Grootgeluk: ’n onderhoud met Jan van Tonder

  • 0

Grootgeluk
Jan van Tonder
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798182416

Jan, baie geluk met die verskyning van Grootgeluk, na baie jare se skryf en herskryf. Wat ’n prestasie om nou die vrug van jou arbeid te kan vashou. Ek het nagedink oor jou oeuvre terwyl ek inderwaarheid net oor Grootgeluk wou vra. Dit kan nie anders nie; hier is tog tematies soveel raakpunte.

Eerstens: Kom ons begin by Roepman. Jy het al gesê Roepman is as ’t ware outobiografiese fiksie. Jy skryf ook: “’n Storie is nie die lewe nie.” En naby aan die slot van Roepman staan daar: “Daar het nie ’n roepman in Joop se plek gekom nie. Die spoorweë sê die tyd van wakkermaak is verby, mense weet goed genoeg hulle moet opstaan om te gaan werk.” Het jy vir Joon geken? Dink jy nog soms aan die plek van jou kinderjare? Wil jy nou, na die verskyning van Grootgeluk, ’n oomblik lank terugkyk op die verskyning van Roepman en ’n paar gedagtes daaroor deel?

Baie dankie vir die gelukwensing, Naomi.

Ek het ook gesê: “Die lewe is nie ’n storie nie.”

Ek is nou nie meer seker watter een juis is nie.

Die Joon-karakter is gegrond op ’n jong man wat in die 1960’s in ons buurt gewoon het. Skelerig, altyd oënskynlik aan die opkyk – dis waar die ooreenkoms tussen die twee eindig. Maar die simboliek daarvan het in Roepman ’n soort leitmotief geword wat die doodgewone storie van ’n spoorweggesin en -gemeenskap universeel gemaak het. Daarsonder sou die boek nie as roman die trein gerangeer gekry het nie.

Byna elke keer wanneer ek in Durban kom (wat met tussenposes van baie jare gebeur), gaan ek terug na waar ek grootgeword het. Ek is ook saam met die filmspan daarheen om hulle te wys hoe dit daar lyk.

...........
En natuurlik dink ek baie aan daardie vormingsjare: die gemeensaamheid, kinders wat in die strate speel, die boelie wat my gereeld na skool ingewag en my op ’n dag met sy kop in die gesig gestamp het, ’n vriend se vriendelike pa wat ’n monster geword het as hy te veel gedrink het, my pa wat ons gedwing het om twee maal op ’n Sondag kerk toe te gaan, stoomtreinvakansies (ons had, soos die meeste ander huishoudings, nie ’n kar nie), bure wat die bietjie wat hulle het, met ander in groter nood deel.
...............

En natuurlik dink ek baie aan daardie vormingsjare: die gemeensaamheid, kinders wat in die strate speel, die boelie wat my gereeld na skool ingewag en my op ’n dag met sy kop in die gesig gestamp het, ’n vriend se vriendelike pa wat ’n monster geword het as hy te veel gedrink het, my pa wat ons gedwing het om twee maal op ’n Sondag kerk toe te gaan, stoomtreinvakansies (ons had, soos die meeste ander huishoudings, nie ’n kar nie), bure wat die bietjie wat hulle het, met ander in groter nood deel. Ook met skinderstories was mense nie snoep nie; altyd, soos Leonard Cohen dit in sy “Master song” stel: “… our love is a secret all over the block.”

Ek het Roepman op Oudtshoorn geskryf. Die boek is goed ontvang en is redelik wyd voorgeskyf. Hy is egter by twee Wes-Kaapse skole verbied, wat vir my ’n groot teleurstelling was. Maar hopelik is die tyd van wakkermaak nog nie verby nie.

’n Jarelange vriend, Piet de Jager, het besluit om ’n fliek te maak oor my boek, wat vir my ’n groot eer was. Te meer omdat hy wyle Paul Eilers as regisseur aangestel het. Die rolprent het sy merk in die annale van die Suid-Afrikaanse filmbedryf gemaak.

Ek verskuif na ’n volgende boek: Die verevrou. Ook hierdie boek is nie volkome waar nie – is storie, en is tog ’n lugspieëling van ’n ware verhaal. Die boek speel af in ’n gans ander ruimte as Roepman. Groot gedeeltes daarvan speel af in Oudtshoorn, waar jy woon. Ek sien ’n raakpunt tussen Roepman en Die verevrou: Die een is ’n Bildungsroman uit die oogpunt van ’n seun wat man word, en die ander ’n Bildungsroman uit die vroulike oogpunt, en haar ontwaking van haar seksualiteit. Wil jy dalk ook enkele gedagtes omtrent Die verevrou deel?

