Die kantoor
kykNET en Showmax
Met Albert Pretorius en Schalk Bezuidenhout
Hoofskrywer en regisseur: Bennie Fourie
Dit sou maklik wees om hierdie Suid-Afrikaanse weergawe van die Amerikaanse en Britse trefferreekse, The office, af te maak as kwetsend en soms moedswillig. Maar daar moet dieper hierna gekyk word as bloot ’n oppervlakkige, dikwels gewaagde gespot met kantoorpolitiek.
Die kantoor is ’n mockumentary of tonguitsteekdokumentêr – vol snydende grappe wat spot met suf kantoorwerkers wat polonie aan Klerksdorp verskaf. Die verlore siele oorleef ten spyte van hul sieldodende, vervelige werk en geobsedeerde bestuurder.
.......
Die kantoor is ’n mockumentary of tonguitsteekdokumentêr – vol snydende grappe wat spot met suf kantoorwerkers wat polonie aan Klerksdorp verskaf. Die verlore siele oorleef ten spyte van hul sieldodende, vervelige werk en geobsedeerde bestuurder.
........
Sommige tonele werk en is snaaks, soos wanneer die werkers met ’n spreuk te voorskyn probeer kom om polonie byderwets te maak. Daardie rondgooi van lomp spreuke is verteerbaar. Dis ’n tradisionele vlatertgooi met woorde.
Dit neem egter ’n ruk om gewoond te raak aan Die kantoor. Soms vloei die teks gemaklik van een woeste lekkerkrygrap na ’n ander. In ander episodes voel die komiese insidente soms geforseerd bloot om te skok. Weet dat daar bedenklike grappe is wat kan aanstoot gee. Dit is in hierdie ongemaklike niemandsland tussen die twee waarin die reeks funksioneer.
Andersins gebruik karakters soms banale humor om vervelige situasies en ’n doodlooplewe te verwerk. Hier is die grappe en dialoog, waarin ’n karakter soms reg in die kamera kyk of belydenisse doen, óf snaaks, óf hand-voor-die-mond ongemaklik, maar ook verrassend menslik. Die kamera word soms gemotiveerd met die hand rondgeskommel soos ’n besete vlieg, terwyl dit elke uitdrukking en insident probeer vasvang. Dit is veral die raaksien van terloopse sydelingse blikke na die kyker waarop gefokus word. Dis die reeks se sterkste punt.
Die baldadige kinematografie van Johannes Pieter Nel (en Dino Benedetti) wat sogenaamde smash zooms gebruik waar ’n karakter skielik in fokus beland en die kamera so snel inzoem dat dit byna met die oorblufte gesigte bots, is tipies van hierdie genre. Dis doelbewus “slordig” en onstabiel om die geordende chaos weer te gee. Die kinematografie is polsend energiek en bring die humor uit.
Die redigeerder Johan Cronjé skep boonop orde uit die chaos en gee ’n ritme wat soomloos inskakel by die dialoog, hartseer menslikheid en skokkende humorsin. Hy sny van leedvermakerige tonele na weerlose menslikheid wat die kyker onkant betrap.
Die troebel gesig van Gert du Plessis as Joubert gee ’n melankoliese kwaliteit aan die reeks. Sy tonele blink met traak-my-nie-agtige kwinkslae. Joubert met sy onbeholpe optrede balanseer ander tonele wat doelbewus simplisties raak. Sy reaksie is nooit selfbewus nie, maar beskeie en hartseer.
Schalk Bezuidenhout werk in episode 1 as die arrogante boelie, Joubert, maar is later geneig om in stand-up komedie te verval wat buite die ritme en styl van die reeks val. Ander kere ondersteun hy die komedie met swartgallige woordwonde. Niemand kan ’n sigaret so plesierig rook nie soos wanneer sy lyf dubbel-agteroor vou soos hy dit geniet. Dan word hy onverwags mens.
Albert Pretorius as die bestuurder kommunikeer met die kamera, maar sy buie verwissel van opgewonde na frustrasie. Later is hy rustig-energiek en reg vir ’n kwinkslag, maar as hy ’n vloermoer gooi, tref hy die reeks met ’n rukwind. Hy is soos ’n gebakte eier wat soms breek as jy hom in die pad gooi en andersins ’n perfekte kalfsoog is.
