Ingrid Jonker: 61 jaar na haar dood

  • 1

Ingrid Jonker in 1956 (TheTimes.co.za, Fotograaf onbekend, foto in die openbare domein via WikiMedia)

Met die 61ste herdenking van Ingrid Jonker se dood die nag van 18–19 Julie 1965, kyk ek na ’n Nederlandse skrywer se wyer-reikende vrae oor verlies, familieverbondenheid en die soeke na ’n eie identiteit in die eggo’s van die verlede.

*

“Daar is net een vir altyd” ... die gewilde gedig van Ingrid Jonker kom by my op toe ek my gunstelingplek in Maastricht, Nederland binnestap en dis die eerste titel wat my oog vang, saam met ’n foto van haar met die opskrif Mens en mythe in die weggee-koerantjie Boekenkrant. Hierdie keer is Jonker die onderwerp van ’n tweeledige onderhoud met Petrovna Metelerkamp, wie se vertaalde, uitgebreide biografie oor Jonker onlangs in Nederland verskyn het, en skrywer Janneke Siebelink, wie se tweede roman op Jonker se lewe geskoei is.

Wat vir die Nederlandse publiek hierdie onderhoud besonder aktueel maak, is die onlangse afsterwe aan kanker van die briljante jong digter, skrywer en filosoof Lieke Marsman, omdat daar raakpunte tussen haar en Jonker is, hoewel hul poëtika sterk verskil. Waar Jonker se poësie dikwels uit hartstog en verlange ontstaan, gebruik Marsman filosofiese vrae as vertrekpunt. Tog eindig albei by dieselfde misterie: Hoe ’n mens betekenis kan vind te midde van verlies, liefde en sterflikheid. Beide het op ’n jong ouderdom erkenning gekry en is dood toe hul talent nog vol belofte was. Albei skryf oor die broosheid van menslike bestaan en omskep hul persoonlike ervaring in literatuur wat veel verder as hul eie lewens strek.

Die titel van Siebelink se verhaal Een verdwaalde zomerdag kom uit ’n briefwisseling tussen skrywer André Brink en Jonker en verskyn in Brink se boek oor hul verhouding Vlam in die sneeu. Dit word beklemtoon dat Siebelink se boek nie ’n biografie is nie, maar ’n roman en gee daarmee vir die skrywer totale vryheid om biografiese gegewens aan te pas en aan te vul soos dit haar oogmerk pas.

Een van die grootste veranderings in die verhaal is om Ingrid – wat Astrid in Siebelink se storie word – se enigste sib (Anna Bairos née Jonker) uit haar storie weg te laat, wat van die dogtertjie ’n baie eensamer kind maak. Anna het self aan LM van der Merwe vertel, wat een van die eerste navorsers oor Jonker se lewe is, dat Ingrid as liriese digter ook baie vreugde in haar lewe gehad het. Sy en Anna het sonder gekoopte speelgoed die duine en veld rondom Gordonsbaai hul speelplek gemaak. Daar was ’n sekere duin wat hulle Garlicks genoem het, omdat die kinders daar die beste en mooiste skulpe opgetel en uitgegrawe het.

Sy regverdig haar weglating van die suster (Anna) vanweë die keuses wat ’n romansier moet maak om sommige karakters meer “verdigting” te kan gee. Die gelyktydige verskyning van Metelerkamp se biografie in Nederlands is daarom volgens haar ideaal, omdat dit die totale prentjie van Jonker gee, hoewel uit ’n ander invalshoek.

Dit beteken ook dat Abraham Jonker – wat Samuel in die verhaal heet – sy vrou Cecilia, wat swanger is met haar eersteling, verstoot, omdat hy haar van ontrouheid verdink. Die besluit om Anna weg te laat is aanvegbaar, aangesien die verhaal nie net oor Ingrid nie, maar oor minstens drie geslagte vroue gaan.

Van die vroue rondom Ingrid wat haar sterk beïnvloed het, was Anna, wie se dogter Catherine aan LM van der Merwe sê dat haar ma die verantwoordelike een was en Ingrid die kwesbare een wat spesiale sorg benodig het. Catherine sê ook die vroue in haar familie was altyd onseker, arm en het baie rondgetrek. Uit hierdie en ander gebeurtenisse blyk dit dat Jonker se lewe ’n soort familiedraaiboek gehad het wat sy sonder insig gevolg het en derhalwe nie aan kon ontsnap nie.

Sentraal in Siebelink se verhaal is dus nie die digter se lewensloop nie, aangesien Metelerkamp dit uitvoerig nou ook vir Nederlandse Jonker-aanhangers gedoen het, maar eerder ’n arendsblik op haar nalatenskap. Die verhaal handel hoofsaaklik oor die skaduwee wat die digter se lewe en veral haar dood werp op haar dogter Camille – hoe Ingrid se dogter Simone in Siebelink se boek heet – wat in die aanloop tot haar een-en-dertigste verjaardag haar moeder se invloed al hoe sterker voel. Sy word opnuut meegesleur deur die herinnering aan Astrid se selfdood in die see by Drieankerbaai op dieselfde leeftyd.

Op die agterblad van Een verdwaalde zomerdag word die essensiële vraag gevra: “Bepaalt het verleden jou of bepaal jij het verleden?” Dit beklemtoon die subjektiwiteit van ’n mens se belewenis en dat ’n lewensgeskiedenis, selfs ’n outobiografie, nooit net een vaste weergawe het nie, maar ingekleur word deur die onbetroubaarheid en subjektiwiteit van geheue, wat meer bepaal word deur emosionele belewenis as feitelike gebeure.

Hoewel sommige lesers Jonker se gedigte volgens die onderhoudvoerder Roeland Dobbelaer as kinderlik beskou, vertel Siebelink dat hoe meer sy oor Jonker te wete gekom het, hoe meer het kante van haar persoonlikheid na vore gekom wat haar interessanter gemaak het. Die skrywer sê sy het eers gedink sy ondersoek net ’n digter, maar later het sy ook die dogter, die moeder, die geliefde en die vriendin ontdek.

Teen die agtergrond van politieke onrus in die land, wat steeds voortduur, maar nou in 1989 hoopvol is in teenstelling met in 1965, word die blywende invloed en belangstelling in Jonker ondersoek. Hoe moeilik is dit vir Camille om haar eie identiteit te vind met haar ma se ikoniese status, verder vasgelê deur Nelson Mandela se lees van haar gedig “Die kind” in die eerste demokraties verkose parlement in Suid-Afrika in 1994. Daardeur het Ingrid Jonker mitiese status verkry, waarby geen nakomeling kan kers vashou nie.

Weens die feit dat baie mense in Jonker ’n soort mite sien wat op Jungiaanse argetipes in die kollektiewe onderbewuste kan dui, het ek ’n psigo-analitiese blik uit ’n feministiese oogpunt oor Jonker se lewe gegooi na aanleiding van die etnoloog Clarissa Pinkola Estés se ontleding van Hans Christian Andersen se sprokie Die rooi skoene. Fassinerende ooreenkomste tussen die weeskind in die sprokie en die lewensloop van Jonker het daaruit voortgespruit. Dit regverdig ’n verdere artikel.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker, redakteur Francis Galloway

You make me possible by Karina Szczurek: a review

Ingrid Jonker (1933–1965)

Dood en lewe loop hand aan hand: Marjan Setrapi en Lieke Marsman is oorlede, ure uitmekaar.

Ingrid Jonker se dogter gesels oor haar ma en Vlam in die sneeu

The heart has spaces – the love letters of André Brink and Ingrid Jonker

Oor die transkripsie van Vlam in die sneeu se liefdesbriewe

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top