Ek is bly jy vra die vraag, want dit laat my opnuut daaroor dink, maar hierdie gesprek laat met genoeg ruimte om enkele gedagtes te noem. Eerstens dan Roepman se Timus en sy gewaarwording dat alles verander het: Die oorgang is ingrypend, soveel dat die klong na die kant van ’n toiletbak mik, want hy het skielik bang geword vir die lankbegeerde skuim wanneer hy in die water sou piepie, bang dat grootmensword nie blyk te wees wat hy gedink het dit sou word nie. Terselfdertyd is die oorgang relatief eenvoudig. Hare groei waar dit vroeër nie het nie, die stem breek. Doodgewoon.

.........
Maar daar lê mistiek aan die dinge wat met die oorgange dogtertjie / meisie / jong vrou gepaard gaan. Iets meer kompleks. Intiemer. Broser dalk. Ek weet dis maar mý mening, dié van ’n man, dus maar dié van ’n waarnemer, ’n afluisteraar, maar ek bly my daaraan verwonder.
..........

Maar daar lê mistiek aan die dinge wat met die oorgange dogtertjie / meisie / jong vrou gepaard gaan. Iets meer kompleks. Intiemer. Broser dalk. Ek weet dis maar mý mening, dié van ’n man, dus maar dié van ’n waarnemer, ’n afluisteraar, maar ek bly my daaraan verwonder.

Daar is uiteindelik twéé pluimbereiders in Die verevrou: Liora en Candice. Die ontwaking van albei se seksualiteit kom onder die loep, al verskil die aard daarvan, want by een van die twee moes daar eers aanvaarding kom.

Grootgeluk beweeg binne die genre van die plaasroman. Daar is dadelik die idealisme en vrae rondom die naam Grootgeluk. Bestaan daardie plaas werklik in jou omgewing, of hoe het die naam van die roman hom kom aanmeld?

Die plaas met sy eienaars en arbeiders word een van die hoofkarakters. Hy had ’n naam: Grootgeluk. ’n Keuse gegrond op die ironie daaragter, maar die boek het (na vele herdope) tot baie na aan sy spertyd titelloos gebly. Uiteindelik het Nèlleke de Jager, my uitgewer, my op ’n sinnetjie in die manuskrip gewys en het ons daaruit net die plaasnaam behou.

Die plaas bestaan nie werklik nie.

Ek lees dat jy so baie weergawes van Grootgeluk geskryf het dat jy ’n paar keer amper moed opgegee het, herskryf en oorgeskryf het. En tog skryf jy dat dit in baie opsigte op die waarheid gebaseer is. Is die waarheid steeds die waarheid as mens dit so baie kere oor en oor vertel? Verwys jy na gebeure, na gevoelswaarde, of hoe beskryf jy die waarheid van Grootgeluk, die roman?

Ander waarhede is brokke navorsing wat die teks deurspek om die milieu vir die moderne leser tot lewe te bring. So byvoorbeeld het ek nie die “skeiding van die bokke en die skape” op kerkgrond uit my duim gesuig nie; dit is waar dat die stadsraad die aanhou van ’n struismannetjie en wyfie in een kamp in die openbare oog verbied het; en daar is inderdaad ná die ineenstorting van die pluimbedryf tonne vis per ossewa vanaf Mosselbaai na Oudtshoorn aangery om die verarmde dorpenaars te help voed. Hiervan is daar talle voorbeelde, soos ook die Britse beleg van die dorp en distrik, wat die fiktiewe narratief aanvul en die geheel aan tyd en plek bind.

Jou storie word onder andere vertel uit die oogpunt van ’n werker. Dit speel weer af in Oudtshoorn, die dorp gebou op welvaart en volstruise. Ek lees in ’n ander onderhoud dat ’n uittreksel uit ’n koerantberig die sneller van die storie was. Wil jy iets hieromtrent sê?

Daar is twee vertellers: Hendrien, die ryk boer se vrou, en ’n plaaswerker, Tijs Velaat. Tijs is ongesofistikeerd, maar tog wat agtergrond aanbetref die “meerdere” van ander werkers op die plaas vanweë sy herkoms en geletterdheid. Laasgenoemde danksy sy aanvanklike blootstelling aan ’n wêreld wat Maria, Andries en Hendrien se dogter, hom gebied het.