Een van sy grappe wat te ver gaan, behels pepersproei. Dit oorskry die uitgesproke sin vir humor. Dit word hiér te ver geneem. Daar is ook ’n beheptheid met gaywees, gepeper met clichés. Niks hier is werklik oorspronklik of slu-slinks nie, en die tema soebat daarom. Hier word komiese misverstande te ver gevoer in tonele met Sakkie (James Borthwick) se komiese misverstand. Die teks laat die akteurs hier in die steek.
Maar dan is daar helder oomblikke. Die inspirerende Emma, wat aan die kyker se kant is, speel elke toneel, al loop sy bloot in ’n kantoor in, met fyn tydsberekening. Die uitstekende Daniah de Villiers gooi peper oor haar onselfbewuste tonele en bring balans na die reeks.
Dis jammer dat die wonderlike Lida Botha onnodig voel – ’n karakter wat net konserwatisme oorversigtig verteenwoordig. Miems pas nie in nie en dis nie Lida se skuld nie.
Ilse Oppelt is nommerpas as die stroewe Joanne wat met haar stem grappe optert en snaakser maak as wat hulle geskryf is. Sy red die boudtoneel waar die poets te lank duur. Maar uiteindelik maak die boud tog ’n stelling oor die ongesproke verband tussen Emma en Joubert.
Menings is verdeeld. Sekere grappe laat die kyker gril wanneer hulle lag, en ander geniet dit. Sommige grappe word leeggetap, soos die Somaliër-toneel, die koffiemaker wat prut en die daggakoekie-oomblikke. Hier vat die reeks kykers terug na hul gemaksones en raak dit amper slapstick, maar daar sal mense wees wat skater.
Die dakwaaier-selfdoodtoneel gee egter aanstoot. Afstootlikheid is natuurlik die kunsmis wat hierdie reekse voed. Maar selfs hardebaard-komedies soos hierdie een moet weet waar om die streep te trek.
Dan kom die talentvolle hoofskrywer/regisseur, Bennie Fourie (en die ander skrywers), met tonele na vore soos ’n stoel wat breek. Die aanmekaarplak is skreeusnaaks. Ook die kinderspeletjies waarin ’n samehorigheidsgevoel geskep word wanneer elkeen ’n stoel probeer vind. Grootmense word kinders, ’n deurlopende tema. Veral Schalk Bezuidenhout se beheersde reaksie as hy op die stukkende stoel gaan sit, is skreeusnaaks.
Wat ook vermelding verdien, is Tiaan Schutte en Lize Snyman-du Preez se funksionele produksie-ontwerp. Die termometer langs ’n deur, notas langs mikrogolfoonde, die pizzaspyskaart en spreuke teen die muur is net so snaaks soos sommige dialoog.
Die kantoor raak soms buite beheer, maar daar is ook raakvattonele wanneer Tjaart beswaar maak (en in die subteks jaloers is) op Kayle se stywe fietsrybroekie. Wat daar sigbaar is, tas Tjaart se onbekwame en geforseerde manlikheid aan en Bezuidenhout weet hoe ver om daardie grappie te voer.
........
Karakters se woordelose reaksies is dikwels snaakser as hul dialoog. Net ’n skuinskyk stuur pynlike korporatiewe beheptheid moerland toe op. Hier maak mense kortliks hul harte oop, net om weer hul maskers op te sit.
.........
Karakters se woordelose reaksies is dikwels snaakser as hul dialoog. Net ’n skuinskyk stuur pynlike korporatiewe beheptheid moerland toe op. Hier maak mense kortliks hul harte oop, net om weer hul maskers op te sit.
Die humor bou op na ’n realistiese hoogtepunt, net om asemskepkans ná sommige grappe te gee. Die kyker raak ongemaklik, maar grinnik as die koppie warm grapkoffie in hulle gesigte gegooi word. Jy koes vir die humor.
Die kantoor verdeel gehore. Dis dikwels snaaks, val soms oor die hekkies as skrywers en karakters te vinnig oor die grappe spring, maar mag mense wat die onhebbelike in die gewone soek tevrede stel. Karakters lag dikwels vir iets gruweliks, omdat hulle nie weet hoe om dit anders te hanteer nie – ’n sleutel tot die reeks se styl.
Die kantoor se humor tol soos insekte op pad na ’n elektriese insekbraaier wat uit ’n lapadak hang. Sommige brand. Ander baljaar ongeskonde weg. Maar jy ruik altyd hul verbrande en geskende vlerke.
’n Aangeleerde smaak.
Lees ook:

