In memoriam Abraham H de Vries (1937–2024)

  • 0

Braam de Vries en Wium van Zyl (Foto: Izak de Vries)

...
Die eienskappe in sy kortverhale wat hom hierdie status besorg het, is nie eenvoudigweg op te noem nie.
...

Op 9 Februarie 1937 het Abraham H de Vries, Braam, die eerste maal die lig van ons planeet aanskou op Winkelplaas naby Ladismith in die Klein Karoo. Hierdie plaas en streek sou lewenslank sy hartland bly terwyl hy self ook steeds daar ’n rol bly speel het. Onder meer sou hy persoonlik sorg dat die streek ’n nuwe naam kry: Kannaland. Tot op die laaste sou sy motor ’n CBL-nommerplaat hê, en byna tot die einde sou hy aan Winkelplaas vasklou.

Sy aankoms op daardie somersdag het helaas met hartseer gepaard gegaan. Net soos sy groot voorganger, CJ Langenhoven, het hy by geboorte sy moeder verloor. Dit gee aan die term moedertaal ’n ander dimensie.

Braam het ’n skrywer en akademikus geword wat ver buite sy eie land sy merk gemaak het. Hy is iemand wat teoreties besin het oor letterkunde, wat steeds bly eksperimenteer het met maniere van storievertel wat nie slegs verrassende temas ontgin het nie, maar ook onverskrokke besig gebly het met vrae na reg en geregtigheid. Hy het ’n dokumentêrefilmmaker van formaat geword: oor die Klein Karoo, oor skrywers, veral gemarginaliseerde skrywers soos Hendrik January, Abraham Philips en Adam Small. Hy was ’n polemiseerder van formaat. Nog nie so lank gelede nie moes hy op LitNet Toon van den Heever se werk teen geleerdes sonder insig verdedig.

Sy eerste verhaal word gepubliseer terwyl hy nog leerling is op Ladismith. Dit heet “Bert die jagter” en het in 1953 in Die Huisgenoot verskyn. Drie jaar later volg sy eerste bundel kortverhale, Hoog teen die heuningkrans. In 2013 het – as ek reg tel – die 20ste bundel verskyn: Wie pluk die rose in die nag?. Hy word al jare lank algemeen erken as een van die groot kortverhaalskrywers in ’n letterkunde waarin die kortverhaal een van die belangrikste verhaalsoorte uitmaak. Trouens, Braam het met sy eie skryfwerk ’n enorme bydrae daartoe gelewer om die Afrikaanse kortverhaal so ’n status te gee.

...
As akademikus is hy ook wetenskaplik geïnteresseerd in die kortverhaal en die verskillende maniere wat daar is om ’n storie te vertel.
...

Die eienskappe in sy kortverhale wat hom hierdie status besorg het, is nie eenvoudigweg op te noem nie. Onder meer het dit te make gehad met sy vermoë om Afrikaanse sinne te maak op ’n manier wat baie van sy medeskrywers jaloers gemaak het. Dan is daar die vermoë om net genoeg te sê om die leser nuuskierig te hou, maar ook steeds te laat wonder selfs nadat die laaste woord van die storie al uit is. In die titelverhaal van Skaduwees tussen skaduwees wys hy indirek die eerste groot bron en inspireerder aan met die woorde: “Vader had meer stories in sy plaaswinkel as negosie.”

Ek wil met die aanwys van ’n laaste, verwante eienskap van sy kortverhale volstaan. Dit is dat hy in staat was om enersyds van die heel beste streekverhale te skryf wat in Afrikaans bestaan, en andersyds juis daarbo uit te styg. Hy slaag gereeld daarin om vanuit die Klein Karoo na ’n universele probleem te spring. ’n Goeie voorbeeld is sy beroemde “Rooi Koos Willemse is soek”. Die identiteitskrisis wat hierdie Ladismithse drinker in sy toestand van babelaas ondervind wanneer hy in Barrydale se hotel wakker word, raak aan die eksistensiefilosofie. Nog ’n voorbeeld: Wanneer Braam die skoenmaker in “Skoenmaker, diepe water” op sy verbeelde skoene soos Christus oor die see laat wegstap, word die gewone werklikheid agtergelaat en bevind die leser hom opeens in die wêreld van die absurde, selfs die mistieke. In dorpskarakters uit die Klein Karoo vang hy soos in doudruppels beelde op van die hele wêreld met sy vrolike, snaakse, sukkelende én tragiese bevolking.

Dit is veral hierdie vermoë van Braam wat van hom een van die opvallende lede van die beroemde Sestigers gemaak het. Dit is waarskynlik ook van die hoofredes waarom een van die voorste latere skrywers in Afrikaans, Etienne van Heerden, Braam se werk vir sy doktorale proefskrif gekies het. Onder meer verbind Etienne dié werk met die hoogs ingewikkelde internasionale postmodernistiese tendens in die kuns en letterkunde.