........
Hendrien bied deurgaans ’n beeld van haarself en fokus ook op die lewe van haar man en dogter, en dié twee se invloed op haar eie. Maar Tijs is die nuuskierige een, die voyeur wat alles en almal afloer en -luister. Menige mens – selfs die dominee – bieg by hom omdat almal dink dat hy nie kan praat nie.
...........

Hendrien bied deurgaans ’n beeld van haarself en fokus ook op die lewe van haar man en dogter, en dié twee se invloed op haar eie. Maar Tijs is die nuuskierige een, die voyeur wat alles en almal afloer en -luister. Menige mens – selfs die dominee – bieg by hom omdat almal dink dat hy nie kan praat nie.

Hy ken die wêreld weg van Grootgeluk af beter as die ander en bring die twee bymekaar, met noodlottige gevolge.

Die boek is gegrond op ’n kort hofverslag wat ek in ’n Oudtshoorn Courant van die laat 1900’s gevind het. Dít was die sneller.

Dis die verhaal van ’n boerenooi wat op ’n uitlander verlief geraak en saam met hom weggeloop het. Haar vader het die twee, nog nie eens van die plaas af nie, gekonfronteer en die verleier van sy dogter geskiet. Die man het later in die Oudtshoornse hospitaal gesterf. Dele van die hofsaak word woordeliks aangehaal, maar die verloop en afloop van die vertelling in Grootgeluk lyk anders.

Ek het elke koerant wat tussen 1879 en 1914 op Oudtshoorn verskyn het, van voor tot agter deurgelees en geen opvolgberig gevind nie. Waarskynlik tot my voordeel, want daarsonder kon ek mý weergawe daarvan skrywe, dit wat Grootgeluk geword het.

Jou boek handel weer oor wat die waarheid is en wat régtig gebeur het. Een is die waarheid en een is “net ’n storie”. En dalk is dit nie meer moontlik om dit van mekaar te onderskei nie. En toe, na al die baie jare van skryf, hoe het jy geweet die storie is nou klaar?

Met die skryf van Die verevrou was dit baie moeilik om te verhinder dat feit nie die fiksie oordonder nie, want ek het die Franse plumassiere met my eie oë gesien. Ek kon onderhoude voer met mense wat noue verbintenisse met haar had. Om sulke “harde feite” te fiksionaliseer, is moeilik. In ’n stadium het Jenny vir my gesê ek moet onthou dis nie ’n biografie wat ek skryf nie: “Vertel die stórie.”

Dit het my baie gehelp. Ek kon net die essensie van die werklikheid gebruik waar dit nodig was en sodoende by die waarheid van my verhaal bly.

Op jou vraag oor wanneer ek geweet het my storie is nou klaar: Toe Nèlleke op ’n dag vir my sê ek kan maar ophou, hy werk nou, het ek geweet. 😊

Jou hoofkarakter is ’n getuie, ’n waarnemer en ’n afloerder. En uiteindelik word hy beskuldig van dinge wat hy nie gedoen het nie. Ander dinge pla hom, maar die dinge waarvan hy aangekla word, is nie die dinge waaraan hy skuldig bevind word nie. Ek kon nie anders as om te dink dat moderne lesers wat onvergenoegd voel oor die spoorweë van Roepman wat so verval het, dalk nou ook kan dink miskien kon mens in die tyd van Grootgeluk net so min staatmaak op die regsbank soos mense dalk nou voel. Ek lees ook in hierdie boek baie oor hoe ’n jong man onderdruk is, hoe hy geslaan en gemartel is en valslik beskuldig is. Hoe gee mens stem aan iemand wie se omstandighede jy jou beswaarlik volledig kan indink? Het jy aan hierdie dinge gedink terwyl jy besig was om die roman(s) te skryf?

Toe oompie Geswint die wonde op Tijs Velaat se rug sien, wys hy Tijs op die simboliek van die volstruisveer, en sê dat hy geregtigheid moet najaag, nie geld nie, anders sal hy onregverdige merke op ander mense maak, maar die óú slang verlei hom. Hy doen dinge met gruwelike gevolge waaroor sy gewete hom jare later treiter en hy eerder wil sterf vir dit wat hy nié gedoen het nie; maar vir leef onder die juk van skuld waarvan net hy weet, sien hy nie kans nie.

