
Titel: Passie in Parys
Skrywer: Tosca de Villiers
ISBN: 9781779870599
Druknaam: Romanza
...
Van romanzas gepraat, sommige mense verslind dit. Ander trek hul hogere letterkundige neuse daarvoor op. En dan is daar die groep wat dit skelm en stilletjies lees, amper asof dit ’n sondige plesiertjie is.
...
Dit gebeur min in die werklike lewe dat ’n one night stand tot ’n vurige verhouding lei.
Maar nou ja, hier praat ons van ’n romanza. En nie net een wat lig in die broek is nie, maar ’n RomanzaStoom, getiteld Passie in Parys deur Tosca de Villiers, wat nogal met ’n ouderdomsbeperking van 18 kom.
Dan weet jy, hier kan enigiets gebeur.
Die storie begin tussen die lakens en daar word behoorlik gewoeker met die wellus van die lyf.
Margaux is op pad Parys toe. Sy wil ’n kunstenaar word en draai haar rug op haar familie, hul onderneming en ’n amperse gereëlde huwelik.
En nee, dis nie ’n sjarmante Fransman wat haar in die stad van liefde tot hoogtes hoër as die Eiffeltoring voer nie, maar ’n Kaapse wynboer, Dawid Malan.
Hy is ’n respektabele wewenaar wat sy lyf kluisenaar gehou het na die dood van sy vrou, terwyl Margaux haar rondloperverloofde welverdiend die deur gewys het.
Met ’n gewone romanza word van die “uitgestelde begeerte” gepraat, maar as die woord stoom bykom, moet jy maar weet hier word geen tyd gemors nie.
Dan volg daar die een hormoonontploffing op die ander.
Van romanzas gepraat, sommige mense verslind dit. Ander trek hul hogere letterkundige neuse daarvoor op. En dan is daar die groep wat dit skelm en stilletjies lees, amper asof dit ’n sondige plesiertjie is. Net soos wat hulle skelm Huisgenoot lees of na sepies kyk.
Die resep vir ’n goeie romanza is dat die held en heldin darem iets tussen die ore en integriteit het. En al is daar struikelblokke wat hulle moet oorkom, is dit verpligtend dat hulle op die ou end by mekaar uitkom.
Die hoofkarakters mag ook nie onnosel of vaal muurblommetjies wees nie.
In die geval van Passie in Parys (nie die een in die Vrystaat nie) is die hoofkarakters suksesvol, ambisieus en boonop skandalig aantreklik.
Ek het al talle kere met romanzaskrywers gesels en hulle is van mening dat wanneer die leser die boekie toeklap, hulle darem iets moes geleer het. Dit moet nogal moeilik vir romanzaskrywers wees om elke keer ’n ander boeiende storie met ander karakters en met daardie selfde riglyne op te tower. Dit kos verbeelding en kennis.
In hierdie geval speel die storie oortuigend in Parys af, omdat die skrywer self ’n rukkie lank daar gewoon het.
Tussendeur die vuurwarm passie en liefdestonele, wat nogal in detail beskryf word, leer jy darem ook iets oor die Franse leefwyse. Soos dat filosofie ’n voorvereiste vir alle graadkursusse in die land is. En dat as ’n ongeluk rondom die Arc plaasvind, daar nie ’n ondersoek is soos in die res van Frankryk nie. Elke party deel die skade 50/50.
Ek het destyds Fifty shades of Grey begin lees, maar kon dit nie klaar kry nie. Die boek het onder ’n lendelam sitkamerbank in my dogter se woonstel gestaan om die bank regop te hou. Ek kon nie verder as 70 bladsye vorder nie – en het die boek terug onder die bank se poot gesit waar dit hoort.
Dit was net eenvoudig te rof en te humorloos.
Romanzas word gewoonlik volgens ’n beproefde suksesresep geskryf.
So lees jy in Passie in Parys van die held se “laatmiddagstoppels” wat “sy vierkantige ken en kakebeen bedek”. (Wie soek nou in elk geval ’n chinless wonder?) Die baardstoppels rasper teen haar vel en sy vind dit onweerstaanbaar.
Die heldin in ’n romanza het haar eie beroep. Sy is ’n suksesvolle en moderne vrou.
In hierdie stomende verhaal moet sy tussen haar loopbaan as kunstenaar en die liefde kies.
Die man is gewoonlik amper te goed om waar te wees. Hy is ’n goeie luisteraar, in hierdie geval ’n nog beter (maar egter haastige) minnaar en in voeling met sy vroulike kant.
Die soort wat ontnugterde geskeides jou sal vertel mens nooit in die werklike lewe gaan raakloop nie.
Maar mens kan steeds droom. Soos die skrywer skryf: “Hy maak die verleidster in haar wakker. [...] [I]n die hande van ’n ervare minnaar is sy ’n stroom lawa.”
Mens kry ook soms lag vir die beskrywings, soos dat haar “borste soos twee verraaiers reageer”.
Alles aan die man is sexy, selfs die manier waarop hy ’n sjampanjebottel oopmaak.
Dawid Malan slaag die Romeo-toets los hande.
Bemarkers en skrywers van romanzas wys daarop dat die lees van hierdie slapbandboekies endorfiene (voelgoedhormone) vrystel, jou laat droom en weer in die liefde laat glo.
Volgens hul aanhangers is romanzas beslis nie spookasem nie. Om in hierdie genre te skryf verg intelligensie, lewenservaring, mensliewendheid en ’n geloof in ware liefde, is al gesê.
Natuurlik is daar konflik in die storie, maar ’n gelukkige einde is vir die romantiese leser ononderhandelbaar.
As jy ’n romanza lees, lees dit vir wat dit is. Vir die pret. Om te ontspan en te ontvlug van die harde werklikheid.
Niemand sterf immers in Passie in Parys weens ’n gebroke hart nie.
Lees ook:
Romantiese en erotiese fiksie in Afrikaans: variasies op ’n wenresep?
Belle, met die hart vol blomme deur René van Zyl: ’n resensie van ’n waardige Romanza-wenner


Kommentaar
Pragtige resensie
Ek is absoluut verslaaf aan Romanza's! Het die resensie geniet, baie goed geskryf.
Baie dankie!