Titel: Is jy orraait, Elizabeth?
Skrywer: Rozaan De Wet Boer
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624095729
Epub ISBN: 9780624095736
Die titel trek jou dadelik in. Dit getuig van omgee, empatie en ander se pyn raaksien.
Die feit dat dit gaan oor die wel en wee van drie boesemvriendinne wat, soos Jeanette Ferreira op die omslag skryf, “ware vriendinne [is] wat lag en koes vir die lewe se houe”, bevestig jou vermoede.
Vriendinne is immers die familie wat jy kies. Die besties wat alles van jou af weet en nog steeds van jou hou. Diegene by wie jy met ’n geruste hart al jou geraamtes uit jou kas kan laat tuimel sonder vooroordeel. Wat net so opgewonde oor jou sukses en geluk is as oor hul eie.
Mans kom en gaan, kinders trek uit die huis uit, maar ware vriendinne is altyd daar vir jou. Al is hulle net klankborde. Hulle is jou susters.
Hierdie roman gaan oor drie uiteenlopende vriendinne, elkeen met hulle unieke probleme.
Ada is die oorwerkte onderwyseres wat geen erg aan materialisme het nie en ’n aspirantskrywer is. Sy is groter as lewensgroot, warm en uitbundig. Dit pla haar nie dat sy nie in weelde leef nie.
Sy is gasvry, opgeruimd, interessant en ingelig.
Mirna is die empatiese, voorkomsbewuste helikopterma, al is haar kinders al volwassenes, maar sy het ’n hart van goud.
........
Ware vriendskap gee nie om of jy arm of ryk is nie.
........
Ware vriendskap gee nie om of jy arm of ryk is nie. Mirna het ’n luukse huis en twee blakend gesonde seuns. Sy is ’n kompulsiewe koper en haar aankope laat haar met ’n gevoel van skuld en skaamte.
Elizabeth se man, Derik, is ’n oorwerkte en toegewyde chirurg wat tydig en ontydig uitgeroep word. Sy weet van meet af dat sy weens sy werklading tweede viool in hul huwelik moet speel.
Gesinskwessies wat in die boek aangespreek word, wissel van huweliksontrou en dwelmverslawing tot ’n dogter met ’n eetstoornis en angsaanvalle. En natuurlik ’n kind met ’n gestremdheid.
Lojale vriendskap dra hierdie vriendinne deur al hierdie uitdagings. Baie daarvan is bekend aan die leser en iets waarmee die leser kan identifiseer.
Hulle pak in ’n stadium ’n taamlik rampspoedige stapavontuur aan met soveel onverwagte kinkels van Moeder Natuur dat jou hart skoon gaan staan. Daar is donderweer, storms, rukwinde en onbekende paaie en vrees.
Net soos hul lewens.
Sentraal in die boek is die feit dat Elizabeth en haar man, met wie se praktyk haar lewe nóú vervleg is, ’n seun met Downsindroom het.
Dit was vir haar ’n verpletterende slag toe die dokter haar tydens haar swangerskap byna koud en klinies meedeel dat hulle dit eers na ses weke sal kan bevestig, maar dat hy 99 persent seker is dat hul ongebore seuntjie, Philip, Downsindroom het.
Hierdie woorde het haar lewe vir ewig verander. Dis ’n skokkende fout, het sy gedink. En sy was maar 33 jaar oud. Nie juis ’n ouderdom wat ’n risiko vir ’n ma inhou om ’n kind met Downsindroom te kry nie. Haar emosies word treffend in die roman beskryf. Dis asof sy deur sommige van die fases van rou gegaan het. Veral ontkenning.
Sy wil aanvanklik nie die baba sien of hom borsvoed nie. Derik het hom egter makliker aanvaar en vir haar gesê dat God hierdie seuntjie hulle verantwoordelikheid gemaak het en dat hulle hom moet aanvaar en grootmaak.
Makliker gesê as gedaan.
Haar emosies ry wipplank en wissel van irritasie en skuldgevoelens tot verterende liefde en die besef dat hulle “meulsteen” eintlik vergeleke met dié van ander s’n nie so swaar is nie. Sy werk immers in ’n mediese praktyk.
Derik bly nugter oor die situasie, en haar dogter, Santie, se liefde vir haar broer is eindeloos groot.
