
Louise Viljoen, tekspraktisyn en resensent van Jeffreysbaai, het met ’n paar skrywers van Romanzas gesels.
...
Op die ou einde stem lesers met hulle beursies. Romanzas se verkoopsyfers bly groei. Die boeke, wat nagenoeg 190 na 200 bladsye beslaan, boer op topverkoperlyste.
...
Koop jou Romanzas by Graffiti.
Romanzas word soms as onoorspronklik, resepmatig en clichéagtig afgemaak deur diegene wat nie die boeke lees nie of dalk voorgee dat hulle dit nie lees nie. Goed en wel indien jy al ’n Romanza of twee probeer lees het en dit jou nie geval het nie, maar moenie ál die boeke in die druknaam in geheel afmaak as minderwaardige leesstof nie.
As wydbelese boekwurm wat baie betrokke in die boekewêreld is, lees ek graag ook Romanzas. Ek kan eerstehands getuig van die vaardigheid waarmee die meeste Romanza-skrywers hulle lesers boei. Nathaniel Hawthorne, Amerikaanse roman- en kortverhaalskrywer, het gesê: “Easy reading is damn hard writing.”
Romanza-skrywers is dikwels hoogs gekwalifiseerd. Van hulle publiseer suksesvol in meer as een genre. Die Romanza-druknaam ontvang jaarliks sowat 300 manuskripte van hoopvolle skrywers en publiseer oor dieselfde tydperk minstens 48 Romanzas plus hulle erotika en spesiale uitgawes. Die keuringsvereistes is streng en die kompetisie sterk.
Oudboekhandelaar en tekspraktisyn Louis Esterhuizen skryf op Facebook dat hy Romanzas enorm geniet. Oor die skryfproses sê hy: “Om ’n volledige roman met ál sy strukturele vereistes binne die bestek van 45 000 woorde te skryf, is waaragtig ’n kragtoer want jy het eenvoudig nie wegkruipplek vir swak skryfwerk nie.” “Is so,” beaam Tosca de Villiers. “In ’n Romanza maak letterlik elke enkele woord en sin saak. Die teks moet besonder toeganklik en lesersvriendelik geskryf word.”
Senior Romanza-redaktrise Christelle Woudberg verduidelik: “Romanza-skrywers se grootste uitdaging is die woordtelling. Dis ’n absolute kuns om ’n volledige verhaal met al die tegniese ontwikkelinge van ’n enkeltitel in slegs 44 000 woorde suksesvol te skryf. Lesers verwag dieselfde intriges, emosionele belewenis, konflik en klimaks wat in ’n enkeltitel van 75 000 – 90 000 woorde vertel word. Dis hierdie uitdaging wat ’n Romanza-skrywer moet bemeester en wat hierdie druknaam moeiliker maak om voor te skryf.” Elsa Winckler voeg by: “’n Geslaagde romanse moet ál die fases van ’n goeie storie bevat – die eksposisie/begin, die ontwikkeling/konflik/aksie, die klimaks, die afloop en die resolusie of ontknoping – binne ’n beperkte woordtelling.”
Romanza-lesers is kieskeurig. Woudberg sê: “Die Romanza-leser is intelligent en belese. Sy lees elke maand verskeie romanses en duld dus nie flou verhale of vervelige karakters nie. Sy ken die genre, onthou die stories en ontdek graag nuwe subkategorieë (soos mediese, plaas-, fantasie-, historiese of inspirerende romanses).”
Malene Breytenbach reken dat Romanzas nie blote spookasem is nie en dat sy feite deeglik moet navors. “My karakters is jonk en ek probeer hulle in ’n interessante milieu plaas. Dit gaan oor ’n man en vrou wat mekaar liefkry. Die pad na die liefde is vol hobbels en draaie, maar die einde moet gelukkig wees. Die skrywer kan oor enigiets, enigiemand en enige milieu skryf.”
Hiermee stem Didi Potgieter saam: “Die skryf van romantiese fiksie is ’n vaardigheid wat nie maklik kom nie. Lesers van Romanza wéét wat hulle wil hê en hulle hou jou as skrywer aanspreeklik daarvoor.” Felicia Snyman beaam: “Ek het ’n meestersgraad in regte voltooi en verskeie akademiese werke gepubliseer. Persoonlik doen ek baie moeite met die Romanzas. Ek vors die beroepe, name en ander besonderhede tot op die letter na.”
Antoinette Venter glo dat die skryf van ’n Romanza juis uitdagend is omdat lesers volronde karakters en deeglik-ontwikkelde en intrigebelaaide storielyne verkies wat op die ou einde aan hulle ’n bevredigende emosionele ervaring moet bied.
Judy Troskie noem dat redakteurs wel al voorstelle rakende haar manuskripte gemaak het aangesien hulle die teikenmark goed ken, maar dat sy nog nooit die idee gekry het dat hulle voorskriftelik probeer wees nie.
