Is Die Burger die nuwe Son?

  • 1

Foto: Th G op Pixabay

Daar was ’n tyd toe Die Burger en Beeld soveel bladsye, hoofartikelblaaie en voorbladkoppe gemeen gehad het dat hulle soos streekuitgawes van een publikasie gelyk het. Nie dat dit lesers van papierkoerante sou gepla het nie; hulle sien immers nie gewoonlik die ander koerante nie.

Maar diegene wat die koerante op Netwerk24 lees, kan kwalik die susterkoerant miskyk wat neffens die ander op die skerm staan. Redaksies sal dit anders sien, maar die ooreenkomste was darem baie opvallend. Selfs (dieselfde) redaksionele hoofartikels is gebruik, wat beteken die koerante het nie meer ’n eie stem gehad nie. Vermoedelik omdat daar nie meer ’n hele span senior mense is wat tyd het om wyse woorde uit te dink (wat buitendien deur min gelees word) nie.

Volksblad gee egter met groot doelgerigtheid meer prominensie aan Vrystaatse stories, wat aan dié blad ’n eie karakter gee. Voorblaaie is soms baie dieselfde as Beeld s’n, maar as ’n plaaslike storie enigsins sterk genoeg is, word dit as hoofberig gebruik. Hier en daar word plaaslike rubriekskrywers ook gebruik.

........
In die jongste tyd het daar ’n merkbare verandering ingetree. Waar Die Burger histories die statiger koerant was (vergeleke met die meer uitbundige Beeld), het dit die afgelope jare met sterk eiesoortige voorbladontwerpe die oog gevang.
........

In die jongste tyd het daar ’n merkbare verandering ingetree. Waar Die Burger histories die statiger koerant was (vergeleke met die meer uitbundige Beeld), het dit die afgelope jare met sterk eiesoortige voorbladontwerpe die oog gevang. Nou is die styl van hoofberigkoppe dikwels puur en simpel populisties. Daarmee sê ek egter nie dat die koerant in geheel populisties is nie.

Voordat ek voorbeelde gee van die beduidende verandering by Die Burger, ’n enkele woord oor die klassifikasie van koerante. Dit is geen eksakte wetenskap nie, dus sal mense daaroor verskil. Maar dit help ons om te verstaan met watter tipes koerant ons te make het.

Vier tipes kan onderskei word. Ten eerste is daar die ernstige koerant, waar die klem op sober opskrifte, berigte en meningsartikels oor idees en tendense val. In Suid-Afrika is Business Day seker die enigste dagbladvoorbeeld hiervan.

Ten tweede kry ons middelmootkoerante. Hulle gee iets van alles, is nie te ernstig en nie te populisties nie. Die fokus is sterk op gebeure. Beeld en Die Burger was/is voorbeelde hiervan.

Ten derde is daar die breëstrekkoerant, wat baie dieselfde is as bogenoemde middelmootkoerante, maar tog fyner onderskei kan word. Rapport is seker ’n goeie voorbeeld hiervan. Die blad kan nogal erg populisties op sy voorblad en nuusblaaie wees. (Gebeure word met baie emosie aangebied; menslike drama word uitgelig.) Maar dan is daar heel ernstige artikels in die Weekliks-seksie. Die fokus is hier meer op idees en hoe dit die samelewing raak.

Die rede vir hierdie benadering is eenvoudig dat die blad alleen die Afrikaanssprekende mark moet bedien en daarom ’n baie wye spektrum van lesers moet probeer gelukkig hou. Dit is uiteraard geen maklike taak nie, veral waar koerante gekrimp het en nie meer plek het vir allerlei ligter stories, ’n tydskrif en strokiesprente en fotoverhale nie. 

Laastens kry ons uit en uit populisties koerante. Dit is dié waar emosie voorop staan. Die basis is gebeure, maar in die aanbieding daarvan word die emosie sterk in die (groot) koppe beklemtoon. Son was as dagblad (en nou as weekblad) die beste Afrikaanse voorbeeld hiervan, hoewel hy voorlopers gehad het soos Die Landstem.

