
Die gedrukte pers sterf wêreldwyd uit, die nuusstorie lewe vir altyd. Nou is 'n nuwe Afrikaanse nuuswebwerf gebore. Netwerk24 is die plek waar Afrikaanse lesers digitaal koerant kan lees.
Liesl Pretorius is pas as redakteur aangestel en sy gesels met Naomi Meyer.
Hallo Liesl, baie geluk met die aanstelling as redakteur van Netwerk24. Vertel asseblief vir ons lesers van jou agtergrond.
Ek is 'n joernalis, oorspronklik van die Vrystaat, wat sowat vyf jaar gelede volledig die sprong na digitaal gemaak het as digitale redakteur van City Press. Ek is sedert 11 Augustus redakteur van Netwerk24.
Vertel asseblief vir Afrikaanse lesers wat Netwerk24 is – is dit ’n plaasvervanger vir Nuus24, of iets anders?
Dis iets heel anders. Nuus24 was 'n samevoeger (“aggregator”). Netwerk24 verskaf premium, oorspronklike inhoud wat deur 'n netwerk multiplatform-joernaliste oor die land heen gelewer word.
Bun Booyens praat van ’n ekostelsel van Afrikaanse nuus op een plek; Esmaré Weideman voel nuusaanbod is belangriker as koerante se titels. Wat beteken albei se sienings vir jou?
Ek stem met albei sienings saam. Netwerk24 is 'n eenstop-bestemming vir Afrikaanse nuus en is 'n aantreklike lesersaanbod.
Gaan mense vir Netwerk24 moet betaal?
Ons volg 'n sakemodel waar alle lesers 'n maandelikse kwota gratis artikels kan lees, maar as 'n mens volle toegang wil hê, kos dit jou R99 per maand.
Jy was lank by City Press digitale redakteur. Soms voel die Afrikaanse pers asof hulle net met Afrikaanse mense oor Afrikaanse mense se sake praat. Uiteenlopend soos Afrikaanse mense oor kleur- en belangstellingsgrense heen mag wees, betrek City Press nou weer Engelssprekende landsburgers, of diegene wat nie Afrikaans verstaan nie. Sal jou betrokkenheid by City Press jou dalk op ’n ander manier na die nuus vir Afrikaanse mense laat kyk?
My tyd by City Press het beslis my horisonne verbreed en dit raak my nuusoordeel ook. 'n Kenmerk van hedendaagse digitale joernalistiek is dat dit veel meer van 'n tweerigtinggesprek is as in die verlede. Dit dwing jou om groter erns te maak met lesersterugvoer en -reaksie op stories. Ons lesers wil nie net hoor (lees) nie, hulle wil ook gehoor word.
Watter nuusstorie het onlangs jou aandag getrek en waarom?
Dis redelik moeilik om 'n joernalis te skok, maar as dit gebeur, bly 'n storie my dikwels lank by. Ek dink vandag nog – twee jaar later – aan die 8-jarige wie se verkragter haar oë in 'n suikerrietland uitgesteek het en die vrou wat uit 'n venster toegekyk het terwyl iemand 'n mens in stukkies gekap en in 'n oranje vullissak gesit het. Sy het niks gedoen nie – net toegekyk. Ek vermoed dis omdat ek nie kan/wil verstaan hoe 'n mens dit aan 'n ander kan doen nie.
Is die gedrukte koerant nou amptelik dood? Of gaan mens ’n stofsuier in jou huis kry, en steeds ook ’n besem?
In ontluikende markte sal 'n mens langer stofsuiers én besems in huise aantref, maar dit word nou redelik algemeen aanvaar dat die medium uiteindelik nie sal oorleef nie. En dat dit nie die einde van die wêreld is of hoef te wees nie. Nuus en inhoud sal nooit uitsterf nie.
Besoek www.netwerk24.com vir nog inligting.