Volgens Madelie Human is daar aanvanklik van Romanza-skrywers verwag om slegs voelgoedtemas in die verhale in te sluit, maar hulle word deesdae aangemoedig om dieper temas by te werk. “Ek het byvoorbeeld al in my inspirasieboeke ’n hoofkarakter gehad wat in haar verlede verkrag is en het pas een voltooi met ’n held wat ’n oorlogkorrespondent was vir jare en nou aan PTSV ly. Die donkerder temas gee ons meer ruimte om die karakters te laat groei tydens die verloop van die verhaal en dit vergemaklik skryfwerk vir my. Dit verdiep ook die verhaal wat dan nie bloot ’n boy-meets-girl-storie is nie. Die karakters het werklike probleme en struikelblokke om te oorkom voor die gelukkige einde kan gebeur. Ons word ook deesdae meer eksplisiete en warmer liefdestonele toegelaat wat nie maklik is om in goeie smaak te skryf nie, maar dis wat die lesers vra.
“Ek probeer telkens om vir die karakters unieke beroepe te kies wat ’n spesifieke, interessante ruimte skep waarin my storie kan afspeel. Baie skrywers en lesers hou van eksotiese bestemmings, maar ek probeer eerder om ’n plaaslike agtergrond te gebruik en die buitengewone in ons eie omgewing raak te sien, soos byvoorbeeld die marinebioloog wat navorsing oor seekatte doen of die heldin wat ’n vliegtuigie besit waarmee sy boere se oeste bespuit teen plae en siektes. Enige plek kan romanties wees as die skrywer die regte atmosfeer skep.”
Marilé (Alta) Cloete laat weet: “Romanse word binne sekere grense geskryf. Die enigste resepmatigheid is dat die paartjie aan die einde hulle liefde vir mekaar moet verklaar. Verder is daar nie beperkings op hoe die storie verloop nie, solank die ontwikkelende verhouding sentraal bly. Tussen die ontmoeting en die ‘commitment’ het die skrywer baie vryheid. Romanses is karaktergedrewe, maw as jy twee interessante karakters by mekaar uitbring en jy laat hulle volgens hulle persoonlikhede op mekaar reageer, is die storie elke keer uniek. Interessante beroepe en ’n interessante milieu help ook om die storie vars te hou. ’n Romanse het nie ruimte vir baie newekarakters nie, maar een of twee oorspronklike newekarakters gee ook ’n unieke kleur aan die storie.”
...
“Die geheim is om bekende elemente vars en nuut aan te bied.”
...
“Die geheim is om bekende elemente vars en nuut aan te bied. En om dít te kan doen,” reken Elsa, “moet jy saam met die leser groei. Dit is byvoorbeeld nie meer ‘nodig’ vir die hedendaagse heldin om ’n man te kry wat vir haar kan sorg nie, want sy kan dit self doen. Sy het ook ander behoeftes, onder andere ook seksueel, waaroor in die verlede selde geskryf is.” Erla-Mari Diedericks wat pas die eerste Romanza Stoom vir 18+ lesers geskryf het, glo dis belangrik dat skrywers seksisme, vroueregte en hoe vroue en mans uitgebeeld word en wat polities-korrek is of nie, in gedagte hou. “’n Dominante, chauvinistiese bullebak is byvoorbeeld nie meer sosiaal aanvaarbaar nie.”
Die koningin van Romanzas Dina Botha het al 81 Romanzas gepubliseer. Sy skryf die gewildheid van Romanzas daaraan toe dat ons in ’n gebroke wêreld leef waar mishandelde vroue, enkelma’s en vaderlose meisies volop is. “Eerlike, opregte liefde wat veronderstel is om vir altyd te hou, raak al hoe skaarser. Een ding verander egter glad nie, en dis die behoefte na liefde. Ek glo met my hele hart dat elke vrou, ongeag haar ouderdom, die behoefte om verlief te raak en bemin te word nooit ontgroei nie. Daarom wil baie vroue van daardie perfekte en soms ontwykende liefde lees en daarvan droom. Daar is dalk iets beters as wat ek nou het.”
“Romanzas is soos ’n warm koppie tee op ’n koue en moeilike dag,” laat Felicia hoor. “Dit vang liefde in woorde vas en bied ontvlugting in ’n genadelose wêreld, waar lesers saam met karakters kan val en opstaan, huil en lag – en die belangrikste van alles, weer kan glo in die ware, onvoorwaardelike krag van liefde.”
Op die ou einde stem lesers met hulle beursies. Romanzas se verkoopsyfers bly groei. Die boeke, wat nagenoeg 190 na 200 bladsye beslaan, boer op topverkoperlyste. Jy glip dit sommer maklik in jou handsak om enige plek te lees. Vir Elize Davies is dit gerieflik. “Dit neem nie ure in beslag om ’n Romanza te lees nie – ’n pluspunt in die moderne gejaagde lewe,” reken sy.
En waarom nie? Dis tog verkiesliker om ’n diep-bevredigende boek te geniet as om ’n maagseer te moet dokter. Ontspan tog so ’n bietjie en gee liefde ’n kans.
Lees ook:
Elders gesien: Moet namens die leser besluit word wat is goeie leesstof?


