Pa, Ma en die liefde

  • 14

Ons sit saam met Pa en Ma om die kombuistafel. Die blad en stoele is van groen melamien. Twee maal ’n jaar kom ons bymekaar, meestal voltallig, met ons ouers se huweliksherdenking en vir gesamentlike Kersfeesvieringe. Ek, Wilmien, Dawie en (vanjaar vir die eerste keer) sy oulike jong vrou, Renske. Die geur van boerekos vul die kombuis met warmte en gemeensaamheid.

“Gaan dit goed met julle twee?” vra Ousus uit die bloute vir Pa en Ma. Sy ken hulle die langste – sou sy iets aanvoel wat ons ander verbygaan?

Ma se oë is op haar bord gerig.

Na ’n effense pouse sê Pa: “Hoekom vra jy, Wilmien?”

“Want julle is albei vreeslik stil.”

Hulle antwoord nie. Pa trek net sy skouers op. Toe Kolle kos kom bedel en Renske vir hom ’n stukkie vleis gee, kyk hy haar streng aan. “Jy bederf die hond, en as julle weg is, sukkel ons weer om hom die gebedel af te leer!”

“Jammer, Oom,” sê Renske en bloos.

Ek begin wonder of Wilmien nie dalk tog aan ’n senuwee geraak het nie.

Dawie staan op en sê: “Ek dink dis tyd vir dáárdie song.” Hy loop by die vertrek uit, sitkamer toe waar die hi-fi staan. Sommer gou hoor ons die musiek van Ma-hulle se troudans: Françoise Hardy met “Say it now”. Dawie kom terug in die kombuis waar die atmosfeer steeds ’n bietjie stram is ná Pa se hap na Renske. Hy buig en hou sy hand na haar uit. “My lief, kom ons deel in my ouers se herinnering aan die heuglike dag toe hulle mekaar die regterhand gegee het.”

 

Ons tasse is gepak, gereed om ingelaai te word. Dawie maak keel skoon. “Ek het ’n aankondiging.” Hy kyk elkeen van ons om die beurt in die oë om die oomblik so lank hy kan uit te rek.

Wilmien skud haar kop. “Nee wat, só laat ek my nie terg nie. Wat is dit, Renske?”

Renske se oë blink. “Ek en Dawie gaan Kersfees vir Ma en Pa ’n baie spesiale geskenk bring.”

“’n Baba?” Wilmien wag nie op ’n antwoord nie. Sy gryp Renske vas.

Ek sit my arms om hulle. Ons lag en huil. Toe let ek op dat Pa en Ma eenkant bly staan, asof uitgesluit van die nuwe viering. “So ’n wonderlike Kersgeskenk – is julle nie bly nie?” vra ek.

Pa glimlag stywerig. Trane loop oor Ma se gesig. Sy kry ons bymekaar soos ’n hen haar kuikens. Lank kyk sy ons in die oë, een na die ander, ’n ritueel elke keer wanneer ons op vertrek staan. Ons wag vir die “Tot volgende keer, as dit die Heer se wil is”, maar in plaas daarvan sê sy: “Ek sal nie Kersfees hier wees nie.”

 

Kort na die herdenkingsnaweek bel Wilmien my. “Frans, jy woon die naaste aan Pa-hulle; gaan loer maar gereeld in, hoor?” sê sy. Ek hoor die kommer in haar stem.

“Natuurlik.”

Op my beurt bel ek Ma se dokter.

“Ja, sy is siek,” sê hy, “maar sy weier om toetse te ondergaan – máánde al – bang dat dit kanker kan wees.”

Dis nie vir my genoeg nie. Ek maak ’n afspraak, gaan sit by sy lessenaar. “Wat gaan jy doen, dokter?”

“Ek kan nie namens haar besluit nie,” sê hy; “jou ma is ’n sterk vrou. As ek haar in ’n rigting wil druk, sal sy gewoon wegbly, dan kan ek haar toestand nie moniteer nie.”

