Titel: Belle, met die hart vol blomme
Skrywer: René van Zyl
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9781776359363
ePub ISBN: 9781776359370
René van Zyl se Romanza getiteld Belle, met die hart vol blomme is onlangs met die 2024-ATKV Woordveertjie vir Romanses bekroon. Die beoordelaars was Carol-Ann Alexander, Amanda Claasens en Kobie van Aswegen. Volgens hulle is René se taalvaardigheid en gemaklike skryftrant deurgaans uitstaande:
Die aanvangstoneel van die verhaal is besonder sterk en die leser kry dadelik insig in die gemoedstoestand van die heldin asook die rede vir haar paniek. Die kalmte waarmee die held haar hanteer, is ’n puik teenvoeter en tegelyk ’n aanduiding van sy karakter. Die verrassende einde van die eerste hoofstuk is ’n motivering om gretig verder te lees. Ook die eerste van talle onverwagse wendings wat die geslaagde storielyn oplewer.
Ek het dus Belle, met die hart vol blomme met ’n vooraf verwagting begin lees. En 189 bladsye later kan ek maar ruiterlik erken dat ek nie vir een oomblik teleurgestel is nie. René het ’n heerlike, oorspronklike en slim verhaal geskep. Ek het gou vergeet dat ek besig is om ’n storieboek wat binne ’n resepmatige raamwerk geskryf is en ’n voorspelbare einde móét hê, te lees. Dié lekkerleesverhaal speel af in Potchefstroom en is propvol heerlike draaie en kinkels.
........
Ek het gou vergeet dat ek besig is om ’n storieboek wat binne ’n resepmatige raamwerk geskryf is en ’n voorspelbare einde móét hê, te lees. Dié lekkerleesverhaal speel af in Potchefstroom en is propvol heerlike draaie en kinkels.
........
Die karakters se aksies, emosies en dialoog is oortuigend. Hulle word nie as perfek afgeronde modelmense voorgehou nie, maar as persone wat al met die skadukant van die lewe te doen gehad het en seer en teleurstellings ken. Ek het dit geniet om te lees hoe hulle innerlike en uiterlike uitdagings uit die verlede en hede erken, trotseer, groei en uiteindelik genees. Gewigtige temas soos alkoholmisbruik, ontrouheid en egskeiding verleen diepte aan die storie, maar oorheers dit nie. Gepaste verwysings na flieks en animasieprente bring verdere balans. Dit het gemaak dat ek vanuit die staanspoor deur die verhaal meegesleur is en wou weet wat volgende gaan gebeur. Die storielyn is geloofwaardig en het my laat voel dit kan wél in die regte lewe met regte mense gebeur. Die wyse waarop die held en heldin se aangetrokkenheid tot mekaar net sterker word, terwyl hulle boonop wedersyds kastaiings uit mekaar se vure moet krap, gee lekker woema aan die storie. Goeie woordgebruik en ’n fyn balans tussen humor, erns, misverstande en wedersydse begrip is ’n pluspunt.
Belle, met die hart vol blomme is ’n goed afgeronde verhaal. René het selfs daarin geslaag om my oor die laaste paar bladsye met nóg ’n onthulling uit die verlede as antwoord op ’n tergende raaisel te verras. Die storie se tydsverloop is fyn uitgewerk en het vir ’n bevredigende leeservaring gesorg. Ek gaan vir seker nog van René se Romanzas lees.
Meer oor die skrywer: Daar is al meer as 20 van René se boeke in verskeie genres gepubliseer. 15 daarvan is Romanzas. Onlangse titels uit haar pen is Liefde in die boendoes (2021), Strandwolf (2021), Die hart soek wat hy soek (2022), Roekeloos verlief (2023) en Toe gebeur Vegas (2024). Sy is ook die skrywer van gepubliseerde kortverhale, sowel as twee samesweringsromans, getiteld Die Alfadokument en Die Omegakomplot, en twee jeugverhale, getiteld Die monster in my melkskommel en Tuimeltrein. René het in 2020 die gesogte Imbali-toekenning van die Romance Writers Organization of South Africa (ROSA) verwerf vir haar super-Romanza Storm vol liefde wat deur Lapa Uitgewers gepubliseer is.
Belle, met ’n hart vol blomme is by boekwinkels, asook aanlyn beskikbaar. Dit kos R110 by Graffiti Boeke.
Lees ook:
Muse deur Jacques le Roux: ’n lesersindruk deur Louise Viljoen van Jeffreysbaai