Elk van hierdie benaderings word/is aangewend om kopers in ’n mededingende mediamark te trek. Wat ek waarneem, is dat Die Burger homself (wat sy voorblad aanbetref) nou duidelik van sy suster in die noorde (Beeld) onderskei. (Vir die doeleindes van dié bespreking laat ek die Volksblad kant toe lê.)

Kan dit wees dat Die Burger die lesers wat hy destyds verloor het toe Son as dagblad sterk gegroei het, nou probeer terugwen? Of is daardie lesers vir altyd verlore?

Son het in ’n stadium goed bo 100 000 verkoop, maar het vroeër vanjaar weens swak verkope weer ’n weekblad geword. Die swak ekonomie en nuus op sosiale media (waar Son ’n sterk teenwoordigheid het) het sekerlik hiertoe bygedra.

Die rede vir my opmerkings oor Die Burger is voorbladhoofopskrifte soos die volgende:

“Ons hoor mense roep uit die rommel” (7 Mei 2024)

Ma: “Hoekom moes my kind so sterf?” (6 Mei 2024)

“Cele, dis jou en jou bestuur se skuld!” (4 Mei 2024)

Weskusman se lyk op verjaarsdag gekry (3 Mei 2024)

Vrou smeek see: “Gee my man terug!” (13 April 2024)

Liebenberg: “Ek is jammer, Nádine” (2 Maart 2024)

“Gee of ek sny jou vinger af,” sê rower (12 Desember 2023)

“Ek hoor die gille van meisiekinders” (8 Februarie 2024)

“Toe word my kind se lyfie net pap” (2 Januarie 2024).

Die soektog na die vermiste Joslin Smith het verskeie voorbladhoofopskrifte wat ewe maklik in Son kon verskyn het, byvoorbeeld:

Joslin: Bebloede kussing in asdrom (16 Maart 2024)

“Ma meer begaan oor kêrel as Joslin” (14 Maart 2024)

Ouma: “Ek voel Joslin leef nog” (9 Maart 2024)

JOSLIN VERKOOP: vir R20 000 (6 Maart 2024)

Klere en mes met bloed glo gevind (4 Maart 2024)

“As my kind dood is, kla haar ma aan” (28 Februarie 2024).

Net Die Burger sal weet in watter mate die emosionele hoofopskrifte hul verkope verbeter het. En of die blad gewese lesers van Son daardeur teruggewen het.

Indien wel, kan dit as ’n suksesvolle poging beskou word om die blad se sirkulasie ’n hupstoot te gee en oorlewing te help verseker. Daarteen kan geeneen gekant wees nie, maar populisme eis wel ’n prys. En dit is dat sommige lesers deur oordrewe emosie weggestoot sal word, veral as dit so prominent opgedis word. Dit word as ’n verlaging in standaarde ervaar.

.......
[P]opulisme eis wel ’n prys. En dit is dat sommige lesers deur oordrewe emosie weggestoot sal word, veral as dit so prominent opgedis word. Dit word as ’n verlaging in standaarde ervaar.
.......

Maar is dit enigsins ’n nuwigheid by Die Burger?

In die verlede het Die Burger onder die befaamde redakteur Piet Cillié ook soms afgewyk van die sobere benadering wat die blad vir so lank gekenmerk het.

Reeds in die 1950’s het Die Burger se sirkulasie onder druk gekom van Die Landstem, toe ’n Kaapse midweekse blad wat openlik populistiese joernalistiek bedryf het. Jaap Steyn vertel in sy biografie oor Cillié dat die redakteur vir Willem Wepener (later redakteur van Rapport en Beeld) by geleentheid gesê het om ’n “Landstem-tipe storie” van ’n berig te maak.

