
Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)
Hoe meer ek sosiale media (en hoofstroommedia, ongelukkig) dophou, hoe meer oortuig raak ek dat ons samelewings besig is om van ons trollie te raak.
Trump-ondersteuners kom bymekaar buite Hillary Clinton se huis en dring aan dat sy gearresteer word oor die 2016-e-posse. Ander ondersteuners kom bymekaar net buite Washington, DC, gereed om tot die President se redding te kom nadat hy, volgens hulle, eintlik die verkiesing gewen het.
Ons kan ook nie juis spog dat dit hier beter gaan nie. Ace Magashule se ondersteuners het Vrydag toegang tot die hof waar hy op kriminele klagte verskyn, probeer forseer. Die man self maak skaars verskuilde dreigemente dat elkeen van sy ANC-kollegas hulle eie geraamtes in die kas het en hy kan dit uithaal. Dalk daarom dat hy toegelaat word om in sy amptelike hoedanigheid aan te bly, ten spyte van vele besluite deur die party se bestuur dat lede wat op klagtes tereg staan, hulle van amptelike pligte moet onttrek.
Dan is daar Jacob Zuma, die oorspronklike Teflon-meester. Hy kon hom tot nou toe met redelike sukses uitpretzel uit elke poging om hom tot verantwoording te roep. Eers was dit sy gesondheid. Noudat dít nie meer werk nie, en die Zondo-kommissie hom in ’n hoek dryf, is dit die voorsitter van die kommissie se onpartydigheid wat in twyfel getrek word oor ’n verhouding van meer as dertig jaar gelede.
Dis bladsy een van die korrupte politikus se handboek. Maak die persoon wat jou in ’n hoek dryf, verdag. Plaas die kollig op enigiets en enigiemand anders as op jouself en jou misdade met die hoop dat “bait and switch” op die openbare psige werk. Beweer dat jy die slagoffer en nie die oortreder nie is, want die sisteem word teen jou gebruik. Maak die media aandadig, want verkoopsyfers is belangriker as dat die korrekte feite gepubliseer word. Daarna maak jy die media verdag, want hulle versprei fopnuus en kan nie vertrou word nie.
Dan kom die troefkaart. Kry jou volgelinge opgesweep sodat hulle bereid is om in jou naam geweld te saai. Laat hulle chaos veroorsaak. Laat hulle die polisie en die persone wat vir wet en orde sorg, so besig hou dat hulle nie meer aan jou aandag skenk nie. Dan sit jy agteroor in die wete dat die nuus nou nie meer oor jou gaan nie, maar oor foto’s van optogte en botsings tussen jou ondersteuners en ander mense.
Terselfdertyd dwing jy die persone in beheer om te wonder of die kool die sous werd is in terme van enige optrede teen jou.
Trump weet as hy die Withuis verlaat, verval alle politieke immuniteit wat hy het. Hy kan dit nie bekostig nie, dus moet hy ’n situasie afdwing waar hy een of ander vrywaring teen vervolging sal kry. Zuma het dieselfde probeer doen. Magashule gaan vir seker sy bes probeer om klagtes teen hom teruggetrek te kry.
Hulle ondersteuners is net pionne op ’n skaakstel, useful idiots wat glo hulle held gee vir hulle om. Trump se ondersteuners het geglo hulle hoef nie maskers te dra nie, en elke Trump-byeenkoms tot nou toe het gesorg vir honderde nuwe Korona-infeksies. Na berig word, is 130 geheimediens-agente nou óf geïnfekteer óf in isolasie nadat hulle hom tydens byeenkomste moes beskerm. Dit beteken vir hom niks, want die teater, die spektakel is belangriker as die lewens wat in gevaar gestel word.
Ditto Zuma. Ditto Magashule.
