Maandagaand het daar drie kersies gebrand in ons woonkamer. En nou sal ek weer kersies moet brand, want Marjan Setrapi en Lieke Marsman is enkele ure uitmekaar oorlede.
Wie?
Ek sal niemand blameer wat hulle name nie herken in Suid-Afrika nie. Maar dis hoekom ek hier skryf.
Marjan Setrapi
Marjan Setrapi is die skrywer van Persepolis, en die reeks boeke en ’n film wat daarop gevolg het.
Bewys jouself die guns om Persepolis te lees, of die film te kyk. Dit is rou, maar besonder goed.
Setrapi is in Iran gebore in die tyd toe die Sjah nog aan bewind was. Iran was ’n wonderlike, oopkop land met vroueregte, en tog is die Sjah daarvan beskuldig dat hy, met die hulp van die VSA, sy eie mense, en dan veral Moslems, onderdruk het.
Die godsdiensrevolusie wat gevolg het, sou ongekende wreedheid teenoor veral vroue te weeg bring. Die nuwe leiers het Trumpagtig stormtroepe gebruik om gewone mense op straat te terroriseer. Die geweld teen vroue sou net al hoe erger word.
Lees gerus Persepolis.
Dis hoekom Setrapi so ’n belangrike stem is. Hoewel Persepolis grootliks outobiografies is, dra sy daarmee ’n universele waarheid oor: As menseregte begin verdwyn, sal dit aanhou wegkalwe as niemand iets daaromtrent doen nie.
Setrapi is in Frankryk oorlede. Sy was vlot in Frans, maar het geweier om die Legioen van Eer te ontvang toe dit aan haar aangebied is. Hoekom? Sy was nie seker dat Frankryk werklik die belange van Iran, die land waarvoor sy lief was, op die hart dra nie.
In hierdie video praat sy oor die liefde vir haar geboorteland en die droom om eendag daar te sterf.
Setrapi is in Frankryk oorlede en was jonger as ek.
Lieke Marsman
Lieke Marsman was Nederland se Dichter des Vaderlands (2021–2022). Sy is vroeg in haar lewe gediagnoseer met ’n baie rare soort kanker waarvoor daar geen genesing is nie. Haar lewe en haar komende dood het saamgeloop.
Erik van den Berg het ’n baie mooi, kort stuk geskryf oor haar bundel Op een andere planeet kunnen ze me redden.
Marsman het geweet haar dood is naby en het baie daaroor in die openbaar gepraat. Hierdie video is ’n goeie voorbeeld daarvan.
Sy was 35 toe sy gesterf het.
Dood en lewe loop hand aan hand
Ek wil nou ook iets noem oor die drie kersies wat Maandagaand gebrand het. Hulle het skynbaar nie iets met die twee skrywers te doen nie – en tog:
- Een was vir ’n jong student aan die plaaslike universiteit wat nie meer armoede met studentwees kon versoen nie. Sy naam is aan my bekend, maar word op versoek van nabymense nie genoem nie.
- ’n Tweede was vir Claire van Deventer, ’n mediese spesialis en akademikus, wat aan breinkanker oorlede is. Sy het by die diagnose reeds gesê dat palliatiewe sorg – ’n goeie pad na die dood – belangrik gaan wees wanneer daar nie meer hoop op genesing sou kon wees nie. Haar gesin het met verskeie mediese dokters saamgewerk en Claire kon in vrede sterf soos sy dit wou hê.
- ’n Derde was vir Jeroen van der Bom, wat op ’n gevorderde stadium van ’n ander siekte gekies het om in Nederland, waar hy gewoon het, hulp te vra om nie meer te ly nie.
Vir Claire en haar gesin was daar vrede, so ook vir Jeroen en sy gesin.
Jeroen se “rouwkaart” was baie mooi. Twee klein deeltjies mag ek deel.
Die eerste is die inskrywing:
*[Straatadres], Laren. 11 maart 1950
† [Dieselfde adres], Laren. 27 mei 2026.
Jip. Jeroen kon sterf in die huis waarin hy gebore is.
Dan ook sy gesin se afskeidwoorde: “Uit liefde hebben wij losgelaten.”
Wanneer lewe en dood mekaar in die oë kyk, kan ons soms net seker maak dat die saamstap na die einde mooi kan wees.
Lees ook:
Leesimpressie: Op een andere planeet kunnen ze me redden door Lieke Marsman
Die appel – klik, kyk en word verlei om die mense van Iran te leer ken
Zubayr Charles se Haram is ’n waarskuwing aan almal, gelowig of nie: ’n lesersindruk
- Lokprent: PublicDomainPictures van Pixabay (27 February 2012)