“Dit beteken nie dat ons van hulle joernalistiek hou nie, maar daar is darem sekere dinge wat hulle reg doen!” het Cillié glo gesê.

In ’n ander geval het Cillié egter aan ’n medewerker gesê dat om vir Die Landstem ’n rubriek te skryf soortgelyk is aan die speel van ’n klavier in ’n bordeel.

In reaksie op dié neerhalende opmerkings jeens sy koerant het die redakteur van Die Landstem, Piet Beukes, glo gesê: “Julle kan nie wen nie, want as julle standaarde sak, dan sak ek net laer!”

In 1973–74 het Die Burger dikwels baie sterk vet hoofletteropskrifte op die voorblad geplaas, byvoorbeeld KAAPSE MEISIE WREED VERMOOR (3 Februarie 1973, soos Die Burger se rubriek “Vyftig jaar gelede” ons herinner). Hierdie neiging was vreemd aan Die Burger se tradisie van konserwatiewe tipografie. Die baie sterk, selfs sensasionele, tipografie is nie volgehou nie.

Die Burger het laat in 1974 die sogenaamde skêrmoordsaak in die Kaapse Hooggeregshof maksimum dekking gegee – nie noodwendig in buitengewone opskrifte nie, maar met ellelange berigte wat die soms baie sappige getuienis woord vir woord opgedis het.

Die koerante het verskeie verslaggewers hof toe gestuur wat mekaar afgelos het. Een het geluister en aantekeninge gemaak terwyl die ander twee hul notas in berigte omskep het. Die berigte is dan aanmekaar gelas.

Die resultaat was hoogs volledige berigte wat lesers leesstof gegee het waaraan hulle nie  gewoond was in Die Burger nie. Die sirkulasie het opgeskiet, maar vermoedelik net vir solank die hofsaak geduur het.

........
As jy die lesers gewoond maak aan ’n emosionele tipe joernalistiek wat buitengewone klem op menslike drama plaas, moet jy dit volhou. Om die balans reg te kry is ’n uitdaging.
........

Dit is die uitdaging van populistiese koerante. As jy die lesers gewoond maak aan ’n emosionele tipe joernalistiek wat buitengewone klem op menslike drama plaas, moet jy dit volhou. Om die balans reg te kry is ’n uitdaging.

Dit staan vas dat die politieke stories van ouds (oor die destydse Suidwes, oorlog in die Midde-Ooste, aanvalle op die nou vergete Verenigde Party, propaganda vir die Nasionale Party, en dies meer) nie meer koerante sal verkoop nie. Die kronkelpad na 1994 lê ver in die verlede en mense is sat vir slegtenuusberigte.

Mense kry nou hul vermaak op televisie of hul selfone. Waar laat dit die koerante? Miskien by die breëstrekbenadering wat menslike drama kombineer met ernstiger nuus, menings en die ewige staatmaker, sport? Soos Die Burger?

Daar is geen maklike antwoord nie, indien daar hoegenaamd een is. Daarom is bostaande ontleding sekerlik nie as kritiek bedoel nie. Dit moet ook beklemtoon word dat die blad se opskrifte nie in alle gevalle ’n sterk  emosionele strekking het nie.

Gegewe die stryd wat koerante vandag het om lesers te behou, is dit seker nie onbillik om te vra of ’n vorm van populisme nie dalk noodsaaklik is nie. Maar dan ’n etiese populisme. Of sal dit ’n oksimoron wees?

........
Gegewe die stryd wat koerante vandag het om lesers te behou, is dit seker nie onbillik om te vra of ’n vorm van populisme nie dalk noodsaaklik is nie. Maar dan ’n etiese populisme. Of sal dit ’n oksimoron wees?
........