Later bel ek sus Wilmien. “Lyk my Ma is in goeie hande,” sê ek.

“En Pa, wat sê hy?”

“Dat die dokter beter as ons weet; sy moet maak soos hy aanbeveel.”

Ek besoek Ma. Ek smeek. Uiteindelik gee sy bes. Dr Bergman laat toetse doen en verwys haar na ’n onkoloog. Dié ondersoek Ma en stuur ’n biopsie weg. Ek en Pa én dr Bergman is by toe die diagnose vir Ma uitgelê word.

“Borskanker,” is die spesialis se uitspraak. Hy voeg dan die woord “gevorderd” by.

Agterna bel ek Ousus, benoud: “Ek het jou nodig, Wilmien.”

 

Sy vlieg van Kaapstad af Durban toe. Dit begin donker word. Op pad na my huis hou ek by ’n restaurant stil. Ek stuur die gesprek na ditjies en datjies, enigiets om die onafwendbare uit te stel, maar uiteindelik sê sy: “Wat probeer jy vir my wegsteek, Frans?”

“Die onkoloog het gesê Ma sal sterf as sy nie dringend ’n mastektomie kry nie. Albei borste. Maar sy weier om aan haar te laat sny.”

Ek skink vir ons nog wyn voor ek sê: “Ma gaan Pa verlaat.”

Wilmien sluk die helfte van haar glas leeg. “Shit, broer, waarvan práát jy? Hoe kan sy dit doen? Wat van haar siekte?”

“Sy besoek darem nog haar dokter.”

Die kelner staan met sy boekie nader, maar Wilmien sê sy is nie meer honger nie. “Wat kan die GP doen wat haar spesialis nie kan nie?”

“Hy skryf goed voor wat die pyn verlig. En hulle gesels.”

“Gesels? Maar dis mos waarvoor sielkundiges daar is. Kom ons gaan huis toe, jy kan vir jou ’n takeaway bestel.”

 

Ons ry in stilte. Wilmien se kop is weggedraai; ek dink sy huil. By die huis sê ek vir haar: “Daar is nog iets wat jy nie weet nie.”

Sy sug. “Wil ek dit hoor?”

“Nee, maar jy moet. Ma gaan by dokter Bergman intrek.”

“Die bliksem, ek sal hom by die Mediese Raad verkla!”

“Moenie eers daaraan dink nie. Hy gee om vir haar en sy vir hom, dis al wat tel as mens net ’n paar maande oor het. Ma het ons laas gewaarsku, onthou jy nie?”

Wilmien is rooi in die gesig. “Dalk het sy bedoel sy gaan Kersfees by die blerrie dokter wees!”

Ons gesels tot diep in die nag. Oor Ma wat vir ons ’n wonderlike moeder was en vir Pa, sover ons kan oordeel, ’n goeie vrou. Ons praat oor Pa ook, hy wat nooit van aanraking gehou het nie, geen erg gehad het aan ’n gedruk of gesoen nie. En nou die eensaamheid wat vir hom voorlê: sy vrou van dertig jaar wat hom gaan verlaat omdat sy sterwend is, wat hom nie by haar wil hê terwyl sy doodgaan nie. Hoe hanteer ’n mens so iets?

 

Ons is weer almal in Pa se huis, selfs Dawie en Renske se baba. Pa is in die wolke toe hy hoor sy kleinkind is na hom vernoem, klaar gedoop en geals. Ma se stoel is leeg, soos sy gesê het dit sal wees. Woordeloos sit ons, bang om te praat, ingeval ons iets mag sê wat Pa sal seermaak. Op die draadloos sing ’n koor “Die Heiland is gebore in stille Bethlehem”. Pa lyk broos. Kolle kom sit langs sy stoel. Pa skeur ’n stukkie vleis van ’n been af en gee dit vir hom.

Ek, en ek dink die ander ook, skrik toe sy stem skielik opklink: “Ek het nooit geleer hoe om lief te hê nie, dis hoekom julle ma weg is, julle weet dit ook,” sê hy en staan op.