Dit is natuurlik onmoontlik om jou geheel en al in ’n ander se omstandighede, en veral die invloed wat dit op hom/haar het, te kan indink en dan te beskryf. Moeiliker nog as die verhaal hom meer as ’n eeu gelede afspeel. Maar te oordeel aan die reaksie op Grootgeluk op Facebook en elders blyk dit dat lesers meegevoer word deur die tyd en wêreld wat geskep is, en ook deur die karakters wat daardie ruimte bevolk.

...........
’n Skrywer wat gelukkig genoeg is (?) om oor baie jare heen te woon en te werk in omstandighede wat wissel tussen die uiterstes van rykdom en ontbering, ekstase en smart, gevangeskap en vryheid, leer, met die nodige nuuskierigheid en waarnemingsvermoë en empatie, genoeg van die mens ken om karakters van vlees en bloed te skep.
...........

’n Skrywer wat gelukkig genoeg is (?) om oor baie jare heen te woon en te werk in omstandighede wat wissel tussen die uiterstes van rykdom en ontbering, ekstase en smart, gevangeskap en vryheid, leer, met die nodige nuuskierigheid en waarnemingsvermoë en empatie, genoeg van die mens ken om karakters van vlees en bloed te skep.

..........
Maar op die moeilike pad van boekmaak is daar ook diegene wat skrywers teen hulleself beskerm, soos ’n eerlike eerste leser, kundige buitekeurders en jou uitgewer wat teregwys en lei.
...........

Maar op die moeilike pad van boekmaak is daar ook diegene wat skrywers teen hulleself beskerm, soos ’n eerlike eerste leser, kundige buitekeurders en jou uitgewer wat teregwys en lei.

Daar is soveel alledaagse gebeure in elke dag se kleinlewe. Hoe kies ’n mens watter van hierdie gebeurtenisse die totstandkoming van ’n roman teweegbring?

Ek sal die vraag probeer beantwoord deur ’n voorbeeld te gee van so ’n ingewing. Ek het my werk by die SAUK in Pretoria se nuuskantoor bedank om nog ’n boek in die Klein Karoo te gaan skryf, sonder die vaagste wete waaroor dit sou handel. Ek het ’n plaashuis gehuur en kort na my aankoms daar het ’n sin uit die bloute in my kop gekom.

Die sin kan ek nie onthou nie, maar dit het gehandel oor ’n jong Zoeloe-meisie wat swanger geword en ’n seuntjie in die lewe gebring het. Sy wou hom nie ’n naam gee nie, om op daardie manier sy bestaan te probeer ontken.

Dit was al.

Ek het die woorde neergeskryf en meer het gevolg. Nooit voor dit of daarna het ek ’n storie so vinnig op papier gekry nie. Maar die herskrywing het daarna baie maande in beslag geneem. Die boek wat uiteindelik verskyn het, se titel is Die kind, en hy het die ATKV- en die FAK-prys verower, en was vir baie jare lank by skole voorgeskryf.

Wat daartoe gelei het? Ek kan nie sê nie. Dalk my Natalse agtergrond, die intensiewe navorsing oor die Zoeloe-kultuur wat my tot in die hartjie van die destydse Zoeloeland geneem het?

Dieselfde ingewing/waarneming/vertelling sal verskeie skrywers koud laat, maar as daar “Jan van Tonder” op die persentjie staan, vat ek hom vir my.

Ek hoor jy is besig met ’n volgende boek in die Sagie-trilogie. Wil jy daarop uitbrei, of verkies jy om nie te praat oor dit waarmee jy besig is nie?

Ek woon weer op ’n plaas in die Klein Karoo, ’n stuk of 80 km vanaf Sagie se Dwarsriviervallei buite Ladismith téén die Swartberg naby Calitzdorp. Ek sal nou en dan Dwarsrivier toe gaan om die atmosfeer van die vallei opnuut te beleef en Sagie se teenwoordigheid aan te voel, maar hoe ek weer in sy kop gaan kom, weet ek nie.

Baie dankie, Naomi, vir jou sinvolle vrae.

Lees ook:

Jan van Tonder vertel vir Madri Victor van Is weer Sagie

Jan van Tonder (1954–)

Die verevrou deur Jan van Tonder – ’n bespreking

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top