
Jan, jou biografie op LitNet sê dat jy jou eerste tydskrifverhaal in die tronk geskryf het. Dit klink sommer baie interessant – was jy regtig in die tjoekie en hoe het dit jou skryfloopbaan beïnvloed?
Ek het met ’n BA-graad in sielkunde en kriminologie en ’n droom om gevangenes te help rehabiliteer by die destydse Gevangenisdiens aangesluit. My dienstyd het begin by die oorbevolkte Point-gevangenis in Durban, waar swart, bruin en Indiërgevangenes aangehou is. Van pogings om hulle te rehabiliteer was daar min sprake.
Nadat ek herhaaldelik by die hoof van die gevangenis en sy plaaslike seniors – later ook by besoekende offisiere van die hoofkantoor in Pretoria – gekla het oor die onmenslike wyse waarop sommige bewaarders die gevangenes (met die ondersteuning van die hoof) behandel het, is ek na ’n wagpos op die tronkmuur verban, waar ek my dae en weke en maande deurgebring het – die gevangenes had veel meer beweegruimte as ek. Al voordeel wat ek bo hulle gehad het, was dat ek nie aan willekeurige klappe en knuppelhoue onderwerp was nie, en dat ek darem na elke dag- of nagskof in my gevangeniswoonstel kon gaan slaap.
Hierdie moeilikheidmaker se aansoek om ’n oorplasing na Pretoria Sentraal agt maande ná sy aankoms in Durban is met geesdriftige dankbaarheid aanvaar. Maar my dienstyd in Point, veral die maande in die wagpos, het van my ’n skrywer gemaak. Baie jare later het ek die tronk weer besoek. Dié was tot op die grond afgebreek en daar het bossies deur die sementvloere begin breek; die mure en die wagpos net ’n herinnering.
Waar kom jy aan die gegewe van hierdie verhaal? Is dit gegrond op ’n persoonlike ervaring, en is die karakters mense wat jy ken?
Êrens in die eerste helfte van 1977 het ’n paar van ons gesinslede oor Kersfees gepraat, en ons ma, Anna, het uit die bloute gesê: “Ek sal nie Kersfees hier wees nie.” Ons het geantwoord dat sy nie laf moet wees nie, en die gesprek oor die Groot Dae voortgesit. Voor daardie oggend/middag/aand moes ek Mammie van tyd tot tyd na die Spoorwegdokter toe neem (as dagstudent aan Tukkies was ek die aangewese persoon om dit te doen). Die dokter het haar telkens met die een of ander soort medisyne huis toe gestuur.
Een Sondagoggend, laat in September, kon Mammie nie opstaan nie. Pa het die dokter gebel en nie lank daarna nie het die arts sy sportmotor voor ons huis in Laseandralaan geparkeer. Die kap was afgeslaan. ’n Pragtige jong blonde vrou met ’n kopdoek het stroef bly sit. Die dokter het ingekom en Mammie ondersoek (dalk vir die eerste keer behoorlik) en sommer van ons foon af gebel en gereël dat sy onmiddellik in die HF Verwoerd-hospitaal opgeneem word.
Op 22 Oktober, toe die jakarandas begin bloei, is Mammie in haar hospitaalbed dood. So was dit. Die res van die verhaal is fiksie.
Jy het ongelooflike sukses met romans soos Is Sagie, Die kind en Roepman, en ook Die verevrou gehad. Is kortverhale jou eerste liefde, of het romans daardie plek ingeneem?
Skryf is my allesoorheersende liefde. Die genre wissel. Die afgelope jare hou ek meer van romans, maar ek word soms verlei om iets anders aan te pak – aandagafleibaarheid synde een van my vele tekortkomings. Buiten romans en kortverhale het ek al suksesvolle radio- en verhoogdramas geskryf, selfs die eerste weergawe van Roepman se draaiboek.
Ek droom van ’n digbundel, maar nie alle drome word waar nie.
Lees Jan van Tonder se kortverhaal, “Pa, Ma en die liefde”, hier:


Kommentaar
Jacobaw1994@gmail.com