The heart is a muscle: ’n filmresensie

  • 0

Skermafdruk: YouTube (https://www.youtube.com/watch?v=TP21UOvCz0c)

The heart is a muscle (’n kykNET-film)
In teaters
Met Ridaa Adams en Keenan Arrison
Regisseur: Imran Hamdulay

Die sleutel tot hierdie pragtige subtiele film wat ’n nuwe lig op die Kaapse Vlakte werp – Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die Oscars in 2026 – is dat dit in Afrikaans is, ten  spyte van die Engelse titel. Maar die titel suggereer ook hoe stewig die hartsliefde tussen ’n pa en sy seuntjie is. Waar die hart van vol is, loop die liefde van oor, moes die subtitel gewees het. Want emosie, toewyding, maar veral ouerskap, spreek sterk tot die kyker in ’n storie wat sommer holderstebolder in soetsappigheid kon ontaard het. Maar verantwoordelikheid, en die voorbeeld wat ouers stel, staan voorop in hierdie storie.

Die film speel, soos reeds genoem, op die Kaapse Vlakte af. Stereotipes, geweld, moord en dwelms kom dadelik by mens op as moontlike temas waaróm die storie gerieflik sou kon gewentel het, want daar is ’n oormaat verhale van moord en doodslag in hierdie omgewing – maar dit word nie in die rolprent bygesleep nie.

Imran Hamdulay systap al daardie clichés, selfs terwyl die verhaal afspeel in die omgewing van die berugte Kaapse Blokke met sy graffiti, wasgoeddrade en jonges wat deur die strate drentel.

In hierdie verhaal tik ’n skuldgevoel ’n sterk pa (Ryan, gespeel deur Keenan Arrison) op die skouer wanneer hy en sy gesin saam in hul eenvoudige dog warm huisie kommunikeer en ’n normale lewe probeer voer. Die pa probeer ook van sy veelbewoë verlede vergeet.  Dan vra die pa hom die vraag af: Stel hy ’n goeie voorbeeld vir ’n seuntjie wat tog seker daagliks van die geweld in sy omgewing bewus moet wees?

Die noodlot trek vir Ryan ’n wrede streep en skud hom wakker wanneer die seuntjie, Jude, verdwyn. Om ’n kind op die Kaapse Vlakte te verloor is om ’n dobbelsteen te gooi met daardie einste wrede noodlots-Suidooster, want die kind kon dalk ontvoer gewees het, of hy kon afgedwaal het en hom in die verkeerde geselskap bevind het, of, veel erger, hy kan vermoor gewees het. Hoe soek ’n mens ’n kindnaald in so ’n woeste hooimied?

Die eerste helfte van dié hartspierrolprent gaan oor Ryan se soektog na sy seun (uitstekend gespeel deur Troy Paulse). Op dié manier neem die regisseur ons ook op ’n filmiese reis deur die vaal inkleurboek van die Kaapse Vlakte waar soveel huise dieselfde lyk, en ’n oormaat bendes op straathoeke rondsit vir kwaadgeld. Uiteindelik ontmoet Ryan ’n man wat ook ’n seuntjie van dieselfde ouderdom het, en ’n konfrontasie vind plaas, want die manne het nie ooghare vir mekaar nie. Erger wanneer die vermoede ontstaan dat die seun deur hierdie man, André (’n knap Dean Marais) ontvoer is.

Jude word uiteindelik gevind, maar dan vind daar verskeie misverstande plaas waarby André se seuntjie betrek word, en die polisie, wat nie die volle beeld van die gebeure verstaan nie, gryp in.

........
Die film is ’n stil, bedaarde en noukeurig beheerste belydenis van ’n ouer wat nou eers daadwerklik besef wat dit beteken om ’n kind groot te maak en op die regte pad te hou. Ook dat ’n impulsiewe aksie, hoe goed ook al bedoel, rampspoedige gevolge kan inhou.
........

Die film is ’n stil, bedaarde en noukeurig beheerste belydenis van ’n ouer wat nou eers daadwerklik besef wat dit beteken om ’n kind groot te maak en op die regte pad te hou. Ook dat ’n impulsiewe aksie, hoe goed ook al bedoel, rampspoedige gevolge kan inhou.

Selde is die Kaapse Vlakte uit so ’n verantwoordelike, onderspeelde perspektief uitgebeeld. Selfs wanneer alles rondom ’n pa en sy seun verkrummel en vergaan, en wanhoop intree, bly die liefde die belangrikste en helende oplossing. Dit vorm ’n liefdesgom.

Moenie met vooropgestelde idees by hierdie pragfilm ingaan nie. Dit is op ’n baie klein begroting gemaak, maar dan is die storie ook eenvoudig en vereis nie jaagtogte of ontploffings of woeste gevegte nie. Net ’n konfrontasie met die self.

Imran Hamdulay verdien groot lof en ’n lourierkransie as regisseur vir die wyse waarop hy ’n turksvy van ’n onderwerp benader, en ook vir hoe hy die twee laities wat op straat raakgeloop is en wat die rolle van die twee seuns speel, beheer en regisseer en dikwels van improvisasie gebruik maak.

Ondersteun Afrikaanse rolprente. Ons het hierdie soort ouerskapverhaal bitter nodig.

Lees ook:

Die Kantoor op kykNET en Showmax: ’n TV-resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top