vrag in die stof. Wanneer ek skrywe, soek ek plekke en dinge uit wat by my storie pas, en om dit te kan doen, moet ek die wêreld waarin dit afspeel, ken (of leer ken). Sodoende lei ek sommige lesers hopelik deur ‘n bekende tyd en wêreld, en ander in die belewing van nuwe dinge.

Karakters is wat my betref die heel belangrikste ding in enige storie en jou karakters word meesterlik ontwikkel. Barend, Sagie se pa, Mieta wat in die huis help, Freek en Groot-Lucas. In hierdie boek word die plaaswerkers ook beter ontwikkel, of hoe?

Ek is bly jy hou van my karakters. Ja, die plaaswerkers het ‘n groter rol begin speel in Is weer Sagie. Dit is waarskynlik die gevolg van Sagie se groter betrokkenheid by die besluitneming op die plaas – hy is veel menslike as die ander boere, selfs meer as sy pa, wat, hoe streng ook al, ‘n goeie man is. Die trauma wat Freek beleef het, laat hom sterker en meer doelgerig van die Kaap af terugkeer, wat iets oor sy karakter sê, maar ook oor die huis waarin en die plaas waarop hy grootgeword het. Sagie, in sy onskuld, verstaan nie waarom sy goeie vriend Freek nou so “anders” optree nie, selfs terwyl hy alles in sy vermoë doen om Freek by te staan. En Mieta is verskeur tussen die twee jong mans, een haar bloedkind en die ander, deur die noodlot aan haar toevertrou, wat sy net so lief het.

Wat my opgeval het, is dat die manlike en vroulike karakters in die roman in teenstelling met mekaar geteken word. Terwyl daar fisieke en emosionele gebreke aan die manlike figure toegeskryf word (Barend word byvoorbeeld as radeloos en fisiek afgetakel uitgebeeld, Groot-Lucas gewetenloos, ens), word die vrouekarakters merendeels as morele ankers en rigtingaanduiders uitgebeeld. Mieta is die een wat die Van Greunen-mans ondersteun – met baie meer as net huiswerk. Sy is ’n instaan-ma vir Sagie. Daar is ook talle verwysings na Anna, Sagie se ma, en hoe sy vir Barend leiding gegee het. Jakkelien lewer sterk inspraak oor Freek se besluit om Kopland toe te gaan en Louise hou dinge “goed” by Lucas-hulle. Het jy dit doelbewus so beplan of het die karakters eenvoudig met die verloop van die verhaal so ontwikkel?

Die kort antwoord hier? Ek hou meer van vroue as van mans. Ek het in ‘n huis vol van hulle grootgeword: vyf sussies, my ma, my ouma en ons huishulp. Dit teenoor een broer en ‘n pa. Telkens voel ek die krag van vroue aan, sien ek hoe hulle kan uithou en aanhou en ‘n gelapte spul kan bymekaarhou. Selfs die meisiekinders in my jeugstories troon bo die seunskarakters uit.

Sagie ervaar vir die eerste keer vandat ons hom leer ken ook wrywing tussen hom en die werkers met wie hy altyd vriende was. Hy moet immers nou die man van die plaas word, die boer. En om “man” te wees, word in daardie wêreld gemeet aan hoe goed jy boer en of jy ‘n sukses van jou plaas maak. Dit sluit aan by die vorige vraag. Wat beteken man-wees in die gemeenskap wat jy uitbeeld en wat beteken dit vir Sagie?

Die wrywing tussen Sagie en die werkers kom van hulle kant af: Freek met sy wrewel omdat hy ‘n plaaswerker sou gebly het as iemand hom nie ‘n kans gegee het nie (al is dit om redes waaraan hy nie eens wil dink nie), en die ander werkers wat skielik ‘n verhoging elders kry, en ook ‘n bedenklike “voorreg” terugkry. Vir Sagie gaan man-wees sekerlik oor hoe goed jy kan boer, maar ook hoe ‘n goeie versorger jy is: van jou huismense, jou werkers, jou diere en jou grond. En ook die vermoë om die vrou wat jy lief het, ‘n huis te kan gee, al moet jy dié met jou kale hande bou.

Waar Is Sagie gefokus het op die ontluikende verhouding tussen Sagie en Ansie, is Ansie in Is weer Sagie ‘n verre verlange. Sagie glo onwrikbaar dat sy sal terugkom sodra hy haar huis klaar gebou het en daar rook by die skoorsteen uittrek. Ansie se huis word ‘n karakter op sy eie, of hoe? Dit staan sentraal in die verhaal.

Die huis het onder my hand as karakter ontwikkel, soos wat hy onder Sagie s’n potensiele woning geword het. Sonder daardie huis wat hy vir Ansie bou, is daar geen storie, of hoop vir Sagrys van Greunen nie. Maar saam met die huis, as simbool van permanensie en geborgenheid en hoop, staan ‘n ander karakter nader, een wat die leser self in Is weer Sagie sal ontmoet.

Die trefkrag van Is weer Sagie lê in die emosionele impak daarvan. Sagie se verhaal is aangrypend: waar Is Sagie grotendeels gehandel het oor Sagie en Ansie se toenadering tot mekaar en die potensiaal van ’n lewe saam, beeld Is weer Sagie die uiteindelike volwassewording en vereensaming van Sagie as karakter uit. Sagie word toenemend geïsoleer van mense wat hom in sy vorige lewe emosioneel beskerm het en goed was vir hom. Maar dit is darem nie ’n verhaal sonder hoop nie, of hoe?

Selfs Is Sagie was nie ’n boek sonder hoop nie. Aan die einde daarvan begin Sagie reeds aan Ansie se huis bou, en by die kleidam wag ’n bietjie warmte op hom, al is dit dié van die winterson.

Ek was met elkeen van die twee boeke diep beïndruk deur die eenvoud en onderbeklemtoning van die romans, die wysheid daarin en die aangrypende slotte. In daardie eenvoud lê geweldige krag. Is dit tiperend van jou skryfwerk oor die algemeen?

Ek skryf van nature redelik gestroopte, onderbeklemtoonde prosa. Ek onthou my wonderlike uitgewer, Marietjie Coetzee, het destyds met Is Sagie vir my gevra of ek nie die liefdestoneel tussen Sagie en Ansie net so ‘n bietjie meer eksplisiet sal maak nie. Toe ek haar weer sien, het ek vir haar gesê ek het probeer, maar Sagie wil nie.

Stel my asseblief gerus dat hierdie nie die laaste van Sagie is nie. Wat kan ons hierna verwag?

Sedert ek die besluit geneem het om die tweede Sagie te skryf, het ek gemeen dat dit dan net sowel ‘n drieluik kan wees. Dus, as ek die lewe hou en iets geskryf kry wat nie afbreuk aan die eerste twee boeke sal doen nie, wag daar nog een Sagie-storie.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf Pienaar

    Boodskap vir Jan: Beste Jan - ek het gister 'n gebruikte eksemplaar van "Aandenking vir 'n Vry Man" gekoop. Op die titelblad verskyn daar 'n handtekening onder die skrywer se naam. Die skrif is piepklein, maar dit lyk vir my na "Van Tonder". Ongelukkig kan ek dit nie hier kopieer nie. Ek sal bly wees as jy vir my jou e-posadres sal stuur, dan kan ek vir jou 'n skandering van die titelblad stuur sodat jy daarna kan kyk. My e-posadres: guspienaar@gmail.com. Dankie en groete.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top