Mettertyd draai Elizabeth se bestaan om Philip. Hoewel sy daagliks enorme uitdagings beleef, leer sy by hom wat onvoorwaardelike liefde is.
In die beginjare wonder sy hoeveel anders hul lewens sou gewees het indien Philip “normaal” was. Makliker, besef sy, maar soveel armer. Hy kruip graag vir sy ouers weg in winkelsentrums. Sy en haar man is altyd freneties haastig, maar Philip is so stadig. Dan besef sy Philip is daar om hul pas te verslap. Sy besef later sy moes nie die keuse van aborsie gehad het nie. Die waarde van swaarkry leer mense verstaan. Sluit die lewe vir jou oop.
Positief is die feit dat sy ook skryf oor die onsigbare band tussen mense met gestremde familie.
........
Hierdie roman ondersoek die hart van ’n vrou wanneer sy op haar broosste is. En vriendskap van jou hartsvriendinne wat jou koester, soms reguit kan praat, maar jou altyd wil beskerm – selfs teen jouself.
........
Hierdie roman ondersoek die hart van ’n vrou wanneer sy op haar broosste is. En vriendskap van jou hartsvriendinne wat jou koester, soms reguit kan praat, maar jou altyd wil beskerm – selfs teen jouself.
Dis lag met ’n traan en gaan oor hegte susterskap.
Wat die meeste tref, is die skrywer se eerlike beskrywings van ’n lewe saam met ’n kind wat Downsindroom het. Mense het dit nodig om meer ingelig te wees, eerder as om hul koppe weg te draai.
Hierdie boek maak jou kop oop. Kinders met Downsindroom is nie altyd “hemelkinders” nie. Inteendeel.
Hulle het meer mediese probleme as ander en reageer stadiger op antibiotika, en hul immuniteit is ook laer.
Soms wil Elizabeth haar hare uit haar kop trek van pure frustrasie; ander kere verkrummel sy onder die aanslag van Philip se liefde en sy ouer suster, Santie se liefde vir hóm.
Sy besef mettertyd dat waar Philip is, “hang genade”. Sy gestremdheid laat haar die lewe meer in perspektief sien en dieper kyk.
Hy aanbid jou, al raas jy hoe met hom.
Dit breek haar hart as Philip, wat nooit daarvoor moeg raak om vir haar drukkies te gee nie, na ’n sentrum vir volwasse leergestremdes toe moet gaan. Dit is vir haar ondenkbaar.
Hoe gaan hy aanpas? Hy is dan so onskuldig en opreg.
Weer eens steun sy op haar vriendinne. Hulle is ook lief vir hom.
Daar is talle ligte oomblikke in die boek. Die beskrywings van Philip wat taamlik oorgewig is, is hartverwarmend. So skets sy hom nadat hy in die water plas: “Slegs sy kop met die twee klein oortjies steek uit. ’n Welbehaaglike seekoeitjie glimlag warm vir haar.”
Philip noem sy ma partykeer “tannie”, partykeer “ouma” en partykeer “Elizabeth”.
Hy hou ook net mooi niks van “vlieë” (rosyntjies) in enige kos nie. Hy hou wel van “tanniematiesous”.
Hy doen graag “hospitaalbesoek” met ’n stetoskoop om sy nek saam met sy pa.
.......
Sy skryf eerlik en realisties oor ’n onderwerp wat maklik in sentiment kan verval.
.......
Die roman is besonder oortuigend geskryf, omdat die hoofkarakter ook ’n groot deel van haar eie lewensverhaal en eerstehandse ervarings inspan, hoewel sy dit aan die begin van die boek duidelik stel dat die storie grotendeels fiktief is.
Sy skryf eerlik en realisties oor ’n onderwerp wat maklik in sentiment kan verval.
Sy skryf ook insiggewend en deernisvol oor die uitdagings wat ouers van kinders met Downsindroom die hoof moet bied.
Sy dra die boek dan ook heel gepas op aan haar eie seun met Downsindroom, met die woorde: “Vir Rory by wie ons daagliks leer”.
Haar boodskap is dat liefde op die ou einde al is wat werklik tel.
En so leer die leser by háár.
Lees ook:
Heil die Leser!: Die waarde van selfhelpboeke en motiveringslektuur
Shéri – Nes ek is deur Shéri Brynard en Colleen Naudé: ’n resensie


Kommentaar
Baie dankie Carla. Dankie vir jou lieflike woorde.