“Hoe nou, Pa?” vra Dawie.

“Wil ek ook weet.” Wilmien se stem.

Pa antwoord nie, stap net die vertrek uit.

Ons kyk nog so vir mekaar, toe hou ’n motor buite stil. Die bande twiet op die teer en die enjin ruk dood. Ek haal Wilmien by die voordeur in en pluk dit oop. Ma se hand reeds op die luiknoppie. Ons lei haar kombuis toe. Die ander is net so verbaas as ons.

“Hoe kry Ma dit reg om so goed te lyk?” vra Dawie.

“TLC, my kind,” sê sy, “Charles was goed vir my.”

“Wás?” Ons, asof uit een mond.

“Hartaanval. Meer as ’n maand gelede al.”

Ontstig vra Wilmien: “En Ma – alleen in sy huis?“

“Nee, só gesond is ek ongelukkig nie. Charles het lankal reëlings getref, ingeval – vir my ’n plek in ’n oord gekoop. Ek word goed versorg daar.”

Renske tel haar baba op en gee hom vir Ma aan. “Ek en Dawie het mos beloof om vir julle ’n geskenk te bring.”

“Sy naam is Neels,” sê Dawie.

Ma vou die baba in haar arms toe. “My kleinkind; dat ek sowaar die voorreg het om hom te kan sien. Waar is sy oupa?”

“Hier.”

Ons kyk in die rigting van waar Pa se stem kom. Hy kyk na Ma, groet met ’n knik van sy kop.

“Kom nader, Neels,” sê sy, en toe hy by haar kom: “Hier, hou jou kleinkind vas.”

In stille verstomming kyk ons hoe hy die kind voor hom in sy twee hande hou, eers ongemaklik, en hom toe in die waai van sy arm na sy bors bring.

“Ek wil julle mening vra,” sê hy. “As ’n man sy vrou laat gaan omdat sy elders gelukkiger sal wees, sou julle saamstem dat dit is omdat hy haar liefhet?”

“Ja, Pa.”

Hy glimlag. “Dan hét ek mos geleer, verdomp!”

 

Lees ’n kort onderhoud met Jan van Tonder oor "Pa, Ma en die liefde" hier:

Korona-kortverhaalfees: Jan van Tonder oor “Pa, Ma en die liefde”

Al die verhale van LitNet se Korona-kortverhaalfees is hier beskikbaar:

Korona-kortverhaalfees

 

 

  • 14

Kommentaar

  • Avatar
    Willie Van Aswegen

    Afgeronde stukkie werk Jan.

    Opvallend is dit vir my omgekeerde nostalgie. Nie iets uit die verlede wat met heimwee opgeroep word nie, maar juis verlange en tekortkoming wat in die toekoms nuwe gestalte moet kry.

  • Sjoe, dis hartseer maar tog duidelik en menslik vertel. Maak 'n mens diep dink aan tye wat is en was. Baie mooi geskryf.

  • Jan se fyn keuses van inligting wat geselekteerd op 'n bewustelik ekonomies (selfs gestroop) deurgegee word maak hom 'n knap kortverhaalkunstenaar en pas perfek by die onderwerp van mense wat fyn trap om gebeure en onderwerpe wat hulle eintlik nie durf by die naam noem nie.

  • Dit is net soos dit is. Ek het gelees en tot my asem wegslaan! Wat ’n lieflike verhaal. Dankie.

  • Avatar
    Jan van Tonder

    Baie dankie aan elkeen wat gereageer het, en dit met sulke wonderlike wondelike kommentaar.

  • Avatar
    Corlietha Swart

    Eerlike skryfwerk tref altyd die hart en verstand gelyktydig. Onvergeetlik.
    Knap gedaan!
    CS

  • Ek is so dankbaar dat ek hierdie aangrypende verhaal toevallig raakgelees het. Dankie Jan van Tonder, jy kán maar.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top