
Daar word besonderse kunsfilms gemaak in Iran en sou ons Iran se ménse kon leer deur hul kuns, sal ons minder maklik val vir die snert van valse leiers. Ek gaan vir ’n oomblik stilstaan by ’n film wat deur ’n sewentienjarige Irannese meisie gemaak is oor ’n appel.
Hoekom ’n appel?
Die boom
Julle het seker al gehoor van die boom (al-shajarah) wat in die paradys gestaan het? Dis reg, die een waarvan die eerste man en vrou nie mag eet nie. Daardie storie kom in die Koran voor en is oral bekend in die Islam.
Daardie boom kom ook in Die Bybel voor.

(Foto: Mircea Ploscar, Pixabay)
Die appel word ’n simbool
Oor die jare het kunstenaars, skrywers, skilders en filmmakers die vrug aan daardie boom uitgebeeld as ’n appel. Dit staan nêrens in Die Bybel of in die Koran dat die boom in die paradys appels gedra het nie, maar in die kuns het die appel die plek ingeneem van die verbode vrug.
Eet jy die appel, is jy nie meer onskuldig nie, dan is die paradys nie meer daar vir jou nie.
In die plek van die paradys het Allah beveel dat diegene wat hom volg, die ewige lewe sal hê. Of, in die Christelike geloof word die ewige lewe belowe aan diegene wat Jesus volg.
Die appel, ’n film van ’n sewentienjarige Irannese meisie
In 1998 het Samira Makhmalbaf haar filmdebuut gemaak met Die appel. In dieselfde jaar is sy genooi om dit by die Cannes-filmfees te gaan vertoon. So het Makhmalbaf een van die jongste mense ooit geword om hul films na Cannes te neem.
Diegene wat belangstel in Irannese films, sal weet dat hierdie debuut nie toevallig was nie. Samira se pa is Mohsen Makhmalbaf, ’n bekroonde Irannese filmmaker.
Samira het tussen kameras grootgeword en het van jongs af al in van haar pa se films gespeel.
Waaroor gaan Die appel?
Die appel begin waar mense ’n petisie teken om die owerhede te oortuig om twee meisies van twaalf vry te laat wat deur hul ouers opgesluit word.
Vir twaalf jaar lank kon hulle nie die huis verlaat nie.
Dan kom ’n maatskaplike werker en maak ’n plan.
As jy nie meer wil lees nie, klik eers op die film en geniet dit. Ek het die film op Mubi gekyk, maar hier is ook ’n skakel na YouTube waar die volle film gesien kan word. (Op Mubi is daar Engelse byskrifte!)
As jy meer wil weet
Die film is fiksie, maar is gebaseer op die waarheid. So veel so dat die twee meisies wat ons in die film sien, Massoumeh en Zahra Naderi, werklik die twee meisies is wat toegesluit was. Die pa wat ons in die film sien, Ghorban Ali Naderi, is die einste man wat sy dogters toegesluit het.
Uiteindelik is Die appel ’n kunsfilm, geskryf deur Mohsen Makhmalbaf met Samira Makhmalbaf wat die regie waargeneem vir die film gebaseer op die meisies se lewe.
Feminisme binne ’n onderdrukkende regime
Kom ons wees eerlik: daar is mans aan bewind in Iran wat glad nie menseregte ter harte neem nie, en vroue word veral daardeur geraak.
Ayatollah Ali Khamenei, wat op 28 Februarie 2026 vermoor is tydens ’n bombardement wat deur Donald Trump goedgekeur is, was een van die mees gehate figure in die wêreld, selfs in die Moslem-wêreld. Hy is nie gehaat omdat hy ’n Moslem was nie, hy is gehaat omdat hy die Islam gebruik het om mense se regte weg te neem.
Khamemi was die produk, en ’n grondlegger, van die Islamitiese revolusie in Iran. Persië, soos Iran eens bekend genoem is, was voorheen ’n land van vrye denke en liberale idees. Vroue het baie regte gehad en alkohol was nie vreemd by partytjies nie. Toe kom Khamenei se voorganger, ayatollah Ruhollah Khomeini, aan bewind en begin dadelik alles wat “liberaal” is, te teiken.
Net soos in Trump se VSA, is dit vroue se lywe wat eerste geraak word. Dan kom diegene wat nie pas binne die streng ortodokse genderboksies nie.
Die revolusie van Iran het mans die wêreld oor laat glo dat hulle vroue mag onderdruk. Kyk wat gebeur in Afghanistan.
Dis ’n vreeslike tirade, maar die donker kant van godsdiens moet genoem word.
Hoekom?
Die pa in Die appel glo werklik dat hy sy dogters beskerm. Kyk na die toneel waar hy voorlees uit ’n baie ou boek dat ’n blom wat aan die son blootgestel word, sal verwelk.
Hy glo dit. Hy is bang dat die seuns wat hulle balle oor die muur skop, sal lol met sy dogters.
Ghorban Ali Naderi is ’n eenvoudige man. Ons moet sy begeerte om sy geloof uit te leef, erken. Hy probeer waarlik dele van sy heilige geskrifte letterlik opneem.
Meer nog: Kyk na sy blinde vrou wat, in die film, met hom raas wanneer hy sy dogters se tronk wil afbreek. Sy vrou is reeds so ingeburger in die genderrol van wat mag en nie mag nie, dat die meisies se vryheid en regte haar glad nie meer aangaan nie.