En met elke optog, elke opswepende uitspraak, word demokratiese instellings verder die grond ingedryf. Daar word geglo dat verkiesings nie meer die wil van die mense weerspieël nie, behalwe natuurlik as die uitslae in jou guns is. Howe word nie meer vertrou as onpartydige beoordelaars van reg en geregtigheid nie, want hulle word nou geverf as politieke instrumente. Die pers word nie meer vertrou as die onpartydige publiseerder van feite nie, want hulle versprei fopnuus – behalwe as hulle jou positief uitbeeld.
Dis die gevaar van populisme. Met elke populistiese uitspraak word meer en meer mense oortuig dat waarheid en integriteit onderhandelbaar is. Met elke opruiende stelling wat gemaak word, glo meer mense dat reg en orde relatiewe begrippe is, en dat elkeen maar kan doen soos wat hy wil.
Met elke optog waar daar weerstand van óf amptelike magte óf ander burgers kom, word die leuen dat die populis eintlik die enigste arbiter van waarheid is, versterk.
Dit gebeur nie oornag nie. Dit gebeur nie sonder weerstand nie. Maar stukkie vir stukkie word daar weggekalwe aan die konsep van demokrasie, totdat daar net ’n uitgeholde drogbeeld oorbly.
Dis dan wanneer ’n persoon soos Rhoda Kadalie, wat regtig van beter weet, ’n uitspraak kan maak dat ’n republiek nie ’n demokrasie is nie. En mense dit dan herhaal en versprei sonder om die stelling te bevraagteken.
Dis hoe tirannie demokrasie vervang. Wie die hardste skree en die meeste volgelinge bymekaarmaak, wen. Wie mense sover kan kry om logika te verwerp, het ’n magtige wapen.
Dit het al gebeur. Duitsland. Rwanda. Uganda. Kambodja.
Die VSA behoort vir ons rooi ligte te laat flikker. G’n demokrasie is so sterk dat dit nie binne enkele jare weggekalwe kan word nie.
En ons demokrasie is so broos soos ’n donsveer.
Lees ook:


Kommentaar
Dis alles apartheid se skuld (a la Ramphosa). Die feit dat Zuma korrup is. Die feit dat die ANC en sy staatsdiens korrup is. Gepraat van logika - die konsep van demokrasie en menseregte werk nie in enige bestel waar daar oorgrote getalle meerderhede is van bevolkingsgroepe nie (soos SA en ander). Dit lei onvermydelik tot oorheersing en onderdrukking van kleiner groepe, eenparty state en outokrasie. In sulke state is die konsep v demokrasie net 'n rookskerm vir oorheersing deur die groter groepe. Selfbeskikking in 'n nasionale state deel van 'n federale opset is die beste alternatief. Maar helaas, die ANC dink nie aan die beste vir die mense nie, dit gaan net oor selfverryking en mag. Bettina, jy moet maar koes as jy ANC lede useful idiots noem, jy kwalifiseer nou as 'n "rassis" en die EFF is reg vir jou ...
Of 'n mens nou van Trump hou of nie is nie tersake nie. Wat wel belangrik is wat onder Biden gaan gebeur. Waar Trump die instroming na Amerika probeer beheer het, het hy ongewild geraak.
Verwag dus dat Biden die deure gaan oopmaak want die mense wat Amerika instroom gaan nie die hand wat voed byt nie, maar dit ondersteun. Verwag dus dat immigrante die Demokrate se steun verder gaan verhoog en dat die Republikeine 'n opdraande stryd gaan voer totdat die "gebore" Amerikaners ook soos die inheemse mense hier gatvol raak en dan in "xenophobic"-aanvalle verval en immigrante blameer vir alles wat sosiaal en ekonomies verkeerd loop.
Die kernvraag is: “Presies wat is die suurstof vir suksesvolle populisme?”
Antwoord:
* Grootskaalse werkloosheid, armoede, hongerte met min toekomsvooruitsigte?
* Grootskaalse onkunde en oningeligtheid by die massa stemvee;
* Minderwaardigheidskomplekse by die opsweepbare jaloerse massas?