As akademikus is hy ook wetenskaplik geïnteresseerd in die kortverhaal en die verskillende maniere wat daar is om ’n storie te vertel. Hy was in die eerste plek ’n kenner van die tegnieke wat die Klein Karoo se baasvertellers ingespan het op winkelstoepe, kroeë en voorkamers. Maar ook van figure soos die Nederlandse grootmeester Simon Carmiggelt en die klassieke Russiese Anton Tsjechof.

Hy behaal ook ’n doktorsgraad oor die Afrikaanse kortverhaal. Terselfdertyd word hy in 1978 die samesteller van die eerste werklik gesaghebbende versameling Afrikaanse kortverhale, Die Afrikaanse kortverhaalboek. Hierdie boek het hy etlike kere hersien, en dit was ’n standaardwerk vir universiteitskursusse. Na aanleiding van hierdie versameling was Braam sonder twyfel die grootste kenner van die Afrikaanse kortverhaal. Die literatuurhistorikus JC Kannemeyer noem hom die grootste kanoniseerder van die Afrikaanse kortverhaal. ’n Skrywer wie se werk daarin opgeneem is, is eintlik met ’n lewenslange medalje vereer.

In die proses was hy ook net so vrygewig soos vele van sy Klein Karoo-karakters. Baie skrywers sou kon getuig oor wat Braam vir hulle gedoen het. Soms gaan dit oor ingrypende voorstelle wat van skewe manuskripte pryswennerboeke gemaak het. Onder hulle tel PH Nortjé en Dalene Matthee.

Braam het kosbare skryftyd afgestaan om belangrike skrywersorganisasies te dien. Hy was by geleentheid voorsitter van die invloedryke Afrikaanse Skrywersgilde wat die stryd met die destydse regering aangeknoop het teen sensuur, ’n stryd wat uiteindelik gewen is en ook die res van die politieke en kulturele landskap ten sterkste geraak het. Na 1994 was hy een van die vernaamste inisiatiefnemers by die stigting van die Afrikaanse Skrywersverenigings wat ’n belangrike rol gespeel het om voorheen gemarginaliseerde skrywers ’n sterker stem te gee.

Intussen het hy die belang van die verbintenis tussen Afrikaans en die Nederlande bly koester. Hy was self ’n doktorandus van die Universiteit van Amsterdam. Tydens, en selfs na sy studietyd het hy gesorg vir verhale wat in Nederland afspeel. Sy boek oor Amsterdam bied steeds ’n boeiende leeservaring. Die jare van die nie-amptelike Nederlandse kultuurboikot het hy ewe pynlik as die onnatuurlikheid van apartheid ervaar, en kort voor 1994 sorg hy vir ’n grensverskuiwende dokumentêre film getitel Afrikaans en Nederlands na apartheid. Hy was een van die eerste akademici wat weer ’n kursus oor die Afrikaanse letterkunde aan sy ou almal mater aangebied het. Hier aan die Kaap speel hy ’n deurslaggewende rol om die Nederlandse Bibliotheek van ondergang te red. Jare lank na sy aftrede as hoof van die Departement Taal en Joernalistiek aan die Skiereilandse Technikon bied hy as gasprofessor kursusse in Nederlandse prosa by die Universiteit van Wes-Kaapland aan.

Twee toekennings was vir hom van die allergrootste belang:

  • Op 22 Maart 1992 het die munisipaliteit van Ladismith die ereburgerskap van die dorp aan hom toegeken. Al die politieke partye in die raad het hieroor saamgestem. Hy het dus die uitsonderlike profeet geword wat in sy eie land erkenning gekry het.
  • Op 30 April 2021 het die Universiteit van Pretoria aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken vir sowel sy skeppende as sy teoretiese en kritiese werk. Dit was ’n tydige stap.

’n Mens kan maar net hoop dat Braam se versamelde werk in die nie te verre toekoms nie sal verskyn sodat meer lesers hierdie merkwaardige geheel kan ervaar: ’n geskiedenis van groei, maar ook ’n oeuvre waarin onderdele op mekaar inspeel, waar die komiese en die ernstige in harmonie bestaan net soos deernis en verset. Ook verset teen die afbraak van die afgelope dekades wat hy nie bereid was om te ignoreer nie. Sprekend van die byna irrasionele verset die verhaal “Woede”: “Daar kom tye waarin bou al is wat oorbly.” Miskien is juis hierdie woorde die gemene noemer vir die werk van ’n skrywer wat te midde van ons land se nimmereindigend kwellende geskiedenis in ’n deur kritici afgeskeepte genre sy skrywerskap bly verfyn het om ’n groot oeuvre tot stand te bring wat vreesloos oor die raaisels van die menslike bestaan wonder.

Lees ook:

Abraham H de Vries (1937–2024)

Die storieman wat ons aan die verlang kon skryf

Abraham H de Vries (1937–2024)

Bij de dood van een schrijver: In memoriam Abraham H de Vries

Elders gesien: Braam de Vries, jy was onvolprese

Elders gesien: Dankie vir al die stories

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top