Dan kom vroue en maak ’n plan.
- Die buurvrou kom eers met die pa praat.
- Dit is die vroulike maatskaplike werker wat die pa behoorlik op sy plek sit.
- Kyk ook teen die einde na die rol wat twee wildvreemde meisies (onvolwasse vroue) speel. Hulle oortuig die pa om saam met sy dogters die wye wêreld aan te durf. Hy luister na hulle.
Vroue wat mans aansê wat om te doen? Dis revolusionêr. Juis. Die appel is gemaak in ’n samelewing wat deur fundamentalistiese mans regeer word.
Wanneer die pa die huis verlaat saam met sy dogters en nie die deur sluit nie, bevry selfs die ma haarself uit haar eie tronk. Sy gaan uit om ook haar eie appel te vang.
Die appel sê in geen onsekere terme nie: Mans hou vroue gevange. Dit moet stop. Ook vroue hou hulself gevange. Dit moet stop.
Die twee meisies se stories is dalk op die waarheid gebaseer, maar die film is ’n baie sterk feministiese protes teen Iran se regering.
Die appel as simbool van kennis
In hierdie film is die appel baie duidelik gekoppel aan die dogters se soeke na kennis.
Wanneer die maatskaplike werker vra wat hulle wil hê terwyl hulle nog in aanhouding is, vra hulle ’n appel.
Wanneer hulle uitgaan, is daar ’n seuntjie wat hulle tempteer met die appel.
Later lei dieselfde seun hulle soos ’n wafferse fluitspeler van Hameln na ’n winkel waar appels verkoop word. Hoe? Hy lei hulle met ’n appel aan ’n stok.
Die einste seun is ook verantwoordelik vir die blinde ma se soeke na kennis. Na vele pogings laat hy haar toe om haar eie appel te “pluk”. En daar eindig die film.
Vir diegene wat belangstel om meer oor die simboliek van die appel te hoor, klik gerus op hierdie skakel.
Dit is ’n uitstekende stuk deur Jane Brown wat verduidelik hoe die appel as simbool gebruik word.
Terroriste wat nie omgee vir mense nie
Ek skryf hierdie stuk oor Die appel baie kort na Donald Trump die volgende teks geskryf het:

Nou ja.
Gelukkig het selfs sy eie ondersteuners teen hom gedraai en hy het nie sy planne uitgevoer nie. Ek was oneindig dankbaar.
Daar woon ménse in Iran. Meisies, seuns, mans en vroue. Hulle het drome.
Iran se huidige regering steun terroriste. Hulle gee nie om as mense seerkry nie. Bomme maak hulle meer fundamentalisties.
In die stuk wat ek oor Haram geskryf het, was my opmerking: “Donald Trump en Ali Khamenei is twee gesigte van dieselfde muntstuk. Beide is verantwoordelik vir grootskaalse vergrype in menseregte.” ’n Dag na Trump se gruwelike boodskap skryf Paul Krugman op Substack oor Trump as “Terrorist in Chief” bomme op Iran versterk die fundamentaliste se idee dat hulle reg is, want hulle glo hul oorlog is heilig.
Ek wil terugkom by die mense van Iran, soos verbeeld in hulle kunsfilms.
Die klein propagandafilmpies uit Iran wat ons sosiale media oorspoel is snaaks, maar is suiwer propaganda. Dis nie kuns nie. Ek sou graag dat almal meer kunsfilms uit Iran sou kyk, dan gaan ons die ménse daar raaksien. Hulle kry swaar onder hulle regime.
Aan die einde van 2025 het daardie einste mense van Iran in opstand gekom. Hulle is met geweld onderdruk. Hulle sal weer in opstand kom. Net soos Suid-Afrika demokrasie gekry het ten spyte van die Nasionale Party se brutaliteit en net soos die mense van Gaza eendag vryheid sal hê ten spyte van Israel se geweld, sal daar ’n dag kom wanneer die mense van Iran hul vryheid terugkoop.
Die gebeure in Iran is egter ook ’n spieël van die menseregtevergrype in die VSA onder die huidige administrasie.
Nog Irannese films wat ek kan aanbeveel
Vir ’n besonder skerp insig in die aanslag van die Islam se stormtroepe, gelyk aan Trump se ICE-brigade, kan ek Marjane Satrapi se boek en tekenfilm Persepolis aanbeveel. Dit is rof, maar dit vertel die verhaal van mense wat hulle regte verloor weens agente van die staat wat toegelaat word om brutaal te wees.
Children of heaven, deur Majid Majidi, is ’n lieflike film oor ’n boetie se liefde vir sy sussie.
Ook van Majid Majidi kan ek The color of paradise aanbeveel. Dit handel oor ’n pa met ’n blinde seun. Die storie is treffend en die natuurtonele in die film is iets om te aanskou.
Samira Makhmalbaf se pa, Mohsen Makhmalbaf, het ’n film gemaak oor Afghaanse vlugteling in Iran wie se vrou bitter siek is. Kyk gerus The cyclist. ’n Baie jong Samira Makhmalbaf speel hierin.
Lees ook:
’n Engel onder ons, queer en divers: ’n bespreking van Goodbye June