* ‘n Sondebok (die andersoortige ‘hulle’) wat die skuld moet dra vir alles wat verkeerd gegaan het en vir alles wat verkeerd gaan?
* ‘n Apatiese vooruitstrewende middelgroep onbetrokke by beskerming van demokratiese beginsels;
* ‘n Leunaar en gieraard (magsug, hebsug en plesiersug) ten koste van die medemens en wat meester is in persepsiologiese oorlogvoering en wat waagmoedig die leiding neem;
* ‘n Polisiemag wat sy mantel draai soos die wind waai.
* ‘n Nasie sonder identiteit, leierskap, visie en agiele strategie wat die bevolking vaartbelyn kan fokus op ‘n duidelik haalbare droom tot voordeel van al sy inwoners.
Dankie Betina! Weereens in die kol. Die Here weet so kan dit nie aangaan nie. Die enigste ding wat die ANC-klomp nog nie kon breek of vernietig het nie is ... Bubblegum! Hoe kan jy alles in 'n land breek of vernietig? Niks werk meer soos dit hoort nie. Menige instellings en infrastruktuur het net gevra vir onderhoud. Nee jy steek die kundiges in die pad en jy ontplooi jou vriende en familie en as dinge verkeerd loop is dit Apartheid se skuld; óf die infrastruktuur is te oud. Gaan die klomp wat so vir Ace en Zuma opkom voor die poorte van die pearly gates staan, Thoi Thoi en skreeu, “These gates must fall!”? Nou wil Zuma ons oortuig, en hy gebruik advokate om vir ons te sê Zondo hou nie van hom nie, en dat daar ’n sameswering of komplot teen hom is. Hy wat ’n Week-end special minister van Finansies aangestel het. Nee man - Stevie Wonder kan al die str*** sien. Het iemand hom al laat weet hy - IS NIE MEER DIE PRESIDENT NIE? Die nuwe bedeling laat Apartheid soos ’n joke klink en ek sal Apartheid nooit goed praat nie. Ons het nie daarvan gelees nie – ons het dit aan ons basse gevoel – LETTERLIK! Toe ek vir die eerste keer – danksy die ANC – vir die hoogste gesag in die land kon stem was ek al reeds 41-jaat oud. Nou wil dié klomp angaan asof hulle seer, seerder is as almal s’n. Ons as Bruines was kastig behandel asof ons ere swartes was. REGTIG! Ek is ’n kunstenaar, so als wat ek sê moet liefs met ’n knippie sout geneem word. Dit kan ek egter bevestig – die kunstenaars het nie die 5-miljoen by die Staatsteater in Pretoria getseel nie. Ons steel net as dit in die teks is. En gewoonlik sê die Regisseur, “Rol kamera, Klank ... en AKSIE!” en dan steel ons laat die biesies bewe. Sodra die Regisseur sê, “CUT!” dan sit ons die geld terug want vir ons is dit nie geld nie, maar PROPS! Is julle met my? Trump is besig om die magtigste land ter wêreld lelik in die steek te laat want hy is 'n SWAK verloorder! Niks presidensieël omtrent hom nie!
Deepfakes. "Deepfakes could potentially erode people’s trust in media generally, and make it difficult for people to distinguish between real news and fake news. If many videos on the web are fake, it becomes easier for governments, companies, and other entities to cast doubt on legitimate controversies and unethical practices.
"When it comes to governments, deepfakes may even pose threats to the operation of democracy. Democracy requires that citizens are able to make informed decisions about politicians based on reliable information. Misinformation undermines democratic processes."
FC Boot. Ek dink te veel Amerikaners vergeet hulle is maar almal 'n klomp immigrante en Trump se pa is ook maar so pas van die boot af. Kyk maar hoe die VSA ontstaan het. Ek dink die Demokrate is ten minste eerlik oor hulle geskiedenis en hulle hoef nie aanhoudend the skreeu "Make America Great again!" Hulle weet Amerika is groot en die wêreldleier of Trump nou dié mantel wou dra al dan nie.