Drie ander koerante kan ’n aanduiding gee van die moontlike sukses van ’n populistiese benadering in die huidige omstandighede: Daily Sun, Son en Potchefstroom Herald. Laasgenoemde is geen dagblad nie, maar ’n vorige ondersoek het bepaalde eienskappe blootgelê – wat alles intussen deur die digitale tsoenami en die Covid-grendelstaat irrelevant gemaak is deurdat gemeenskapskoerante nou meestal gratis koerante geword het. Die Herald se poging om met ’n populistiese voorblad lesers te trek, bly egter ter sake.

Die Herald se voorblaaie in 2010 het duidelik populistiese, selfs sensasionele populistiese eienskappe getoon. Daar is tot die gevolgtrekking gekom dat dié benadering ’n onontginde leserskorps kan laat koerante koop en help om groei te stimuleer. My gevolgtrekking was: “Ten einde hul bestaande lesers nie te verloor nie, sal gemeenskapskoerante fyn tussen ’n blatante sensasionalisme en ’n prikkelende, lewendige populisme moet onderskei” (Froneman 2012).

Die vraag is gestel of ’n ongebreidelde populisme wel finansieel die beste roete is om te volg, “en of gemeenskapskoerante uiteindelik sal vind dat nie al die lede van hul ‘gemeenskap’ dieselfde joernalistieke voorkeur het nie en nié gemeenskapskoerante wil lees wat soos soveel tydskrifte en TV-programme oppervlakkige glans en sensasie in oormaat aanbied nie. Bowenal kan so ’n gemeenskapspers sy belangrikste bate inboet, naamlik geloofwaardigheid.”   

Uiteindelik het ander gebeure dié eksperiment ingehaal. Net enkele gemeenskapskoerante word nog verkoop, die enigste suiwer maatstaf vir die gewildheid van ’n publikasie. Herald het ook ’n gratis koerante geword.

Kan populisme Die Burger (of enige ander koerant) red? Veral aangesien sowel die populistiese Daily Sun as Son se sirkulasies dramaties gedaal het. Daily Sun se 500 000 plus per dag het tot 12 000  gedaal; Son se sirkulasie het sodanig geval dat die blad weer ’n weekblad geword het.

Dis duidelik dat ander ongunstige faktore die aantreklikheid van populistiese joernalistiek heeltemal oortref het. Waarom sal ’n populistiese Burger dan beter vaar? Maar dan weer: Die Burger se voorbladhoofopskrifte mag soms  populisties wees, maar die koerant in geheel is dit glad nie.

Intussen kan redakteurs nie verkwalik word as hulle, soos Piet Cillié, die emosionele probeer ontgin nie. Dit kan werk – of die getroue lesers vervreem, veral as dit die normale word.

Bronne

Verskeie uitgawes van Die Burger, soos in die teks aangedui.

Froneman, JD. 2012. Op weg na ’n sensasionele populistiese gemeenskapspers. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52(2):221–35.

Steyn, JC. 2002. Penvegter: Piet Cillié van Die Burger. Kaapstad: Tafelberg.

Johannes Froneman is ’n emeritus professor in joernalistiek en kurator van die digitale mediamuseum Mediamense.com. 

Lees ook:

Netwerk24: Die lewe anderkant die gedrukte Afrikaanse pers

Joernalistieke pogings tot vrede deur geregtigheid

’n Kritiese evaluering van godsdienstige verwysings in berigte oor misdaad en ongelukke in Beeld en Rapport

’n Verkenning van taalvariasie in die Afrikaanse poniekoerante Son en Sondag

Die Toyota US Woordfees: boeke, gesprekke en mense

Wanneer populisme septer swaai

  • 1

Kommentaar

  • Hennie van Deventer

    Genadiglik is Die Burger se taal, smaak en waardes darem op 'n ander peil as die van die voortvarende Son. 'n Plakkaat soos "Kaalgat-dominee sien sy gat" hoef jy nie onder 'n Burger-gewel te vrees nie. Daarom bly ek 'n lojale leser (van Die Burger!).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top